Die nuwe Fariseërs van vandag

I am never better than when I am at full stretch for God – George Whitefield

 

Die nuwe Fariseërs van vandag

Paul Louis Metzger sê dat Paulus probleme met die Fariseërs gehad het. Die Fariseërs het op uitwendige godsdienspraktyke gefikseer – hulle het vertroue in hulle eie prestasies gehad. Dit verplaas opregte vertroue in God as die basis van ons vertroue. Van die godsdiensleiers in Paulus se tyd wou veral die nie-Joodse Christene oortuig dat geloof + besnydenis = verlossing. Vir Paulus was dit onaanvaarbaar. Hy bespreek die probleem in Filippense 3:1 – 21.

 

Ons bespreek nie meer die belang van die besnydenis nie, maar ons het probleme met ‘n subtiele vorm van prestasie-gedrewe geestelikheid. Dit is niks nuut nie. Paulus het net ‘n ou vorm hiervan ondervind. Vandag is dit net baie meer subtiel.

Ons ignoreer die diepte en kompleksiteit van die lewe en dit lei tot ‘n statiese, prestasie georiënteerde geestelikheid – ons moet net al ons dingetjies agtermekaar kry.

 

Ons sien dit dikwels in ons bespreking van sterk kerkleiers. Ten spyte van sy krag in Christus was Paulus swak – doelbewus soos ons in 1 Korintiërs 2 en 2 Korintiërs 11 en 12 lees. Paulus het nie sy krag in sy persoonlikheid of sy leierskap gevind nie. Lees net weer Filippense 3:1 – 6. Paulus sou ook op uiterlike dinge kon vertrou het, maar hy plaas sy vertroue in Christus: Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus. Diegene wat glo, het immers die ware besnydenis – hulle dien God en sy Gees en vertrou nie op uiterlike dinge nie. Hierdie was nie vir Paulus ‘n akademiese debat nie. Die mense wat Paulus hier uitdaag, was nie buite nie, maar binne in die kerk.

 

 

Hoeveel vertroue het ons in God se liefde of vertrou ons steeds op ons eie prestasies?




Paulus vervolg die Christene

Paulus vervolg die Christene – Jan van der Watt

Erika vra:

Hoekom het Paulus die Christene vervolg? Wat was dit wat die Joodse geloof en reëls en Fariseërs gehad het teen Jesus in Paulus se tyd? As ek dit reg verstaan het Paulus se vervolging van Christene plaasgevind omdat hulle in Jesus geglo het. Tog het hulle rede gehad om in Jesus te glo, want hy was toe reeds op aarde gewees, gekruisig en het opgestaan. Oorlewing moes dit tog so oorgedra het aan die Jode in Paulus se tyd? En hoekom moes die Christene doodgemaak word? Kon hulle nie maar soos vandag keuses gehad het nie?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Om die vraag te beantwoord moet ons eers bietjie kyk na hoe die politieke en godsdienstige omstandighede in daardie tyd daar uitgesien het. Die magtige Romeine was die politieke heersers oor die hele Mediterreense gebied. Om so ‘n groot gebied te beheer sonder telefone, vliegtuie, karre ens. het spesiale reëlings gevra. Hulle het in die meeste gevalle met die plaaslike mense ‘n ooreenkoms gemaak – die plaaslike mense kan hulle eie plaaslike sake en veral hul eie godsdienstige sake reël, maar dan moet hulle gereeld hulle belasting betaal en hulle polities gedra. Hulle moet nie in opstand kom of betoog nie. Daarom kry ons in Jesus se tyd die Sanhedrin of Joodse Raad (Jesus moes eers voor hulle verskyn met sy verhoor) wat oor die plaaslike Joodse sake en godsdiens beheer gehad het en daarna is hy na die politieke leier, Pontius Pilatus (wat namens die Romeine beheer moes uitoefen). Deel van die ooreenkoms was ook dat die Jode regspraak kon uitoefen oor sake wat hulle direk raak (maar nie oor politieke sake nie – sien die gesprek tussen die Jode en Pontius Pilatus in Johannes 18:28-32). Hulle kon mense straf as hulle dink die mense oortree hulle plaaslike wette of godsdienstige reëls. Hulle kon selfs Jode wat hulle gedink het oortree hulle godsdienstige wette vervolg ver buite die grense van Israel. Daarom kon Paulus ook Damaskus toe gaan (wat in Sirië was) om die Christene daar te vervolg.

Paulus-hulle, as Jode, het dus die reg gehad om Jode te vervolg wat hulle dink teen hulle godsdiens gedraai het of dinge doen waarmee hulle nie tevrede is nie. Ons lees in die eerste hoofstukke van Handelinge dat die Christene Jesus as die opgestane Messias bely het. Die Jode het dit nie aanvaar nie en wou hulle stilmaak (Lees die mooi verhaal in Handelinge 4). Toe die Christene nie wou luister nie, het die Jode gevoel dat hulle die egtheid van die Joodse godsdiens bedreig en het hulle daarom begin vervolg.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt