Paulus oor gelowiges se bydraes – Hoe om te gee [1]
Wanneer Paulus die Korintiërs in 2 Kor. 8-9 motiveer om bydraes te gee ter verligting van die nood van die arm gelowiges in Judea, gee hy vir die gelowiges duidelike riglyne oor die gesindheid waarmee hulle hierdie bydraes behoort te gee. Die gesindheid waarmee gegee word is immers vir God belangriker as die grootte van die gawe (8:12)! Vier van hierdie regte gesindhede word hier bespreek, en nog drie word in ‘n tweede artikel genoem.
Met watter gesindheid moes die Korintiërs bydraes gee vir die fonds vir die arm gelowiges in Judea? (Wat kan ons as moderne gelowiges daaruit leer rakende ons eie gesindhede jeens bydraes?)
Met blydskap: Die Masedoniërs het ten spyte van hul armoede oorvloedige blydskap gehad (8:2), tot so ‘n mate dat dit oorgeloop het in ‘n ryke uitdrukking van vrygewigheid teenoor die armes in Judea. Die rykdom van hul bydrae is egter nie gesetel in die grootte van die bedrag wat hulle bygedra het nie, maar in die innerlike rykdom van die een wat ‘n gesindheid van vrygewigheid openbaar. Die Masedoniërs het nie gegee omdat hulle daartoe verplig gevoel het of omdat dit van hulle afgepers was nie (vgl. 9:7, 5), maar omdat dit werklik vir hulle ‘n vreugde was om te gee, al was hulle self arm. God het sulke blymoedige gewers lief (9:7). Daar is by Hom ‘n besondere toegeneentheid tot die een wat gee sonder spyt en sonder dat hy verplig word, maar eerder omdat dit hom vreugde verskaf om dit te doen.
Vrywillig: Paulus sou verkies dat daar uit eie beweging en vrywillig bygedra moet word tot ‘n saak. Dit was die gesindheid wat die Masedoniërs geopenbaar het (8:4). Hy het nie eers nodig gehad om hulle te vra om aan die fondsinsameling deel te neem nie. Hulle het self by hom daarop aangedring. Paulus noem dit spesifiek om die Korintiërs te beskaam oor hulle eie traagheid (om hulle sodoende tot aksie te motiveer). Die ideaal bly egter dat daar vrywillig bygedra moet word, en nie onder dwang nie.
Die vrywilligheid van die gewer (gesindheid van “goeie wil”, 8:12) is vir Paulus so belangrik dat dit, tesame met ‘n gawe volgens vermoë, genoem word as een van die voorwaardes word waarop God die gawe aanneem – ‘n aanduiding daarvan dat die gesindheid van die gewer belangriker is as die (grootte van) die gawe wat hy gee.
Om hierdie rede weerhou Paulus hom ook daarvan om vanuit sy gesag as apostel die gemeente te beveel om die fondsinsameling af te handel, en hoe hulle dit moet doen (8:8), maar bied hy sy aansporings eerder aan in die vorm van raad wat hulle belange op die hart dra (8:10). ‘n Bevel dwing immers gehoorsaamheid af, ten spyte van die gesindheid van die gehoorsame, wat heel moontlik een van teensin of gedwongenheid (9:7) kan wees. Paulus verkies dat die Korintiërs se gesindheid reg moet wees en dat hulle sal bydra, nie omdat hulle so beveel is nie, maar omdat hulle wil.
Na aanleiding van vermoë: Soos hierbo genoem, is een van die voorwaardes op grond waarvan God ‘n gawe aanneemlik vind (al dan nie), of die gawe gegee is na aanleiding van die vermoë van die gewer, tesame met die gesindheid waarin dit gegee is (8:11-12). Indien iemand gee volgens wat hy het (en met goeie wil), neem God die gawe aan. Die implikasie hiervan is dus, aan die een kant, dat God nie van iemand verwag om meer te gee as wat hy kan bekostig nie, of om homself te laat gebrek ly sodat hy ander kan help nie (8:13). Hy verwag dus nie van gelowiges om bo vermoë by te dra nie (hoewel Hy dit nie verbied nie), slegs dat daar volgens vermoë bygedra sal word. Aan die ander kant impliseer dit ook dat daar ‘n verband behoort te wees tussen die (ruimheid van) die bydrae en die vermoë van die gewer, sodat daar met reg ‘n skaduwee gewerp word oor gawes benede die vermoë van die gewer. Dit sou immers die vergestalting van ‘n verkeerde gesindheid, naamlik suinigheid, hebsug, ongeloof of iets dergeliks wees. Daarom sou dit onvanpas en onaanvaarbaar vir God wees as ‘n vermoënde persoon ‘n niksseggende bydrae maak vanuit sy oorvloed. Die Masedoniërs word juis vir die teenoorgestelde aangeprys. Hulle het ruim bygedra ten spyte van hul eie armoede (8:1-5). In dieselfde asem sou dit dus ook onvanpas wees vir ‘n onvermoënde persoon om ‘n bydrae te maak wat, selfs vir sy beperkte vermoë, vir hom niksseggend sou wees. Paulus se beginsel is dus dat daar ‘n verband behoort te wees tussen die gawe en die vermoë van die gewer, hoewel hy nêrens ‘n poging aanwend om hierdie verband te kwantifiseer (soos byvoorbeeld in terme van ‘n “tiende”) nie.
Met die gesindheid van Christus, naamlik van selfverloëning en selfopoffering ten bate van ander: Die selfverloënende en selfopofferende optrede van Christus, wat homself tot mensheid verneder het en laat oorlewer het om gekruisig te word ten bate van die gelowiges, is die belangrikste voorbeeld vir gelowiges om na te streef en na te leef (8:9). Aangesien Hy Homself op hierdie wyse “verarm” het sodat die gelowiges daardeur “verryk” kon word, behoort gelowiges dieselfde gesindheid te openbaar en ook opofferings te maak ten bate van andere.
Skrywer: Ds Dirk Venter