Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Oorlog(5) – JP Louw
Oorlog en godsdiens
Reeds aan die begin van hierdie hoofstuk is gesê dat oorlog en godsdiens in die redenasies van die oorlogvoerendes nou aan mekaar verbind was. Sekere praktyke in hierdie verband moet nog op gelet word. Vir die Jode was die Here ‘n krygsman (Eksodus 15:3). Hy is die een wat vir Israel sal veg (Eksodus 14:14), Hy trek voor hulle uit (Rigters 4:14) en Hy hef die strydkreet aan (Jesaja 42:13). Hoewel die naam “Here van die leërskare” (Ou Afrikaanse Vertaling) miskien meer slaan op God as die heerser oor alle hemelse magte (van engele) en dus eerder vertaal moet word as “die Here die almagtige heerser” of “die Here die Almagtige” soos in die Nuwe Afrikaanse Vertaling; dui 1 Samuel 17:45 wat lees “die Here van die leërskare, die God van die slagordes van Israel” tog daarop dat Hy ook Israel se aanvoerder is. Immers in Numeri 21:14 word verwys na ‘n boek met die titel “Boek van die Oorloë van die Here” wat ewe-eens dui op ‘n verband wat gelê is in oud Israel tussen oorlogvoering en godsdiens.
‘n Militêre optrede is soms direk aan die bevel van die Here gekoppel. Meermale lees ons in die Ou Testament dat die Here opdrag gegee het dat die volk in oorlog teen dié of daardie moes optrek. In 1 Konings 8:44 word so ’n opdrag voorafgegaan met ‘n gebed. Psalm 20 is ‘n voorbeeld van ‘n lied wat as ‘n bede geuiter is. Dikwels, soos in 1 Konings 20:13-30, kom die profeet van die Here na die koning met voorskrifte en bevestiging van die Here se hulp in die geveg. In Rigters 20:26-27 verootmoedig die soldate hulle voor die Here deur te huil, te vas en offerandes te bring. Dikwels gee die profeet van die Here ook waarskuwings om die koning en die mense op hulle hoede te stel en van sekere voornemens te laat afsien. In Rigters 7:18 is die strydkreet wat voor die geveg aangehef word duidelik religieus: “vir die Here en vir Gideon”.
Die oorwinning is telkens verstaan as die Here se oorwinning. Hy het die vyand in Israel se hand gegee. As ‘n oorwonne stad uitgewis is, was dit meestal onder banvloek van die Here. So is alles wat Israel op die slagveld gedoen het met hulle godsdiens verbind as direkte bemoeienis van die Here. Toe Akan tydens die beleg van Ai (Josua 7) met die dood gestraf is, het Josua aan hom gesê “die Here bring die dood oor jou” (vs 25). So groot was die oortreding van Akan dat toe hy van die bangoed (d.w.s. die buit wat as offer aan die Here behoort het) vir homself geneem het, is hy, sy gesin, sy vee, al sy besittings verbrand. Met die tweede aanval op Ai nadat Akan gestraf is, het die bevel weer van die Here gekom: “Steek die swaard wat jy in jou hand het, na Ai toe uit, want Ek gee die stad in jou mag oor” (Josua 8:18). Hierdie keer is al die inwoners met die ban getref, (d.w.s. doodgemaak), maar die vee en die besittings het die soldate vir hulleself geneem.
Oorlogvoering was nou gekoppel aan die volk se toewyding aan die Here en sy wet. Dikwels het die Here volke en konings gestuur om Israel te straf. Jesaja 10:1-4 waarsku dat die Here met hulle sal afreken omdat sy volk die wet verdraai asook armes en wese onderdruk en uitbuit. Die Assiriërs word dan gestuur om Israel te straf (vs 5-11) en as hulle daarna op hulle eie krag roem, word ook die Assiriërs vernietig deur die vuur van die Here self (vs 12-19). Die hele boek Habakuk handel oor dieselfde saak: die Here straf deur vyande op te wek.
Skrywer: Prof JP Louw