Verstand benewel of toor – Hermie van Zyl

Willie vra:

In Galasiërs 3:1 gebruik Paulus die woord “toor” ( NLV) . In die 1983 vertaling praat hy van “verstand benewel” maar ek dink die Grieks verwys ook na toor . Hoekom sou hy die woord “toor” gebruik ?

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Galasiers 3:1.

“Toor” is inderdaad die beste vertaalekwivalent om hier te gebruik – so die NLV, die nuwe Afrikaanse Direkte vertaling (BSA) en Afrikaanse Standaard Vertaling (CUM). Dit klink taamlik erg om ‘n Christelike gehoor so “by te kom”, maar Paulus is in Galasiërs besig om sy gehoor met ‘n hele paar retoriese strategieë te oortuig dat die sogenaamde evangelie wat hulle tans aanhang (om weer terug te verlang na die sekerheid van Joodse wet, 1:6-7; 2:15-16; 3:2-3) geen evangelie is nie, in elk geval nie die evangelie is wat hy aan hulle verkondig het nie. Daarom noem Paulus die Galasiërs in 3:1 ook “dwase”, nóg ‘n sterk uitdrukking om die pad wat hulle tans bewandel as ‘n weg te beskrywe wat tot vernietiging van die evangelie sal lei.

Wat hy verder doen in die gedeelte (3:1-5) is om die Galasiërs se eie ervaring van die evangelie wat hy aan hulle gebring het (Christus aan die kruis, 3:1; ontvangs van die Heilige Gees, 3:2,5; wonders beleef, 3:5) as argument in te span vir die evangelie wat hy aan hulle verkondig het. Hulle het al hierdie dinge beleef sonder om die wet van Moses te onderhou. Watter bewyse wil hulle nog verder hê? Hulle eie ervaring kla hulle aan van dwaasheid.

In die lig hiervan is dit verstaanbaar dat hy hulle “dwaas” noem én dat hulle “getoor” is. Uiteraard gebruik hy laasgenoemde term metafories, maar nogtans is dit ‘n term uit die donker wêreld van heksery en towery, waar mense probeer het om ander in hulle mag te kry d m v swart magie, d w s, toorkuns waarby die duiwel betrokke is. In ons tyd sou ons dit selfs met satanisme in verband kon bring. Paulus suggereer dus dat die Judaïseerders in die gemeente (leraars wat die gemeente weer onder die wet van Moses wou indwing) vanuit hierdie agtergrond met die gemeente se “koppe smokkel”. Deur die leraars van toordery te beskuldig stel hy hulle dus in die swakste lig denkbaar om die gemeente terug te skok tot die waarheid van die evangelie.

Saamgevat: Met die retoriese tegnieke deur die lesers se eie ervaring van die evangelie teen hulle te gebruik, en om die teenstanders van die evangelie swart te smeer en met towery te assosieer, probeer Paulus sy lesers weer oortuig van die egtheid en waarheid van sy wetsvrye evangelie.

 

Prof Hermie van Zyl




DIKWELS IS DIE KERK KOUER AS DIE AGORA…. – Kobus Kok

Kommentaar op Gal 6:10

Na bykans 24 uur in transito tussen Afrika en Europa en drie kilometer se sleep van my koffer deur die winter reën, kom ek uiteindelik by die sentrum van n bekende universiteitstad in die Laaglande aan. Soos die meeste Europese stede spog die stadsaal en die Kerk in die sentrum. Die eerste stilhouplek vir n Teologiese pelgrim, is meestal die Kerk. Ek gaan die imposante katedraal binne, en merk dadelik die gewyde atmosfeer van die nagmaal op. Die Priester gaan sakraal met die sakramentbediening om. Dit is n spesiale moment. Ek dank God vir die reis en die geleentheid en bid saam met die handjievol oumense wat die diens bywoon.

Die man wat die afkondiginge doen, praat met n imposante stem terwyl hy die komende maand se groot gebeure afkondig. Na die diens strompel en soek ek rond met my reuse tas, rooi oë en dag-oue-baard na die WC (Badkamer). Die man wat die afkondiginge gedoen het begin so stadig maar seker die tekens gee dat hy wil sluit. Ek vra of ek asb net vinnig die WC mag ingaan. Hy kyk my so op en af. Ongeduldig sê hy :”No, we do not cater for such needs”. Hy verwys my terug na die stasie. Die probleem is nou net dat die stasie vrek ver terug in die reën is – n paar kilometer! Verder het ek nie n sent Europese geld aan my nie en dit kos omtrent R7 net om by die WC (Badkamer) by die stasie in te gaan. Vir een of ander rede wou die bankteller nie my kaart lees nie. Ek het dus n reuse probleem! Ek is n vreemdeling in n vreemde land en ek is letterlik pennieloos! Die kerkman se koudheid en ongasvryheid laat my weerloos in die ys-weer. Ek het so gehoop die “Kerk” sou minstens die hand uitreik.

Buite gekom reën die ysdruppels my nat. Ek hef my oë op na die hemel en wonder waar my hulp vandaan gaan kom. Aan my regterkant gewaar ek n Engel met ‘n camel-light of iets dergeliks in sy mond. Die kelner van die bar teen die Kerk vat ‘n smoke-break. Die bar/restaurant aangrensend aan die Kerk heet “Agora”. In Jesus en Paulus se tyd was die Agora die mark- die “onheilige” ruimte in kontras met die “heilige” tempel. Ek vra die man of hy weet waar die naaste WC is. Die man is gasvry en vriendelik:

“You are welcome to use our WC”, sê hy en nooi my in voordat hy nog sy sigaret heeltemal klaar gerook het. In Leo die Kroegman se oë en menswees by die Agora het ek meer warmte en gasvryheid beleef as in die oë van die Kerkman. Vandag was die Agora my safe space, en nie die Kerk nie. Vanaand besef ek hoe belangrik dit is dat ons as Christene gasvry en warm moet wees. Dikwels is die Kerk kouer as die Agora!

Ag Here, vergewe my waar ek koud was en waar ék die “Kerk” kouer as die “Agora” gemaak het.

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Galasiërs 1:12

Galasiërs 1:12 – Jan van der Watt

Willie vra: 

Galasiers 1 vers 12 : ” EK HET DIT NIE BY N MENS GEHOOR NIE OF GELEER NIE , MAAR JESUS CHRISTUS HET DIT AAN MY BEKENDGEMAAK ” My vraag is dit :Paulus het ‘n ongelooflike kennis van die Evangelie gehad en dit neem ons predikante jare se studie om die evangelie te kan bedien . Paulus was ‘n lang tyd in Arabië ( net na sy bekering ) . Is dit dan so dat Jesus Christus persoonlik self vir Paulus in Arabië onderrig het? Is daar enige inligting bekend van die tyd wat hy daar deurgebring het?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie is ‘n interessante vraag, want na Paulus se aanvanklike bekering het hy waarskynlik soveel as 14 jaar in ‘n stil periode inbeweeg. Dit is die periode waar hy onder andere in Arabië was. Hy het eers in die laaste jare van sy bediening bekend begin word toe hy as sendeling briewe aan sy gemeentes begin skryf het.

a) Wat het hy in die periode gemaak? Die Bybel vertel nie veel nie, maar in 2 Kor 11:32-33 lees ons dat hy byvoorbeeld die koning van Damaskus so kwaad gehad het dat dié die stad laat bewaak het om hom te vang. Hy is toe met ‘n tou langs die muur van die gebou na onder toe laat sak om so weg te kom. Die vraag is waarom was die koning so kwaad? Die raaiskoot van baie is dat Paulus die Evangelie verkondig het en dat dit teen die plaaslike godsdienste ingegaan het. Dit het hom ongewild gemaak en daarom wou die koning hom vang. Dit lyk dus of Paulus in die tyd nie heeltemal stil was nie.

b) Paulus se kennis het van twee oorde af gekom. Die een is dat God dit aan hom geopenbaar het (presies hoe dit gewerk het is nie heeltemal seker nie) en die ander is dat mense dit aan hom vertel het (1 Kor 15:1-3). In sy gesprekke met ander Christene het sy kennis ook net meer en meer geword.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (7)

DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (7)

Galasiërs 6:1-10 Verdere vermanings

Paulus nader nou die einde van sy brief en soos sy gewoonte was, maak hy nou ‘n paar losstaande opmerkings. In hierdie geval bestaan dit uit ‘n klomp losstaande vermanings. Dit sluit egter nou aan by die voorafgaande aangesien dit alles te doen het met die vraag hoe die lewe van iemand wat onder beheer van die Heilige Gees lewe, in die praktyk lyk. ‘n Mens sou die reeks vermanings in twee kon deel.

Al die vermanings in die eerste gedeelte (6:1-6) handel oor twee sake: Dat iemand onder beheer van die Heilige Gees lewe, kan ‘n mens sien uit sy/haar liefdevolle meelewing met ander en uit die bereidheid tot selfkritiek. Hoe lyk dít in die praktyk?

  • As ‘n gelowige ‘n ander gelowige “uitvang” dat hy/sy sonde doen (Paulus bedoel waarskynlik een van die praktyke van die sondige natuur wat in 5:19-21 genoem word.) behoort so ‘n gelowige nie daardie medegelowige te veroordeel nie. Iemand wat die Heilige Gees in sy/haar hart het, sal eerder so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp (6:1).
  • ‘n Gelowige wat onder beheer van die Heilige Gees lewe, sal help om ‘n medegelowige se laste te dra. Die laste waarvan Paulus hier praat verwys na enigiets wat vir ‘n medegelowige die lewe moeilik maak.
  • Iemand wat onder beheer van die Heilige Gees lewe, is bereid om homself/haarself krities te bekyk. Volgens 6:3-4 moet ‘n mens die volgende vrae aan jouself stel: Dink ek nie miskien dat ek belangriker is as wat ek werklik is nie? Is my doen en late werklik goed – nie as ek dit met ander mense s’n vergelyk nie, maar goed in die ware sin van die woord?
  • Gelowiges moet hulle geestelike leiers ondersteun. Hier dink Paulus waarskynlik aan finansiële ondersteuning van die mense wat op daardie stadium in die Christelike gemeentes verantwoordelik was vir die verdieping van lidmate se kennis en meelewing. Omdat dit so baie van hulle tyd in beslag geneem het, het hulle nie tyd gehad om aan te gaan met hulle gewone werk nie. Daarom moes die gemeentes vir hulle sorg.

In die tweede gedeelte (6:7-9) keer Paulus meer direk terug na die probleem in Galasië. Hy gebruik ‘n bekende beeld: dit wat jy plant, kom later op. Net so is dit op geestelike gebied! Die gelowiges wat hulleself (soos die Galasiërs oorweeg om te doen!) oorgee aan die sondige natuur, sal dood en verderf oes. Wie hulleself egter oorgee aan die Gees, sal die ewige lewe oes.

In 6:11 voeg Paulus nog ‘n kort opmerking by wat ongelukkig dikwels verkeerd gebruik word. Hy sê dat ‘n mens aan almal moet goed doen, veral aan die medegelowiges. Ongelukkig verstaan gelowiges dit soms so asof hier staan dat hulle net aan medegelowiges moet goed doen. Dis nie waar nie. Omdat gelowiges gedurig kontak met medegelowiges het, is dit vanselfsprekend dat ‘n mens van hulle nood bewus sal wees en hulle tot ‘n groot mate die fokuspunt van ons barmhartigheid sal wees. Tog mag dit nooit die ander uitsluit nie.

Galasiërs 6:11-18 Laaste waarskuwing en groet

6:11: In daardie tyd het die mense gewoonlik gebruik gemaak van professionele skrywers of sekretarisse (So iemand is ‘n amanuensis genoem) aan wie hulle dan hulle briewe gedikteer het. Paulus het ook dié gebruik gevolg. (In Romeine 16:22 kry ‘n mens selfs die naam van een van die sekretarisse wat Paulus se brief neergeskryf het.) Hoekom skryf Paulus self die laaste paar reëls van die Galasiërbrief? Dit was destyds die gebruik om self die laaste paar reëls van die brief wat jy gedikteer het te skryf om so die egtheid van jou brief te bevestig. Omdat die mense aan wie die brief geskryf is jou handskrif geken het, het hulle geweet dat die brief inderdaad van jou af kom en nie ‘n vervalsing was nie.

Hoekom skryf Paulus sulke groot letters? Hieroor stem geleerdes nie saam nie. Daar kan verskeie redes wees: 1. Paulus vestig net die aandag op die groot verskil tussen sy handskrif en die kleiner (netjieser?) handskrif van die sekretaris wat ‘n professionele skrywer was. 2. Die oorsaak kon oogprobleme of een of ander siekte gewees het. 3. Op dié manier wil Paulus beklemtoon hoe belangrik dit wat hy nou gaan skryf (vgl. 6:12-16), is. Dit is moeilik om ‘n keuse te maak, maar dit lyk of die derde moontlikheid die beste keuse is.

6:12-16: In hierdie gedeelte gee Paulus ‘n kort opsomming van alles wat hy in die Galasiërbrief wou sê. In dié kort opsomming haal hy die essensie van verlossing en Christenwees uit. ‘n Mens kan dit as volg opsom:

  • Dit is totaal onmoontlik om vryspraak van ‘n mens se sonde te kry op grond van enige menslike prestasie (soos byvoorbeeld die besnydenis). Mense wat so dink, roem op menslike prestasies, maar dit is uiteindelik niks werd nie.
  • Die enigste manier om vryspraak van ‘n mens se sonde te kry, is deur geloof in Jesus Christus. Dan kan mense nooit roem of trots wees op dit wat hulle reggekry het nie, maar wel op dit wat Christus gedoen het – veral die feit dat hy vir hulle gekruisig is. Omdat Hy aan die kruis gesterf het, het die sondige wêreld sy houvas op hulle verloor. Daarom kan hulle sê dat die wêreld vir hulle dood is.
  • As ‘n mens dít begryp, sal ‘n mens ook dadelik besef dat dit geen nut het om die hele tyd te stry oor die rol van menslike prestasie (byvoorbeeld besnydenis) in iemand se verlossing nie. Die heel belangrikste saak is dat mense wat in Jesus Christus glo, in God se oë reeds nuut is.
  • Die mense wat in Christus glo, is die nuwe volk van God. Daarom kan Paulus sulke mense tereg die ware Israel (God se Israel) noem alhoewel hulle glad nie Jode van geboorte is nie. Om deel van die ware Israel te word, is dit nodig om aan slegs een vereiste te voldoen, naamlik opregte geloof in Christus. Niks anders mag ooit as vereiste gestel word nie. Mense wat volgens hierdie beginsel leef, sal deur God geseën word.

6:17: Die littekens waarvan Paulus hier praat, verwys na die tekens van die fisiese lyding wat hy ter wille van Christus moes verduur tydens sy pogings om die evangelie wêreldwyd te verkondig. In 2 Kor. 11:23-27 noem hy ‘n hele reeks van sulke ontberings.

6:18: Soos wat Paulus se gewoonte is, sluit hy ook hierdie brief af met ‘n Christelike seëngroet. Heel gepas, beklemtoon hy God se genade. Die dwaalleer in Galasië het juis soveel veld gewen omdat hulle te min begrip vir God se genade gehad het!

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie