Perspektief op gebed (1) – Oor biddeloosheid en barometers. – Jan van der Watt

Manie die Marsman kom kuier.

Kom ons begin met ‘n verhaaltjie. Veronderstel Manie die Marsman kom land met sy vlieënde piering iewers hier naby ons. Die eerste persoon wat hy raakloop is sowaar ‘n dominee!

So in die gesels vertel die dominee hom wat hy doen. Hy vertel vir Manie die Marsman dat ons hier op aarde die groot Skepper, die God van die heelal ken! Hy het ons lief. Deur sy Seun, Jesus, het Hy ons kom besoek. Meer nog, Hy bly elke dag naby ons en gee ook aan ons sy krag. Manie is verstom! Wat ‘n wonderlike voorreg. Op Mars ken hulle so iets nie. Dit moet seker wondere in mense se lewens werk. Manie wil dadelik  meer weet.

Ja, sê die dominee, God is so naby ons dat ons met Hom kan praat en alles van Hom kan vra… soos ‘n kind na sy pa kan gaan, so kan ons na God gaan!

Hy is nou juis oppad na so ‘n biduur, vertel die dominee. Die hele gemeente het een maal per week kans om saam te kom en net met God te praat, vir Hom alles te vertel en vir Hom hulp en leiding te vra! WONDERLIK, sê Manie.  Mense moet seker nie kan wag om daar te kom nie.

Manie was verstom! Van die duisend mense in die gemeente sit daar ‘n skrale twaalf… gereed vir die groot gesprek! Manie begin vrae vra… dink die mense nie die gesprek met God is belangrik genoeg nie? Glo hulle nie God wil met hulle praat nie, of nog erger, wil hulle nie eers tyd maak om met God te praat nie!? Miskien dink hulle in hulle harte nie dat gebed regtig meer werk nie?!

Daardie aand gaan loer Manie by ‘n paar huise ook in. Die dominee het aan hom vertel dat mense voor hulle gaan slaap eers met hulle God praat. Dan bespreek hulle alles van die dag en vra hulp en raad. Dat die grote God Homself so beskikbaar stel vir persoonlike gesprekke was vir Manie byna ongelooflik. By die eerste huis kry Manie egter sy eerste verrassing. Die persoon was skaars op sy knieë en toe is hy alweer klaar. Het hy dan niks om vir God te sê of te vra nie, het Manie gewonder. In die tweede geval het die gebed heeeeelwat langer geduur. Maar toe Manie mooi luister en die snorkgeluidjies hoor, besef hy die persoon is nie besig met ‘n gesprek nie.

Nou het Manie begin wonder oor hierdie ding wat GEBED genoem word. As dit regtig waar is dat gebed die krag van die gelowige se geestelike lewe is, waarom neem die mense dit skynbaar nie so ernstig nie? Waarom bid mense nie meer en langer nie, het hy gewonder.

As gebed die sluise van God se krag vir die gelowige is…

Manie se vraag is juis die vraag wat Andrew Murray per geleentheid aan ‘n saal vol predikante gevra het. Hy het verduidelik dat gebed ‘n belangrike manier is waarop God sy krag oor die bidder uitstort. Dit is waar die gelowige hom of haarself weer in die teenwoordigheid van die lewende God versterk. Natuurlik sal al wat gelowige is dit beaam. Hy vra toe hoeveel van die predikante spandeer ‘n uur per dag in gebed. Dit was doodstil in die saal. Die uur word toe ‘n halfuur, ‘n kwartuur, tien minute… en toe begin die hande stadig opgaan. ‘n Mens wonder wat dit sê van die vertroue wat mense in gebed stel?

Dit is eintlik ‘n vraag wat ons elkeen aan onsself moet vra. Hoeveel tyd spandeer jy in gebed per dag? En wat sê jou antwoord vir jou van wat jy van gebed verwag?

As jy saamstem dat gebed die sluise van God se krag vir jou oopmaak… hoe beïnvloed dit jou gebedslewe?

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




SAGTE GEBEDE – Francois Malan

Anna vra:

Waar in die Woord staan geskrywe dat God die aarde gaan
oprol soos n stuk lap?

Nog iets asb. Is dit waar dat wanneer jy satan in jou gedagtes bestraf
hy jou nie kan hoor nie? Ook as jy saggies bid, kan hy inbreuk maak op jou gebed,
want hy kan jou nie hoor bid nie. Dankie.

 Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

In Jesaja 34:4 voorspel die profeet
dat die Here in sy toorn oor al die nasies die hemel soos ’n boekrol sal
toerol. Die hele skepping word geraak deur die sonde van die nasies en die
noodsaaklike reaksie van God op die nasies se verwerping van die Here met die
eindoordeel. In Openbaring 6:14 word dit aangehaal as die aanbreek van die dag
van die Here se oordeel wat die einde van die huidige hemel en aarde sal wees
om plek te maak vir die nuwe hemel en die nuwe aarde van Openbaring 21. 

Jesus het belowe dat die Heilige Gees
vir ewig by ons en in ons sal wees (Joh 14:15-17). As jy vir Jesus liefhet en
sy opdragte uitvoer sal sy Vader jou liefhê en Hy en die Vader sal na jou toe
kom en by jou woon (Joh 14:23). As die Vader en die Seun en die Heilige Gees in
jou woon kan Satan jou nie raak nie, maar as jy jou rug op God draai en jou eie
kop volg, vir jouself liewer het as vir God, gee jy aan die Satan vatkans en sal
jy hom nie kan bestraf nie. Hy word slegs deur God, die Skepper van die hemel
en die aarde oorwin. Kyk hoe goed God jou ken deur Ps 139 te lees.

Ons kan nie die duiwel bestraf nie,
dit kan die Here alleen doen, en ons kan Hom vra om ons van die duiwel te
verlos (vgl. Mattheus 17:18). Maar Jakobus 4:7 sê: ‘Weerstaan die duiwel, dan
sal hy van julle af wegvlug.’ Dit kan ons doen omdat die Heilige Gees van God
in ons woon om ons die krag te gee om die versoekings te weerstaan wat uit ons
begeertes ons wil oorweldig (vgl. Jakobus 4:5-6, 8-10).

Selfs as ons saggies bid is dit juis ons eie begeertes wat inbreuk maak op ons gebed. Jakobus 1:14 sê: Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word.

Skrywer: Prof Francois Malan




Hoe het die vroegste Christene se tafelgebede gelyk? ‘n Venster op die jaar 100-150 n.C.

Hoe het die vroegste Christene se tafelgebede gelyk? ‘n Venster op die jaar 100-150 n.C. – Kobus Kok

Sommige mense bid nie elke keer by elke ete nie, omdat hulle glo een keer per maand bid as hulle die Pick en Pay of Woolies trollies vol kos koop en sê sommer dankie by voorbaat vir die hele maand. Ander mense vat gou ‘n happie kos voor hulle bid, net om seker te maak dat die kos waarvoor hulle nou gaan bid wel lekker is en mens daarvoor kan bid. Laasgenoemde is sommer ‘n paar grappies.

Van kleins af leer ons ons kinders dat ons bid voor ons eet, en dat ons vir die Here dankie sê vir die kos wat ons nou gaan geniet. Dit is vir ons baie belangrik, omdat ons vir die Here erkenning en dank gee, en erken dat alles wat ons het van hom af kom. In die Nuwe Testament sien ons nie werklik hoe die vroeë Christene gebid het vir kos nie, behalwe op een of twee plekke waar Jesus die brood breek en die Vader dank.

 

In die Buite Bybelse (apokriewe) boek “Die Didagé” word daar vir ons gewys hoe die vroegste Christene gebid het voor hulle geëet het. Die Didagé is in 1875 ontdek deur Breyennius in Konstantinopel nadat hy antieke Griekse manuskripte in die biblioteek van die Klooster van die Heilige Graf in Jerusalem ontdek het. Die Didagé was een van die manuskripte. Volgens geleerdes dateer die inhoud van die Didagé uit ‘n tyd tussen 100-150 n.C., ‘n tyd wat baie naby is aan sommige boeke wat ons vandag in ons Bybel het.

In hoofstuk 9 van die Didagé verduidelik die skrywer hoe daar gebid moet word aan die Nagmaalstafel [Ek haal enkele grepe uit]. Wanneer die brood gebreek is, sê hy, moet mens soos volg bid:

Ons Vader, dankie vir die lewe en die kennis wat u aan ons bekend gemaak het deur Jesus, u dienaar.

Ons prys u vir altyd!

As hulle klaar geëet, na die nagmaal, moes hulle so bid en dankie se vir die kos:

Dankie, Heilige Vader dat Uself in ons harte kom woon het.

Ons dank U vir kennis, geloof en ‘n ewige lewe wat u aan ons bekend gemaak het deur Jesus, u dienaar.

Ons prys u vir altyd

U het aan mense kos en iets om te drink gegee sodat hulle dit kan geniet en u kan loof, maar vir ons was U so goed dat U vir ons geestelike kos en drank, en ewige lewe deur u Dienaar Jesus geskenk het.

Bo alles dank ons u dat u almagtig is

Ons prys u vir altyd…

Maranatha (Kom, Here [Kom vinnig weer terug, Here])

Die gebruik wat ons vandag het, om te bid voor ons eet, en in sommige huise om te bid nadat ons geëet het, is ‘n gebruik wat twee duisend jaar teruggaan. Dit het veral gebeur tydens die gemeenskaplike liefdesmaaltyd van die gelowiges.

Mag ons die aflosstokkie nie laat val nie, en ons kinders leer om te bid. Miskien kan hierdie gebed uit Didagé gebruik word as u weer aan tafel bid. So eggo die stem van die vroeë Christene weer nuut in ons huise, en vat ons hande met die eerste Christene, diegene wat vervolg was vir die geloof en wat die geloofsgetuies is wat ons voorgegaan het.

Lees gerus meer:

Van der Watt, J.G., & Tolmie, F., Apokriewe Ou en Nuwe Testament, CUM.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




God luister na ons gebede (verhoring van gebede)

God luister na ons gebede (verhoring van gebede)

God verhoor altyd gebede, al voel dit partymaal vir ons of Hy ons nie antwoord nie. Hy antwoord ons wel, maar ons kom dit net nie agter nie.

Jou ma antwoord jou nie altyd op dieselfde manier nie. As jy vra of jy skottelgoed kan was, sê sy sommer dadelik “ja”. As jy vra of jy ʼn nuwe fiets kan kry, is daar eers stilte en miskien na ʼn dag of twee kom die antwoord. Net so antwoord God ons op verskillende maniere.

  • God is nie ons slaaf wat alles moet doen wat ons vra nie. Soms antwoord Hy ons op maniere wat ons nie verwag nie. Ons wag nog dat Hy doen wat ons gesê het, dan het Hy lankal op ʼn ander manier geantwoord. Ons moet dus wakker wees. Ons geestelike ore en oë moet oop wees om te kan hoor as God antwoord. Hy weet wat vir ons die beste is en sal dus soms op maniere antwoord wat ons nie verwag nie.
  • God antwoord baie keer gebede deur jou. As jy bid vir jou vriend wat hartseer is, is die kanse baie groot dat die Here sy hand op jou skouer gaan kom sit en vra dat jy namens Hom jou vriend gaan help. Jy sal dan moet tyd afstaan om te luister, raad te gee, te help en te troos. Of as jy bid vir mense wat swaarkry of nie kos het nie, mag die Here juis van jou vra om daarmee te help. As jy dan nie bereid is om na die Here te luister nie, sal jou gebed nie verhoor word nie. En dit is nie die Here se skuld nie.
  • Die Here kan ook partymaal “nee” sê. Ons kry baie sulke voorbeelde in die Bybel. Dit is gewoonlik as ons verhouding met die Here nie so goed is nie. Dan sê die Here moet eerste dinge eerste kom. Voor Hy verder na ons gebede luister moet ons eers ons verhouding met Hom regmaak.
  • Ons moet ook nie verbaas wees as die Here ons partymaal verras met iets wat baie groter is as waarvoor ons gebid het nie.

Gebed en vertroue op die Here gaan saam. As jy bid, vertrou dat die Here jou hoor en die beste vir jou wil hê.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy