Paulus en evangelisasie (1)

Money, I am convinced, will never be wanting for a good cause, if a case is really made out –  J. C. Ryle

 

Paulus en evangelisasie (1)

Paulus leer vir ons die verskil tussen evangelisasie onder mense wat grotendeels jou wêreldsiening deel en diegene wat Bybels ongeletterd is.

·Mense wat grotendeels jou wêreldsiening deel

 In Handelinge 13 lees ons van Paulus se preek in Pisidië. Hy preek in die sinagoge – sy hoorders is Jode of nie-Jode wat die Joodse godsdiens aangeneem het. Dit was mense wat die Skrif – die Ou Testament – geken het. Daarom vertel hy vir hulle die verhaal soos ons dit in die Ou Testament kry. Hy doen dit om te bewys dat Jesus van Nasaret die beloofde Messias is.

Hy haal verse aan en argumenteer dat die opstanding van Jesus die vervulling van die Bybelse profesieë is. Daarvandaan redeneer hy terug na Jesus se dood en die betekenis daarvan: Wat aan julle verkondig word, die vergewing van sondes deur Hom is, en dat elkeen wat glo, deur Hom vrygespreek word van alle sondes (13:38 – 39). Hy eindig met ‘n aanhaling uit Habakuk 1:5 waarin gewaarsku word van die verskriklike oordeel oor ongeloof en skeptisisme.

Hier is Paulus se benadering tot mense wat Bybels geletterd is.

·Mense wat glad nie jou wêreldsiening deel nie

In Handelinge 17 evageliseer Paulus intelligente Ateners, maar mense wat totaal Bybels ongeletterd is. Sy benadering verskil radikaal van sy benadering in Pisidië. Ons moet hierdie gedeelte bestudeer, want ons leef in ‘n wêreld wat toenemend Bybels ongeletterd is.

Wat is die realiteite waarvoor Paulus te staan gekom het? Daar was die Bybelse ongeletterdheid – hierdie mense het nog nooit ‘n Bybel oopgemaak nie en nog nooit van Moses gehoor nie. Daar was drie eienskappe in hulle kultuur wat belangrik was.

  • Die Romeinse Ryk is deur grootskaalse godsdienstige pluralisme gekenmerk

Die Romeine het besef dat as mense godsdiens, land en mense kan belyn hulle maklik in opstand kan kom. Daarom het hulle van die gode van die volke wat hulle oorwin het as deel van hulle eie goderyk aangeneem. Hulle het ook daarop aangedring dat van hierdie mense wat onderwerp is van hulle – die Romeine se -eie gode moes aanvaar het. In enige burgeroorlog sou dit nie duidelik gewees het watter kant die gode ondersteun het nie. Godsdienstige pluralisme was endemies en is deur die wet ondersteun. Geen god kon Rome uitdaag nie.

  • Hierdie mense was Bybels ongeletterd, maar hulle het verskillende wêreldsienings aangehang

Twee van hierdie wêreldsienings word in die teks genoem: Epikureërs en Stoïsyne (17:18). Hierdie sienings het na ‘n totale lewenswyse verwys. Paulus stel God se wil en soewereiniteit teenoor menslike afhanklikheid en behoefte. Hier is ‘n groot botsing tussen wêreldsienings. Paulus evangeliseer hier mense wat aan ‘n fundamenteel vyandige wêreldsiening toegewy is.

  • Hulle sien neer op Paulus

Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê? Ander sê weer: Dit lyk of hy ‘n boodskapper van vreemde gode is.

As ons in ons postmoderne wêreld mense wil evangeliseer, moet ons sekere werklikhde in die kultuu identifiseer en altyd in gedagte hou.

Die opvallende reaksie van Paulus toe hy sien wat in Atene aangaan is ‘n Bybelse analise: Hy het baie verontwaardig geword toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is. Hy mag die argitektuur bewonder het, maar hy was allermins deur Atene geïntimideer. Hy sien die afgodsbeelde. Het ons nie ook Christene nodig wat nie deur reputasies en prestasies beïndruk en geïntimideer word nie.

Paulus se teiken is twee uiteenlopende groepe:

hy het in die sinagoge met die Jode en die godvresendes geredeneer – die mense wat die Bybel geken het. Ons is so geneig om van hierdie groep te vergeet.

En elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat. Hy teiken enigeen wat daar verbykom. Meeste van hulle was Bybels ongeletterd. Hy gaan voort met sy evangelisasie en die gevolg daarvan was ‘n uitnodiging na die Areopagus. Hy wag nie eers toe hy ‘n uitnodiging na die Areopagus kry voor hy met sy evangelisasie begin nie.

Sy prioriteite was dus ‘n Godgesentreerde kultuuranalise en evangelisasie van mense wat Bybels geletterd en ongeletterd was.

Volgende keer gaan ons kyk na die raamwerk wat Paulus in Atene gebruik het.




Jy is geroep; jy is gestuur; gaan

 

The illusion which exalts us is dearer to us than ten thousand truths. –Aleksandr Pushkin (1799-1837)

Jy is geroep; jy is gestuur; gaan

Matteus 10 en Lukas 10 is belangrike Skrifgedeeltes vir ons uitreik na die wêreld om ons. Hier gee Jesus opdragte aan sy dissipels oor hoe om uit reik na die wêreld om hulle. Ons kan dit sien as spesifieke stappe wat ons moet uitvoer voor ons kan uitreik of as beginsels. Een van die redes waarom ons dikwels nie slaag in ons uitreik na die wêreld nie, is omdat ons ons eie beginsels neerlê en volg.

 

Wat is hierdie beginsels?

  • Roep en stuur spesifieke mense uit op die sending

Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en hulle mag gegee om onrein geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak. Die name van die twaalf apostels was … Jesus het die twaalf uitgestuur en die volgende opdragte aan hulle gegee (Matteus 10:1 – 5).

God inisieer hierdie roeping en uitstuur, maar Hy kommunikeer altyd sy roeping en sending deur ‘n plaaslike groep gelowiges. So sien die gemeente in Antiogië die behoefte en stuur vir Paulus en Barnabas uit na die heidenwêreld. Omdat die plaaslike gemeente die liggaam van Christus is, is dit vanwaar die roeping en stuur meestal sal kom.

 

Om gestuur te wees, beteken nie noodwendig dat ons na ‘n ander land moet gaan nie. God stuur ons elke dag in die wêreld om ons. Om gestuur te wees is nie ‘n reis nie – dit is ‘n lewenstyl. Dit beteken ek moet na die stem van die Heilige Gees luister, maar ek moet ook na die leiding van ander in die gemeente luister. Baie van ons sal weerstand bied as ons die roeping hoor – soos Moses. Ons het nou die leiding en bemoediging van ons medegelowiges nodig om deur die weerstand te breek. Na watter persoon roep God jou om die Goeie Nuus aan hom oor te dra; na watter plek roep God jou om te gaan – ver of naby?

 

  • Gee gesag met verantwoordelikheid

Toe Jesus sy volgelinge uitgestuur het, het Hy aan hulle die gesag gegee om die taak wat Hy aan hulle opgedra het, uit te voer. Al moes hulle nog baie leer, het Hy hulle vertrou. As ‘n gemeente mense uitstuur, moet die gemeente hulle oplei en ondersteun. Jesus gee aan elkeen van sy volgelinge die gesag om die goeie nuus oor Jesus Christus aan ander te verkondig – nie net aan leraars en sendelinge nie. Die krag om die goeie nuus uit te dra is aan elkeen van ons gegee – ons is gesante van Christus en ons gesag kry ons by Hom.

 

  • Vir doeltreffende evangelisasie moet jy fokus

Moenie met ‘n pad na die heidennasies toe afdraai nie en moenie in ‘n dorp van die Samaritane ingaan nie. Gaan liewer na die verlore skape van die volk Israel toe (Matteus: 10:5 – 6)

Jesus se fokus tydens sy openbare bediening was om na die verlore skape van Israel uit te reik – dit was nog nie die regte tyd om na die heidennasies uit te reik nie. Hierdie is ‘n belangrike beginsel: jy kan nie terselfdertyd na almal toe uitreik nie – jy moet fokus. Kies jou fokus en ontwikkel dan die metodes wat jy nodig sal hê om hulle te bereik Vir elke teikengroep moet jy ‘n spesifieke strategie ontwikkel. Ons fokus, nie om eksklusief te wees nie, maar om doeltreffend te wees.

 

As individue begin ons fokus dikwels by ons familie en vriende – diegene wat die naaste aan ons is. Hulle het die veranderinge wat Jesus in ons lewens aangebring het eerstehands gesien. Ons is dus beter in staat om na hulle uit te reik as enigeen anders.

 

Ek is gestuur; ek ontvang gesag; ek moet fokus.

 




Sending en evangelisasie = Woorverkondiging?

The really wonderful moments of joy in this world are not moments of self-satisfaction but self-forgetfulness. —John Piper

?

Ons glo dikwels dat sending en evangelisasie die verkondiging van die Woord is – ons moet net die evangelie kommunikeer. In Galasiërs 2 is daar ‘n interessant gedeelte. Na 14 jaar keer Paulus na Jerusalem terug. Daar lê hy die evangelie wat hy verkondig het aan die broers voor – Ek wou sekerheid hê dat ek nie tevergeefs werk of gewerk het nie. Daar is toe ooreengekom dat Paulus die evangelie aan die nie-Jode sou verkondig. Nou rig die broers in Jerusalem ‘n interessante versoek aan Paulus: Al wat hulle gevra het, is dat ons nie die armes onder hulle moet vergeet nie. Ek het my dan ook steeds vir hierdie liefdesdiens beywer (2:10).

 

 




Ek moet die evangelie verkoop

. —Thomas Brooks

Ek moet die evangelie verkoop

Meeste van ons krimp inmekaar as ons iemand hoor klop aan die deur en sien dat dit ‘n verkoopsman is. Of gaan na ‘n plek waar hulle tweedehandse karre verkoop – nog erger. Natuurlik is ons geïnteresseerd daarin om dinge te koop, maar daar is sekere verkoopsmanne wat ons wil vermy – die harde verkopers wat nie nee vir ‘n antwoord aanvaar nie. Hierdie verkoopsmanne volg ‘n voorafbepaalde roetine. Hulle wil hê ons moet iets koop wat ons waarskynlik nie nodig het nie. Always Be Closing = ABC is hulle leuse.

 

Dikwels word sekere kerkmense  wat hulle geloof wil deel in dieselfde lig as hierdie verkoopsmanne gesien. Ons leer sekere evangelisasietegnieke en memoriseer hoe ons die evangelieboodskap moet oordra. Daar mag selfs ‘n lys van besware wat mense mag hê, wees en hoe ons daarop moet reageer. Die doel is edel en reg. Maar, dikwels word evangelisasie ‘n verkoopstegniek. Die evangelie is tog nie ‘n besigheidskontrak nie, maar ‘n verbond  met ‘n persoonlike God soos in Jesus Christus geopenbaar. Ons word opgeroep om met mense in ‘n verhouding te tree.

Goed en wel, maar wat beteken dit? ‘n Dialoog en nie ‘n monoloog nie – ons luister goed en nooi ander uit om op die goeie nuus te reageer – sonder dwang. Ons spreek hulle diepgesetelde persoonlike behoeftes soos duidelik word in ons intieme verhouding met hulle, aan.

Verkoopsmense verkoop produkte – dit is hulle werk. Maar as hulle uit gewoonte reageer sonder om die behoeftes en bekommernisse van die kliënt te hanteer, openbaar hulle nie die nodige respek vir die kliënt nie. Hulle luister nie na die kliënt nie. Hulle skep nie spasie vir die moontlikheid dat die kliënt dalk glad nie belangstel in hulle produk nie.

In hulle ywer vir evangelisasie trap gelowiges dikwels in dieselfde strik. Is die benadering tot evangelisasie vir baie gelowiges nie ook ‘n gepoleerde boodskap wat oral herhaal word met ‘n lys van antwoorde op moontlike besware nie? Ons moet ons beste doen om getroue getuies te wees, maar die resultate moet ons aan ‘n soewereine en genadige God oorlaat.

Paulus en Petrus het nie ‘n statiese benadering gehad nie. Die geloof is een maal oorgelewer (Judas :3), maar hulle het hulle boodskap volgens die spesifieke omstandighede gekontekstualiseer. In hulle prediking fokus hulle op Jesus, maar hulle plaas hulle boodskappe in verskillende raamwerke as gevolg van die verskillende behoeftes van hulle gehore.

In Handelinge 2 praat Petrus met Jode en mense wat tot die Jodedom bekeer is. Sy boodskap maak baie gebruik van die Ou Testament. Hy beklemtoon dat Jesus die Messias is. As Paulus met die Ateners praat, gebruik hy ‘n ander benadering. Hy haal aspekte van die Griekse kultuur en die skepping aan. Die evangelieboodskap verander nie, maar die perspektiewe en behoeftes van die hoorders vereis dat ons met die gehoor op ‘n toepaslike en betekenisvolle manier praat. Let daarop dat in Handelinge 17 waar Paulus met die Ateners praat hy geen druk op hulle uitoefen om ‘n besluit te neem nie. Hy vertel hulle van die evangelie en hulle reageer op drie maniere:  skeptisisme/ verwerping, openheid om verder te praat en aanvaarding.

Ons hoef nie iemand te bekeer nie – ons kan dit in ieder geval nie doen nie. Net die Heilige Gees kan dit doen. Ons moet getroue getuies wees en God wil ons in evangelisasie gebruik, maar ons het nie die vermoë om harte en lewens te verander nie. Ons werk is om mense van die evangelie te vertel  en om mense uit te nooi om Jesus Christus persoonlik te ontmoet – nie om godsdienstige produkte te verkoop nie.