Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(17) – JP Louw
Geheiligde persone
Levi, een van die twaalf seuns van Jakob, het drie seuns gehad (Genesis 46:11, Numeri 3:17). Gedurende die verblyf van Israel in Egipte het die familie van Levi, soos dié van die ander seuns, natuurlik al groter geword sodat met verloop van tyd Levi se huis ‘n stam geword het en nog later het die drie seuns se families elk tot ‘n stam ontwikkel. Aaron, Moses en Miriam het behoort tot een van hierdie drie stamme. Toe die volk die goue kalf gemaak het by die berg Sinai en Moses hulle bestraf het, was die Leviete, sy stamgenote dus, die wat dadelik saam met Moses gestaan het om hierdie afgodery uit te roei (Eksodus 32:26-28). Daarop het Moses aan die Leviete gesê (vers 29) “vandag is julle gewy vir diens aan die Here”.
Die Leviete het toe die stam geword waaruit die priesters gekom het en wat die opdrag gehad het om vir die erediens te sorg. Hulle het die tabernakel opgerig en onderhou. Numeri (hoofstuk 3) gee ‘n beskrywing van die pligte en werksaamheid van die stam van Levi. Die drie stamme (Gerson, Kehat en Merari) van Levi se seuns het (volgens Numeri 3:39) 22000 manlike persone getel. Die getal 7500 in Numeri 3:22 het net betrekking op die Gersongroep. Die Kehatgroep was 8600 (Numeri 3:28), die Merarigroep was 6200 (Numeri 3:34) – ronde getalle wat dus nie heeltemal rym met wat in Numeri 3:42-46 gesê word nie.
Elkeen van die groepe wat aan die drie seuns verwant was, het volgens Numeri 3:23-37 spesifieke take gehad om die tabernakeldiens te versorg. Hulle het die plek geneem van die eersgebore seuns van Israel wat in beginsel aan die Here gewy was en dus die priesterei moes verteenwoordig het. Die eersgeborene se besondere posisie in Israel dateer sedert die uittog uit Egipte (Eksodus 11:5; 12:12-13) toe die eersgeborenes gered is. Die eersgeborene van mens, dier en selfs plante (as oes van die landerye) het aan die Here behoort en is aan Hom toegewy as ‘n offer. Numeri 3:40-51 gee ‘n beskrywing van hierdie sonderlinge uitruiling gesien teen die agtergrond van die Leviete se wyding by Sinai wat hierbo genoem is (Eksodus 32:29). Hierdie uitruiling was blykbaar om die probleem op te los dat by Sinai die eersgeborenes as’t ware verbygegaan is.
Die Leviete as gewydes aan die Here se diens het gevolglik ook nie militêre diens gedoen nie. In Numeri 1 word die weerbare manne gemonster en in die lyste van die stamme wat in verse 20-43 gegee word, ontbreek Levi. In verse 47-51 word die Leviete afgesonder as toesighouers oor die tabernakel. As ons hulle getalle in ag neem, was hulle persentasiegewys baie groot en dit is te verstaan dat so baie dele van die offers vir die priesters gegee moes word om hulle te onderhou. Ook moes die Leviete tussen al die ander stamme verspreid woon (Numeri:35:1-8) om hulle diens oral te kon verrig. Nie alleen van die offers is aan hulle gegee nie, maar ook die tiendes (Numeri 18:21) het aan die Leviete behoort vir hulle onderhoud.
Dit is belangrik om te let dat nie alle Leviete priesters was nie. Die Leviete het die heiligdomme beskerm, vir die musiek gesorg, ook onderrig aan die yolk gegee en verder allerhande take ivm die onderhoud van die erediens vervul. Uit die Leviete was dié wat van Aaron (uit die Kehatgroep) gestam het as priesters gewy om die offers en ander rites van die erediens te behartig. Net priesters kon die heilige voorwerpe aanraak. Numeri 4 gee ‘n beskrywing van die pligte van die Kehatgroep.
Skrywer: Prof JP Louw