Vraag: DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS – Johann Voges

‘n Leser vra:

Die eerste lesers van Galasiërs was nie Jode gewees nie – heel waarskynlik Kelte.

hoe weet jy dat dit kelte was , was hulle nie van ierland nie?

Antwoord

Dr Johann Voges antwoord

Hiermee ‘n verduideliking uit Chris van Wyk se Bybelskool notas (https://bybelskool.com/aan-die-galasiers/)

Paulus skryf hierdie brief aan die “gemeentes in Galasië” (Gal. 1:2) wat aandui dat dit as ’n omsendbrief bedoel was.  Hy skryf dit saam met/namens al die gelowiges by hom, óf van Korinte óf van Efese af.  ’n Sekretaris het hom heel moontlik weer bygestaan (Gal. 6:11).

Watter Galasië?

Dit is onseker watter Galasië bedoel word, omdat daar twee landstreke was wat Galasië genoem is:

  1.   Die suidelikeetnies-geografiese gebied Galasië in sentraal Klein-Asië (Turkye) waar immigrante van Gallië (Frankryk) hulle gevestig het in die 3de eeu v.C. en wat die gebiede van Pisidië (Hand. 13:14; 14:24), Likaonië (Hand. 14:6 – twee van die stede hier word ook deur Lukas genoem: Listra en Derbe) en Frigië (Hand. 2:10 – van die Joodse gelowiges van hier af was op Pinksterdag in Jerusalem; Hand. 16:6; 18:23) ingesluit het (die sogenaamde Suid-Galasië-teorie).
  2.  

      Die Romeinse provinsie van Galasië wat ook die noordelike dele van Klein-Asië ingesluit het (die sogenaamde Noord-Galasië-teorie).

Indien Paulus aan gemeentes in die etnies-geografiese gebied geskryf het – Suid-Galasië-teorie –  ’n streek wat Paulus op sy eerste en tweede sendingreis besoek het, het Paulus die brief aan die Galasiërs waarskynlik uit Korinte geskryf in dieselfde jaar as die briewe aan Tessalonika, ongeveer in die jaar 50 n.C.  Dan verwys hy ook in Galasiërs 4:13 na sy eerste besoek aan hulle, soos Lukas dit in Handelinge 13-14 beskrywe het.  Sy tweede besoek was dan op sy tweede sendingreis, soos Handelinge 16:6 dit beskrywe.

Indien die brief aan die breër Romeinse provinsie geskryf is – Noord-Galasië-teorie – ’n streek wat Paulus op sy tweede sendingreis besoek het (Hand. 16:6), het Paulus die brief aan die Galasiërs waarskynlik uit Efese geskryf in dieselfde jaar as die briewe aan Rome, ongeveer in die jaar 53 n.C.  Dan verwys Galasiërs 4:13 waarskynlik na sy eerste besoek, soos Lukas in Handelinge 16:6 dit beskryf, en was sy tweede besoek aan hulle op sy derde sendingreis, soos Handelinge 18:23 dit beskryf.

As ’n mens die inhoud van die brief vergelyk met wat met sy besoek aan die etnies-geografiese gebied Galasië gebeur het, lyk die eerste moontlikheid meer waarskynlik – Suid-Galasië-teorie – hoewel ’n mens moet erken dat daar te min oor die ander besoeke (Hand. 16 en 18) bekend is, om ’n besliste keuse te maak.

Ooreenkomste met Handelinge 13

Die brief pas baie goed in by die situasie wat Lukas vir ons in Handelinge 13 beskrywe.  Dit sal baie help om Handelinge 13:13-51 as agtergrond vir ‘n studie van Galasiërs te gebruik.

In Antiochië in Pisidië het Paulus op sy eerste sendingreis ’n belangrike toespraak in die sinagoge gehou, waar hy baie spesifiek nie net aansluit by die Joodse geskiedenis van Moses tot Dawid nie, maar die gelowiges die nakomelinge van Abraham noem (Hand. 13:26 – vgl. Gal. 3:29).  Baie van die Jode en ook heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, het Paulus se boodskap aanvaar.  Hoewel die Jode die volgende sabbat begin het om die stad teen Paulus op te sweep (byna die hele stad was daar – Hand. 13:44!), het ook baie heidene die woord van die Here aanvaar en gelowig geword.  Dit het die evangelie soos ’n veldbrand vanuit hierdie stad dwarsdeur die hele streek laat versprei.

En let op hoe Lukas die gelowiges van Antiochië (onthou daar was ook ’n ander Antiochië in Sirië, vanwaar Paulus telkens sy sendingreise onderneem het – vandag Antakya in Turkye) beskryf as “vol blydskap en vol van die Heilige Gees” (Hand. 13:52), die ander groot tema waarop Paulus in die brief aan die Galasiërs sal uitbrei (Gal. 3-6).

Skrywer: Dr Johann Voges

 

 




Die oorspronklike (eerste) lesers van 1 Petrus – Waar het hulle gewoon?

Die oorspronklike (eerste) lesers van 1 Petrus – Waar het hulle gewoon?

Die oorspronklike (eerste) lesers van die brief 1 Petrus, het in Klein-Asië gewoon, verspreid “in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië” (1 Pet. 1:1), wat in hierdie volgorde genoem word omdat dit die roete is wat die draer van die omsendbrief sou volg.

In die briefaanhef word dit uiteengesit dat die eerste lesers, vir wie hierdie omsendbrief oorspronklik geskryf is, “verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië” (1:1).  Hierdie vyf name verteenwoordig, in die tyd wat die brief geskryf is, in werklikheid net vier amptelike Romeinse provinsies aangesien “Bitinië-en-Pontus” toe deur ‘n enkele provinsiale administrasie hanteer is.  Die twee was egter vantevore onderskeie streke en daar is nog dikwels, soos hier, afsonderlik na hulle verwys.  Gevolglik kan daar veralgemeen word deur te sê dat die geadresseerdes in Klein-Asië gewoon het (min of meer die moderne Turkye), en wel noord en wes van die Taurus-bergreeks wat deur die Suide van Klein-Asië loop.  Klein-Asië het voorheen uit ‘n aantal onafhanklike koninkryke (van Anatolië) bestaan, maar het tussen 133 v.C. en 17 n.C. stelselmatig onder Romeinse beheer gekom.  Die vier bogenoemde provinsies was reeds teen 17 n.C. gekonstitueerd en het ongeveer 8,500,000 inwoners van uiteenlopende kulture gehad.  Die area hier tersprake beslaan ongeveer 330 000 vierkante kilometer.

Paulus het baie tyd in hierdie selfde streke gespandeer en die evangelie hier verkondig.  Gevolglik is daar oorvleueling tussen die geadresseerdes van 1 Petrus en sommige van die briewe van Paulus, byvoorbeeld aan die Galasiërs, Efesiërs en Kolossense (lg. twee beide in die provinsie “Asië”).  Die sewe gemeentes aan wie die boodskappe in Openbaring 2 en 3 gerig is, is ook almal in die provinsie Asië.

Daar blyk ‘n goeie rede te wees waarom die provinsies in hierdie betrokke volgorde genoem word en waarom Pontus en Bitinië afsonderlik en skynbaar agterstevoor genoem word.  (Die Romeinse provinsie wat as “Bitinië-en-Pontus” bekend gestaan het, is opgemaak deur Bitinië meer oos, nader aan Rome, en Pontus meer wes).  Die volgorde waarin die name voorkom, blyk die roete te verteenwoordig wat die omsendbrief deur Klein-Asie sou volg.  Die draer van die brief sou dus per boot vanaf Rome arriveer in ‘n stad in die Pontus-distrik, vandaar suidelik beweeg deur Galasië na Kapadosië, vandaar weswaarts na die provinsie Asië en laastens weer noordwaarts na Bitinië, vanwaar hy per boot kon terugreis na Rome.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter