Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou(9) – Hennie Stander
Die maak van wyn
Die druiwesap is vir omtrent ses weke lank in die houers waarin dit opgevang is, laat staan. Dit het dan daarin begin gis. Die afsaksels het op die bodem van die houer gaan lê. Die wyn is versigtig afgeskep sonder om die afsaksel te versteur (vgl Jeremia 48:11). Die flesse is met klei verseël, maar die gasse wat met die verdere gisting ontstaan het, kon deur ‘n klein gaatjie by die handvatsel ontsnap. Wanneer die proses voltooi is, is die gaatjie met ‘n bietjie nat klei verseël en die eienaar se naam is op die nat klei geplaas. Die wyn is ook in velsakke gegooi, maar indien die vel al oud was en nie meer kon uitsit as daar gasse ontstaan het nie, het dit gebars en het die wyn verlore gegaan. Hierdie feit lê ten grondslag van Jesus se vertelling in Matteus 9:17.
‘n Romeinse fles, of amphora, waarin wyn gebere is.
In die Nuwe Testamentiese tye is wyn in Judea ingevoer van oral oor die Mediterreense wêreld. Die rykes het kelders in hul huise gehad en het die wyn gestoor in smal flesse wat ‘n skerp punt aan die onderkant daarvan gehad het. Hierdie flesse is amphorae genoem. Die skerp of smal punte is in die grond begrawe om te help om die wyn koel te hou. Wyn is ook van dadels, granate, appels en graan gemaak.
Daar was ook ander gebruike vir wyn as net dit wat voor die hand liggend is. Dit is onder andere as ‘n ontsmettingsmiddel gebruik om wonde skoon te maak voordat die helende olyfolie daarop gegooi is (Lukas 10:34). Verder is dit ook met gal gemeng en dan gedrink om pyn te verdoof (Matteus 27:34).
Wingerdsimboliek
Die wingerd het ‘n belangrike plek ingeneem in die godsdiens van Israel. Dit is as simbool gebruik vir die godsdienstige lewe van Israel en ‘n tros druiwe is dikwels voor aan die buitekant van ‘n sinagoge uitgegraveer. Die simboliek is gebaseer op passasies soos Psalm 80 en Jesaja 5:1-5 waar Israel as God se wingerd voorgestel word. Jesus het homself as die ware wynstok voorgehou en Hy het inderdaad dit wat Israel teenoor God moes wees, vervul (Johannes 15:5-7). Die wingerd is soms gebruik as simbool van teenspoed en van God se oordeel (Deuteronomium 28:30; Amos 5:11; Sefanja 1:13).
Wyn was een van die seëninge wat ‘n mens uit God se hand kon ontvang (Genesis 27:28) en derhalwe het dit deel uitgemaak van die daaglikse offers wat aan God gebring moes word (Eksodus 29:40). Indien iemand egter te ver van die sentrale heiligdom gebly het, en dus nie die tiende van onder andere sy wyn soontoe kon neem nie, moes by dit in geld omsit en dan iets daarmee koop en dit in die teenwoordigheid van die Here geniet (Deuteronomium 14:22-27).
Sommige persone moes hulself heeltemal weerhou van die drink van wyn ter nakoming van sekere voorskrifte. Iemand wat byvoorbeeld ‘n nasireërbelofte afgele het, moes horn onthou van die gebruik van wyn en van bier en van enigiets wat van die wingerdstok afgekom het (Numeri 6:3-4). Johannes die Doper het geen wyn gedrink nie (Lukas 1:15) en ook priesters was verbied om dit te drink wanneer hulle in die tent van samekoms ingegaan het (Levitikus 10:9). Wyn kon positief gebruik word (vgl Genesis 14:18), maar dit is soms ook verkeerd gebruik (Genesis 9:21; Jesaja 5:11; 28:7). In die Bybel self word die blote drink van wyn egter nie verbied nie, maar wel die oormatige gebruik daarvan (1 Timoteus 3:8; Titus 2:3).
‘n Egiptiese vrou wat ‘n wynsak in ‘n rivier spoel
Skrywer: Prof Hennie Stander