Die paradoks van die evangelie

The greatest missionary is the Bible in the mother tongue. It needs no furlough and is never considered a foreigner. —William Cameron Townsend

 

Die paradoks van die evangelie

Daar is ‘n oneindige afstand tussen die Skeppergod en sy skepsels. Die skeiding is die gevolg van ongehoorsaamheid en opstand teen daardie Skepper. Die Bybel sê vir ons hierdie afstand tussen Skepper en skepsel deur Jesus Christus onderhandel is – die deur is weer oop vir die oorspronklike verhouding tussen God en mens.

Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus (Romeine 3:23 – 24). Volgens Martin Luther is hierdie verse die kern van die brief.

Vers 21 begin met maar nou.  Dit is die bemoedigende nuus dat in Christus, en nie deur wetsonderhouding nie, het God voorsiening gemaak vir ons verlossing. Dit is bemoedigend, want hierdie verlossing hang nie van ons pogings af nie. Dit hang net van God en sy genade af.

Hierdie goeie nuus geld vir almal, sonder onderskeid, wat in Jesus Christus glo. Hierdie verlossingsplan is deur God self geïnisieer en dit hanteer die ingewikkeldste probleem in die geskiedenis van die mens: hoe kan ‘n sondige mens deur ‘n heilige en regverdige God vrygespreek word? Hierdie gedeelte beskryf wat God in Christus gedoen het om hierdie hindernis van sonde en die mens se gesindheid om op homself te vertrou, te oorkom.

In vers 21 – 26 gebruik Paulus die woord vryspraak nie minder as ses keer nie. Die woord glo word vier maal gebruik – dit is die manier waarop God se vryspraak beskikbaar gestel word. God gee dit (vryspraak) sonder onderskeid aan almal wat glo. Vryspraak is egter buite die bereik van alle menslike pogings. As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil (Hebreërs11:6); En enigiets wat ‘n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde (Romeine 14:23).

Die paradoks van die evangelie: die nietige skepsel word deur Jesus Christus met die magtige Skeppergod versoen.




Wat is die evangelie?

A house is no home unless it contains food and fire for the mind as well as the body. -Margaret Fuller  (1810-1850)

Wat is die evangelie?

Ons beskryf dikwels God se genadegawe van verlossing as die die evangelie. Die oorspronklike Griekse woord het “‘n geskenk gegee aan iemand wat goeie nuus gebring het,” beteken. Later word dit vir die goeie nuus self gebruik. Dit is presies wat God vir ons in die evangelie aanbied – goeie nuus oor wat Hy vir ons in Jesus Christus gedoen het. Wat is dan die evangelie?

  • Dit gaan alles oor wat God vir ons gedoen het

In 1 Korintiërs 15:1 – 4 herinner Paulus sy lesers aan die evangelie wat hy aan hulle verkondig het. Hulle word gered as hulle vashou aan hierdie boodskap.  Maar wat is dit wat hy aan hulle oorgedra het? Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het, en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;  Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.  God wil hê dat ons ons moet verheug oor die goeie nuus – dit wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het. Ons sonde verdien die dood, maar Jesus het die prys betaal en selfs die dood oorwin sodat ons vir ewig saam met God kan leef.

 

  • Die evangelie gaan alles oor genade.

Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig (Handelinge 20:24). Paulus se hele lewe was toegewy aan die verkondiging van die evangelie. Dit was goeie nuus, want God gee dit as ‘n gratis geskenk. Daar was geen meriete betrokke nie.

 

  • Die evangelie gaan slegs oor God se werk en geregtigheid.

In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe (Romeine 1:17). Dit is baie duidelik dat ons niks tot ons verlossing kan bydra nie Die evangelie is goeie nuus, want dit sê vir ons dat God alles sal doen wat vir ons verlossing nodig is. Ons moet net glo.

 

  • ‘n Evangelie van “werke” is nie die evangelie nie

6Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ’n ander evangelie aanneem. 7Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring. 8Maar al sou een van ons of selfs ’n engel uit die hemel aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het—die vloek van God sal hom tref! 9Ons het dit voorheen al gesê en ek sê dit nou weer: as iemand aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het—die vloek van God sal hom tref! (Galasiërs 1:6 – 9). Mense is geneig om stadig van die goeie nuus van genade weg te dryf in ons ou denke: dit is ons goeie werke wat ons verlos. Dit is nie goeie nuus nie. Dit is hopeloos om op ons eie goedheid te vertrou as ons die volmaakte God nader. Ons sal nooit “goed genoeg” wees nie.

 

God wil hê dat ons sy genadegawe moet sien vir wat dit werklik is. God se genade is goeie nuus, want dit los ‘n basiese probleem van die mens op – ons sondig; ons is opstandig; ons is nie volmaak nie. Ons kan eenvoudig nie gered word sonder God se werk in ons lewens nie. God dra nie by tot ons verlossing nie … Hy verlos ons; Hy is die enigste Bron van verlossing. Sy genadegawe is waarlik goeie nuus. Daarom noem ons dit evangelie.

 




Ware getuies van die evangelie

 —C.H. Spurgeon

Ware getuies van die evangelie

Lees weer hoe die apostels die evangelie in Handelinge verkondig. Vier elemente val dadelik op: durf, nederigheid, vasberadenheid en dringendheid. Sien ons hierdie vier elemente steeds in evangelieverkondiging vandag?

 

 Petrus en Johannes het gereeld vir die godsdienstige leiers van hulle dag beklemtoon dat hulle Jesus doodgemaak het. Hulle durf  het die godsdiensleiers verbaas: Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense (Handelinge 4:13). As vissermanne hulle man staan teen die magtigste manne in die stad is dit durf. Hulle durf gaan nie oor in arrogansie nie – hulle reageer met nederigheid. Lukas gaan uit sy pad om te wys dat hulle ongeleerde en eenvoudige mense was. Die apostels was baie reguit oor wie Jesus was. Hulle self is deur genade gered en diegene wat genade ontvang, besef  hulle het geen rede om trots te wees nie. Trotse Christene is trots, want hulle verstaan die boodskap glad nie.

 Nederigheid beteken nie ek deins terug nie. ‘n Nederige getuie kan steeds ‘n vasberade getuie wees. Petrus en Johannes ignoreer allerhande dreigemente van die Raad. Die Raad se opdrag om glad nie verder in die Naam van Jesus Christus iets te verkondig en te leer nie, lok by hulle die volgende reaksie uit: Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan julle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie. Waar kom hierdie vasberadenheid vandaan? Die opstanding – hulle het waarlik geglo dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat Hy mense verlos wat hulleself nie kon verlos nie. Glo ons dit gaan ons met vasberadenheid aan ons getuienis vasklou – ten spyte van teenkanting.

 

Nie alleen het hulle vasgehou aan hulle getuienis nie, maar hulle het dit met dringendheid versprei. Hoekom? Want ons weet hierdie Naam is die enigste Naam wat verlossing bring. Nadat die gelowiges bymekaar gekom het om te bid, lees ons: Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig (4:31). Hulle het die implikasies van die evangelieboodskap ernstig opgeneem. As ons besef dat verlossing net deur Jesus Christus moontlik is, sal ons ook ernstig wees met ons getuienis.

 As ons besef dat meer as 2 biljoen mense op aarde nog nooit die evangelie gehoor het nie, sal ons ook met durf, nederigheid, vasberadenheid en dringendheid getuig. Hulle het by geleentheid vir Charles Spurgeon gevra of mense wat nog nooit die evangelie gehoor het nie ook gered kan word. Sy antwoord slaan diep: How can we, who know the Gospel, be truly saved if we don’t go to them?




Wat die evangelie nie is nie!

– Nelson Mandela

 

Wat die evangelie nie is nie!

Ek het onlangs baie oor die evangelie geskryf. Mark Dever het ‘n kort boekie – The Gospel as Personal Evangelism –  geskryf. Vir hom is die evangelie die verlossingsboodskap van Jesus Christus. Omdat dit in die vorm van woorde kom, kan die maklik misverstaan en verdraai word. Daarom moet elke geslag Christene weer beklemtoon wat die evangelie is … en wat dit nie is nie. Hy identifiseer  vier algemene foute wat die evangelie bedreig.

 

  • Die evangelie is nie ‘n terapie vir ‘n menslike kwaal nie. Baie terapeutiese evangelies beklemtoon die waarde van die mens, bied geestelike vertroosting en herinner ons aan God se liefde – alles goed en reg. Hulle hanteer egter nie die boosheid van ons sondes, die werklikheid van die wêreld se boosheid en lyding nie en die feit dat God heerliker is as enige van sy gawes. Die ware evangelie is ‘n boodskap van vertroosting en liefde, maar die basis hiervoor is die Skrif en nie een of ander vorm van pop sielkunde nie.
  • Die evangelie is nie die universele wegneem van alle oordeel nie. Sommige mense glo dat alle mense hemel toe gaan – ‘n evangelie sonder enige oordeel. Mense doen nog sonde, maar sonde is ‘n ongelukkige menslike probleem of ‘n reeks eerlike foute. Hierdie evangelie verwerp God se heilige karakter en sy ywer vir geregtigheid. Die ware evangelie bevestig die heilige toorn van God
  • Die evangelie is nie ‘n morele revolusie of ‘n besluit om beter te doen nie. Die probleem van moraliteit is dat dit op uitwendige gedrag fokus. Jesus het nie die kruisdood deurgegaan  om ‘n groepie “goeie mense” bymekaar te maak nie. Hy het die sondeskuld van sondaars betaal; Hy maak sondaars ‘n nuwe skepping. Persoonlike en politieke moraliteit is nie die evangelie nie; vertroue in die dood en opstanding van Jesus Christus is.
  • Die evangelie is nie ‘n dosis geestelike inspirasie nie.  Vir baie mense is Jesus ‘n pragtige model van die lewe, liefde en lig. Jesus is nou iemand wat ons inspireer – iemand soos Helen Keller of Churchill.

 

Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is (Matteus7:21). Wees versigtig vir hierdie foute in die evangelie.