Die Seder (3)

Die Seder (3) – Coen Slabber

Nou kom ons by twee belangrike simbole: die vier bekers wyn en die Sederbord.

Die vier bekers wyn

Tydens die Seder moet vier bekers wyn gedrink word. Elkeen word op ’n spesifieke tyd gedrink. Hoekom nou juis vier bekers? Dit verwys na die vier seëninge wat in Eksodus 6:6 – 7 beloof word:

 

  1. Ek neem julle aan as my volk en Ek sal julle God wees.
  2. Dan sal julle besef dat Ek, die Here, julle God is wat julle van die dwangarbeid van Egipte bevry.
  3. Ek sal julle bring na die land wat Ek met ’n eed aan Abraham, Isak en Jakob belowe het.
  4. Ek sal dit julle eiendom maak.

Die Seder-bord

Die Tradisionele Sederbord

tradisionelesederbord

 

Hierdie is ’n spesiale bord wat ses simboliese kossoorte bevat – elkeen het ’n spesiale betekenis in die vertelling van die Eksodus-verhaal. Die sewende simboliese item – drie matzah – word op sy eie bord geplaas. Hierdie ses items is:

  1. Maror en Chazeret – twee soorte bitter kruie wat herinner aan die bitter en swaarkry van slawerny in Egipte. Vir maror word vars peperwortel gebruik. Chazeret is tipies bindslaai (romaine lettuce). Die wortels van hierdie slaai is bitter. Die deelnemers aan die Seder moet letterlik die bitterheid van slawerny proe.
  2. Charoset – ’n soet bruin pasta van vrugte en neute. Die deelnemers moet letterlik die ondervinding van slawerny inneem.
  3. Karpas – ‘n groente soos pietersielie of seldery. Hierdie groente word in die soutwater gedoop. Die groente is simbool van lente en hernuwing; die soutwater is ’n simbool van die trane van die Hebreeuse slawe.
  4. Zeroa – gebraaide lamskenkel simbool van die Paasfeesoffer. Dit was ’n lam wat in die tempel in Jerusalem geoffer is. Dit word nou tuis voorberei.
  5. Beitzah – ’n gebraaide eier wat deel was van die feesoffer in die tempel. Dit is ook ’n simbool van die heelheid en voortsetting van lewe.

[1 het twee items gehad.]


Fokus op die kinders

Die oorvertel van die Eksodus-gebeure aan jou kinders is die doelwit van die Seder. Daarom word moeite gedoen om die belangstelling en nuuskierigheid van die kinders te prikkel – en om hulle wakker te hou. Daarom is vrae en antwoorde deel van die ritueel. Kinders word aangemoedig om vrae te vra.

Die belangrikste vraag is: “Hoekom verskil hierdie nag van alle ander nagte?” Nou volg ’n geskiedkundige hersiening van die Eksodus-verhaal. Gedurende die Seder sal die leier die matzah bedek en die beker wyn oplig. Dit word gedoen om vrae te stimuleer. Dan is daar die sogenaamde afikoman wat weggesteek word. Die kinders moet dit soek.

Volgende keer kyk ons na die tradisionele maaltyd – die volgorde waarin dit gebeur

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Die Seder (2)

Die Seder (2) – Coen Slabber

Die volk het toe hulle brooddeeg, sonder suurdeeg, in skottels gesit, dit in hulle klere toegedraai en dit op hulle skouers gedra … Met die deeg wat hulle uit Egipte saamgebring het, het hulle ongesuurde roosterkoeke gebak: dit was sonder suurdeeg omdat hulle uit Egipte gejaag is en nie kans gehad het om eers vir hulle padkos klaar te maak nie (Eksodus 12:34, 39).

Tydens die agt dae wat die Paasfees gevier word, eet die Jode net ongesuurde brood – die plat, ongesuurde brood wat die pas bevryde slawe geëet het (matzah of matzo of matzoh). Geen suurdeeg – enigiets wat rys as dit gebak word – mag geëet word nie. Die kombuisgereedskap wat normaalweg gebruik word, moet verplaas word met gereedskap wat gebêre word spesifiek vir gebruik tydens die Paasfees. Die huis moet deeglik skoongemaak word en alle suurdeeg moet verwyder word – selfs die krummels wat die kinders gemors het.

 

Matzah – Ongesuurde Brood

matzah

 

 

 

 

 

 

 

 


 

Hierdie verbod op suurdeeg is so streng dat sekere rituele ingestel is om te verseker dat alle suurdeeg verwyder word. Die aand voor die Paasfees is daar ’n seremoniële soektog vir suurdeeg – ’n simboliese laaste geleentheid om enige suurdeeg wat dalk nie raakgesien is nie, te verwyder. Gewoonlik word ’n kers gebruik. ’n Veer word gebruik om die oorblywende “suurdeeg” in ’n houtlepel te vee. Die oggend van Paasfees word al die suurdeeg wat verkry is, verbrand.

Geen suurdeeg mag na 10:00 die oggend van Paasfees geëet word nie. Ons moet onthou die Joodse dag begin met sononder. Alle eersgebore Joodse mans vas die dag.

Nou kom ons by die Seder self. Die tafel word met die beste silwerware gedek. Familielede kom met gewone klere, maar die persoon wat die leiding gaan neem, kom in ’n wit kleed. By die kop van die tafel is die Sederbord met ’n verskeidenheid simboliese kossoorte wat tydens die Seder geëet sal word. Ook byderhand is ’n bord met drie matzah en skottels met soutwater.

Elke deelnemer kry ’n afskrif van die Haggada. Mans en vroue neem deel aan die fees. Belangrike gedeeltes uit die Haggada word in die oorspronklike Hebreeus en Aramees gelees. Gewoonlik word dit in die moedertaal herhaal, sodat almal dit kan verstaan. Die leier sal dikwels die voorlesing onderbreek om die betekenis en interpretasie vir die kinders te verduidelik.

Temas van die Seder

Die rituele en simboliese kosse beklemtoon twee temas: slawerny en vryheid. Sonsondergang was die Jode slawe van die farao. Om middernag volg die tiende plaag – die dood van al die eersgeborenes van Egipte – selfs die eerstelinge van die diere (Eksodus 12:29). Nog daardie selfde nag beveel die farao vir Moses en Aäron om pad te gee. Die deelnemers aan die Seder dink aan die eerste deel van die nag aan slawerny deur matzah (die arm man se brood – ongesuurde brood), bitter kruie (simbool van die bitterheid van slawerny) en Charoset (’n soet pasta wat die messelklei wat die Joodse slawe gebruik het, simboliseer) te eet.

Dit was die nag waarin die Here oor hulle gewaak het en hulle uit Egipte bevry het. Daarom behoort dié nag aan die Here en moet alle Israeliete en hulle nageslag dié nag wakker bly (Eksodus 12:42).

In die volgende artikel gaan ons kyk na twee belangrike simbole van die paasmaaltyd – die wyn en ongesuurde brood.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Die Seder (1)

Die Seder (1) – Coen Slabber

[Joodse rituele diens en seremoniële ete vir die eerste of eerste twee aande van die Paasfees. Dit is afgelei van die Hebreeuse seder wat orde of prosedure beteken – Oxford English Dictionary.]

Daar is artikels oor Etes en Kos in die Bybel op die webblad. Daarin word bespreek wat die mense destyds geëet het. Daar is egter twee baie spesiale maaltye wat in die Bybel vermeld word: die Paasmaaltyd en die Nagmaal. In hierdie reeks artikels gaan ons kyk na die Paasmaaltyd.


Jesus se laaste Paasmaaltyd

In Matteus 26:17 lees ons dat die dissipels na Jesus toe gekom het met ’n vraag: Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet. Daarna lees ons dat hulle die paasmaaltyd in ’n groot bovertrek voorberei het. Hierdie was ’n belangrike maaltyd, want tydens die maaltyd wys Jesus sy verraaier aan en stel die Nagmaal in. Oor die maaltyd self lees ons nie veel nie. Ons weet daar was brood en wyn en dat lofsange gesing is. Na hulle klaar was met die maaltyd gaan hulle na Getsémané waar Jesus gevange geneem is. Uit hierdie kort stukkie is dit duidelik dat die Paasmaaltyd ’n spesiale geleentheid was wat spesiale voorbereiding vereis het. Wat was die oorsprong van hierdie feesmaaltyd?


Die oorsprong van Paasfees.

Ons lees daarvan in Eksodus 12. Die Hebreeuse woord vir Paasfees is Pesach. In die Ou Afrikaanse Vertaling lees ons van pasga. Hierdie fees vier die historiese uittog van die Hebreeuse slawe uit Egiptiese slawerny. Dit is ook ’n lentefees – die hergeboorte van die grond na die lang, koue winter. Elke huisgesin moes ’n jaaroud rammetjie slag en die bloed aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis smeer. Daardie aand bring God die tiende plaag aan – elke eersgeborene van Egipte sterf.

Die Seder is ’n teken dat die Joodse Paasfees begin het. Die datum is 14 Nisan volgens die Hebreeuse kalender. Ortodokse Jode buite Israel vier dit ook op die 15de. [Volgens ons kalender is dit laat in Maart of in April.] Tydens die fees word die verhaal van die vrylating van Israel uit die slawerny in Egipte gevier – die verhaal wat ons in Eksodus kry. Die opdrag vir die viering van hierdie feesdag kry ons in Eksodus 13:8: Op die feesdag moet elkeen vir sy kinders vertel: ‘Dit is wat die Here vir my gedoen het toe ek uit Egipte getrek het’ (Eksodus 13:8).


’n Huisfees

[Omdat ons nie weet hoe Jesus en sy dissipels die Paasfees gevier het nie, beskryf ons hoe Jode vandag die Paasfees vier. Baie van die gebruike wat beskryf word, is sekerlik deur Jesus gebruik.]

Tradisioneel kom families en vriende in die aand bymekaar en lees die Haggada (’n ou Joodse teks). In die Haggada lees ons die verhaal van die uittog uit Egipte. Dit bevat ook spesiale seëninge en rituele en Paasfeesliedere. Seder-gebruike sluit in die drink van vier glase wyn, die eet van ongesuurde brood en ander simboliese kossoorte wat op die Sedertafel geplaas word.


Die Tradisionele Seder-tafel

sedertafel

 

Die sinagoge is die middelpunt van baie Joodse feeste. Die Seder word egter in die huise van families gevier. Die Seder is ’n integrale deel van die Jode se geloof en identiteit. As dit nie was vir die ingryping van God nie, sou die Jode steeds as slawe in Egipte gewerk het. Die Seder is dus ’n geleentheid vir lofprysing en danksegging, maar ook ’n geleentheid vir die oordrag van die Joodse geloof van die een geslag na die volgende. Die eksodus is dié gebeurtenis wat ’n groepie slawe in ’n nasie saamgesnoer het.

Baie belangrik tydens die viering van die Paasfees is die kos wat geëet moet word – en die kos wat nie geëet mag word nie. Hierna gaan ons in die volgende artikel kyk.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Die Groot Geloofswoordeboek: Joodse Feeste

Die Groot Geloofswoordeboek: Joodse Feeste

Joodse feeste

  • Die feeste wat in verband met die Sabbat staan Die groot feeste Die Groot Versoendag

Daar was baie Joodse feeste. Dit is nie korrek om te dink daar was net sewe nie. Maar dis wel waar dat die getal sewe heeltemal oorheersend is in die kalender van feeste.

•             Elke sewende dag was die Sabbat.

•             Elke sewende maand was ‘n heilige maand.

•             Elke sewende jaar was ‘n Sabbatsjaar.

•             Na 7 x 7 jare (49 jaar) is die Jubeljaar gevier – dus elke 50ste jaar.

•             Die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brode is veertien (2 x 7) dae na die begin van die maand gevier en die Fees van die Ongesuurde Brode het sewe dae geduur.

•             Die Pinksterfees was 49 dae (7 x 7) na die Paasfees.

 

Die Joodse feeste kan in drie groepe ingedeel word:

1.            Dié wat in verband staan met die Sabbat.

2.            Die groot feeste.

3.            Die Groot Versoendag

 

  • Die feeste wat in verband met die Sabbat staan

Die Sabbat

Elke sewende dag was Sabbat. Daar is geen aan­duiding dat die aartsvaders al die Sabbat gehou het nie. Israel begin skynbaar eers tydens die uittog daarmee. Volgens die een weergawe van die Tien Gebooie is dit onderhou in herinnering aan God se rus op die se­wende dag na die skepping (Eks 20). Volgens die ander weergawe is dit ter herinnering aan die uittog (Deut 5).

Dit is ‘n dag van volkome rus, selfs vir die slawe. Dit was nie in die eerste plek ‘n godsdienstige dag, soos ‘n dag van fees­vierings by die tempel nie, alhoewel die daaglikse brandoffer van ‘n lam op die Sabbatdag verdubbel is, en die gebruik later ont­wikkel het om op die Sabbat *sinagoge toe te gaan waar hulle wel gods­diens­oefeninge gehad het, soos ons dit nog in die tyd van Jesus en later ook kry (Luk 4:16). Maar die wette rondom die Sabbat was oorspronk­lik eensydig ingestel op rus van daaglikse werk (Eks 20:8-10; 23:12). Daarom het daar ook nie tydens die uittog op die Sabbat manna geval nie (Eks 16:22 ev), en die Jode kon nie hulle woon­plekke ver­laat of ‘n vuur aansteek nie (Eks 35:3). Die verbre­king van die Sabbats­wette was strafbaar met die dood (Eks 31:12-15). Hierdie is maar net ‘n paar van die talle wette wat op die Sabbat betrekking het.

Na die *ballingskap is daar nog talle ander wette bygevoeg in ‘n poging om die Sabbat so streng te onderhou dat so ‘n ver­nietigende straf van God soos die ballingskap hulle nooit weer sou tref nie (Neh 13:15 ev, veral v 17-18; Jes 56:1-8). Dit het groot­liks aanleiding gegee tot die erge vorme van *wettisisme waarteen Jesus in opstand gekom het.

Jesus het telkens met die Joodse leiers oor die Sabbat gebots (Luk 6:1-11; 13:10-17; 14:1-6). Dit het nooit gegaan oor die feit dat hul­le dit gevier het nie, maar eerder oor die manier waarop hulle dit ge­doen het. Sy beginsel dat die Sabbat vir die mens gemaak is en nie die mens vir die Sabbat nie (Mark 2:27), het beteken dat Hy ruim­te gehad het vir barmhartigheidswerk en noodleniging op die Sabbat.

 

Die Nuwemaan

Dit is moontlik dat daar oorspronklik ‘n ver­band was tussen die getal sewe, die Sabbat en die Nuwemaan. Die maan gaan maandeliks deur vier fases van sewe dae elk, wat beteken dat daar elke sewende dag ‘n Nuwemaansfees gevier is. Die profete het ook ‘n besondere gebruik van die Sabbat en die Nuwemaansfees gemaak, moontlik om met mense te praat (2 Kon 4:23). Op die Nuwemaan is besondere brandoffers en sondoffers gebring.

Die Nuwemaan van die sewende maand

Die sewende maand het ‘n besondere betekenis gehad. Op die eerste dag van hier­die maand is ‘n buitengewone Nuwemaan gevier (Num 29:1-6). Ons lees: “Dit is ‘n dag vol feesvreugde vir julle” (v 1).

 

Die Sabbatsjaar

Elke sewende jaar was ‘n Sabbatsjaar. Die doel was dat die land self moes rus. Dit beklemtoon die feit dat die Sabbat ‘n rusdag was, en nie ‘n feesdag soos die eerste dag van die week (*Sondag) vir Christene nie. Die land self kon nie op die Sabbatdag rus nie; daar­om moes daar ‘n volle jaar van rus kom wanneer niks geplant en geoes mag word nie. In hierdie jaar moes die slawe vrygelaat word en skuld afgeskryf word (Deut 15:1-6). Omdat Israel nie getrou hierdie jaar onderhou het nie, het die ballingskap 70 jaar lank geduur om die land kans te gee om sy agterstallige rus in te haal (2 Kron 36:21). Let nogeens op die getal 7 (70 = 7 x 10).

 

Die Jubeljaar

Na sewe Sabbatsjare volg die Jubeljaar in die 50ste jaar (Lev 25:8-55; 27:17-24). Behalwe dat die Joodse sla­we vrygelaat moes word, moes die grond na die oorspronklike eienaar teruggaan. Daar was besonder interessante gebruike in hierdie verband. Omdat die grond in beginsel aan die Here be­hoort het, kon dit nooit regtig ver­koop word nie (Lev 25:23). Al wat verkoop is, is die opbrengs van die land. Dit het beteken dat die koopprys bepaal is in die lig van die aantal oeste wat oor is voor die volgende Jubeljaar. Grond het dus al goedkoper geword soos die Jubeljaar nader gekom het.

 

  • Die groot feeste

Daar is drie groot feeste wat ‘n uiters belangrike ontwikkeling deurloop het. Dit was natuurfeeste wat oorspronklik direk met die oes (die natuur) in verband gestaan het, maar wat geleidelik met Israel se geskiedenis (God se bevrydingsdade) in verband gebring is. Al drie het onder verskillende name bekend gestaan:

•             die Paasfees saam met die Fees van die Ongesuurde Brode (Eks 12)

•             die Oesfees/die Fees van die Weke/die Pinksterfees/die Fees van die Eerste Vrugte (Eks 23:14 ev; 34:18 ev)

•             die Huttefees of die Insamelingsfees (Lev 23:33 ev)

Tydens hierdie feeste is die jaarlikse oes gevier: die Fees van die Ongesuurde Brode was aan die begin van die koringoes, die Pink­sterfees aan die einde, en die Insamelingsfees was die fees van die vrugte-oes. Maar die Paasfees het by die Fees van die On­ge­suurde Brode bygekom om die verlossing uit Egipte te vier, en die Huttefees het ook die deurtog deur die woestyn op pad na die beloofde land gevier. En uiteindelik het die Christene ook die Oes­fees/Pinksterfees gehistoriseer deurdat ons die koms van die Gees vier wat juis op die dag van die Joodse Pinksterfees uitgestort is.

Hierdie historisering van die feeste is van die uiterste belang. Dit getuig daarvan dat die Ortodokse Jode en die Christene ‘n ver­los­singsgeloof het en nie net ‘n voorsienigheidsgeloof nie. In ons ver­houding met God gaan dit om meer as die oes, meer as die daag­lik­se versorging – hoe belangrik dit ook al is en in hoe ‘n mate dit ook al in die Bybel beklemtoon word. Dit gaan om ‘n lang heilsgeskiedenis waarin God in ons lewe ingekom en ons verlos het, vir ou Israel uit Egipte en ons uit ons sonde. Hierdie verlossing is die wese van ons geloof, die *Voorsienigheid is ‘n wonderlike ekstra.

 

  • Die Groot Versoendag

Die Groot Versoendag is jaarliks gevier (Lev 16; 23:26 ev). Twee bokramme moes as sondeoffer vir die hele volk gebring word, een skaapram as brandoffer, en een bul as soenoffer vir die priesters.

Die vervulling van hierdie feeste in Christus

Sommige van die feeste is op ‘n merkwaardige manier in Christus vervul. Ty­dens die Paasfees stel Hy die nagmaal in as die fees van ons verlossing van sonde. Op die jaarlikse Joodse Pinksterfees word die Gees uitgestort as die een wat die oes kom insamel (Hand 2). Die Groot Versoendag is vervul in Christus wat as dié Hoëpriester dié offer gebring het as versoening vir ons sonde (die Hebreërsbrief). En Christus bring die eintlike rus, die rus van sonde, waarvan die Sabbatsrus ‘n voorteken was (Heb 4:8-11).

 

Skrywer: Prof Adrio König