Die Groot Geloofswoordeboek: Gebed
Gebed is deel van ons antwoord aan God. Gebed kan baie vorme aanneem. ‘n Mens kan hardop of sag bid, lank bid of ‘n “skietgebed opstuur”. Daar is meer formele gebede in eredienste, en persoonlike gebede. Soms hoor ‘n mens van gebedsreise. Gemeentes organiseer ook geleenthede van “deurnaggebed” in buitengewone omstandighede.
Dit is goed om spesifieke gebedstye te hê, maar ook ingestel te wees op geleenthede om spontaan na die Here te gaan met lof, dank of nood.
Tafelgebede is ‘n besondere geleentheid om ons lewe deur die dag weer ‘n oomblik voor God oop te maak. Dit is sleg om altyd dieselfde “rympiegebed” te bid waaruit daar min persoonlike oorgawe en betrokkenheid spreek, of om altyd net saaklik vir die kos dankie te sê. Ons lewe bestaan uit baie meer as eet. Dit is ook goed om die verskillende gesinslede die kans te gee om die tafelgebed te doen.
Gebed kan ook uit verskillende elemente bestaan: lofprysing, aanbidding, danksegging, voorbidding. In vernuwingsgemeentes is dikwels ‘n gebedsbediening wat aan die gemeente leiding gee oor wat om te bid.
Sang is ‘n besondere vorm van gebed waarin die gemeente saam kan bid. Die sang word soms in vernuwingsgemeentes aangebied in die vorm van lofprysing, aanbidding, verootmoediging en ook ander elemente.
Gebed is nie bedoel om die Here in te lig oor sekere dinge wat ons na aan die hart lê nie. Iets van die ouer-kind-verhouding moet eerder in ons gebede deurskemer, van die grootheid van God en ons afhanklikheid van Hom.
In verskillende kerklike tradisies word ook verskillend gebid. Die hoogkerklike tradisie ken voorgeskrewe gebede wat afgelees word. Die historiese kerke bid taamlik formeel in lang, goed geformuleerde sinne en met min stembuiging. In die *Evangeliese tradisie word meestal met baie meer emosie gebid, in korter sinne, soms selfs onvoltooide sinne soos smekende uitroepe. In die *Pinkster- en Charismatiese kerke is daar dikwels baie instemming van die kant van die gemeente. Woorde soos “*amen” en “*halleluja” kan reëlmatig gehoor word.
Jesus het nie lang gebede aangemoedig nie. Hy was nogal krities daaroor. Die gebed wat Hy aan sy dissipels gee, is kort en saaklik, maar dit het ‘n baie ryk inhoud (Matt 6:5-15). Die struktuur van hierdie gebed is belangrik. Dit begin by die eer van God, en eers dan is dit ons behoeftes.
Die Onse Vadergebed
“Ons Vader” herinner ons daaraan dat ons ‘n groot familie is en nooit mag maak asof net onsself of ons klein groepie vir Hom belangrik is nie. Ons kan so maklik selfsugtig in ons gebede word, en ons ís dit as die groot Christelike familie nie in ons gebede ter sprake kom nie.
“Laat u Naam geheilig word” het te doen met die eer van God en die heiligheid van ons lewe. Sy Naam moet deur sy kinders se woorde en dade geëer word. Ons lewe moet Hom aan die ongelowiges “verkoop”.
“Laat u koninkryk kom” is die gebed dat die kerk moet groei deur die ongelowiges wat tot geloof kom, en dat ons lewe en samelewing al meer volgens sy wil ingerig moet word.
“Laat u wil ook op die aarde geskied net soos in die hemel” is die gebed dat God se wil voorrang moet hê bo ons wil. Die klassieke voorbeeld daarvan is Jesus se gebed in Getsemane: “Nie my wil nie, maar u wil.” Daar is mense wat dit bid wanneer hulle in nood tot die Here roep, byvoorbeeld vir genesing. Daar is ander wat meen dit is ‘n agterdeur wat ons in ongeloof ooplaat as die sieke nie gesond word nie. Die voorbeeld van die hemel is aangrypend omdat dit vir ons die simbool is van volkome gehoorsaamheid aan God. Daar is ouers wat die opvoedingsbeleid het van “Eerste keer gehoorsaam”. Kinders moet op die ouers se eerste bevel reageer. Dit is ‘n goeie beginsel in ons verhouding met die Here.
“Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Hier kom ons behoeftes aan die beurt, en dit begin met baie konkrete fisieke behoeftes. Die Here het ons as liggaamlike wesens geskape; daarom aanvaar Hy ook vir ons liggaamlike lewe verantwoordelikheid.
“Brood” is ‘n simbool van eenvoudige kos, dit wat ‘n mens regtig nodig het om goed te lewe. Nie ‘n luukse Duitse motor en dan nog die regte kleur ook daarby nie. (*Voorspoedsevangelie) Nie ‘n huis van miljoene en dan nog ‘n vliegtuig vir die lekker ook nie. Ons leef in ‘n land van arm mense, en ons het ‘n verantwoordelikheid om die Here se instrumente te wees om vir ‘n paar van hulle hulle daaglikse brood te voorsien. Die “daaglikse” kan die betekenis hê van vandag net vandag s’n, soos die Here in die woestyn net dié dag se manna gegee het. Dan kom daar iets van ons daaglikse, voortdurende afhanklikheid van Hom na vore.
“En vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.” Daaglikse vergifnis skep die indruk van daaglikse behoefte aan vergifnis. Dit beteken dat ons waarskynlik nie volmaak, sondeloos hier op die ou aarde gaan word nie. Dit is goed om ons daaraan te herinner as ons té oormoedig raak met ons oorwinning oor die sonde. Maar daar is ook ‘n ander kant van dié saak. Kyk by *kinders van God.
Hierdie gebed het ‘n stertjie by: “soos ons ook … ” Dit maak dit ‘n bietjie ongemaklik. En Jesus het dit baie ernstig bedoel. Dis opvallend dat Hy net op hierdie stertjie terugkom in sy gesprek ná die gebed: “As julle ander mense … vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie … vergewe nie!” Dit maak vergifnis noodsaaklik om vergewe te word. Met ‘n wrok in jou hart help dit nie eens om te bid nie. Of ja, dalk help dit tog. Dalk sal jy vashaak as jy by hierdie gebed met sy stertjie kom en onthou dat jy eers moet vergewe voor jy vergewe gaan word.
Die Here is nogal ernstig hieroor. Iewers sê Hy ons moet ons offer (aan Hom) by die altaar laat en ons eers gaan versoen met ons broer (of suster). Eers ons menseverhoudings in orde kry voor ons verhouding met Hom weer regkom. En verderaan in Matteus vertel Hy van ‘n man wat ‘n ongehoorde skuld by die koning vry kry, maar dan sy vriend wat hom ‘n onbenullige bedraggie skuld, aan die keel beetkry … en uiteindelik sy skuld terugkry (Matt 5:23-24; 18:21-35). Het jy nie dalk al intussen jou skuld teruggekry nie?
“En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose.” Die duiwel en die bose magte het ‘n besondere rol in Jesus se bediening gespeel. Hy het die *koninkryk/heerskappy van God op aarde kom herstel. Hy het dit gedoen deur die duiwel uit mense se lewens te dryf. Hy het die Bose oorwin, maar nog nie vernietig nie. Die duiwel kan nog die kinders van God baie seermaak. Daarom ons gebed om nie deur die duiwel versoek te word nie, maar van hom verlos te word. Hy kom in baie verskillende vorme na ons toe, soms baie onskuldig, selfs soos ‘n engel van die lig (2 Kor 11:14).
Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.
Outeur: Prof Adrio König