Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Reise(3) – JP Louw

Belasting, hitte en formaliteite

Tol het ook in die antieke wêreld bestaan. Vir sommige paaie, brûe of poorte moes tol betaal word-veral as goedere vervoer is. Dit was maar net nog ‘n manier om belasting in te vorder. Gelukkig was daar nie paspoorte en ander dokumente nodig om te reis nie.

In die droë woestynagtige klimaat van die Bybellande was die dae, veral in die somer, ondraaglik warm. Die opdrag aan Filippus in Handelinge 8:26 moes vir hom vreemd geklink het om op die middag na die pad tussen Jerusalem en Gasa te gaan. Op die middag het min mense gereis.

‘n Besondere gebruik in die antieke tyd was om mense op reis te groet as hulle by mekaar verbykom. Jesus sê aan sy dissipels in Lukas 10:4 om nie langs die pad met groetery tyd te verkwis nie. So ook het Elisa vir Gehasi gestuur (2 Konings 4:29) om gou te loop en nie langs die pad te groet nie. Dit was gebruik om mekaar uit te vra oor herkoms, die reis, families ens. Gelukkig was daar nie volop reisigers op ‘n pad nie want so ‘n groetery kon tyd neem.  .

 

Die donkie

Die versorging van die trek- en rydiere op ‘n reis het baie probleme ingehou. Voer was nie oral bekombaar nie en die veld was dikwels skraal sodat weiding tydrowend en skaars was. Reise kon nie maklik onderneem word in uitgestrekte gebiede nie. Die donkie was die mees gebruiklike pakdier en het goedere in sakke weerskante oor die rug gedra. Enigiets wat vervoer moes word, is op donkies gelaai (Genesis 42:25-28; 1 Samuel 16:20, 25:18). Alhoewel beeste die algemene dier was om mee te ploeg, is donkies tog ook gebruik. Deuteronomium 22:10 verbied egter dat donkies saam met beeste ingespan word. Donkies het ook meule en waterwiele getrek. Een tipe Arabiese donkie was ligvaal van kleur en word soms wit of bruin donkies genoem (Rigters 5:10 -sien ou en nuwe vertaling), en was baie kosbaar. As sodanig was hulle die besit van rykes. Die donkie is later deur muile en perde verdring en het ‘n meer nederige vervoermiddel geword. In 1 Samuel 25:23 ry Abigail, vrou van die ryke Nabal, op ‘n donkie wat die mees gebruiklike rydier was, maar later in Sagaria 9:9 word die donkie met nederigheid geassosieer.

 donkie

Die kameel

Kamele as rydier is sedert 3000 v.C. in Egipte bekend. In Genesis 12:16 lees ons reeds van donkies en kamele wat ‘n Egiptenaar aan Abraham gee. Vir die woestynagtige Bybellande was kamele ideale diere-veral vir lang afstande omdat hulle n hele paar dae sonder water kon hou. In Genesis 24:64 ry Rebekka op ‘n kameel, want die reis was lank. So ook in Genesis 31:17 pak Jakob ‘n lang reis met kamele aan. Kamele kan byna 5 km per uur loop en die pas die hele dag volhou. Ook kan kamele meer vrag dra as donkies. Op lang reise is kamele in troppe aangewend. Soms het die mense op die kamele self gery of donkies saamgeneem om op te ry, want ‘n kameel is nie juis gerieflik nie. Dit swaai baie been en weer. Kamele was waardevolle diere en ‘n kosbare besit, dikwels met behangsels versier (Rigters 8:21). Kamele het meestal strooi geëet of van die veld geleef. Hulle vleis is egter, net soos die van die donkie, nie deur Jode geëet nie, want beide was onrein diere. Hulle hare is wel gebruik om growwe klere mee te maak soos Johannes die Doper (Matteus 3:4) gedra het. Ook die vel is gebruik vir houers of vir klere. Die mees algemene kameel was die een met die enkelbog, ook bekend as dromedaris.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Reise(2) – JP Louw

Landreise

Reise oor land was effens beter as oor die see, maar nie veel veiliger nie. In die algemeen was dit beter om glad nie te reis nie. Die paaie was swak, soms maar dof-veral in die woestyndele waar die wind dit dikwels toegewaai het (Psalm 107:3-7). Dikwels was die oppervlaktes maar baie rof en oor ruwe terrein. ‘n Gelyk pad was iets besonders (Jesaja 40:3-5). Dit was eers baie later in Bybeltye dat paaie begin maak is-veral deur die Romeine.

Die wiel het in Mesopotamië ontstaan. Dit was van hout gemaak, en was dik en swaar. Maar dit was beter as die slee. Die wiel het beter paaie vereis, want dit het maklik gebreek oor klippe en gate waar die diere se pote die ergste kon vermy het, maar die wiel natuurlik gou beskadig is as daar nie baie sorg daarvoor gedra is nie. Tog was daar min ontwikkeling in padbou. Aanvanklik was paaie vir waens met wiele maar bloot stroke waar die ergste klippe of gate verwyder was. In Matteus 11:10 word Maleagi 3:1 aangehaal met die versekering dat die boodskapper die pad sal regmaak.

Die Perse het eerste begin om werklik aandag aan paaie te gee om hulle groot ryk te kon bestuur. Al was hulle paaie nogal breed vir destyds met selfs poste waar vars perde bekom kon word, het die reis van Sardis na Susa, wat omtrent 2 500 kilometer lank was, meer as drie maande geneem-gemiddeld sowat 40 kilometer per dag wat destyds redelik goed was, want op so ‘n lang reis moes tussenin ook meer gerus word.

Die Romeine was die eerste om goeie paaie te bou. Van die hoofpaaie wat die Romeine gemaak het, is vandag nog oorblyfsels te sien. Hulle was stewig gebou op ‘n oppervlakte wat eers gelyk gemaak en met sand gevul was. Daaroor is stene gepak met ‘n laag klip en beton waarop die finale plaveisel gelê is met aflope vir reënwater aan die kante. Uiteraard was deeglike paaie soos hierdie nie algemeen nie, maar is net tussen groot sentra gebou. Tog het die Romeine in totaal deur hulle ontsaglike ryk heen na skatting 80 000 kilometer paaie gemaak wat ‘n reuse prestasie was. Reise nie eintlik in terme van afstand bereken nie, maar in terme van dae soos dit vir eeue tevore gedoen is (Genesis 30:36, 31:23, Jona 3:3).

pad

Daar was destyds ‘n gebruik deur die Romeine ingestel dat soldate of regeringsmense iemand kon beveel het om vrag te help dra of proviand te voorsien vir ‘n reis. Miskien is daar iets hiervan te bespeur in Jesus se woorde in Matteus 5:41 dat as iemand een myl van jou afdwing jy sy goed twee myl moet dra. Mylpale sou hier goed te pas gekom het, maar die afstand kan ook maar net geskat word, of simbolies gestel gewees het.

Op die beter Romeinse paaie konreise natuurlik vinniger gemaak word. ‘n Koerier wat haas kon tot 120 kilometer per dag vorder met goeie perde. Maar afstande was ook groot, sodat van Rome na Sesarea in Palestina ‘n reis sowat drie, maande geduur het sodat die afstand per dag seker met byna die helfte verminder is as wat ‘n koerier oor korter afstand kon doen. Soms is maar looppas of drafpas gery soos uit Handelinge 8)29-30 blyk.

Waens is meestal deur osse getrek, kleiner rytuie deur perde: Donkies was deur die armes gebruik. Daar was rytuie vir een persoon of vir twee, asook ‘n groter een wat effens na die latere koets gelyk het. Strydwaens met perde is baie in oorlogvoering gebruik of as renwaens in resies. Drastoele is meestal deur rykes en hoë amptenare gebruik. Die drastoel is deur slawe gedra of tussen twee diere vasgemaak.

verkeer

Al was die Romeinse paaie baie beter, was dit Romeinse besit en nie sonder meer vir enigeen toelaatbaar om daarop te gaan nie sodat daar nie privaatverkeer van plaaslike volke op hierdie paaie ontpop het nie.

 

Verblyf

In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan lees ons in Lukas 10:30 dat rowers die man wat op reis was aangeval het. Die Samaritaan het die arme man eindelik na ‘n herberg geneem. Hieruit moet ons nie aflei dat herberge oral beskikbaar was nie. Dikwels het reisigers maar in die veld oornag – veral as hulle in groepe gereis het. In dorpe aangekom, het reisigers soms op die plein oornag of is genooi om in huise tuis te gaan (Rigters 19:15, Job 31:32). Sommige herberge was net oornaghutte met ‘n skermmuur vir die diere, ander was voorsien van slaapkamers en as daar ‘n herbergier was, kon kos ook verkry word-en is selfs prostitusie bedryf. So het herberge soms ‘n slegte naam gekry. ‘n Mens moet nie n idealistiese beeld van die ou wêreld opbou nie. Jesus het sy dissipels (Matteus 10:11) beveel om privaat tuis te gaan, en onder die eerste Christene was gasvryheid baie belangrik (Romeine 12:13, 1 Timoteus 3:2, 1 Petrus 4:9).

Omdat die reisiger meestal nie geweet het wat voorlê nie, is kos-vir ‘n reis saamgeneem (Josua 9:4-6, Rigters 19:19). Gewoonlik het die kos bestaan uit brood, gedroogde graan, droë vrugte en wyn. Dit was dus ongewoon toe Jesus in Matteus 10:10 sy dissipels uitstuur met die opdrag om niks vir die reis saam te neem nie. Gewoonlik was kos wat saamgedra is op korter reise, nie baie nie. Toe skares Jesus vir drie dae gevolg het, was hulle later sonder kos (Matteus 15:32).

Skrywer:  Prof JP Louw




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Reise(1)- JP Louw

In die tye van die Bybel was dit besonder moeilik om te reis. Baie reise is per voet onderneem. Soms is met donkies of kamele gery-of saam met hulle geloop terwyl die diere die vrag gedra het. Die paaie was maar veldpaaie met die voet uitgetrap en oral was die gevaar van rowers voor hande. Die ruitery wat Paulus (Handelinge 23:23-35) na die goewerneur in Sesarea moes neem, is (vers 31) deels deur soldate gedurende die nag begelei. Plesierreise was onbekend. Mense het gereis vir regeringsdoeleindes, vir besigheid of ander noodsaaklike gebeure soos siekte of dood – maar tog ook vir inkope en kleiner .persoonlike redes. In 2 Korintiërs 11:26-27 beskryf Paulus, wat gereis het om die Evangelie te versprei, van sy ontberinge: “Ek was dikwels op reis en in gevaar” – en dan noem by riviere, rowers, gevare van die stad en gevare van die veld.

Om alleen te reis: was ondenkbaar. Mense het gewoonlik in groepe gereis. Jesus se twaalf dissipels het dit ook vir hom moontlik gemaak om van. plek tot plek te beweeg. Die groep mense waarin Jesus se ouers na Jerusalem vir die paasfees gereis het, was groot genoeg dat hulle eers na ‘n dag opgemerk het dat Jesus ontbreek (Lukas 2:44).

 

Seereise

Om per boot te reis was baie gevaarlik. Selfs in die tyd van die Nuwe Testament was bote maar primitief en in terme van hedendaagse standaarde redelik klein. Tog is daar mettertyd baie op die see gevaar om handel te dryf, soldate te vervoer, ens. In Egipte is rivierbote gebruik om op die Nyl te vaar. In die vroeë tyd van die Ou Testament was seereise nie volop nie-Noag se ark moes voorwaar vir die mense na iets kranksinnigs gelyk het.

skipanker

‘n Groot klip soos hierdie is soms as skeepsanker gebruik.

Die Jode het op die see van Galilea gevaar om vis te vang, maar min op die oop see. Israel het immers geen eie hawe gehad nie. In 1 Konings 9:27-28 lees ons van Fenisiese hulp wat Salomo gehelp het om sy skepe te beman. Josafat se skepe (1 Konings 22:49) het vergaan toe by ‘n onderneming alleen aangedurf het.

Selfs toe in die Griekse en Romeinse tye beter bote gebou is, en daar in Aleksandrië ‘n ligtoring opgerig is, het seevaart nog steeds baie moeilik gebly. Passasiers was as ‘n “ekstra” by die vrag beskou en moes hulle eie kos meeneem. Bote het dikwels net naby die kus gebly en oornag is by klein hawens aangedoen. Handelinge 21:2-8 gee ‘n verslag van die verloop van ‘n seereis. Gedurende sekere tye van die jaar is glad nie gevaar nie. Die Romeine het selfs ‘n wet gehad teen seevaart in die winter. Handelinge 27:9-14 vertel juis van die gevare van seevaart in die winter. Ook in Handelinge 28:11 lees ons van n skip wat oorwinter het.

skip

‘n Romeinse handeisboot. Let op die “bog” op die sail. Die boot is met groot spane gestuur. Die stuurman kan agter op die boot gesien word.

Paulus het eenmaal op ‘n graanskip gereis. Graanskepe was geen klein bote nie. Hulle kon tot 70 meter lank wees wat vir destydse standaarde baie groot was. In Handelinge 27 word breedvoerig vertel van die skipbreuk wat Paulus en die ander ervaar het- hoe hulle van die vrag (waarskynlik graan) ontslae moes raak, selfs van die gereedskap oorboord gegooi het, en toue styf om die boeg getrek het om die planke byeen te hou. Met groter skepe soos hierdie is soms gewaag om stormweer te trotseer wat klein bote nie kon doen nie. Maar die gevolge was hier ook maar rampspoedig.

Seerowers het baie voorgekom. Eers die Romeine het daarin geslaag om dit goed aan bande te lê. Die see het altyd, veral in die antieke tyd, vrees ingehou. Dit is opvallend dat in Openbaring 21:1 gesê word dat die nuwe aarde nie meer see sal hê nie.

Skrywer: Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: ’n Besoek aan Moderne Jerusalem (2) – JP Louw

Hiskia se tonnel

Met ‘n flits en gepaste klere kan ‘n mens van die fontein Gihon deur die driekwart kilometer tonnel loop tot by die bad van Siloam. In die tonnel is ook die plek te sien waar die grawers van weerskante bymekaar gekom het. Ook die skag waardeur Joab geklim het om in die stad te kom, is te sien.

herodesgraf

Die familiegraf van Herodes. Die klipwiel is die deur wat die graf toerol.

 

Ander besienswaardige plekke

Aan die westekant van die huidige Jerusalem by die Koning Dawid Hotel is ‘n tuin waar Herodes se familie moontlik begrawe is. In die tonnel kan ‘n mens afklim en die nisse in die gange sien waar die liggame neergelê was. In die noordooste van die stad is onder die bouvalle van ‘n ou kerk die oorblyfsels van die bad van Betesda. Een van sy pilaargange is opgegrawe en mens kan tot by die modderwater afklim. Buite die muur is Salomo se steengroewe waar baie van die Tempel se klip uitgehaal is. Soms word hier nog ‘n skaapmark gehou soos in antieke tye.

Op die Olyfberg staan die Pater Noster (“Ons Vader”) Kerk waar dié gebed in ‘n menigte tale teen die mure aangebring is-ook in Afrikaans. Hier, so word gesê, het Jesus oor die voleinding van die tye met sy dissipels gepraat.

paternoster

Die Pater Noster Kerk op die Olyfberg

 

Betlehem

Tien minute met ‘n bus na Betlehem bring ‘n mens by die Kerk van die Geboorte waar gesê word dat die stal was waarin Jesus gebore is. Hierdie kerk, word gesê, is een van die oudste kerke in die wêreld. Van hier is dit nie ver na die veld van die skaapwagters nie. Daar is twee plekke wat aangewys word: een by die YMCA-gebou waar daar grotte is, en die ander is by ‘n kerk met baie skilderye oor Jesus se geboorte.

‘n Mens kan besef dat deur die eeue baie spekulasies rondom plekke en gebeure ontstaan het en dat verskeie tradisies sonder enige werklike sekerheid ontstaan het. Baie plekke, soos die vorige, en ander soos die oppersaal waar Jesus die nagmaal ingestel het, die Via Dolorosa, die plek van die hemelvaart, ens. het deur die eeue ontwikkel met die aanwysings wat hulle vandag het. Oor sommige is kerke gebou en so het die plek ‘n vaste aanwysing gekry. Al is baie hiervan onseker, en sommige beslis foutief, het dit vir die Christendom deur die eeue groot waarde gekry, of dit nou as reëel beskou is, of by wyse van assosiasie toegedig word. Nogtans adem die plekke ‘n atmosfeer wat die gedagtes inkleur met ‘n lokalisering van eertydse gebeure.

Skrywer: Prof JP Louw