Waar om te begin met Bybelstudie?

Waar om te begin met Bybelstudie? – Kobus Kok

Yvonne vra: 

Ek wil graag Bybelstudie begin met die evangelies. Waar kan ek betroubare bronne kry?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Waar om te begin met Bybelstudie? Handige boeke en videos

Prof. Kobus Kok 

Dit is altyd goed as mens met een evangelie begin, dit baie goed ken en dan vergelyk met die ander evangelies. Mens moet eers met die melkkos begin voor mens die vaste kos eet. Melkkos sou daaruit bestaan dat mens eers een evangelie in die Bybel vat en dit baie goed, sommer ‘n paar keer deurlees. Mens kan ook goeie videos by CUM Boekwinkel koop soos ‘n onlangse Johannes-video wat die teks van Johannes goed navolg en uitbeeld. So leer mens eers die inhoud. Daarna bestudeer mens die boek vers vir vers deur ‘n Verklarende Bybel soos die Bybellenium te gebruik wat ook by CUM te koop is. Daarna kan mens meer vastekossies begin eet soos die boek van Prof. Richard A. Burridge (2005)  Four Gospels, one Jesus? A symbolic Reading. Eerdmans. Hierdie boek kan by Amazon bestel word en kos ongeveer R100- R120. Richard is die dekaan van Kings College in London. Die boekie verduidelik op ‘n eenvoudige manier hoe die vier evangelies van mekaar onderskei word en wat die unieke aard van elkeen is. Ek het ook voorheen ‘n artikel daaroor geskryf. Kyk gerus by http://www.bybelkennis.co.za/Algemene-Artikels-Bybelse-Temas-en-Sake/Vier-Evangelies-Een-Jesus.html. Daarna kan mens gerus ‘n draai maak by ‘n groot CUM boekwinkel soos in Menlyn. Hulle het baie goeie kommentare wat die “gewone” ou kan bestudeer en wat baie dominees ook gebruik. ‘n Baie bekende professor wat by Universiteite soos Oxford doseer het is N.T. Wright. Tom Wright se boeke kan mens almal koop omdat hy geweldig deeglik is, maar ‘n uitgesproke Christen wat akademie en geloof bymekaar hou. Ek hou baie van sy boeke en kan dit met vrymoedigheid aanbeveel. Kyk gerus ook na die volgende youtube video waarin prof. Richard Burridge meer vertel oor sy boek Four Gospels one Jesus: http://www.youtube.com/watch?v=DOQvWMvW420 . 

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Die Groot Geloofswoordeboek: Die Sinoptiese probleem

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Sinoptiese probleem

Sinoptiese probleem

Daar is baie opvallende verskille tussen die vier Evangelies. Om­dat die eerste drie die *Sinoptiese Evangelies (die Sinoptici) ge­noem word, dus die Evangelies wat groot ooreenstemming toon, is die verskille tussen hierdie Evangelies nog opvallender. Daar is teoloë wat dit gebruik om die vertroue wat Christene in die Bybel het, te probeer ondermyn. (*”Nuwe Hervorming”)

‘n Mens kan tussen verskillende soorte verskille onderskei. Daar is verskille tussen woorde en dade van Jesus, tussen verhale en gelykenisse en wonderwerke, tussen plekke en datums en reis­plan­ne, en nog meer. Sommige is kleiner verskille wat maklik ver­klaarbaar is, maar daar is ook ingrypende verskille. Mense wat ‘n bepaalde soort onfeilbaarheid van die Bybel voorstaan (*Fun­damentalisme), probeer alles moontlik om alle verskille “ge­lyk” te maak, weg te ver­klaar. Maar op baie ander maak dit selfs die in­druk van ongeloofwaardigheid.

Kom ons kyk eers na ‘n paar sulke verskille en na die soort “oplos­sings” wat fundamentaliste aanbied.

 

Die genesing van die blinde(-s)

In verband met die genesing van die blinde(-s) by Jerigo (Matt 20:29 ev; Mark 10:46 ev; Luk 18:35 ev) is daar twee belangrike verskille tussen die Si­noptici. Volgens Markus en Lukas is daar een blinde, maar vol­gens Matteus twee. Verder genees Jesus hom/hulle volgens Mat­teus en Markus wanneer Hy uit Jerigo uit­gaan, maar volgens Lukas wanneer Hy in Jerigo ingaan.

Daar word minstens twee “oplossings” vir hierdie verskille aan­ge­bied. Oor die ingaan of uitgaan word gesê dat daar ‘n ou stad en ‘n nuwe stad langs mekaar was. As die een Evangelie dus “uitgaan” skryf en die ander “ingaan”, skryf hulle presies dieself­de: As jy uit die ou stad uitgaan, gaan jy in die nuwe stad in. En dit is goed moontlik dat dit so kan werk. Wie sal weet?

Die ander “oplossing” is dié oor die een of twee blindes. Hier­voor word twee verskillende oplossings aangebied. Volgens die een het Markus een van die blindes persoonlik geken (hy gee sy naam as Bartimeus) en dus het hy besondere belang by hom gehad; daarom noem hy net die een. Die eerste probleem met so ‘n verklaring is natuurlik dat Lukas ook net een noem sonder om die naam te gee. Die rede om net een te noem, bestaan dus nie by Lukas nie. Die tweede is dat die groot ooreenkoms tussen die woorde van die verhale in die Sinoptici beteken dat beide Matteus en Lukas Markus hier omtrent woord vir woord gevolg het. Matteus moes dus sterk rede gehad het om op hierdie punt van Markus af te wyk en na twee te verwys terwyl sy bron, Markus, net een het. Hy sal nie vir die res van sy verhaal Markus omtrent woord vir woord volg en dan sonder goeie rede skielik hier na twee verwys nie.

Die ander verklaring hou juis verband met die “ingaan” en “uit­gaan”. Lukas noem een blinde wanneer Jesus ingaan, terwyl Mat­teus twee noem as Jesus uitgaan. Dit sou dan só gebeur het: die een blinde het Jesus ontmoet toe Hy in Jerigo ingaan (Lukas). Hy het toe sy maat gaan roep, en toe Jesus later uit Jerigo uitgaan (Matteus), was albei daar. Dis oorspronklik, maar nie regtig oor­tuigend nie. Volgens Matteus genees Hy albei blindes as Hy uit­gaan. Die een sou seker nie sy maat gaan roep het as Jesus hom nie genees het toe Hy ingegaan het nie (Lukas).

Ons gaan hier nie probeer om met allerlei kwinkslae werklike probleme onder die tafel in te vee nie. Daar is probleme, sommige ernstige probleme, en ons sal hulle waterpas in die oë probeer kyk. Wat die blindes betref, is dit nie seker hoeveel daar was en waar Jesus hulle genees het nie, al sou die “ou stad-nuwe stad”-teorieë nogal kon werk.

Daar is talle van hierdie kleiner probleme.

 

Die opwekking van die dogtertjie van Jaïrus

Die verhaal oor die opwekking van die dogtertjie van Jaïrus toon merkwaardige ver­skille. Volgens Markus 5:23 en Lukas 8:42 is sy ernstig siek, en Jaïrus vra vir Jesus om haar gesond te maak. Eers nadat Jesus opgehou word deur die vrou met bloedvloeiing, kom die tyding dat sy gesterf het. Maar volgens Matteus 9 (v 18 ev) is sy alreeds dood as Jaïrus met Jesus begin praat, en vra Jaïrus dat Jesus haar moet kom lewendig maak. Dit is natuurlik ‘n versoek van heeltemal ‘n ander aard: genees, of lewend maak! Wat het regtig gebeur en wat het die offisier regtig gevra?

 

Die donkie(-s)

Laat Jesus een donkie (Mark 11 en Luk 19) of twee donkies (Matt 21) haal waarop Hy dan klim en in Jerusalem inry?

 

Uitsprake van Jesus

Daar is opvallende verskille tussen die Sinoptici se weergawe van uitsprake van Jesus. Kom ons kyk na die saligsprekings. Die 1953-vertaling is duideliker op hierdie punt.

Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die ko­ninkryk van die hemele.

Matteus 5:3

 

Salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God.

Lukas 6:20

 

Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.

Matteus 5:6

 

Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word.

Lukas 6:21

 

Dit is duidelik dat Matteus ‘n ander, meer “geestelike” weer­gawe hiervan gee as Lukas. Wat het Jesus regtig gesê?

Volgens Matteus 7:11 het Jesus gesê die Vader sal goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra, maar volgens Lukas 11:13 het Hy gesê die Vader sal die Heilige Gees gee.

 

Wie is Jesus? Op Jesus se vraag wie die dissipels meen dat Hy is, kry ons drie verskillende weergawes van Petrus se ant­woord:

Markus 8:29: U is die Christus.

Lukas 9:20: Die Gesalfde van God.

Matteus 16:16: U is die Christus, die Seun van die lewende God.

 

Dit geld ook vir die instellingswoorde van die nagmaal. Daar was maar een so ‘n geleentheid waartydens Jesus die nagmaal in­gestel het, en tog is daar vier verskillende weergawes van Jesus se woorde. Ons kyk net na Jesus se woorde toe Hy die beker aan hulle gegee het, maar die woorde by die brood verskil ook.

Hierdie beker is die nuwe verbond wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.

1 Korintiërs 11:25

Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot ver­ge­wing van sondes.        Matteus 26:27-28

Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word.

Markus 14:24

Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.

Lukas 22:20

 

Volgens Markus 16 en Lukas 24 berei die vrouens die Saterdag na die kruisiging reukolie voor en gaan Sondagoggend graf toe om Jesus se liggaam te salf. Daarom hulle bekommernis oor wie vir hulle die groot klip voor die grot sal wegneem. Maar volgens Johan­nes is die liggaam al die Vrydagaand deur Nikodemus be­handel en daarom is daar geen sprake daarvan dat Maria Mag­dalena graf toe gaan om Hom te salf nie (Joh 19:39-40; 20:1 ev).

 

Wat die opstanding betref, is dit uiters moeilik, indien nie on­moontlik nie, om Johannes se verhaal met dié van die ander drie in harmonie te bring.

Wat baie van hierdie verskille nog opvallender maak, is die feit dat die Evangeliste soms presies dieselfde woorde gebruik, en dan skielik van mekaar verskil.

 

Daar is talle sulke kleiner verskille tussen die Evan­gelies, maar daar is ‘n paar groter, ingrypender verskille.

 

Die Kersverhale

Net Matteus en Lukas het Kersverhale. Maar hierdie verhale ver­skil baie van mekaar. Trouens, selfs die ge­slagsregisters van Josef verskil. Volgens Matteus is Josef se pa Jakob, maar volgens Lukas is dit Eli. Volgens Matteus is Eleaser Josef se oupagrootjie, maar vol­gens Lukas is dit Levi (Matt 1:15; Luk 3:23). Op sigself is dit dan eint­lik merkwaardig dat albei Mattan/Mattat as sy oupa het!

As ‘n mens die registers in besonderhede vergelyk, is daar baie verskille. Wat terloops interessant is, is die feit dat Matteus net tot by Abraham teruggaan, terwyl Lukas tot by Adam teruggaan. Uit die res van hierdie Evangelies blyk dit dat hulle dit doelbewus doen omdat Matteus vir Jode skryf om hulle te oortuig dat Jesus hulle Messias is (onthou, Abraham was hulle stamvader), terwyl Lukas vir ‘n Griek skryf, en dus wil aantoon dat Jesus vir alle mense gekom het. Daarom gaan hy terug na Adam toe.

Die twee Kersverhale self verskil baie van mekaar. Matteus se verhaal strek oor ‘n paar jaar, maar Lukas s’n net oor ‘n paar we­ke. Volgens Matteus laat Herodes alle seuntjies van twee jaar en jonger doodmaak “ooreenkomstig die tyd wat hy noukeurig by die sterrekykers uitgevra het” (Matt 2:16). Jesus kon dus al om­trent twee jaar oud gewees het toe die sterrekykers gekom en Hom nog in Betlehem gekry het. Maar volgens Lukas gaan Josef en Maria bin­ne ses weke ná die geboorte terug Nasaret toe. Immers, hulle gaan 40 dae na die geboorte van Jesus Jerusalem toe vir Maria se reiniging, en daarna vertrek hulle terug na Na­saret (Luk 2:22, 39; Lev 12:1-3, 6). Dit is verder baie moeilik om Matteus se vlug na Egipte in Lukas se verhaal in te pas. Daar is eenvoudig nie daarvoor tyd in net ses weke nie.

Dis ook interessant dat hulle volgens Lukas na Nasaret terug­keer. Hy praat selfs van Nasaret as “hulle eie dorp” (Luk 2:39), maar volgens Matteus verhuis hulle ná hulle terugkeer uit Egipte van Bet­lehem na Nasaret omdat hulle bang is vir die nuwe koning (Matt 2:22-23). Dit beteken dat Lukas Nasaret aanvaar as die oor­spronkli­ke blyplek van Josef en Maria, maar volgens Matteus is hulle skyn­baar oorspronklik van Betlehem. Hy verwys nie na Nasaret voor die geboorte van Jesus nie.

Ondanks baie pogings is daar na my wete nie ‘n manier om hier­die verskille in harmonie met mekaar te bring nie.

 

Die Paasfees en die kruisiging

Volgens die *Sinoptiese Evan­gelies het die Here Jesus die *nagmaal ingestel tydens die *Paas­fees die aand voor Hy gekruisig is. Die Evangelie van Johannes het dit egter anders. Daarvolgens geniet Hy die aand ‘n gewone maaltyd saam met sy dissipels en sou die Paas­fees eers die volgende aand gevier word (Joh 13:1 ev; 13:29; 18:28; 19:14). Wat hierdie verskil interessant maak, is die feit dat daar besondere betekenis is in hierdie verskillende tydsbepalings.

Dit het besondere betekenis dat Jesus volgens die Sinoptici juis tydens die Joodse Paasfees die nagmaal instel. Daar is ‘n verband tussen die twee. Die Paasfees was die fees van die bevryding van Israel uit die onderdrukking van Egipte. Dit is eintlik die fees van hulle ontstaan of geboorte as volk van God, en die nagmaal is die fees van die Christene se bevryding.

Maar ook Johannes se datering het ‘n wonderlike boodskap. Hy verkondig Jesus as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh 1:29), en die Vrydagoggend voor die Paas­fees die aand gevier sou word, word die Lam “geslag”, presies op die tyd dat die Paaslammers elke jaar geslag is. Paulus noem Jesus ook ons Paaslam (1 Kor 5:7).

Vir al hierdie verskille is oplossings voorgestel, maar baie daar­van is nie oortuigend nie en skep eerder die indruk van mense wat nie wil aanvaar wat werklik in die Evangelies staan nie. Maar as daar sulke verskille tussen die Evangelies is, wat dan van die *betroubaarheid van die Bybel?

 

Tas hierdie probleme die betroubaarheid aan?

Wat behels hier­die verskille regtig? Daar is verskille oor presiese woorde, oor gebeurtenisse, oor die besonderhede van die ge­boor­te en krui­si­ging van Jesus, oor sy opstanding. Maar wat word hier­deur onseker? Bepaalde feite soos hoeveel blindes, watter kant van Jerigo, was die kind al dood of nog net ernstig siek, is Jesus voor of na Paasfees gekruisig?

Het hierdie sake enigiets te doen met ons geloof? Is dit we­senlik deel van ons geloof of daar een of twee blindes was, of die Paasfees voor of na die kruisiging was, of Josef en Maria vroeër in Nasaret gebly het of later daarheen verhuis het?

In ‘n hofsaak verskil getuies oor kleiner besonderhede. Dit beïn­vloed gewoonlik nie hul geloofwaardigheid nie. Trouens, as ‘n paar getuies tot in die fynste besonderhede dieselfde getuig, vermoed die hof dikwels dat hulle juis nie die waarheid praat nie, maar vooraf ooreengekom het oor hul storie. Dit beteken dat kleiner verskille juis betroubaarheid bevestig!

Die verskille tussen die Evangelies raak nêrens die hart van die saak, die inhoud van ons geloof nie. Dit gaan oor onbelangri­ke rand­ge­gewens. Dit getuig eerder van mense wat elkeen self hul eie verhaal vertel het en nie vooraf afgespreek het omdat hulle ‘n storie wou opmaak wat sou klop nie. Trouens, as ‘n mens terugkyk na som­mige van hierdie verskille, is dit eerder die groot ooreenkoms wat opval. Kyk weer na die belydenis dat Jesus die Messias is en na die instellingswoorde van die nagmaal. Al vier het presies dieself­de gedagtes, met net kleiner woordverskille.

Wanneer sou verskille ons geloof aangetas het en ons onseker gelaat het? As die een Evangelie gelui het dat Jesus aan die kruis vir ons sonde gesterf het, maar die ander een het gelui dat Hy nie aan die kruis vir ons sonde gesterf het nie. As die een Evan­gelie gesê het dat Hy uit die dood opgestaan het, maar die ander Evangelie het gesê dat Hy nie uit die dood opgestaan het nie. Hierdie soort verskille sou inderdaad die hart van ons geloof aangetas het.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Vier Evangelies, Een Jesus- Vraag

Vier Evangelies – Jan van der Watt

Koos Vra:

Ek is op soek na n’ boek/webwerf wat die 4 evangelies langs mekaar (bv in kolomme) plaas. As Matteus bv praat van Johannes die doper, langs dit dan wat Markus, Lukas en die res oor daardie gedeelte skryf. Weet jul miskien van so iets?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Daar is heelwat sulke boeke, maar dit is hoofsaaklik vir akademiese doeleindes. Ons noem dit ‘sinopsis’ (van die Grieks sun = saam; opseo = sien). Hier is ʼn webadres waar die tekste langs mekaar verskyn: http://www.utoronto.ca/religion/synopsis/meta-5g.htm

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Vier Evangelies, Een Jesus?

Vier Evangelies, Een Jesus? – Kobus Kok

Twee weke gelede het ek ‘n katedraal in Duitsland by Kevelaar besoek. Teen die muur van die kerk, soos in baie katedrale in Europa en in antieke Christelike kuns, sien mens die uitbeelding van ʼn evangelie skrywer en ʼn simbool van ʼn dier. Mens sien dit in skilderkuns teen die mure, uitgekerf in hout preekstoele en kleurvol in die vensters van die kerke. So word Matteus dikwels uitgebeeld met die gesig van ʼn mens, Markus met die gesig van ʼn leeu, Lukas as ʼn bul en Johannes ʼn arend.

vier_evangelies

 

Agter hierdie kunstige aanbieding van die evangeliste staan ʼn interessante tradisie. Die allokasie van hierdie simbole vir die evangelie skrywers is geïnspireer uit Esegiël 1:10, in sy visie van God en natuurlik ook Johannes se Openbaring boek toe hy die troon van God gesien het (Openbaring 4:7). In beide hierdie tekste is daar ʼn mens, ʼn bul, ʼn leeu en ʼn arend rondom die troon van God. In die geskrifte van die antieke Joodse rabbi’s (kyk Rabba Shimmoth 23:13) verduidelik hulle vir ons dat die mens (kroon van  skepping), die bul (beste landdier), die leeu (beste wilde dier) en die arend (beste voël) die beste figure verteenwoordig wat daar in elke sfeer op aarde is. Verder hang dit saam met die totaliteit van die skepping en verteenwoordig die vier windstreke – noord, oos, suid en wes. Hierdie vier figure word vroeg in die vroeë kerk met die evangelie skrywers verbind. Tog sien ons verskillende weergawes in die vroeë kerk. Johannes (Arend of Leeu) en Markus (Leeu of Arend) se simbole word dikwels omgeruil terwyl Matteus en Lukas altyd dieselfde bly.

Irenaeus, biskop van Lyon in Frankryk teen die einde van die tweede eeu n.C., het die Christen geloof verdedig teen die ketters. Hy probeer veral om misverstand uit die weg te ruim en mense op te lei. Vir hom kon daar net vier Evangelie skrywers wees, nie minder of meer nie omdat daar net 4 windstreke is, 4 sheribim figure rondom God se troon en 4 verbonde (Adam, (Abraham), Noag, Moses, Christus). Vir Irenaeus is die vier evangelies 4 verskillende kante van Jesus. Hy groepeer die evangelies dan so: Matteus – mens; Johannes – leeu; Lukas – bul; Markus – arend. Hierdie volgorde verteenwoordig die vroegste volgorde wat gevolg is met die indeling van die evangelies en staan as die Latynse of Westerse indeling bekend (150-180nC). Matteus en Markus word prioriteit gegee omdat hulle apostels van Jesus was en die ander twee was assosiate of medewerkers van die apostels (Markus was ʼn helper van Petrus).

Hierdie indeling was egter nie die enigste indeling nie. Die indeling wat ons vandag ken en gebruik (Matteus, Markus, Lukas en Johannes) het eers later so gekom en wel die eerste keer in die muratorion kanon (170-200n.C.) en is veral deur die Griekse skrywers in die Oos-Mediterreense gebiede gebruik. Theofilos (van Sirië), wat kommentare geskryf het op die evangelies (tydgenoot van Irenaeus) was een van die vroegstes van hierdie deel van die kerk wat Johannes met die arend verbind en Markus met die leeu wat die volgorde van die ooste (Matteus, Markus, Lukas, Johannes) met die orde van die beelde in Esegiël verbind. Dus word die Griekse (Oos-Mediterreense) kanon volgorde so aan die evangelie skrywers verbind: Matteus – mens; Markus -leeu; Lukas- bul; Johannes- arend.

Uiteindelik sou Jerome alles standaardiseer. Hy het die Nuwe Testament in Latyn vertaal (Vulgaat) teen ongeveer 400 n.C. en gebruik die Griekse volgorde en beelde in sy Bybel. Aangesien dit die standaard Bybel geword het in daardie tyd het dit toe so gebeur dat die dominante volgorde die een geword het wat ons vandag nog ken.

In die antieke tyd was daar nie boeke met mooi omhulsels en ʼn kort opsomming om jou te oriënteer oor wat in die boek aangaan en wie die skrywer is en waarvandaan hy kom nie. Verder kon baie min mense lees en skryf. Visuele kuns is dus gebruik om mense te leer. Verder het mens in antieke geskrifte sommer in die openingswoorde al die leser voorberei sodat hy/sy weet wat kom. So het die antieke geleerdes dan na die eerste paar verse (toe nog nie verse nie) van die Bybelboek gekyk en daarvolgens die boeke ingedeel onder die beelde wat ons hier bo bespreek het.

Die meeste antieke kommentators was dit eens dat Matteus met die figuur van die mens verbind kan word omdat hy begin met die menslike genealogie van Jesus (Matteus 1:1-17). So verwys Lukas in sy openingswoorde na die priesterlike posisie van Sagaria (Luk 1:5). Aangesien die bul as offerdier beskou is het die vroeë kerkvaders Lukas daarmee verbind omdat hy na die priesterlike dimensie verwys. Markus aan die ander kant, begin sy evangelie met die verkondiging van die evangelie in die wildernis (Markus 1:3) woestyn) en leeus brul gewoonlik in die wildernis (Amos 3:4). Johannes word met die arend verbind omdat hy soos ʼn sterk arend sommer van die openingswoorde uitstyg en vertel dat Jesus van die begin af by God was en self God was en God se hart vir die mens kan wys (Johannes 1:1-18).

Simbole was veral in die vroeë kerk en in die Middeleeue die manier waarop mense geleer is en dit het hulle gehelp om die evangelie beter te verstaan. Vandag beweeg ons weer in ʼn tyd waar simbole belangrik word en waar mense, veral jongmense, toenemend visueel ingestel is. Myns insiens kan hierdie simbole weer nuttig gebruik word om ons jongmense (en oumense) te help om die uniekheid van elke evangelie te verstaan. Die evangelies is nie bloudrukke van mekaar nie. Die evangelies is inderdaad, soos die vroegste kerkvaders al opgemerk het – vier noodsaaklike, verskillende kante van Jesus, oor wie ons nooit genoeg sal kan sê nie, omdat daar net nie genoeg plek sal wees om al die boeke te hou nie (soos Johannes dit stel in Johannes 21:25). Daar is wel vier verskillende evangelies, maar hulle vertel almal vanuit hulle unieke hoek van presies dieselfde Jesus. Die vier saam gee vir ons ʼn genuanseerde idee van wie Jesus was.

 

Lees gerus die boek van Richard A. Burridge (2005). Four Gospels, one Jesus? A symbolic Reading. Eerdmans.  (Hierdie boek kan by Amazon bestel word en kos ongeveer R100- R120). Richard is die dekaan van Kings College in London.)

 

Outeur: Dr Kobus Kok