Die slot van die Ons Vader

Die slot van die Ons Vader – Francois Malan

Hein vra:

Mattheus 6:13 word die laaste gedeelte van die teks uitgelaat in die 1983 vertaling (want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen) Kan u vir my verduidelik asb. In Openbaring 8:3 lees ons van die engel wat aan hom baie wierook gegee is om saam met die gebede van al die gelowiges voor die troon te offer. Is dit in vandag se tyd verkeerd om wierook aan te steek wanneer jy bid, of is dit heidens? Verstaan ek die teksgedeelte verkeerd?

Prof. Francois Malan antwoord

1 Slot van die Onse Vader

Die oudste Manuskripte van die Nuwe Testament, kodeks Sinaïticus en kodeks Vaticanus, uit die 4e eeu n.C., kodeks Beza vyfde eeu n.C, kodeks Dublin 6e eeu n.C., het nie die slot gehad nie. Die manuskripte wat dit wel bevat, is die manuskripte wat gekry is in Parys 6e eeu n.C, Washington 5e eeu n.C, en in Koridethi 9e eeu n.C. Maar van die kerkvaders en leesroosters sedert die tweede eeu n.C. het die slot by die oorspronklike teks van die Onse Vader bygevoeg vir gebruik in die eredienste. Dit is ‘n samevatting uit die lof aan God in die dankgebed van Dawid in 1 Kronieke 29:11-13. Deur die eeue is daar ‘n verskeidenheid weergawes van die slot ingeskryf soos dit in verskillende gemeentes gebid is.

2 Wierook

In Eksodus 30:34-38 gee die Here aan Moses presiese voorskrifte oor die meng en gebruik van wierook wat aan die Here alleen gewy word as teken van die ware en unieke teenwoordigheid van die Here in Israel, wat ook van hulle ‘n ware en unieke toewyding aan die Here alleen vra.

Volgens Levitikus 2:1,16 word wierook bo-op die verskillende offers gesit wat op die altaar verbrand word om die Here goedgunstig te stem. Wierook is in die huise van die Oosterlinge gebrand om ‘n gewyde atmosfeer in die huis te skep (die wyses uit die Ooste bring vir die baba Jesus o.a. wierook as geskenk om Hom eer te bewys, Matteus 2:2,11). Hooglied 4:5 vergelyk die geur van die vrou se borste met ‘n wierookheuwel. Jesaja 60:6 verwys na die nasies wat o.a. wierook na Jerusalem toe bring om die lof van die Here te verkondig. Maar in Jeremia 6:20 verwerp die Here die wierook wat die ongehoorsame Israel vir die Here brand.

In Openbarig 8:3 sinspeel die wierook wat met die gebede van die gelowiges gemeng is waarskynlik op die versugtinge van die Heilige Gees waarvan Romeine 8:27-27 praat, dat die Gees self vir ons pleit met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie, om ons gebede vir God aanneemlik te maak, want Hy bid volgens die wil van God vir die gelowiges.

Openbaring 18:13 verwys onder andere na wierook wat die lus van die ongelowiges se lewe was, en met God se oordeel daarmee heen sal wees.

Wierook sal nie ons gebede versier of aanneemlik vir God maak nie. Jesus het gesê: ‘ware aanbidders sal van nou af die Vader in Gees en waarheid aanbid, want die Vader wil juis sulke aanbidders hê (Johannes 4:23). Daarom moet ons bid dat God die Heilige Gees, wat in ons kom woon het, ons in ons gebede lei om volgens die wil van ons Vader te bid, en sy liefde in ons harte te gee sodat ons in liefde met mekaar sal saam lewe (vgl. Galasiërs 5:22-23 vir die vrug van die werk van die Heilige Gees in ons). In Romeine 12:1 roep Paulus die gemeente op om hulle liggame as ‘n lewende, heilige  en aanneemlike offer vir God aan te bied, en sê dat dit sinvolle godsdiens is

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




God se onverwagte antwoorde

 

What high principle can be named that has not been employed for the very worst of purposes? – J. C. Ryle

God se onverwagte antwoorde

Dit verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees (Johannes 16:23 – 24).

Ons vra vir God die dinge waarna ons verlang, want ons wil die volle vreugde wat Hy aanbied, ervaar. Ons vra nie vir nietighede en vleeslike dinge nie, want Jakobus sê: As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig (4:3). Ons bid vir groter geloof, liefde, heiligheid, wysheid, onderskeidingsvermoë, groter ervaring van God se genade, vreugde in God, ens.

 

 

Hierdie begeertes is opreg en God wil hulle graag antwoord. Maar ons ken nie onsself nie – die diepte van ons sonde, dit wat Hy van ons verwag om te kan ontvang. Ons het onwerklike verwagtings van wat God se antwoorde op ons gebede gaan wees. Daarom is ons dikwels nie voorbereid vir die antwoorde wat ons kry nie. Sy antwoorde lyk aanvanklik vir ons eerder soos probleme as antwoorde. Ons sien dikwels nie hoe God se antwoorde met ons gebede ooreenstem nie.

 

Maar wat kan ons dan verwag?

  • As ons God vir meer en dieper liefde vir Hom vra? ‘n Antwoord wat ons van ons sondes bewus sal maak: Omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde (Lukas 7:47).
  • As ons God vra dat ons ons naaste soos onsself sal liefhê? En wie is my naaste? (Lukas 10:29). Dan kry ons ‘n ongemaklike antwoord wat ons dikwels irriteer, want ons moet nou onverwags aandaag aan ‘n buurman gee.
  • As ons vra dat God naby aan ons moet wees? Iets wat ons hart gaan breek: Die Here is naby die gebrokenes (Psalm 34:19).
  • As ons vra dat God ons lewende offers sal maak? Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ‘n hart vol ootmoet en berou nie gering ag nie, o God (Psalm 51:18).
  • As ons God vir ‘n dieper ondervinding van sy genade vra? Nederigheid: God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade (Jakobus 4:6).
  • As ons vra dat Hy sy koninkryk laat kom?  Antwoorde wat ons geestelike armoede sal openbaar, want die koninkryk behoort aan hulle wat weet hoe afhanklik van God hulle is (Matteus 5:3).
  • As ons vir God vra vir groter wysheid en onderskeidingsvermoë? Antwoorde wat ons bewus maak van die lyding en ongeregtighede van die wêreld, want die wat honger en dors na wat reg is, sal geseënd wees (Matteus 6:5). Maar ons sal nog iets ontvang: verwarrende antwoorde wat moeilik is om te verstaan en waardeur ons moet werk sodat ons deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei (Hebreërs 5:14).
  • As ons God vra vir ‘n toename in geloof? Ons sal gereeld in situasies kom waar ons ontdek dat ons persepsies nie betroubaar is nie – ons word so gedwing om op God se beloftes te vertrou, want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie (2 Korintiërs 5:7).
  • As ons God vra om ons te help om op te hou om geld te dien? Oorvloedige geleenthede om geld weg te gee; uitgawes wat ons reserwes laat verdwyn – antwoorde wat ons dwing om geld te verag en aan God vas te hou. Julle kan nie God en Mammon dien nie (Lukas 16:13).

 

Natuurlik kan ons nog baie voorbeelde byvoeg. As God ons gebede begin beantwoord vind ons dikwels sy antwoorde ontstellend. Ons het die antwoorde soveel anders verwag. As die pad van vreugde soveel anders is as wat ons verwag het, en God het gesê dit sal so wees, is dit geen rede om die pad te los nie. Onthou wat die Hebreërskrywer sê: Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God (12:11).

 

God se antwoord op ons gebede? Verwag die onverwagte. Meeste van God se grootste gawes en diepste vreugdes kom in pynlike pakkies.

 

 




Ek kan nie bid nie

blbog150cS / FLICKR

There are times when God asks nothing of his children except silence, patience and tears. —Charles Seymour Robinson

 

Ek kan nie bid nie

Almal van ons het al die ondervindig gehad dat ons gaan kniel, ons oë toemaak, maar nie kan bid nie. Dinge wil net nie vloei nie. Een oplossing is om die Skrif te bid. Goed en wel, maar watter gedeeltes uit die Skrif? Daar is baie gebede in die Bybel. Daar is baie krag in hierdie gebede – net soos daar was toe hulle die eerste keer gebid is. Dit is goed om van hulle te memoriseer en gereeld te bid.

 

Hier is vyf kragtige gebede wat ons in ons stiltetyd kan insluit.

 

  • Moses se gebed: Eksodus 33:13

As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag.

Nadat God byna die Israeliete vernietig het omdat hulle die goue kalf aanbid het, praat Moses met God oor sy posisie as leier. Hy wil graag doen wat God van hom verwag – iets wat vir elke gelowige van groot belang is.

 

  • Paulus bid vir gelowiges: Filippense 1:9 – 11

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.

Hierdie is ‘n gebed wat ek ook vir ander gelowiges kan bid – dat hulle liefde sal toeneem. Ek moet net nie van myself vergeet nie.

 

  • Gebed vir leiding: Psalm 51:1 – 8

Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid, na aanleiding daarvan 2dat die profeet Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel met Batseba.

3Wees my genadig, o God, in u troue liefde,

wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid!

4Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde!

5Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus.

6Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.

U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig.

7Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.

8Maar U verwag opregtheid diep in ’n mens se hart:

laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe.

Hierdie is ‘n kragtige gebed wat verkondig hoe God se karakter, heiligheid en geregtigheid ‘n reguit pad vir ons uitlê.

  • Jona se gebed van danksegging en toewyding: Jona 2:2 – 9

1Daar binne-in die vis het Jona tot die Here, sy God, gebid:

23U het my in die diepte van die see laat gooi, ek het gesink tot onder op die bodem van die see. Daar was waterstrome reg rondom my, een brander na die ander het oor my gebreek. 4Ek het gedink ek is van U afgesny, ek sal nooit weer by u tempel kan kom nie. 5Reg rondom my was daar water, die water het my vasgevang, seegras het om my kop vasgedraai. 6Ek het gesink tot waar die fondamente van die berge is, ek het afgesak tot waar die hekke vir altyd agter jou toegaan wanneer jy in die plek van die dooies ingaan. Maar U het my van daaronder opgetrek terug na die lewe toe, Here my God. 7Toe ek heeltemal uitgeput was, het ek aan die Here gedink, my gebed het opgestyg tot waar U in u blyplek is. 8Dié wat aan nuttelose afgode vashou, laat die Here los wat vir hulle so lief is. 9Ek sal met ’n danklied op my lippe vir U offers bring, wat ek vir U beloof het, sal ek met graagte vir U gee. Dit is net die Here wat ons kan red.” (Die Boodskap)

Jona onthou God se verlossende liefde en bevestig sy toewyding om Hom te dien.

 

  • Jesus leer ons hoe om te bid: Matteus 6:9 – 13

So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied net soos in die hemel. Gee ons vadag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in die versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose

Welbekend, maar ons moet dit nooit ignoreer nie

 

Hierdie is enkele voorbeelde wat mag help as ek die dag sukkel om te bid.




Augustinus en gebed

 

God did not fix me up so that I couldn’t sin. He fixed me up so that I couldn’t sin and enjoy it – Henry Clay Morrison

Augustinus en gebed

Anicia Faltonia Proba was ‘n Romeinse edelvrou en Christen. Sy  het vir Augustinus geken. Ons het nog twee briewe wat Augustinus aan haar gskryf het. Een daarvan handel oor gebed. Proba het aan Augustinus geskryf omdat sy bang was dat sy nie reg gebid het nie. Augustinus reageer met verskeie beginsels vir gebed. Van hierdie beginsels is nie wat ons sou verwag nie.

  • Voordat jy oor die vraag wat om te bid en hoe om te bid kan nadink, moet jy eers ‘n besondere soort persoon wees. Wat is dit? Jy moet eers besef hoe verlate en eensaam jy in hierdie wêreld is – maak nie saak hoe voorspoedig jy is nie. Maak nie saak wat jou aardse omstandighede is nie, dit kan nie vir jou vrede en vreugde bring nie. Vertroosting kry die mens net by God. As ons nie hierdie waarheid besef nie, sal al ons gebede van geen waarde is nie.
  • Jy kan begin bid. Waarvoor? Dit waarvoor al die ander mense bid: ‘n gelukkige lewe. Die probleem is egter wat vir jou ‘n gelukkige lewe sal bring. Daar is baie dinge wat dalk vir jou kortstondig gelukkig sal maak, maar nie permanent nie. Hy sê die psalmis het geweet wat vir die mens ‘n gelukkige lewe kan waarborg: Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel (Psalm 27:4). Dit is die basiese gebed vir ‘n gelukkige lewe. Dit beteken nou nie dat dit al is waarvoor ons moet bid nie. Die Ons Vader gebed wys vir ons dat ons baie dinge nodig het, maar God is ons grootste liefde. As Hy ons grootste liefde is en om Hom te ken en te gehoorsaam ons grootste vreugde is, sal ons verander word in hoe en waarvoor ons bid. Hy haal Spreuke 30:8 aan as voorbeeld: Moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het. Soek jy vir God in gebed op om voldoende finansiële hulpbronne te kry – of soek jy die aantal hulpbronne wat jy nodig het om God te ken en te dien.
  • Jy sal gelei word om reg te bid vir ‘n gelukkige lewe as jy die Ons Vader gebed bestudeer. Dink lank en hard na oor hierdie modelgebed en maak seker dat dit waarvoor jy bid daarby inpas. Doen jy dit sal jy soms skaam voel oor die dinge wat jy vra.
  • Selfs al volg ons die eerste drie reëls sal ons gevalle van swaarkry nie weet wat om te bid nie. Lyding kan ons goed doen en juis omdat hulle moeilik en swaar is, bid ons dat dit van ons weggeneem moet word. Augustinus verwys dan na Jesus se eie gebed in Getsemane. Hierdie gebed was volkome gebalanseerd tussen sy eerlike begeerte (Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg) en onderwerping aan God (Laat nogtans nie ny wil nie maar u wil geskied).

 

Alicia Proba was ‘n weduwee vroeg in haar dertigs. Sy moes vlug toe Rome in 410 verwoes is. Sy en haar skoondogter vlug na Afrika waar sy vir Augustinus ontmoet het. Augustinus sluit sy brief af deur te sê dat die werk van gebed vir al van waarde is vir weduwees in haar toestand. Hy vra haar dan om haar lewe aan God in gebed as haar skild op te offer.