Johannes die Doper en Elia – Hermie van Zyl

Vraag: Zanke vra:

In Matteus 11:13 word gesê: “Al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer, en as julle dit wil aanvaar: Johannes is die Elia wat sou kom.”

En in Matteus 17:11 staan daar: “maar Ek sê vir julle Elia het al gekom, maar hulle het hom nie herken nie en met hom gemaak net wat hulle wou.” En vers 13: “Toe het die dissipels verstaan dat Hy (Jesus) met hulle van Johannes die Doper gepraat het.”

Maar dan staan daar in Johannes 1:21 dat Johannes die Doper van homself gesê het dat hy nie Elia is nie.

So, ek wil graag beter verstaan: Was Johannes die Doper Elia of het hy net dieselfde eienskappe gehad en gekom “in dieselfde gees en krag as Elia” (Lukas 1:17)?

Antwoord

Prof Hermie van  Zyl antwoord:

Daar is ’n duidelike tendens in die Evangelies wat Johannes die Doper verbind met Ou-Testamentiese tradisies. So vind ons in al vier Evangelies die gedagte dat die Doper verbind word met Jesaja 40:3-5. Hierdie teks word in Matteus 3:3, Markus 1:3, Lukas 3:4 en Johannes 1:23 aangehaal. Dit ondersteun die gedagte dat die Doper gekom het om die weg van die Here (= Jesus) voor te berei. Die Jesaja-teks vertel dat die Jode sal terugkeer uit die Babiloniese ballingskap na Palestina (6e eeu vC), en dat ’n grootpad deur die woestyn gereed gemaak moet word hiervoor. Die Here sal vir sy volk die pad huis toe gelyk maak om verlossing vir hulle te bewerkstellig. Hierdie gedagte word nou deur die Evangelies toegepas op die koms van die Verlosser, Jesus Christus, wat sy volk van hulle sondes sal verlos, en die Doper is die een wat die pad vir Jesus reguit maak.

’n Ander Ou-Testamentiese tradisie waarby die Evangelies aansluit, is die gedagte dat die profeet Elia die wegbereider vir die Here se groot dag van verlossing sal wees. In die eeue voor die Christelike era, en ook kort daarna, het die Jode verwag dat Elia sou kom om die dag van die Here in te lui, ’n verwagting wat waarskynlik sy oorsprong het in die vermoede dat Elia nooit gesterf het nie, maar direk in die hemel opgeneem is (vgl 2 Konings 2). Die konsep dat Elia weer sou kom om die dag van die Here aan te kondig en voor te berei, word in ’n hele paar voor-Christelike, buite-Bybelse Joodse geskrifte gevind, asook in die Bybelboek Maleagi 3:1 en 4:5. Die Evangelies van Matteus, Markus en Lukas sluit by hierdie tradisie aan, maar pas dit toe op die optrede van Johannes die Doper as die wegbereider van die Here Jesus Christus. Met ander woorde, die Doper is niemand anders nie as Elia wat sou kom (vgl Matteus 11:13-14; 17:9-13; Markus 9:11-13; Lukas 1:17).

Die interessante is egter dat die Johannesevangelie nie die opvatting van die eerste drie Evangelies omtrent die identifisering van die Doper met Elia, huldig nie. Trouens, die Doper self ontken in soveel woorde dat hy Elia is (Johannes 1:21). Waarom hierdie verskil in siening tussen die Johannesevangelie en die ander Evangelies omtrent die identifisering van die Doper met Elia? Verskeie oplossings is al aan die hand gedoen vir hierdie diskrepansie, waarvan ek ’n paar noem, en dan afsluit met die verklaring wat ek dink die mees waarskynlike is.

Eerstens, daar is voorgestel dat die Doper, wanneer hy ontken dat hy Elia is, bedoel dat hy nie in die fisiese en persoonlike sin van die woord Elia is nie. Om dit pront te stel, hy is nie Elia wat herleef het nie; hy is nie die reïnkarnasie van Elia nie. Die konsep van die herlewing van ’n Ou-Testamentiese figuur is nie so vergesog nie, want Lukas 9:7-8 berig byvoorbeeld dat daar mense was wat sulke “herlewingsgedagtes” oor Jesus gekoester het. Hulle het geglo Hy is moontlik Johannes die Doper wat uit die dood opgewek is, of Elia wat verskyn het, of een van die profete uit die ou tyd wat opgestaan het. Die Doper wil dus met sy ontkenning net alle twyfel uit die weg ruim: hy is nie Elia wat herlewe het nie. Hierdie oplossing impliseer dat daar nie regtig ’n verskil tussen die eerste drie Evangelies en die Johannesevangelie is nie. By eersgenoemdes is dit Jesus en die Evangeliste wat die verband lê tussen die Doper en Elia, nie die Doper self nie. Hierdie Evangelies bedoel dit ook nie letterlik nie, maar metafories, soos Lukas 1:17 suggereer – dat die Doper in die gees en krag van Elia opgetree het. Die Johannesevangelie lê dus eintlik net die klem daarop dat dit nie die Doper self is wat hierdie verband tussen hom en Elia gelê het nie. En verder, dat hy alle misverstand uit die weg wou ruim: Hy is nie dieselfde Elia van die Ou Testament wat fisies herleef het nie.

Hoewel daar waarheidsmomente in hierdie oplossing is (bv dat die Doper nie ’n soort reïnkarnasie van Elia is nie), is dit in terme van die Johannesevangelie se samestelling en eie oogmerke nog nie die volledige oplossing nie.

Tweedens, daar is aan die hand gedoen dat die Johannesevangelie in die tyd toe dit tot stand gekom het ’n gedagte wou afwys wat by ’n Johannes die Doper-splintergroep (= aanhangers van die Doper lank nadat hy nie meer daar was nie) voorgekom het. Hierdie groep sou dan die Doper as Elia gepropageer het omdat hulle Elia as ’n messiaanse figuur voorgehou het. By implikasie sou die Doper dan die eintlike messias gewees het en nie Jesus nie. Daar heers egter onsekerheid by geleerdes of daar messiaanse verwagtings rondom Elia was in die tyd toe die Johannesevangelie geskryf is, en verder is dit ook nie duidelik of die splintergroep aan Johannes die Doper as Elia gedink het nie. Hierdie oplossing het dus nie baie veld gewen nie.

Derdens, die oplossing wat myns insiens die meeste gewig dra, is die gedagte dat in die Johannesevangelie die rol van Elia gereserveer word vir Jesus, nie vir die Doper nie. Enige identifikasie tussen die Doper en Elia word dus deur die Johannesevangelie vermy. Vandaar die eksplisiete ontkenning van die Doper – hy is nie Elia nie. Die Doper is hoogstens iemand wat getuig omtrent Jesus, ’n “stem roepende in die woestyn” wat die pad van die Here reguit maak (Johannes 1:17). Nog meer, Jesus is volgens die Johannesevangelie alles wat die Doper omtrent homself ontken het: die Messias, Elia en die profeet (Johannes 1:19-21).

Met betrekking tot Elia het verskeie geleerdes gewys op die ooreenkomste tussen Elia en Jesus in die Johannesevangelie, wat die gedagte versterk dat die Vierde Evangelie Jesus as die vervulling van alle Joodse verwagtinge wou teken, insluitende die verwagting dat Elia in die eindtyd sou terugkeer. Dit word egter nie in soveel woorde verkondig nie, maar vir die lesers wat geskool was in die Ou Testament sou die ooreenkomste tussen Elia en Jesus in die Johannesevangelie opvallend gewees het. Byvoorbeeld, die temas van lewe en dood is prominent in die Ou-Testamentiese tekste wat oor Elia handel. Elia is die verteenwoordiger van die lewende en ware God wat oor lewe en dood beskik, en oor sy skepping regeer. Geen wonder nie dat die skrywer van die Johannesevangelie juis hierdie temas in die lewe van Jesus prominent plaas. Baie geleerdes wys byvoorbeeld op die ooreenkomste tussen 1 Konings 17:17-24 (die opwekking van die weduwee van Sarfat se seun deur Elia) en Johannes 4:46-54 (die genesing/opwekking van die regeringsamptenaar se seun deur Jesus) asook Johannes 11 (die opwekking van Lasarus), en beweer selfs dat die Johannesevangelie sy weergawes van hierdie gebeure gemodelleer het op die 1 Konings-gebeure. En so is daar ook die ooreenkomste tussen Elia se gebed tydens die Baäl-episode (1 Konings 18:36-37) en die begin van Jesus se gebed in Johannes 17:1-5. Wat hier uitstaan is die verheerliking van die enigste en ware God, beide deur Elia en Jesus. Talle ander ooreenkomste kan nog uitgewys word, maar bostaande is voldoende om die gedagte tuis te bring dat die skrywer van die Vierde Evangelie op ’n subtiele manier die band tussen Elia en Jesus gelê het, om so te wys dat Jesus, en nie die Doper nie, die eintlike Elia is wat sou kom.

Om saam te vat: Is daar ’n teenstrydigheid tussen die eerste drie Evangelies en die Johannesevangelie omtrent Johannes die Doper en Elia? Gesien vanuit bostaande uiteensetting moet ons sê, nee, dis net oënskynlik so. ’n Mens moet eerder oog kry vir die spesifieke oogmerke van elke Evangelie, dan word die sogenaamde teenstrydighede nie strydpunte nie maar maniere om die unieke boodskap van elke Evangelie te ontdek. So gesien wou die eerste drie Evangelies aansluit by die ooreenkomste tussen die Doper en Elia, waardeur veral die oproep tot bekering beklemtoon is. So is die pad voorberei vir die koms van die Messias, Jesus van Nasaret. Die Johannesevangelie sluit ook by hierdie voorbereidende werk van die Doper aan (“maak die pad van die Here reguit”), maar doen dit nie met ’n beroep op Elia nie omdat hy laasgenoemde rol vir Jesus reserveer. Jesus is die nuwe Elia, nie die Doper nie.

Skrwer: Prof Hermie van Zyl




Wat Maak jy hier?

When the Greeks got the gospel, they turned it into a philosophy; when the Romans got it, they turned it into a government; when the Europeans got it, they turned it into a culture; when the Americans got it, they turned it into a business – Richard Halverson

Wat Maak jy hier?

In 1915 hou die bekende B. B. Warfield ‘n reeks “konferensies” by die Princeton Seminary. Dit is verbasend hoeveel ons ‘n honderd jaar later nog uit hierdie stukkies kan leer. Ons begin met Elia.

Ons weet baie min van Elia. Skielik verskyn hy voor die bose koning Agab en kondig ‘n droogte aan. Hy sê ook dat hy in die diens van die God van Israel staan. Net so skielik verdwyn hy – hy gaan versteek hom by die Kritspruit. Daar sal hy water uit die spruit drink en die kraaie (= onrein diere) sal vir hom kos bring. As gevolg van die droogte droog die spruit op en die Here beveel hom om na Sarfat te gaan. Daar het God ‘n weduwee opdrag gegee om hom te versorg. Hier is ‘n belangrike les vir ons om te leer: God in sy groot genade versorg vir Elia. In die proses leer Elia om homself en sy roeping en vir God beter te verstaan. Daar by die Kritspruit leer hy sy totale afhanklikheid van God.

 

Dan volg die episode met die Baälprofete. Daar oorwin hy die profete deur te bid en God stuur vuur wat die offer verbrand. En dan begin dit reën. Die mag van die Here het vir Elia in besit geneem, en hy het sy mantel opgebind en voor Agab se wa uit gehardloop … Maar net die volgende vers lees ons dat Agab vir Isebel vertel het wat Elia gedoen het. Sy stuur ‘n boodskapper na Elia om hom te vertel dat sy hom beslis gaan doodmaak. Weer vlug Elia die woestyn in. Elia is mismoedig. Dinge het nie verloop soos Hy gedink het nie. Hy gaan sit onder ‘n besembos en wens hy was dood.

God besoek hom daar en lei hom na Horeb, die berg van God. Daar bring hy ‘n nag in die grot deur en die woord van die Here kom tot hom: Wat maak jy hier, Elia? Elia antwoord deur te vertel dat die volk die altare afgebreek het  en die profete doodgemaak het – Net ek alleen het oorgebly. In sy antwoord sien ons dat Hy nie veel hoop het vir God se saak nie. Die Here beveel hom om uit die grot te kom, want Hy wil verbygaan. Dan kom daar ‘n baie sterk wind, ‘n aardbewing en toe ‘n vuur, maar God was nie in een van hulle nie. Maar Elia hoor vir God in die windstilte. Elia besef dit is die Here. Hy maak sy gesig met sy mantel toe en hoor vir God: Wat maak jy hier, Elia? Elia antwoord weer soos vantevore, maar die Here sê vir hom: “Ek is nie klaar met jou nie. Ek het nog werk vir jou.”

Hier is ‘n paar baie belangrike lesse vir ons om te leer:

  • God se saak is nie van my afhanklik nie al dink ek ek is die enigste een wat oor is. Ek is van God afhanklik; Hy is nie van my afhanklik nie.
  • Die sukses van God se saak is nie van my metodes afhanklik nie. God gebruik sy eie metodes. Soms sal dit vir my nie sin maak nie.
  • God se saak kan nie misluk nie. Ek ken nie die gevare en behoeftes beter as Hy nie.
  • Dit is nie die wet nie, maar die evangelie; dit is nie toorn nie, maar liefde wat die wêreld red.

God se saak is nooit in gevaar nie … wat Hy begin het, sal Hy deurvoer.




Elia kry swaar

One of the oldest human needs is having someone to wonder where you are when you don’t come home at night. -Margaret Mead, antropoloog (1901-1978)

Elia kry swaar

Ons lees die verhaal van Elia in 1 Konings 18 en 19. Elia was ‘n groot profeet, maar hy is besig om onder al die druk in te gee. Die mense draai teen hom en sy boodskap. Al praat hy in die Naam van God luister die mense nie na hom nie. ‘n Mens kan net soveel teleurstelling, teenstand en probleme hanteer – al is jy ‘n groot profeet. Elia trek die woestyn in, gaan sit onder ‘n besembos en wens hy was dood: Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie (19:4). Dit lyk asof Elia nie sy swaarkry goed hanteer nie.

 

Elia raak onder die besembos aan die slaap. ‘n Engel skud hom wakker: Word wakker! Eet!  Elia eet die roosterkoek en drink die water. Hy gaan lê en raak weer aan die slaap. ‘n Tweede keer maak die engel hom wakker: Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word. Weer eet Elia.

Die engel sê nie: “Bekeer jou. Hoe kan jy as profeet van God nie hoop nie.” Die engel sê ook nie: “Wees bly. Ek bring goeie tyding vir jou.” Die engel vra nie indringende vrae nie. Nee, die engel maak vir hom kos en bemoedig hom. Hy laat hom selfs toe om ‘n tweede keer te slaap en kook dan weer vir hom. Eers daarna kom God na hom en vra: Wat maak jy hier, Elia?  God kom na Elia as ‘n fluistering in die windstilte. Weer vra God vir Elia wat hy daar soek. Na Elia ‘n hele reeks klagtes geopper het, sê God vir hom: Draai in jou spore om …

Ten spyte van Elia se wanhoop praat God met hom; God vra vrae; Hy kry vir Elia aan die praat; Hy daag sy interpretasie van die gebeure uit; God wys vir hom daarop dat die dinge nie so hopeloos soos hy dink is nie. Dan openbaar God sy plan vir Israel aan Elia.

Redenering en verduideliking is nie die eerste ding wat God met Elia doen nie. God weet maar te goed dat hy ‘n mens is en dat hy uitgeput is – hy het rus en kos nodig. Eers later praat God met hom. Baie Christene vandag volg ‘n ander benadering: “Ruk jou reg. Christene gaan nie onder ‘n bos sit nie.” God wys vir ons dat die mens ‘n ingewikkelde skepsel is bestaande uit ‘n liggaam en ‘n siel. Hierdie oorvereenvoudigde siening van sommige Christene kan ‘n geknakte riet breek. Soms het ‘n moedelose persoon konfrontasie nodig, maar dikwels het hulle ‘n rustige wandeling langs die see en ‘n goeie maaltyd nodig.

Mense wat swaarkry moet toegelaat word om te huil en hulle harte uit te stort. Moenie onmiddellik vir hulle sê wat om te doen nie. Ek moet ook nie dit aan myself doen nie.




Hardloop vir jou lewe

. —Martin Luther

Hardloop vir jou lewe

Kerkleierskap is soms moeilik. Jy ontvang ‘n e-pos wat jou die hele dag lank ontstel; jy het personeelprobleme wat jou energie tap; jy voel die lidmate is hiper-krities en waardeer jou nie; en so kan ons aangaan. ‘n Boek wat kan help, is Ruth Haley Barton se Invitation to Solitude and Silence. Hierin vertel sy die verhaal van Elia wat nie net vir sy lewe wou hardloop nie, maar werklik gehardloop het.

 

Elia se verhaal begin met ‘n oorwinning – man alleen teen 450 profete van Baäl en ‘n onvoorspelbare koning. Elia roep God aan en God antwoord hom – en al die mense sien dit. Sy vyande is verslaan; God het oorwin; en die mense praat oor Elia. ‘n Baie goeie dag vir Elia.

Maar daarna volg een van Elia se slegste dae. Isebel, die mag agter koning Agab se troon, belowe dat sy  vir Elia gaan doodmaak. Blykbaar het sy die reputasie gehad dat wat sy belowe het, sy doen. En weg is Elia.

Jy as kerkleier het al lelike e-posse gekry; jy het al briewe gekry wat jou bang maak. Het jy al ‘n e-pos gekry van iemand wat belowe om jou dood te maak voor die son ondergaan? Onwaarskynlik. Baie leiers kry lelike e-posse en dit rol soos water van ‘n eend se rug af. Party maak asof dit hulle nie pla  nie, maar stadig versprei die gif tog deur hulle are en maak hulle siek.

Elia konfronteer nie vir Isebel nie; hy gaan nie na sy vriende vir raad nie; hy vertrou nie op God nie … hy hardloop tot in die woestyn.  Daar het hy onder ‘n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.” (1 Konings 19:4)  Geen  cliché’s, geen gebed nie – net die naakte waarheid. Daar onder die besembos raak hy aan die slaap.

As jy wil hardloop, moenie voorgee dat dit nie so is nie. As ons na die woestyn hardloop, vind ons die waarheid – oor God en oor onsself.  Daar onder die besembos word Elia wakker met die uitnodiging: Word wakker! Eet! ‘n Engel het vir hom ‘n roosterkoek en water gebring. As jy regtig aan die einde van die pad gekom het, kom God na vore met die basiese dinge – ‘n roosterkoek en water. As ons regtig moedeloos is, vra ons vir ‘n woord van God. Miskien wil God net hê ons moet slaap en dan ietsie eet.

Toe Elia klaar geëet en gedrink het, gaan hy weer slaap. ‘n Tweede keer maak die engel hom wakker en sê vir hom: Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word. Elia staan op en eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte  lank loop tot by Horeb, die berg van God.

Miskien moet ons ook hardloop – vir jou lewe; na die woestyn. Daar kan jy eerlik met jouself wees; daar kan God met jou praat; daar mag God jou uitnooi vir ‘n reis; daar kan God vir jou kos gee. Miskien is dit tyd vir jou om te hardloop.