Laat ons nie in versoeking kom nie

Dogmatics as such does not ask what the apostles and prophets said, but what we must say on the basis of the apostles and prophets – Karl Barth

Laat ons nie in versoeking kom nie

Jesus het sy dissipels geleer om hulle sondes van die verlede te hanteer. Nou wend Hy Hom na die toekoms. Hy hanteer nou hulle kwesbaarheid teenoor sonde. Ons moet ons Vader vra om ons teen versoekings en geestelike aanvalle te beskerm wat tot nuwe sondes mag lei. Jakobus maak dit baie duidelik:  God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep (1:14 – 15).

 

Soms voel God dat dit goed is dat sy kinders getoets word. ‘n Goeie voorbeeld is Abraham was sy eie seun moes offer. Abraham klou egter vas aan God se belofte dat hy ‘n seun sou hê en God gee aan hom ‘n plaasvervanger om te offer.

Jesus voeg nog iets by by hierdie petisie: Maar verlos ons van die Bose. Hierdie gedeelte maak die eerste gedeelte van hierdie petisie duideliker. Die Bose is maar net ‘n ander naam vir die Satan. Jesus sê ons moenie net bid om van versoekings verlos te word nie, maar ook van die listige streke van die Satan. Ons moet bid dat ons teen die aanslae van die Satan beskerm sal word. Satan speel ‘n baie prominente rol in die verleiding van Adam en Eva, maar ook van Job. Natuurlik het die Satan ook vir Jesus self versoek. Jesus praat dus hier uit ondervinding.

[In hierdie reeks maak ek onder andere van R.C. Sproul se boek The Payer of the Lord gebruik.]




Vergeef ons ons oortredings

The gospel handed down to us in the Scriptures must be regarded to be the ground and pillar of our faith – Irenaeus

Vergeef ons ons oortredings

Belydenis van ons sondes behoort ‘n integrale deel van ons gebede te wees. Geen wonder Jesus leer ons om die Vader se vergifnis te soek nie. As ons sondig plaas ons onsself in die skuld by God. Hier vra ons dat God ons skuld moet vergewe. Jesus het ons skuld aan die kruis betaal. In sy genade en barmhartigheid laat God toe dat Jesus ons skuld betaal. Ons skuld was so groot dat ons dit onmoontlik self kon betaal het.

In die Nuwe Testament word sonde met verskillende woorde beskryf. Kom ons kyk na ‘n paar hiervan:

 

  • ‘n Oortreding van die wet – ‘n misdaad. In die Bybel lees ons dikwels dat God die regter is. Ons weet Hy is ‘n regverdige Regter. Hy moet dus oortredings van die wet straf. Die bevinding sal sekerlik wees dat ons skuldig is, behalwe as iemand anders die straf wat ons verdien, betaal het.
  • Vervreemding. In ons harte haat ons vir God. Ons moet met Hom versoen word – in vrede met Hom leef. Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is deur die lewe van sy Seun gered sal word (Romeine 5:10). Let wel: ons was vyande van God. Hoekom? God is heilig en ons nie. Mense wat nie heilig is nie, waardeer nie ‘n standaard wat hulle tekortkominge blootlê nie. God se heiligheid en ons sondigheid skep ‘n kloof wat ons nie kan oorbrug nie. Daarmee saam sien en weet God alles. Ons kan nie van Hom wegkruip nie. Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar; gaan ek lê in die doderyk, is U ook daar (Psalm 139:7 – 8). God is ook almagtig en onveranderlik. God is ‘n formidabele teenstander. As  ons vyandig teen Hom is of van Hom vervreemd is, is ons deel van ‘n geveg wat ons onmoontlik nie kan wen nie.

Hierdie geveg kan net gewen word as ons onvoorwaardelik aan Hom oorgee. Dit is wat ek doen as ek Hom vra om my oortredings te vergewe. Maar Jesus heg ‘n voorwaarde aan hierdie petisie: soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree. As hierdie voorwaarde letterlik moet geld, het ons groot probleme. Ons kan net nie vergewe soos God vergewe nie. Wat Jesus hier sê, is dat dit is waarna ons moet strewe. Omdat ons van baie vergewe is, moet ons ander ook baie vergewe.

Hierdie petisie herinner ons aan die diepte van ons sondigheid, dat ons daagliks vir vergifnis moet vra, want ons het dit daagliks nodig. Ons het almal dringend vergifnis nodig en ons hoef net daarvoor te vra.

[In hierdie reeks maak ek onder andere van R.C. Sproul se boek The Payer of the Lord gebruik.]




Gee ons vandag ons daaglikse brood

Christian ethics must arise from the Gospel of Jesus Christ. Otherwise it could no be Christian ethics – Oliver O’Donovan

Gee ons vandag ons daaglikse brood

Die eerste element van gebed behoort aanbidding of lofprysing te wees – lees net die psalms. Natuurlik moet gebed ook belydenis van sonde insluit – as ons in God se teenwoordigheid kom, sien ons hoe ver ons tekortskiet. Danksegging – ons onthou God se genade en barmhartigheid – is nog ‘n belangrike element van gebed. Laastens moet gebed ook ons versoeke vir die behoeftes van ander en onsself in te sluit. Ongelukkig is dit gewoonlik waar ons begin – versoeke.

 

Hierdie versoek vir daaglikse brood beklemtoon ons daaglikse behoefte aan kos, maar ook dat dit God is wat dit voorsien. Hier wys Jesus vir ons hoe ons vir ons daaglikse behoeftes moet bid. Hier is ‘n paar belangrike lesse vir ons,

  • Jesus bid nie dat God ons brood aan ons moet verkoop nie; ook nie dat Hy dit vir dienste van ons kant sal ruil nie. Nee, ons vra: Gee ons … Ons gaan na Hom as bedelaars. Die Bybel sê dat ons op Hom kan vertrou, want Hy reageer op sulke versoeke: Elke goeie gawe en elke goeie geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader (Jakobus 1:17). God is bekommerd oor ons alledaagse behoeftes soos eet en drink. Jesus het nie gesê dat ons vir brood moet vra sodat ons laat kan slaap nie. As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as ‘n ongelowige (1 Timoteus 5:8). Ons moet dus vertrou dat God sal voorsien, maar ons moet ook alles in ons vermoë doen om te voorsien.
  • Jesus sê ons moet vir ons daaglikse brood vra – nie ‘n week of ‘n maand se voorraad nie. Hoekom beklemtoon Jesus dat ons daagliks moet vra? Hy wil ons leer om ons afhanklikheid van sy voorsiening elke dag te erken. Hy is gewillig om in ons daaglikse behoeftes wat ons voor Hom bring, te voorsien. Ons is voortdurend van God afhanklik om te voorsien.
  • Jesus bedoel nie dat ons net vir brood moet bid nie. Brood was ‘n stapelvoedsel vir die Jode. In die Ou Testament is dit ‘n kragtige simbool van God se voorsiening Dink maar net aan die manna wat Hy voorsien het in die woestyn. Ook is ons kultuur is brood ‘n simbool van voorsiening – ons praat van ‘n broodwenner. Ons kom na God in nederige afhanklikheid – ons kan ons behoeftes aan Hom bekend maak.

Jesus het gesê dat ons God met ons behoeftes moet nader. Hy sal voorsien.

[In hierdie reeks maak ek onder andere van R.C. Sproul se boek The Payer of the Lord gebruik.]




Laat u wil geskied

 

He who chooses the beginning of a road chooses the place in leads to. It is the means that determines the end – Harry Emerson Fosdick

Laat u wil geskied

Sekerlik die algemeenste vraag wat Christene vra, is: Hoe weet ek wat die wil van God is? Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Hierdie petisie vloei voort uit die vorige twee. Maar hoe moet ons die wil van God verstaan? Daar is drie maniere waarop die meestal verstaan word:

  • Die soewereine wil van God. Dit beteken dit wat God beveel, gebeur. Toe Hy sê dat daar lig moes wees by die skepping was daar lig. Toe Christus vir Lasarus beveel om uit die graf te kom, gebeur dit onmiddellik.
  • Die voorskriftelike wil van God. Dit het met sy wet en opdragte – sy voorskrifte – te doen. God het hulle gegee om die gedrag van sy sy skepping te reguleer. Dit is God se wil dat jy nie moet moord pleeg nie. Ons kan hierdie wil oortree – en doen dit ook elke dag.
  • Die wil van God ten opsigte van sy basiese gesindheid –  wat Hom tevrede stel en wat Hom ongelukkig maak.

Wat presies het Jesus bedoel toe Hy gesê het: Laat u wil geskied? Dit kan ‘n pleidooi wees dat sy soewereine doel geskied. Ons weet dat dit uiteindelik sal gebeur, maar intussen moet ons gereeld hieraan herinner word. Ons het ‘n vrye wil, maar dit is altyd ondergeskik aan God se soewereine wil.

Jesus kwalifiseer hierdie petisie. Hy sê nie net laat u wil geskied nie, maar voeg by: op aarde net soos in die hemel. Dit wys vir ons dat daar ‘n verskil is tussen die uitvoering van God se wil op aarde en in die hemel. Ons weet dat die soewereine wil van God altyd uitgevoer word. Waarskynlik verwys Jesus hier na God se voorskriftelike wil. Hierdie wil word altyd in die hemel uitgevoer, want daar is geen sonde nie. In die hemel word God voortdurend verheerlik en die gelowiges vind vreugde in Hom.

Jesus bevestig met hierdie petisie dat die wil van God in die hemel gedoen word, maar Hy bevestig ook dat dit nie op aarde gedoen word nie. Mense op aarde streef nie daarna om God te verheerlik nie; mense op aarde soek nie die koninkryk van God nie. Laat u wil geskied is ‘n uitdrukking van geloof en onderdanigheid – ons onderwerp ons aan God.

[In hierdie reeks maak ek onder andere van R.C. Sproul se boek The Payer of the Lord gebruik.]