Algemene foute wat ons maak (7)

We do not need Church de Soleil. We just need Church of the Word. Glitz and glamour don’t make the gospel. – George Athas

Algemene foute wat ons maak (7)

Ek gaan onder andere van Dave Craft se Mistakes Leaders Make (2012) gebruik maak.

Busyness is the new spirituality (Fred Smith)

Meeste mense beweeg te vinnig en probeer te veel doen. Min tyd word opsy gesit vir nadenke, gebed, beplanning en luister na die Here. Ons glo vinniger, beter, groter. Ons is gedurig verbind en het geen tyd vir ander dinge nie.

 

Bestuur hanteer dit wat is; leierskap hanteer dit wat kan wees. ‘n Visie inspireer en motiveer mense. As mense nie die groter prentjie van die toekoms sien nie, verloor hulle moed. Mense verplaas dikwels die visie van die toekoms met besig wees. Leiers dink altyd aan die toekoms. As a leader you are never satisfied with the present, because in your head you can see a better future (Marcus Buckingham).

Ons God is ‘n God van die toekoms. Hy is besig om sy mense na ‘n beter toekoms te lei – ‘n toekoms wat Hy vir ons beplan het. Maar dit beteken ons moet tyd in God se teenwoordigheid spandeer sodat ons kan hoor wat Hy vir die toekoms beplan en die rol wat Hy verlang ons daarin moet speel.

Twee ernstig siek mans lê in ‘n klein kamertjie in die hospitaal. Daar was net een klein venstertjie na buite. Een van die mans kon elke dag vir een uur regop in sy bed sit. Sy bed was langs die venster. Die ander man moes plat op sy rug lê – die hele dag lank. Hy kon nie by die venster uitkyk nie.

Elke middag as die man langs die venster kon regop sit, beskryf hy vir sy kamermaat alles wat hy buite kon sien. Die kamer kyk uit oor ‘n park met ‘n dam en eende wat daar swem. Kindertjies kom en gooi brood vir die eende en speel met hulle skepies op die water. Jong mense hou hande vas soos hulle onder die bome deurloop.

Die man op sy rug luister hoe sy maat alles beskrywe en geniet elke minuut daarvan. Hy hoor van ‘n kind wat byna in die dam geval het; hy hoor van die mooi meisies in hulle pragtige somerrokke. Sy maat se beskrywings laat hom voel asof hy die een is wat by die venster uitkyk. Een dag dink hy: Hoekom moet die man langs die venster die plesier hê om te sien wat aangaan? Hoekom kan hy nie geleentheid kry om uit te kyk nie? Hy is skaam oor sy gedagtes, maar hoe meer hy probeer om nie so te dink nie, hoe meer doen hy dit. Hy sal alles doen om in die bed langs die venster te kan lê.

Een nag lê hy en kyk na die plafon. Die man by die venster word skielik wakker. Hy hoes, hy roggel, sy hand soek die klokkie wat die verpleegster aangehardloop sou bring. Die man wat plat op sy rug lê doen niks nie – selfs toe sy kamermaat ophou asemhaal. Die volgende oggend kry die verpleegster die man dood in sy bed en verwyder die lyk uit die kamer.

Na ‘n paar dae vra die man wat plat op sy rug lê of hulle hom dalk teen die venster kan skuif. Die verpleegsters doen dit. Die oomblik toe hulle die kamer verlaat, lig hy hom op sy een elmboog en kyk by die venster uit. ‘n Kaal muur.

Wat sien jy as jy deur die venster van jou verbeelding kyk? Het jy jou vermoë om vir God te droom verloor? Is jy so betrokke by al jou huidige aktiwiteite dat jy nie moontlikhede van die toekoms raaksien nie? Jy moet tyd maak vir die toekoms.

Volgende keer kyk ons na nog ‘n fout wat ons dikwels maak: Ons laat toe dat spaarsamigheid vreeslose geloof vervang.




Algemene foute wat ons maak (6)

You can tell whether a man is clever by his answers. You can tell whether a man is wise by his questions. -Naguib Mahfouz, skrywer en Nobel-pryswenner (1911-2006)

Algemene foute wat ons maak (6)

Ek gaan onder andere van Dave Craft se Mistakes Leaders Make (2012) gebruik maak.

Vandag kyk ons na ons begeerte om mense in plaas van God gelukkig te maak. As jy vir mense bang is, kan jy in ‘n strik beland, maar as jy jou vertroue in die Here stel, is jy veilig (Spreuke 29:25)

Daar is altyd mense wat probeer om jou te manipuleer om dinge te doen wat hulle gelukkig sal maak. Die sleutel is om vir ‘n gehoor van een – God – te leef. Tog is daar altyd die versoeking om mense gelukkig te hou. I don’t know what the secret of success is, but I know what the secret to failure is and that’s trying to keep everybody happy (Bill Cosby).

 

Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal of die een minder ag en die ander een hoër, of vir die een meer oorhê en die ander een afskeep (Matteus 6:24). Jy het probleme as jy gedurig vra: “Maar wat sal ander dink as ek dit doen?” Vrees vir mense druk vrees vir God weg. Jy kan nie terselfdertyd in twee wêrelde leef nie – makliker gesê as gedoen. Dit is moeilik om standpunt in te neem – al weet jy dit is reg – as jy weet jy gaan ‘n prys betaal daarvoor. Ellende wag vir julle as al die mense goed van julle praat. Hulle voorvaders het immers met die vals profete net so gemaak (Lukas 6:26). As jy leef vir die goedkeuring van ander het jy probleme. Jou taak is om getrou te wees, nie gewild nie.

Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie (Galasiërs 1:10). Almal van ons wil hê dat die mense van ons hou, ons waardeer  en respekteer. Daarom sal ons selfs oor ons beginsels kompromieë aangaan om dit reg te kry. Luister net na Petrus en Johannes voor die Joodse Raad:  Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan julle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie (Handelinge 4:19 – 20). As ons maar net soveel tyd sou spandeer om na God te luister as na mense, sou ons meer moed gehad het.

Ons moet organisasie bou waar daar ‘n kultuur van openheid en nie vrees is nie; ‘n kultuur waarin ons vry is om van ander te verskil sonder vrees vir teregwysing. ‘n Kultuur oorheers deur vrees is nie vir die Here aanvaarbaar nie. Wanneer “moenie ander ontstel”  ‘n ongeskrewe reël is, sal ‘n kultuur van vrees mettertyd ontwikkel. ‘n Kultuur waarin die menings, idees, drome en oortuigings gedeel kan word, sal ons help om op ‘n gehoor van een te fokus.

Angs is soos ‘n strik waarin jy vasgevang word. Jy kom nie los nie. Wie die Here vertrou voel veilig. Mense kruip by invloedryke mense om gunste te kry. Vertrou eerder op die Here. Hy sal jou saak hanteer (Spreuke29:25 – 26 – Die Boodskap). Nou hoef ons nie die mening van mense te vrees nie – ons staan voor God alleen en is net aan Hom ‘n antwoord verskuldig.

In die volgende blog kyk ons na nog ‘n fout wat ons dikwels maak: Besigwees vervang visie.




Algemene foute wat ons maak (5)

It’s good to have money and the things that money can buy, but it’s good, too, to check up once in a while and make sure that you haven’t lost the things that money can’t buy. -George H. Lorimer (1868-1937)

Algemene foute wat ons maak (5)

Ek gaan onder andere van Dave Craft se Mistakes Leaders Make (2012) gebruik maak.

Pride is the greatest enemy and humility our greatest friend – John Stott

Leiers sukkel om trots in hulle lewens raak te sien – en vind dit nog moeiliker om dit te hanteer. Dit is dikwels verskuil onder die kleed van selfvertroue en oortuiging. Adam en Eva is trots en kom in opstand – hulle wil meer soos God wees. Dit gebeur veral as jy reeds vroeg in jou lewe suksesvol is. Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val (Spreuke 16:18).

 

Die Skrif het baie te sê oor trots: die vernietigende gevolge van trots en die waarde van nederigheid. Ek woon in ‘n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes (Jesaja 57:15);  Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien. Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word (Matteus 23:11 – 12).

Vir ‘n nederige persoon is die middelpunt Christus – in Christus se liefde en aanvaarding is hy tuis en leef in vrede sodat  mense en omstandighede hom nie beïnvloed nie. Dit is die punt waarheen elkeen in God se genade moet beweeg. Nederigheid beteken nie dat ek op die agtergrond bly nie, dat ek nie baie sê nie, dat ek my gereeld daaraan herinner dat ek niks is nie. Ware nederigheid beteken ‘n sterk sin van vertroue in God. Ware nederigheid lei tot vertroue in hoe God my gemaak het en om dit in dankbaarheid en eerlikheid uit te leef. Nederigheid  is om jouself te wees – die persoon wat God jou gemaak het om te wees en dankbaar daarvoor te wees. Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het (Romeine12:3).

Nederigheid beteken nie dat ek minder van myself moet dink nie, maar om te aanvaar dat God my gemaak het – dit is wie ek is. Ek moenie wens ek is iemand anders nie. Beide my verlossing en my roeping is alles God se idee – dit is gawes wat Hy vir my voorberei het. Onthou: nederige mense word op die ou ent met eer bekroon en belangrike mense word verneder (Lukas 14:11 – Die Boodskap).

Twee probleme

  1. Ek kan jaloers op iemand ander wees en wil graag soos hy wees; of
  2. Ek kan trots wees en dink ander behoort soos ek te wees.

Trots en jaloesie is neefs. Ek moenie meer of minder van myself dink nie – ek moet meer aan Jesus dink. Hoe meer ek aan sy kruisdood, opstanding, evangelie en onbeskryflike genade dink, hoe minder fokus ek op myself. Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie? (1 Korintis 4:7). My fokus moet wees op wat die Here doen en nie op wat ek dink ek doen nie.

Hoekom bely mense nie meer dikwels hulle trots nie? Ons kyk verby trots en selfgesentreerdheid solank as wat ons resultate behaal. Selfs in baie gemeentes is resultate belangriker as karakter en verhoudings. Daarom kry ons dat sommige leiers hulle trots erken, maar niks daaromtrent doen nie. Vroeër of later sal trotse leiers mense manipuleer en intimideer om dit wat hulle begeer te bereik. En julle wat jonger is, moet aan die ouer mense onderdanig wees. Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade,” (1 Petrus 5:5).

In die volgende  blog kyk ons na die volgende fout in ons reeks: ek stel eerder mense as vir God tevrede.




Algemene foute wat ons maak (4)

As by the grace of God we are what we are, so by his grace it is we are not what we are not. —Francis Burkitt

Algemene foute wat ons maak (4)

Ek gaan onder andere van Dave Craft se Mistakes Leaders Make (2012) gebruik maak.

Ons gaan nou verder met die probleem as vergelyking met ander my tevredenheid vervang.

Wie gee jou miskien die reg om te dink jy is beter as iemand anders?  Het jy miskien iets wat jy nie van die Here af gekry het nie? Nou ja, as jy alles van Hom af gekry het, waarom gaan jy so te kere asof dit jy self is wat so goed is (1 Korintiërs 4:7 – Die Boodskap).

 

Net na Jesus drie maal vir Petrus gevra het of hy Hom liefhet, lees ons hierdie interessante gesprek tussen Jesus en Petrus: Toe Petrus omdraai, sien hy die dissipel volg vir wie Jesus baie lief was, wat ook by die maaltyd na Jesus se kant toe oorgeleun en gevra het: “Here, wie is u verraaier?” Toe Petrus hom dan sien, vra Petrus vir Jesus: “Here, en wat van hom?” Jesus antwoord hom: “As Ek wil hê dat hy in die lewe moet bly totdat Ek weer kom, is dit nie jou saak nie. Volg jy My!” (Johannes 21:20 – 22). Sjoe, dit is darem reguit woorde van Jesus.

Bybelse nederigheid is om tevrede te wees met wie jy is. Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie meer van jouself dink as wat jy behoort te dink nie, Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het (Rom 12:4). Die belangrike is dat ek moet weet wie ek is – my strek- en swakpunte.  Ek moet ook weet dat ek is waar God my geplaas het – ek moet God heelhartig dien waar ek is en nie waar ek graag wil wees nie: Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp (Filippense 4:11). Ek moet God dien daar waar ek is  – jy kan Hom tog nie dien waar jy nie is nie. Wat moet ek doen daar waar Hy my geplaas het? God in sy almag het my hier geplaas en gesê wat ek moet doen en gee my die energie om dit te doen.

In die volgende blog gaan ons na die volgende fout wat ons in ons lewens maak, kyk.