Ou-Testamentiese gebruike steeds geldig vir Nuwe-Testamentiese gelowiges? – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Boodskapteks: Waarom preek sommige predikers teen die Ou Testament en die gebruike daarin, soos: die blaas van die ramshoring; die Sabbat van Vrydagaand tot Saterdagaand; bid onder ’n tallit?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die saak wat aangeroer word het te make met die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament. Wát van die Ou Testament (OT) is steeds geldig vir Nuwe-Testamentiese (NT) Christene en wat kan laat vaar word? Dis nie so ’n eenvoudige vraag nie, want dink maar aan die bestaan van die Sewende Dag Adventiste Kerk wat weliswaar NT-Christene is maar steeds die OT Sabbat onderhou; met ander woorde, hulle vier die rusdag op die sewende dag van die week (Saterdag) en nie op die eerste dag van die week (Sondag) soos wat die meeste Christene vandag doen nie.

Die verhouding OT en NT kan basies in terme van kontinuïteit en diskontinuïteit verstaan word. Oor kontinuïteit: Dat daar ’n duidelike lyn loop tussen OT en NT, en dat die NT outeurs gedrenk is in die OT agtergrond ly geen twyfel nie. Dink maar net aan ’n boek soos Openbaring wat onverstaanbaar is as jy dit nie teen die OT agtergrond verstaan nie. Die beeldspraak en uitdrukkings wat in Openbaring voorkom het almal ’n OT herkoms. Dieselfde met ’n boek soos Hebreërs. Hier word Jesus as die eenmalige Hoëpriester voorgehou wat Homself as volmaakte en ewige offer aan die kruisdood oorgegee het. Die hele argument van Hebreërs en die uitvoerige redenasie in Hebreërs 7-9 oor Jesus se hoëpriesterskap sal heeltemal by ’n mens verbygaan as jy dit nie verstaan teen die agtergrond van die OT offerkultus en die hoëpriesterfiguur soos dit in die tabernakel- en tempelkultus gefigureer het nie. En dan moet ons ook onthou dat die eerste Christene oorwegend Jode was. En hulle het ’n messias uit die koningshuis van Dawid verwag. As Jesus dan die Seun van Dawid genoem word (vgl Matt 1:1), is dit slegs te verstane vanuit hierdie OT verwagting. Jesus se Messiasskap staan dus in direkte kontinuïteit met die beloftes wat God in die OT aan die Dawidshuis gemaak het (2 Sam 7:16,25-29; Luk 1:32-33; Hand 2:29-30; 13:22-23).

Maar daar is ook diskontinuïteit tussen OT en NT. Alles wat die vroeë Christene geglo het was nie bloot net ’n voortsetting van hulle OT geloof nie, maar het dikwels ook ’n breuk daarmee veroorsaak en ’n nuwe koers ingeslaan. Neem weereens die konsep “messias”: die populêre verwagting onder die Jode was dat die messias ’n militêre figuur sou wees, maar Jesus het die messiasverwagting nuut gevul toe Hy as die lydende Messias geopenbaar is, ’n idee wat lynreg teen die Jode se populêre messiaanse verwagtinge ingedruis het. Dan is daar die nagmaal. Die agtergrond hiervan lê in die OT pasgamaal, wat gevier is ter herdenking van die verlossing uit Egipte waar die Israeliete slawe was. Maar die pasgamaal kry ’n nuwe betekenis as Jesus Self as die paaslam gesien word, en die brood en wyn, wat vaste elemente van die pasgamaal was, nou heenwys na die liggaam en bloed van Jesus wat aan die kruis gebreek is en gevloei het as versoening vir ons sondes. So ook die Christelike doop: waar in die OT die besnydenis dié teken was van inlywing by die verbond met God, word dit nou die doop in die Naam van Jesus, en later in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees (vgl Kol 2:9-12; Matt 28:19). Dit het weliswaar lank geduur voordat besef is dat nuwe volgelinge van Jesus uit die heidendom nie eers Jode hoef te word en dus die besnydenis moet ondergaan voordat hulle volwaardige Christene kan wees nie. Hierdie stryd word vir ons in Handelinge 15 beskryf. Dieselfde met die Sabbatsviering wat Sondagviering geword het. Die rede vir laasgenoemde was die opstanding van Jesus wat op die eerste dag van die week (Sondag) plaasgevind het. Aanvanklik het die Jode-Christene steeds die Sabbat gevier, maar ook op die eerste dag van die week bymekaargekom om die opstanding van Jesus uit die dood te vier. Gaandeweg het dit egter net die Sondagviering geword en is die Sabbat nie meer onderhou nie, hoewel elemente van die Sabbat behoue gebly het, soos die rus, viering van die verlossing en van die gemeenskap van die gelowiges. In dié sin onderhou Christene steeds die vierde gebod (“Sorg dat jy die Sabbatdag heilig hou”), maar nou soos verstaan vanuit die koms en opstanding van Jesus Christus.

Dit alles dui dus daarop dat daar wel kontinuïteit met die OT geloof en gebruike is maar terselfdertyd diskontinuïteit; alles het eenvoudig ’n nuwe inhoud en betekenis gekry in die lig van die gebeure rondom Jesus Christus. Die Christendom / Nuwe Testament is dus in hierdie sin van die woord nie bloot ’n “opgewarmde” Jodedom / Ou Testament nie, maar ’n radikale herinterpretasie van die oue. Ons moet dus baie versigtig wees om sekere OT gebruike op ’n lukraak manier te laat herleef net omdat dit in die OT voorkom en ’n interessante godsdienstige kleur het. Paulus waarsku ook hierteen in Kolossense 2:16-23, dat mense (waarskynlik Jode-Christene) nie aan die gemeente moet probeer voorskryf om steeds die jaarlikse Joodse feestye, nuwemaansfeeste of die Sabbatdag te onderhou nie. Hierdie feeste was net ’n skaduwee van wat sou kom, naamlik die nuwe werklikheid in Christus. Indien ’n mens dus die oue teen alle goeie sin in sou laat voortduur, sit jy later met allerlei wettiese voorskrifte wat die skyn van vroomheid het maar eintlik net ’n selfgemaakte godsdiens is en nie blyke daarvan gee dat daar ’n nuwe werklikheid in Christus tot stand gekom het nie.

Hiermee wil ek egter nie sê dat die OT nie ontgin kan word vir sinvolle gebruik deur NT gelowiges nie. Die blaas van die ramshoring (Hebreeus: sjofar) by bepaalde uitgesoekte geleenthede kan seker dramaties en inspirerend vir die geloof wees. Maar ons moet ook besef dat die ramshoring as sodanig uit ’n bepaalde kultuur en tyd stam wat nie noodwendig vandag verstaanbaar sal wees nie. Dieselfde met die tallit. Dit lyk baie mooi om so met ’n Joodse kop- en skouermantel te aanbid, maar dan moet die simboliek daarvan verduidelik word (bv uit Num 15:37-41). Dit moet ook deeglik besef word dat hierdie gebruik geen waarborg is vir groter geestelikheid nie. Dit is bloot ’n simboliese gebaar dat jy jou ten volle oopstel vir die Woord van God, wat in bepaalde omstandighede sinvol kan wees. Weereens: oppas vir ’n nuwe wettisisme wat OT gebruike laat herleef omdat mens dink dat daarmee ’n meer egte geloofsomgang met God herwin of bewerkstellig kan word. Ons moet steeds Paulus se waarskuwing in Kolossense 2 onthou (kyk hierbo), om nie die een in Johannes 4:24 te vergeet nie: “God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Ons is in die eerste instansie NT gelowiges, ons aanbid die lewende God wat Hom in Christus geopenbaar het. Ons kan nie terugkeer na ’n voor-Christelike, OT era en dink dat ons daardeur God beter sal dien nie.

Ten slotte wil ek die vraagsteller graag verwys na ander bydraes op die Bybelkennis.co.za-webblad waar uitvoerig oor die verhouding Sabbat en Sondag gehandel word, asook oor die ramshoring. Sleutel net “Sabbat” in by die soekblokkie en lees die artikels oor dié onderwerp. My eie artikel hieroor kan onder die titel “Geld die Tien Gebooie steeds?” gevind word. In laasgenoemde word ’n hele uiteensetting gegee van hoe die oorgang van Sabbat na Sondag plaasgevind het. Oor die ramshoring kan die interessante artikel van prof Adrio König gelees word. Titel: “Terug na die Ou Testament: Allerlei (2). 6.2 Die ramshoring.”

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Stede en Dorpe(6) – JP Louw

Dawid se Jerusalem

Jerusalem sou moontlik nooit tot ‘n groot stad ontwikkel het as die Israelitiese stamme na die uittog en oorwinning van Kanaän nie in twee groepe verdeel het nie. Die stamme wat in die suide gaan vestig het, se hoofsentrum was Hebron. Hulle was later sterk ondersteuners van Dawid. Die stamme wat in die noorde gaan bly het, was later veral ondersteuners van Saul. Na die oorlog tussen Dawid en Saul, toe Saul se seun Isboset vermoor is (2 Samuel 4), het die noordelike stamme Dawid gevra om ook hulle leier te word. In belang van eenheid sou dit nie wys wees om of die noorde of die suide se stede as nuwe hoofstad vir die hele volk te kies nie. Jebus/Jerusalem was die beste keuse. Dit het in die middel gelê en het geen direkte verband met beide groepe gehad nie. Al was Jerusalem vir n ruk in Israelitiese hande (Josua 10:1, Rigters 1:8), het die Kanaäniete dit weer teruggeneem (Rigters 19:11-12). Dit was dus nou ‘n Kanaänitiese stad wat Dawid besluit het om sy hoofstad te maak. Dawid het Jerusalem deur twee strategieë ingeneem (2 Samuel 5:6-8). Eers het by die vervloeking wat die Jebusiete teen horn uitgespreek het, deur hulle blindes en kreupeles uit te bring as simbool van hoe hy sal lyk as hulle met horn klaar is, geïgnoreer. Daarna het by die probleem oorkom toe die Jebusiete waarskynlik die houttrappe van die skag wat na die watertonnel lei, verwyder het sodat Dawid nie deur die tonnel in die stad kon inkom nie. Tog het Dawid dit op een of ander manier reggekry, want Jerusalem is verower (2 Kronieke 11:1-6).

skagjebusiete

Die vertikale skag in Jerusalem wat deur die Jebusiete
gegraaf is om hulle toegang tot water to gee toe die
stad beleer was. Dit was moontlik hierdie skag wat
Dawid se manne toegang tot die stad verleen het

Dawid het Jerusalem verder opgebou en uitgebrei met mure en terrasse (2 Samuel 5:9, 1 Kronieke 11:8). In hierdie tyd is die naam Jerusalem moontlik ook geherïnterpreteer as Jerushalom “stad van vrede” wat tot vandag so verstaan word. Miskien is daar iets hiervan gespieël in Jesus se woorde in Lukas 19:42 “as jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is”.

Om ‘n neutrale stad as hoofstad te kies was nie voldoende nie. Jerusalem moes ook die godsdienstige sentrurn word. Dit het Dawid gedoen deur die Ark van die Verbond na die stad te bring (1 Kronieke 13-16). Dawid het ook planne begin maak om ‘n tempel in Jerusalem te bou (2 Samuel 7, 1 Kronieke 22).

 

Salomo se Tempel

Toe Salomo die Tempel begin bou het was dit duidelik dat om op die steil stadsrif te bou geen maklike taak sou wees nie. Dawid het reeds terrasse en mure gebou en die moes vergroot word. Die Tempel is op die hoër terras gebou en ander geboue is later bygevoeg. 1 Konings 5-6 vertel van die bouwerk. Baie ambagsmanne is gebruik en groot voorrade moes aangery word. Dit het ontwikkeling gestimuleer. Die land is in twaalf dele verdeel wat elk vir ‘n maand verantwoordelik was vir onkostes. Jerusalem, Hebron en Betlehem is nie belas nie. Hierdie voorkeure tesame met die swaar belastings vir Salomo se bouwerke en rojale paleislewe asook die historiese verdeling tussen noord en suid, het ou gevoelens laat opvlam wat uiteindelik tot ‘n skeuring na Salomo gelei het.

Na die skeuririg van die ryk het tien stamme vir hulleself te Sigem (1 Konings 12:25) ‘n nuwe hoofstad herbou en later te Samaria (1 Konings 16:23-24). Dit moes tot ‘n aansienlike afname in die belangrikheid van Jerusalem gelei het omdat slegs die twee stamme van Juda en Benjamin daar oorgebly het. Tog het die Tempel sy belangrikheid behou al is ander heiligdomme deur Israel (die tien stamme) by Dan en Bet-El (1 Konings 12:29) opgerig.

‘n Besondere bouwerk wat in Jerusalem voor die Babiloniese ballingskap onderneem was, is die waterkanaal wat Hiskia laat grawe het. ‘n Ander bouwerk van Hiskia was die uitbreiding van die muur aan die westekant van Jerusalem waardeur die stad byna in grootte verdubbel het (2 Kronieke 32:5). Toe Nehemia na die Babiloniese ballingskap teruggestuur is om Jerusalem te herbou, het by die muur weer opgerig.

Skrywer:  Prof JP Louw