Perspektief op gebed (17) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Jy speel in God se span!

Dit is nou alles goed en wel, maar hoe weet ek dan nou wat God se wil is? Dit is nie altyd ‘n maklike vraag om te beantwoord nie. Dikwels moet ons lank worsel om regtig ‘n antwoord hierop te kry.

Tog sal dit ons help om net weer na te dink oor wat gebed presies is en wat daar gebeur as jy sekere dinge van God vra.

In die Bybel word ons kinders van God genoem. Ons is dus deel van die familie van God.  God word nie verniet ‘ons Vader’ genoem nie (Mat 6:9). Ons rol in die familie van God is dus dieselfde as dié van ‘n kind in ‘n antieke familie in Jesus se tyd. Soos ons in die vorige hoofstuk gesien het. het die families anders gewerk as wat ons families vandag werk.

Hoe help dit ons om die wil van God beter te verstaan? Destyds was die mense mos groepsmense. Alles wat jy gedoen het was daarop gemik om jou groep te bevoordeel. Die Vader was weer die hoof en die verteenwoordiger van die gesin. Korrekte optrede is deur die vader bepaal. Wat jy wou hê en ook gevra het, sou dan tot voordeel van die groep en in ooreenstemming met die wil van die vader moes wees. Om dus te bid beteken om voortdurend te vra hoe God jou in sy familie wil gebruik.

Soos ‘n lid van ‘n rugbyspan, is jy lid van die familie van God. In die oë van God speel jy die spel van die lewe saam met Hom en jou mede-gelowiges. Jy staan nie alleen nie! Jy het ‘n rol om te speel en dit kan jy nie los van die res van die ‘span’ speel nie. Dáár waar God jou wil hê in die lewe, hoe Hy wil hê jy moet speel, daar lê die sin van jou lewe, sê die Bybel. Ons speel in God se span in die wêreld. Daarom moet ons God se belange verteenwoordig. God se belange en ons belange is vervleg.

Gebed doen meer aan jou as aan God?!

As ‘n mens gebed teen hierdie agtergrond sien, kan ons heelwat dinge beter verstaan. Om die waarheid te sê, ons sal by die hart uitkom van wat dit beteken om God iets in jou gebede te vra.

As lede van God se span, sy familie, moet ons die belange van God se ‘span’ op die hart dra. Ons sal mos nie wil hê dinge moet gebeur wat God se ‘span’ benadeel nie. God wil dit ook nie hê nie. In die opsig loop sy wil en my wil op dieselfde spoor. Dit is juis wat God bedoel met: ‘Bid volgens my wil’. Ons belange moet so met God se belange ‘een’ wees, dat ons eintlik vir God niks anders sal wil vra as wat Hy buitendien vir sy familie sou wou gee nie. Dit is dan dinge wat buitendien volgens sy ‘wil’ is en daarom kan ons seker wees dat dit ‘goed’ is.

So gesien doen gebede dus meer aan jou as aan God! In jou versoeke aan God moet jy konstant onthou wie jy is! Jy is ‘n kind in God se familie. Jy bid dus nie bloot om jou eie sak vol te maak nie. Jy is deel van God se ‘span’ wat speel en God wil hê dat jy so goed as moontlik moet saamspeel. Dit beteken om jou hele lewe deur die stroom van God se teenwoordigheid en wil te laat meesleur. Elke ding wat jy vra moet ‘n versugting wees om meer en meer van God in  jou lewe gestalte te gee. Sy wil moet jou wil word en bly!

 

Ek en ‘n lekkergoedmasjien?

Een ding is dus seker: gebed is nie soos ‘n lekkergoedmasjien nie. Ek kies nie maar net wat ek wil hê, gooi my geld in, vat die lekkergoed en loop nie. In gebed praat ons nie met ‘n masjien wat  maar net op ons versoeke reageer nie. Ons praat met die lewende God. Dit verander dus die manier waarop ons vra.

Beywer julle allereers vir die koninkryk van God

en vir die wil van God,

dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

(Mat 6:33)

Veronderstel jy het ‘n probleem waaroor jy voel jy wil bid. As jy dan voor God gaan staan, is daar eintlik drie belangrike ‘pole’ wat ‘n rol speel. Dit is natuurlik God, jy en die saak waaroor jy wil praat.

Al drie hierdie ‘pole’ het ‘n invloed. Natuurlik moet jy die saak voor God stel, MAAR  nie asof jy Hom net ‘inlig’ nie. Onthou, in gebed erken jy dat God ook by hierdie saak betrokke is. Sy belange moet ook in hierdie saak gedien word. Om die waarheid te sê, dit is belangriker dat Hy tevrede is met die uitkoms van die saak as wat jy is. Om dus iets in gebed na God toe te neem beteken om God se betrokkenheid en belange onlosmaaklik daarmee te vervleg. En nou kom jou siening ook nog by. God wil hê dat jy aan Hom vertel hoe jy oor die saak voel.

So is gebed: God, jy en jou saak. En wat jy probeer kry, is nie lekkergoed uit ‘n masjien nie, maar ‘n soeke na wat vir die koninkryk die belangrikste is. God het jou deel van sy koninkryk, sy familie, gemaak. Daarom is elke saak van jou God se saak. Hy is daarby betrokke. Nou moet jy só leef en só bid… ook in die oplossing van jou probleme. Nooit kan ‘n saak van jou meer ‘net ‘n saak’ bly nie!

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Perspektief op gebed (16) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Op die skoot van God aan die gesels.

 Deel 1: Vra wat jy wil… maar wie se wil?

Gebed ‘werk’ nie! En nou?

Een van die grootste probleme wat mense met gebed het, is hoe God gebede beantwoord. Wat presies gebeur met gebed?

Is dit soos ‘n geldoutomaat waarin ons ons versoeke inpons en die outomaat moet maar net reageer? Of is dit dalk soos ‘n bedelaar wat maar langs die pad sit en vra  met die hoop dat iets na sy kant toe sal kom? Of werk dit miskien soos ‘n belastingvorm wat jy indien maar nooit seker is wat daar gaan uitkom nie? Ja-nee, wat is gebed presies as dit by die vraslag kom?

Soos ons reeds gesien het, is een van ons grootste probleme inderdaad ons verwagtings wat nie altyd met ons ervarings strook nie. Nou die dag hoor ek van ‘n jong meisie wat uit slegte huislike omstandighede kom. Sy het blykbaar lank en innig gebid dat die probleme in die huis moet verander, maar alles het nog maar dieselfde gebly. ‘Gebed dus nie gewerk nie, nou rook ek maar’, sê sy. Rook help darem ‘n bietjie, want dit verlig die spanning. So ‘n gebedservaring maak dit sekerlik baie moeilik om maar weer en weer te bid as jy voel dat dit nie gaan werk nie. En gedeeltes soos Joh 14:14: ‘As julle iets in My naam vra, sal ek dit doen’, maak hierdie ervarings ook nie makliker verstaanbaar nie. So ontwikkel gebed maklik in ‘n onverstaanbare vraagteken.

Daar kan natuurlik allerhande antwoorde en verduidelikings aan die meisie vir haar ervaring gegee word. Een ding bly egter seker. Aan haar ervaring en vertwyfeling kan ons nie veel verander nie – dit het gebeur. En daar is duisende ander gelowiges wat met dieselfde frustrasie sit, miskien nog uself.

Die meeste misverstande rondom gebed ontstaan egter omdat ons nie altyd reg dink oor hoe ons in gebed moet vra en wat ons moet verwag nie. Ons dink òf God is ‘n outomatiese teller òf ‘n belastinggaarder of wat ook al. Dit is belangrik om mooi na te dink oor wat ons presies sê as ons sê dat God ons gebede verhoor.

Die net van God se wil wat  jou gebede opvang

Die Bybel is nie skaam om te sê dat ons van die Here dinge moet vra nie. Hierdie uitnodigings wemel in die Bybel. Kom ons kyk na ‘n paar van hierdie uitnodigings:

So sal die Vader aan julle gee

wat julle ook al in my Naam vra.

(Joh 15:16)

 Bid en julle sal ontvang.

(Joh 16:24)

 As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem

en daaroor bid,

sal my Vader wat in die hemel is,

hulle dit laat kry.

(Mat 18:19)

 Vra, en vir julle sal gegee word;

(Mat 7:7)

Op sig self lyk hierdie beloftes van die Here baie duidelik. Ons moet vra en Hy moet gee! Maar is dit wat presies bedoel word?

God se wil…

As ons weer ‘n keer na hierdie en ander uitsprake kyk, kom ons ‘n interessante ding agter. Die meeste van hierdie uitsprake word gekwalifiseer: die persoon wat bid moet vra volgens die wil van God. Kyk byvoorbeeld na 1 Joh 5:14:

 Nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan

omdat Hy ons gebede verhoor

as ons enigiets volgens sy wil vra.

In Mat 7:11 word dit op ‘n ander manier gestel:

As julle wat sleg is,

dan weet om goeie dinge vir julle kinders te gee,

hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is,

goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?

 God het duidelik ook ‘n sê in wat ons bid. Hy is nie ons kelner of bediende wat maar net opdragte uitvoer nie. Inteendeel, Hy is ons Vader en God. Hy gee ons nie sommer enigiets nie, maar wat volgens sy wil goed is. God besluit dus hoe Hy gebede wil beantwoord.

Wat beteken dit? ‘n Kind wat probleme met sy maag het en lekkers vra gaan waarskynlik net sieker word. Sy ma sal vir hom liewer medisyne gee. ‘n Ma bekommer haar oor die welsyn van haar kind. Sy sal nie iets doen wat haar kind skade kan aandoen nie. Ook die teenoorgestelde is waar: ‘Watter mens sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra of ‘n slang as hy vis vra?’ (Mat 7:9-10). God sal jou nie doelbewus probeer benadeel nie. As jy van Hom iets vra en Hy gee jou ‘n ander antwoord as wat jy verwag het, probeer Hy jou nie ‘spite’ nie. God weet wat vir jou die beste is en so sal Hy op jou gebede reageer. Sy wil is die net waarin ons gebede opgevang en geweeg word.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Perspektief op gebed (15) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Deel 2: Die ou slang kry ‘n bloedneus.

Here help, satan wil my seermaak!

Die positiewe pool van sondebelydenis is om God te vra om jou teen sonde te bewaar. Elke gelowige is satan se verklaarde vyand nommer een. Satan wil ons graag seermaak. Dit is die enigste manier waarop hy die belange van God kan skade aandoen. Daarom moet ons voortdurend bid:

Laat ons nie in versoeking kom nie,

maar verlos ons van die bose.

(Mat 6:13)

Maar nou moet ons weet waaroor ons bid en waarvoor ons vra as ons vra dat God ons sal verlos van die bose. In Efesiërs 6:12 waarsku Paulus juis sy gemeente:

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie

maar teen die owerhede, teen die magte,

teen die heersers van hierdie donker wêreld,

teen die bose geeste in die lug.

Daarom pas die raad wat hy gee by die tipe stryd wat gevoer moet word:

Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.

Doen dit alles biddend

en smeek God by elke geleentheid deur die Gees.

Wees waaksaam

en bid gedurig vir al die gelowiges.

(Ef. 6:10,18)

Jy moet jouself dus biddend staal teen versoekings en aanslae wat oor jou lewenspad mag kom. In gesprek met God  moet jy jouself voorberei om elke slim plan van satan om jou uit te vang, te fnuik. Dit moet ‘n belangrike deel van jou sondebelydenis uitmaak. Jy moet dus nie alleen jou sonde wat jy reeds gedoen het, bely nie. Jy moet jouself ook soos ‘n soldaat voorberei vir die stryd wat teen satan voorlê.

Die Here gee my ‘n wapenrusting.

Uit Ef. 6:10-17 (die sogenaamde ‘wapenrusting van God’ – vers 13) is dit meer as duidelik wat dit beteken om jouself vir die stryd teen die bose gereed te maak. Die gelowige moet op sy pos bly (verse 13 en 14). En daardie pos is om naby die Here te leef. Die Here sal nie sy kind in die leeukuil instuur sonder om Self daar te wees om hom of haar te beskerm nie. Maar in hierdie stryd sien die Here ons nie as babatjies nie, maar as soldate. Vir hierdie stryd moet ons God se wapenrusting aantrek.

Al hierdie geestelike wapens sê net oor en oor dieselfde ding: leef uit jou intieme verhouding met God. Immers, Wie anders is die waarheid as God self? Wie is die groot Regter wat ons regverdig verklaar en lei om reg op te tree? Hoe sterker ons geloof, hoe beter kan ons die satan se aanvalle stuit; met ander woorde, hoe nader ons aan die Here staan hoe swakker word satan se kans om ons beet te kry. En dan gee die Here nog vir ons die swaard van die Gees, die woord van God. Waar die leuens en misleiding van satan dus opduik, daar moet ons die woorde van God laat weerklink!

Die groot geheim van ons lewenstryd is dus om met ons hand styf in die hand van God te leef. As ons saam met en naby Hom deur die wêreld loop, sal satan se skaduwee nie eers naby ons kom nie! Satan is bang vir God. Hy is bang vir die Koning van die konings, want God het hom vernietigend verslaan. Daarom waag hy dit nie naby God nie. As jy dus in alles wat jy doen naby God bly, bly jy eintlik tegelykertyd uit die pad van satan! Ons sien hier dus weer dat die hart van gebed – en ons hele geestelike lewe – bly maar ‘n intieme en hegte verhouding met die lewende God.

Tog  gebeur daar soms in jou lewe dinge wat jou maar traag maak om jou wapenrusting aan te trek. Dit is net asof jy nie aan die bid kom nie. Soms lyk dit byna asof jy na die vyand oorgestap het… 

Gaan op jou knieë as jy so voel. In gebed trek jy die wapenrusting van God aan. Daar berei jy jou voor om die versoekings teen te werk.

Sonde: my groot vyand wat ek soms soos ‘n vriend behandel.

‘n Goeie gebedslewe het ook sy vyande, soos ons reeds gesien het.

Ons het reeds gesien dat gebed moontlik is omdat God daar is. Omdat God daar is en dit so wil hê  kan ons in ‘n verhouding met Hom staan. Hierdie verhouding word gevoed en versterk omdat ons met God kan praat. Uit hierdie gesprek met God put ons dan ook ons krag.

Natuurlik sal die duiwel sy mes in hierdie verhouding wil inkry! Hoe swakker die verhouding, hoe beter is die duiwel se kanse om God se werk in jou te laat ontspoor. Hoe meer die duiwel jou gebedslewe kan aftakel hoe beter is sy kanse om jou verhouding met God te bederf.

Nou is daar sulke kraperighede wat die duiwel gebruik om jou gebedslewe uit te kalwe. Kom ons kyk na ‘n paar ‘taktieke’ wat die duiwel gebruik om ons geloofslewe te versteur. So kan ons agterkom hoe hy werk.

* Die duiwel krap dikwels ons verhoudinge wat vir ons die meeste tel deurmekaar. Hy gooi daai saadjie van ontvredenheid en spanning tussen man en vrou in, of tussen ma en kind. So iets maak jou ongelukkig en ontstel jou. As jy dan op jou knieë staan voel jy net nie reg om te bid nie. Jy voel skuldig of skaam, want jou saak met jou man of kind is nie heeltemal wat dit moet wees nie. Op daardie stadium voel die situasie nog nie vir jou heeltemal reg om alles met jou maat ‘uit te praat’ nie. Wat nou gemaak? Hoe bid jy nou? Huigel jy nie dalk om nou met die Here te praat terwyl alles nie reg is nie? Natuurlik lag satan al die pad. Hierdie taktiek weet hy werk soos ‘n bom!

Daarom sê Petrus dat ons ons verhoudings in die gesin gesond moet hou, want ‘dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder’ (1 Pet 3:7). Dieselfde soort gedagte kry ons by Mat 5:23-24. Hier val dit jou by dat jou broer iets teen jou het. Eintlik sou ons kon sê dat dit sy probleem is. Die Here redeneer egter nie so nie. As iets van jou jou broer pla, moet jy dit gaan regmaak. En as dit jy is wat iets teen jou broer het, geld dieselfde: vergewe hom (Mk11:25). Gebed funksioneer effektief binne die ruimte van gesonde persoonsverhoudinge. Dit is hoe die Here dit wil hê.

* Geestelike selfversekerdheid en hoogmoed is ook ‘n stok in die wiel van effektiewe gebed. Dit is as jy begin dink dat die Here eintlik ‘gelukkig’ behoort te voel oor jou. Jy is mos nie soos baie ander nie… nee, jy is beter! Jesus het ‘n hele gelykenis daaroor vertel. In Luk 18:9-14 lees ons van die twee mans wat in die tempel gebid het. Die een het sy eie lof voor God besing. ‘n Mens kry byna die gevoel dat daardie man verwag het dat die Here vir hom hande moes klap. Aag nee wat, so werk dit nie. In gebed is jy die een wat op jóú knieë voor God staan en nie andersom nie! Daarom luister God eerder na die tollenaar se gebed wat uit ‘n hart  van nederigheid kom.

* Ons motiewe met gebed tel ook baie. Die fokuspunt is kommunikasie met die lewende God. Dit is die manier waarop ons nader en nader aan Hom wil kom. Maar dit is so maklik vir hierdie fokus om te verskuif. So maklik kan ons net oor onsself begin praat. So maklik word EK die middelpunt van die hele gesprek. Ek vergeet dat dit ek is wat voor God staan, maar bid asof dit God is wat voor my staan. Hy moet luister (en maak?) soos ek sê. Geen wonder dat Jakobus (4:3) dit as een van die struikelblokke in ‘n gesonde gebedslewe uitgewys het nie: ‘As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig’.

* Dit kan ook gebeur dat ons dink dat ons sekere sondes vir die Here kan wegsteek. As ons op ons knieë staan, bid ons ten spyte van daardie verkeerde dinge wat nog in ons lewens is. Ons ‘ignoreer’ dit liefs en dink dat dit sommer sal weggaan. Ons praat nie met God daaroor nie en dink dat Hy dit dan nie sal agterkom nie. Jesaja (59:1-2)  het die saak mooi gestel:

Die arm van die Here is nie te kort om te help nie

en sy oor nie te doof om te hoor nie.

Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het

tussen julle en julle God,

dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie

en nie na julle wil luister nie.

 Ons het geen ander keuse as om eerlik met God te wees nie.  Ons kan nie met twee gesigte voor Hom verskyn nie. Ons moet suiwer en opreg voor Hom leef: Laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid… saam met almal wat die Here met ‘n rein hart aanroep (Heb. 10:22 en 2 Tim2:22). Dit beklemtoon die belangrikheid van sondebelydenis.

*  Dikwels met ‘n kaartspel in ‘n film, bring die speler op die laaste sy ‘troefkaart’ uit. Die boef steek natuurlik altyd so ‘n kaart iewers in sy mou weg. Daai kaart wen kaartspelle, eerlik of te nie! Twyfel is die duiwel se troefkaart. Daarmee probeer hy die mat onder die gelowige se voete uitruk. Geen wonder dat die Here vir ons ‘n baie duidelike waarskuwing in sy Woord teen twyfel gegee het nie:

Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie,

want iemand wat twyfel,

is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag

en heen en weer gedryf word.

So ‘n mens wat altyd aan die twyfel is

en onbestendig is in al sy doen en late,

moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

(Jak. 1:6-8)

Twyfel is eintlik ‘n vreeslike ding. Om in gebed te twyfel sê eintlik dat jy nie dink God sal sy woord hou nie. Immers, as ‘n mens in aanbidding voor God staan en besef  Wie Hy regtig is, hoe kan jy dan nog twyfel? Om dit so te stel; As God by die voordeur inkom, vlug twyfel by die agterdeur uit. God en twyfel kan nie tegelyk in dieselfde ‘huis’ leef nie. Die effektiefste manier om twyfel teen te werk is om God se hand styf vas te hou.

Kom ons oefen…

As ‘n mens ‘n hou sien kom kan jy koets. As jy kan nadink oor versoekings wat jou mag tref kan jy soveel sterker staan as hulle jou die dag wel tref. Ruim daarom tyd in jou gebed in om jou teen versoekings te staal. Trek die wapenrusting van God aan. Kom ons kyk hoe dit prakties gedoen kan word.

Hier moet daar weer tyd vir bepeinsing gemaak word.

* Dink aan môre. Is daar enige situasie waaraan jy kan dink wat jou miskien in die ‘moeilikheid’ kan hê. (Dit kan miskien ‘n gespanne verhouding met jou tienerkind of man wees; dit kan ‘n moeilike situasie by die werk wat jy moet regmaak; of wat ook al). Is daar so iets waaraan jy kan dink? Skryf dit neer……………………………………… …………………………………………………………………………………………………………………. ………………………………………………………………………………………………………………….

* As jy nou aan jouself raad moet gee in die lig van wat jy oor die ‘wapenrusting van God’ weet, wat sou jy sê moet jy doen? Wat dink jy sal vir jou werk as jy môre in die moeilike situasie kom? ……………………………………………………………………….. …………………………………………………………………………………………………………………. ………………………………………………………………………………………………………………….

* Praat nou met die Here daaroor……………………………………………………………………

………………………………………………………………………………………………………………….

* Dink ook af en toe na oor die gesindheid waarmee jy bid. Laat twyfel jou soms wankel, klink jou gebed soos die Fariseër s’n, bid jy soms net vir jouself? Of  staan God steeds in die sentrum van jou gebede?

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Perspektief op gebed (14) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Here, vergewe my sonde!

Hierdie hoofstuk word in twee onderafdelings verdeel:

                                                Deel 1: Sondebelydenis maak reg wat verkeerd is.

                                                Deel 2: Die ou slang kry ‘n bloedneus.

Dit is mense wat bid, mense soos jy en ek. Daarom sal gebed altyd in die kloue van sonde en gebrokenheid vasgevang wees.

Nou kan ons ongelukkig nie sommer hierdie saak ignoreer nie. Sonde benadeel gebed en benadeelde gebed help weer sondigheid aan. In hierdie bose spiraal wil geen Christen beland nie. En tog is dit ‘n strik wat so moeilik is om te vermy.

Deel 1: Sondebelydenis maak reg wat verkeerd is!

Ek het jou dan vertrou?

Wat is sonde? ‘n Mens sou seker vinnig ‘n lysie kan maak, soos vloek, lieg, steel en so aan. Maar die Bybel sal gou vir jou sê dat hierdie dinge net die simptome is van ‘n groter siekte. Die oorsprong van alle sonde lê in ‘n iets wat verkeerd loop met jou verhouding met God. Dit is iets wat maak dat jy so optree dat God ontevrede is. Nou kan daar baie redes voor gegee word, byvoorbeeld dat satan jou verlei, of dat jy ongehoorsaam is of jou eie kop wou volg. Maar die kern van die saak bly steeds dat daar iets verkeerd loop met jou verhouding met God.

Nou weet ons ook almal uit ervaring dat ‘verhoudings’ nie dooie goed is nie. Dit lewe! As jou beste vriend iets doen wat jou seermaak en benadeel, voel dit seer hier binne in jou. Daardie ‘onsigbare’ band tussen jou en hom – vertroue  –  word aan geknaag en geskuur. Dan moet dit reggemaak word. Die balsem van vergifnis en liefde moet uitgehaal word.

So werk dit ook maar met ons verhouding met God. Sonde, of dit nou vloek of steel is, doen iets aan my verhouding met God. En dit moet reggemaak word!

‘n Kind in die familie van God.

Soos reeds gesê gaan feitlik al die woorde en beelde in die Bybel oor die herstel van die verhouding tussen God en mens: die slawe van die sonde word vry, die dooies in die sonde kry lewe, die aangeklaagtes word vrygespreek.

‘n Christen is dus in die eerste plek iemand aan wie God die voorreg gegee het om in ‘n verhouding met Hom te staan. Nou is dit nie sommer enige verhouding nie. God maak ons kinders in sy gesin (vgl. Rom 8:15-17; Joh 1:12-13).

In die tyd van Bybel was families anders as vandag. Vandag se families is hoofsaaklik individualisties. Die kinders kan word wat hulle wil, kan hulle eie besluite neem, gaan gou uit die gesin en sit huis op en so aan. Die destydse families was anders. Dit was byna soos in die ou dae op die plaas. Die pa was die hoof van die gesin. Hy het die besluite geneem en het bepaal hoe die lede van die gesin hulle moet gedra. ‘n Sterk groepsband het die ou gesinne saamgebind. Die kinders was  in die eerste plek lede van die gesin. Gesinslede se persoonlike belange was ondergeskik aan die belange van die gesin. Hulle moes maak soos die pa en die gesin van hulle verwag en veral lojaal teenoor die gesin wees.

As die individuele lid van ‘n gesin egter iets doen wat die pa en die res van die gesin skade aandoen, is die verhouding tussen hulle versteur. Dan moet sake reggemaak word. Die vertroue moet weer herstel word. Die skuldige een moet ten minste vir die ander om verskoning kom vra en weer sy lojaliteit bevestig.

Hierdie inligting oor hoe gesinne in die Bybelse tyd gewerk het, help ons om te verstaan wat met sondebelydenis in die Bybel bedoel word. God vra van sy kinders om in gehoorsaamheid aan Hom op te tree. Hulle wil mos immers Christene oftewel gesinsgenote van God wees. Daarom vertrou die Here dat die gelowige in sy optrede ook sal wees wat hy sê hy wil wees.

As die gelowige egter nou sonde doen, skaad dit hierdie verhouding tussen Pa en kind. En die saak is met God nog baie erger as met ‘n gewone verhouding omdat God nie onreinheid duld nie. Hy sien nie maar foute oor nie. Hy sê nie ‘aag toemaar’ terwyl ons maar aankarring nie. Nee, op hierdie punt is God onverbiddelik. Hy háát sonde en daarom versteur ons sonde ongetwyfeld ons verhouding met God. Dit plaas ‘n vraagteken oor ons lojaliteit teenoor God. En dit kan nie so gelaat word nie.

Hierdie verhouding moet reggemaak word! Die vertroue moet herstal word. Die manier waarop God wil hê dat dit reggemaak moet word, is deur sondebelydenis.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt