VERKONDIG DIE EVANGELIE IN ‘N MULTIKULTURELE WÊRELD

 

“All places are places of worship to a Christian. Wherever he is, he ought to be in a worshiping frame of mind.” C. H. Spurgeon

Verkondig die evangelie in ‘n multikulturele wêreld

Ons leef in ‘n multikulturele wêreld – baie rasse en etniese groepe, maar ook baie verskillende godsdienste en filosofieë. Ons kan hulle onmoontlik nie almal verstaan nie. Dit herinner nogal aan die situasie wat in Rigters 21:25 beskryf word: In daardie tyd was daar nog nie ‘n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.

Die vraag waarop Christene moet antwoord, is: In ‘n situasie soos dié waarin ons ons tans bevind, hoe kan ons die boodskap van Jesus Christus aan die wêreld om ons verkondig? Om dit nog moeiliker te maak, beweeg ons in ‘n post-Christendom tydperk – mense weet al hoe minder van wat dit beteken om in Jesus Christus te glo.

Ons sit met ‘n dilemma. Aan die een kant weet ons nie hoe om Jesus se boodskap in hierdie deurmekaar wêreld te verkondig nie, maar aan die ander kant het ons ‘n duidelike opdrag van Jesus: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (Matteus 28:19).

Verskil die situasie vandag veel van dié van Paulus se leefwêreld. Paulus leef en evangeliseer in ‘n multikulturele wêreld: Jode en heidene, slawe en eienaars, baie regte vir mans en min regte vir vroue, ens. Daar is ook baie verskillende godsdienste beoefen: keiseraanbidding, die groot aantal Grieks-Romeinse gode, Jode en Christene. Daar was ook ‘n hele aantal mistieke godsdienste met geheime rituele. Mense het ook algemeen geglo in bose geeste en het daarom allerhande geheime gebruik om hulle teen hierdie geeste te beskerm. In die proses het die Ateners ‘n filosofie/wêreldsiening gebou waarvolgens hulle kon leef en die wêreld verstaan.

Almal van ons het ‘n wêreldsiening wat van die volgende vrae probeer antwoord:

  • Hoekom is ek hier?
  • Hoekom bestaan alle dinge?
  • Hoe kan my lewe betekenis hê?

Om hierdie vrae te beantwoord het die inwoners van die Romeinse Ryk filosofie en godsdiens vermeng. Dit word dan hulle wêreldsiening.

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.




Evangelisasie: Oorkom die hindernisse

For unless we are united with all the other members under Christ our head, no hope of the future inheritance awaits us – Calvyn

 

Evangelisasie: Oorkom die hindernisse

Daar kom toe ‘n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My ‘n bietjie water om te drink.” Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie. (Johannes 4:7 – 9)

Hier is drie hindernisse wat Jesus oorbrug:

 

  • Etniese en kulturele haat. Die Jode en die Samaritane het mekaar gehaat. In die agste eeu vC het die Assiriese Ryk die Noordryk van Israel oorwin. Hulle deporteer van die Israeliete en bring ander mense in. Hierdie nuwe heidene het hulle eie gode en die plaaslike God aanbid. Hulle meng hulle godsdienste. Dit was vir die Jode totaal onaanvaarbaar. Jode het sover as moontlik Samaria vermy, Soos Rabbi Eliëser gesê het: om die brood van die Samaritane te eet, is dieselfde as om varkvleis te eet.
  • Die grens tussen geslagte.  In Jesus se dag was dit skandalig om met ‘n vrou alleen by ‘n fontein te sit. Godsdienstige Joodse mans het God immers elke dag gedank dat hulle nie as vrou gebore is nie. ‘n Rabbi sou sy reputasie verloor as hy in die openbaar met ‘n vrou gesels – selfs sy eie vrou of dogter. Jesus praat met hierdie heidense vrou.
  • Jode deel nie eetgerei met Samaritane nie. Dit sou hulle onrein maak. Jesus oorbrug ook hierdie hindernis. Selfs die Samaritaanse vrou was hieroor verbaas: Hoe vra jy, wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water om te drink?

 

Hoekom het Jesus hierdie hindernisse oorbrug? Omdat Hy vir die siel van hierdie vrou omgegee het. Ons moet ook soms sekere hindernisse oorbrug om mense vir Christus te bereik. Ons moet uitreik na mense wat nooit die Bybel sal lees en nooit in die kerk sal kom nie. Jesus kom in hierdie vrou se wêreld met die evangelie. Jesus se liefde vir die wêreld is nie iets teoreties nie, maar is liefde in aksie.

 

Baie mense bly weg van die kerk, want hulle glo dat gelowiges op hulle sal neersien. Hulle voel ongemaklik in ‘n godsdienstige omgewing. Daarom kom hulle nie na ons toe nie – ons moet die evangelie na hulle toe neem.

 

 

 




Paulus en evangelisasie (3)

 

First they came for the Socialists, and I did not speak out– Because I was not a Socialist. Then they came for the Trade Unionists, and I did not speak out– Because I was not a Trade Unionist. Then they came for the Jews, and I did not speak out– Because I was not a Jew.Then they came for me–and there was no one left to speak for me. – Martin Niemöller (1892–1984) oor lafhartigheid van die Duitse intellektueles teenoor Hitler

 

Paulus en evangelisasie (3)

Die ononderhandelbare evangelie wat Paulus verkondig

Want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Homuit die dood laat opstaan (Handelinge 17:31).

Hier word Jesus bekendgestel. Paulus het eers die raamwerk daargestel voordat hy vir Jesus bekendstel. Dit is die metanarratief – die groot storie wat al die ander stories verduidelik.

 

Postmoderne mense hou van stories, maar hulle haat die groot storie wat al die kleiner stories verstaanbaar maak. Wat insiggewend is, is dat Paulus nie van die opstanding wegskram nie. Dit is wat so baie aanstoot gee – liggaamlike opstanding was vir die Grieke onaanvaarbaar. Die gevolg is dat party van sy hoorders hom uitgelag het. Hy pas nie die evangelie aan om dit meer aanvaarbaar te maak nie.

Vir Paulus is daar sekere ononderhandelbare waarhede in die evangelie. Dit kan nie afgewater word net om dit meer aanvaarbaar te maak nie. Is dit nie ‘n taktiese fout nie? Ons lees immers: ‘n Paar mense het gelowig geword (17:34). Maar vir Paulus is daar sekere waarhede waaroor hy nie bereid is om oor te onderhandel nie – al ontstel dit sy hoorders. Ons kan nie kompromieë oor die evangelie aangaan nie.




Paulus en evangelisasie (2)

 

Fault-finding is the easiest of all tasks – J. C. Ryle

Paulus en evangelisasie (2)

Watter raamwerk gebruik Paulus? Daar is drie waarnemings vooraf:

Ons lees Paulus se toespraak in drie minute, maar toesprake voor die Areopagus was beslis nie kort nie. Hierdie is ‘n erg gekondenseerde verslag van wat Paulus gesê het. Paulus het waarskynlik op elke punt in hierdie verslag verder uitgebrei.

 

Daar is heelwat ooreenkomste tussen hierdie verslag en Paulus se brief aan die Romeine.

Die woorde wat Paulus hier gebruik is baie interessant – dinge wat ons in die Stoïsynse kringe sou verwag. Maar in elke geval pas hy hulle aan sodat hulle die boodskap wat hy wou oordra, oordra.

Kom ons kyk na die raamwerk wat Paulus gebruik:

Een: Hy begin by God wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het (17:24). Dit beteken dat die Skepper anders as die skepsels is. Dit impliseer ook dat die mens aanspreeklik is – ons skuld ons Skepper alles. Om onsself in die middelpunt van die skepping te plaas, is die kern van alle sonde. Om dinge wat gemaak is in plaas van die Skepper te aanbid, is die kern van afgodery.

Twee: Hy is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie (17:24). Die oppermag van God staan uit teen die gode aan wie ‘n spesifieke domein gekoppel is (byvoorbeeld Neptunus oor die see). Die God van die Bybel is oppermagtig oor alles. Daarom kan ons Hom nie tot ‘n gebied beperk nie – nie eers tot ‘n tempel nie. God kan nie tot tempels ingeperk word nie. Hy is groter as dit.

Drie: Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie (17:25). Hy het ons nie nodig nie; Hy is totaal onafhanklik van die skepping; Hy het ons nie nodig vir sy bestaan nie.

Vierde: Dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee (17:25). Dit stroop ons van ons sogenaamde onafhanklikheid.

Vyfde:  Uit een mens het Hy al die nasies gemaak (17:26). As die sonde en dood deur een mens in die mensdom gekom het sodat die beslissende optrede van ‘n ander Man nodig was om dit om te keer, was dit belangrik dat Paulus sy antropologie moes regkry.

Ses:  God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind (17:27). Iewers het iets verkeerd geloop.

Sewe: Hy is nie ver van enigeen van ons af nie (17:27). Paulus sal nie toelaat dat mense dink dat God onverskillig is nie – dat Hy nie omgee nie. Want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons (17:28).

Ag: Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding (17:29). Afgodery is verwerplik.

Nege: Hy kom na vore met ‘n sekere siening van tyd. Paulus vestig hier ‘n liniêre raamwerk: die skepping is op ‘n vaste punt: Want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het (17:31).

Hierdie is die raamwerk wat Paulus gevestig het.

Volgende keer gee ons aandag aan die ononderhandelbare evangelie wat Paulus verkondig het.