Etes en kos in die Bybel (1) – Jan van der Watt
‘n Gewone persoon in die ou tyd het gewoonlik ietsie ligs vroeg in die oggend geëet soos gedroogte vrugte (vye of olywe), kaas en het dikmelk gedrink as dit beskikbaar was. Hulle het dit gewoonlik sommer om hulle lyf saamgedra. So teen 10-12 uur het hulle dan ‘n groter ete geëet. Ons lees daarvan in Johannes 4 – Jesus sit in die middel van die dag by die put terwyl sy dissipels in die dorp gaan kos koop het. Die groot ete was in die aand. Dan was die hele gesin saam en in arm huise het hulle gewoonlik saam om die vuur gesit terwyl die kinders in die ligkring van die vuur gespeel het. In ryker huise is die mans bedien. Die vroue en kinders het gewoonlik eenkant geëet. In die duur Romeinse huise het die mans en vroue tot verskillende eetkamers gehad. Dikwels was die eetkamers aanmekaar verbind met ‘n gang.
Die etes van die gewone mense was maar eenvoudig. Vleis was baie skaars. Dit is gewoonlik gekook. Die algemene was dat daar brood met ‘n soort sous was wat van groente of so iets gemaak is. Dit was in ‘n gemeenskaplike bak opgedien sodat almal uit die een bak geëet het. Daarom is ‘n feesmaal so belangrik in die Bybel as teken van die hemel. Die arm mense het min en eenvoudig geëet – die konings het weer baie gehad om te eet. Met so feesmaal was daar nie ‘n tekort aan eetgoed nie. Daar was selfs musiek en ander soorte vermaak soos dans en gedigte lees. ‘n Mens kan jou voorstel dat die arm mense gedroom het om by so feesmaal uit te kom (Matteus 22:1-14). Ons lees net in een plek in die Ou Testament dat mense voor ‘n maaltyd gebid het (1 Samuel 9:13), maar Jesus het dit skynbaar gereeld gedoen (Matteus 15:39; Lukas 9:16).
Etes was ook ‘n baie belangrike sosiale geleentheid, juis omdat die hele gesin, asook die gaste wat teenwoordig is, rustig om die kosbak kon ontspan. Jy het egter nie sommer saam met enigiemand geëet nie. Jy het saam met jou vriende geëet, díe mense met wie jy jou graag sou wou assosieer. Daarom is die Fariseërs so ontsteld as hulle Jesus saam met die tollenaars en sondaars sien eet (Matteus 9:10-11). Die spreuk sou lui: Sê my saam met wie jy eet en ek sê jou wie jy is. By meer spoggerige etes het die gasheer gereël dat sy belangrike gaste se voete gewas word, hy kon selfs vir hulle mooi klere gegee het (Matteus 22:11) en het dan die plekke toegeken waar die mense kon ‘aansit/aanlê’. Hoe nader dit aan die gasheer was, hoe belangriker was die gas (Markus 12:39; Lukas 14:8).
Mense het grootliks maar geëet wat beskikbaar was. Vrugte (druiwe, vye, dadels, granate en olywe), groente (uie, boontjies, lensies, ertjies, preie, spanspek, komkommers), melk, kaas of dikmelk, brood en soms vleis en wyn was geredelik beskikbaar. Hulle het nie suiker gehad nie, maar baie heuning. In die omgewing van die see van Galilea was daar ook genoeg vis; die vis is gedroog om langer te hou. Gewoonlik is daar ook net een dis voorberei wat dan in die bak in die middel van die groep mense gestaan het. Hulle het die dis dan saam met brood geëet. Dit lyk ook of die baas van die huishouding soms die porsies uitgedeel het, moontlik om te keer dat party te veel vat (1 Samuel 1:4).
Kom ons kyk na twee van die basiese kosse wat op die tafel was en wat vandag nog ‘n belangrike rol in elke gelowige se lewe speel, juis omdat Jesus dit as tekens van die nagmaal gekies het.
‘n Spyskaart as besoekers kom:
Wat het gebeur as ‘n gemiddelde tot ryk man in Paulus se tyd by die huis sou kom en sê: ‘Ou vrou, ons kry mense vir ete’? Martial, ‘n Romeinse skrywer, vertel vir ons wat om te verwag (in sy geskrif Epigramme 5.78). Hy gee vir ons ‘n tipiese spyskaart uit daardie tyd. Die arme vrou moes sowaar ‘n driegang maaltyd voorberei en nog vir die mans bedien ook:
Voorgereg (oftewel die aptytwekker):
* Blaarslaai en sterk prei. (die Romeine het geglo dit is ‘n goeie lakseermiddel).
* Tuna (of ander vis) wat met gekerfde eiers versier is. (Eiers was altyd deel van die voorgereg).
Hoofgereg:
* Gekookte koolblare (as groente) is op ‘n swart bord voorgesit.
* ‘n Klein worsie of (klein) stukkie gekookte vleis is op ‘n growwe tipe hawer, verwerkte koring of iets soos couscous opgedien. (Vleis is gewoonlik bokant die vuur aan die dakbalke opgehang. So is dit gerook en het dit langer gehou).
* Wit boontjies is saam met ‘n stukkie spek gaargemaak. (Kleur was vir hulle belangrik in hulle kos).
Poeding:
* Vrugte soos druiwe, pere, appels.
* Warmgemaakte neute.
* As gedroogde vye, pruime of dadels beskikbaar was, is dit ook aangebied.
Wyn of asyn wat met water verdun is, is saam met die ete gedrink.
Na die ete, terwyl hulle lekker om die wyn lê en kuier, het hulle verder aan olywe of warm peulgroente geknibbel.
Bon appetite!
Volgende keer gaan ons kyk na brood en wyn en van die kosse waarvan ons in die Bybel lees.
Skrywer: Prof Jan van der Watt