Liggaam, Siel en Gees – Jan van der Watt

Fanie vra:

·As die mens sterf verlaat die gees die liggaam en vertoef in rus dws “slaap” tot emet die wederkoms. Dus bestaan die siel dws denke, begrip, verstand, emosie, intellek nie meer nie. Die gees word deur Hom wat dit geskep het gehou dws God. Dus is die gees geen persoon nie en kan dus nie kommunikeer met geliefdes nie. So kan niemand wat as gelowige sterf reeds in die hemel wees nie want net die gees ‘bestaan’ en moet weer deur God teruggegee word. Dus almal moet geoordeel word met die wederkoms. Dus die ‘sondaar’ se liggaam moet ook weer met sening en vlees oorgetrek word, dus ‘n nuwe liggaam en sy gees moet teruggegee word en dan kan hy die oordeel ervaar.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

·         Die reeks stellings is nie eintlik ’n vraag  nie en word geplaas vir interessantheid – lesers kan daaroor nadink en as hulle vrae het, kan hulle gerus skryf. Hier volg enkele opmerkings:

·         Dit is heeltemal reg dat volgens die Bybel ’n mens uit liggaam en gees bestaan. Dit is so van die begin van die Bybel af, naamlik dat ’n liggaam (vlees) nie lewe en mens is, voordat dit nie met die gees verenig nie. Daarom lê die Nuwe Testament ook soveel klem daarop met die opstanding op die laaste dag mense as liggaam (wel ’n verheerlikte liggaam – 1 Kor 15) en gees sal opstaan – alleen so is hulle volledig mens. In die Evangelie van Johannes word daar, byvoorbeeld, gepraat van die laaste dag as mense, wat reeds die ewige lewe het, opgewek gaan word, d.w.s. hulle liggame gaan met hulle geeste verenig word (Joh 6:39, 40, 44).

·         Die terme liggaam, siel en gees word nie deurgaans in die Bybel gebruik nie (sien die artikel in Bybelkennis.co.za oor liggaam, siel, en gees). Dit was terme, soos hierbo ook genoem word, om verskillende funksies van die mens mee te beskryf, en selfs van die Griekse filosowe (nie-Christene) het die woorde so gebruik. Die liggaam het na die fisiese deel verwys, die siel na die denke en die gees na die godsdienstige vermoeëns van die mens. In die meeste gevalle praat die Bybel egter  net van liggaam en gees om so die fisiese en geestelike dele van ’n mens te onderskei. Dit word dan gewoonlik gesê dat as die liggaam sterf en tot niet gaan, die gees bly voortbestaan. Johannes sal byvoorbeeld sê dat ons die ewige lewe het, wat beteken dat hoewel die liggaam sterf, die gees van die gelowige bly leef (Joh 11:25-26). In die Evangelies sê Jesus byvoorbeeld dat gelowiges nie bang hoef te wees vir mense wat hulle liggaamlik kan doodmaak, maar niks verder aan hulle kan doen nie. Hulle moet liewer omgee wat God (ook met hulle as mense, dus gees en liggaam) kan doen (Matt 10:28, sien ook Luk 12:4-5). Ander skrywers is bietjie meer terughoudend, maar veral 1 Kor 15 is bekend as die gedeelte wat oor hierdie dinge praat. 

·         Oor kommunikasie met geeste van die dooies is die Bybel baie negatief. Die rede is hoofsaaklik omdat dit God wil ‘kortsluit’. Wat nodig is om te weet, deel God ons mee. Kyk maar wat sê Abraham vir die ryk man in Luk 16:19-31toe hy vra dat daar deur Lasarus op ’n buitengewone manier met sy familie gekommunikeer moet word. God se woord is genoeg.

·         Oor die finale oordeel, sien die artikels in Bybelkennis.co.za. Hier kan net genoem word dat volgens Openbaring 20:11-15 alle mense finaal geoordeel sal word, soos Matt 25:31-46 ook sê. Vir gelowiges sal die laaste oordeel egter net lekker wees. Johannes sê dat gelowiges nie eers regtig geoordeel sal word nie, omdat hulle reeds deur Jesus se woorde as lewend en God se kinders verklaar is. Jesus het self gesê dat die wat in Hom glo die ewige lewe het en Hy sal nie sy woord breek nie. In 1 Joh 4:17-18 sê hy dat gelowiges die finale oordeel met selfvertroue tegemoed kan gaan. Ander, soos Petrus en Paulus, beklemtoon weer dat God vir gelowiges hulle erfdeel in die hemel hou, met ander woorde, hulle kan seker wees van die finale oordeel se uitspraak (Ef. 1:9-11; Kol 3:1-4; 1 Pet 1:3-5). In elke geval, wie kan die gelowige aankla as Jesus die gelowige se advokaat is? (Rom 8:31-39).

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




“Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Lukas 23:46) – Hermie van Zyl

Clifford vra:

Wat is die betekenis van hierdie woorde van Jesus?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hierdie is een van die sogenaamde sewe kruiswoorde van Jesus. Die kruiswoorde verwys na die sewe keer toe Jesus gepraat het terwyl Hy aan die kruis van Golgota gehang het. ‘n Mens kan sê dat dit Jesus se sterfbedwoorde was. Daarom dra dit besondere gewig. Dit trek die gordyn effens weg en gee ons ‘n kykie in die siel van Jesus – hoe Hy Self in daardie oomblikke sy lyding en naderende dood ervaar het.

Die kruiswoorde is egter baie meer as ‘n selfonthulling van Jesus se sielestryd. Dit laat ons ook die betekenis van sy dood vir ons beter verstaan. Wanneer Jesus aan die kruis sterf, is dit immers nie as gevolg van sy eie oortredinge nie, maar juis ter wille van ons (2 Kor 5:14-15, 21).

Die sewe kruiswoorde kom nie almal in elkeen van die vier Evangelies voor nie. Hulle lê verspreid: drie kom uit die Lukasevangelie, drie uit die Johannesevangelie en een uit Matteus en Markus gesamentlik. Dit is dus nie moontlik om te sê in presies watter historiese volgorde die kruiswoorde uitgespreek is nie. Want ondanks die onderlinge ooreenstemming tussen die Evangelies, gee elkeen sy eie weergawe van die kruisgebeure. Die volgorde van die kruiswoorde soos dit soms voorgehou word, is dus eerder ‘n samestelling deur die kerk wat baie ver in die geskiedenis teruggaan.

Na alles is dit egter nie belangrik om te weet presies in watter volgorde die kruiswoorde uitgespreek is nie. Wat wel belangrik is, is of ons die boodskap daarvan in die geloof toe-eien.

Die kruiswoord “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Luk 23:46), is volgens kerklike tradisie die laaste van die sewe kruiswoorde. Volgens die Lukasevangelie was Jesus se eerste woorde aan die kruis ’n gebed: “Vader, vergeef hulle ….” (23:34). Dieselfde Evangelie berig dat sy laaste woorde ook ’n gebed was. Daar is vier momente van hierdie gebed wat uitstaan:

Eerstens, bloot die feit dat dit ‘n gebed was. Seer sekerlik is gebed ‘n gepaste manier om jou lewe mee af te sluit. Maar om dit te kan doen, moes jy saam met God gelewe het. En dit was by uitstek waar van Jesus. Hoeveel maal lees ons nie dat Hy die aangesig van sy Vader in gebed opgesoek het nie. En nie net in krisistye nie (Matt 26:36,39), maar dit was sy gewoonte (Matt 14:23; Mark 1:35; Luk 3:21; 9:18, 29; ens).

Tweedens is hierdie gebed ‘n aanhaling uit die Skrif – Psalm 31:6. Soos gebed natúúrlik by Jesus gekom het, het die Skrif ook. Hy het gelewe vanuit die Woord van God. Kleintyd al het Hy die Skrifgeleerdes verbaas met sy kennis (Luk 3:46-47). Verder, die ooreenkoms tussen Jesus en Stefanus se laaste woorde is opmerklik. Handelinge 7:59 sê dat Stefanus met dieselfde gebed op sy lippe gesterf het, behalwe net dat hy sy gees aan Jesus toevertrou het en nie aan die Vader nie. Maar wesenlik is daar geen verskil nie. Verder, Stefanus bid ook vir sy vyande terwyl hy sterf (“Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie”, Hand 7:60), net soos Jesus dit aan die kruis gedoen het: “Vader, vergeef hulle …”.

Wat geld van gebed, geld ook hier: as jy wil sterf met die Skrif op jou lippe, moet jy leef met die Skrif in jou hart.

Derdens spreek hierdie gebed van vertroue. Van kleinsaf was dit die vrome Jood se aandgebed. In die aand vertrou jy jou gees aan God toe sodat Hy dit in die môre weer aan jou kan teruggee. Wanneer Jesus dit hier aan die kruis doen, is dit met die volle vertroue dat sy Vader weer sy lewe aan Hom sal teruggee. Wat ook op die derde môre na sy dood gebeur het toe sy Vader Hom opgewek het uit die dood om nooit weer te sterf nie. Dis treffend dat Jesus op die negende uur (d w s omtrent 15:00, Luk 23:44; Mark 15:33), op dieselfde tyd dat die basuingeskal in die tempel die volk oproep tot die aandgebed, ook sy aandgebed tot die Vader rig. In hierdie stadium, net voor sy dood, vind Hy ook weer vrede en rus by sy Vader, nadat Hy volgens Matteus en Markus in sterwensangs was en deur God verlate gevoel het (“My God, my God, waarom het U my verlaat?”). In sy ervaring van Godverlatenheid bly Hy egter steeds aan God vashou (My God …). Dit is dus nie vreemd dat Hy sy Gees aan sy Vader toevertrou nie. Verder, Jesus se opregte Godsvertroue word bevestig in die volgende vers (Luk 23:47) wanneer die toesighoudende Romeinse offisier opmerk dat Jesus “werklik onskuldig” was. Daar staan letterlik dat Jesus “regverdig” was – sonder skuld voor God. Jesus is by uitstek die waarlik vrome of onskuldige mens omdat Hy Homself ten volle aan sy Vader se wil oorgegee het, selfs toe Hy deur sy Vader verlate gevoel het.

Laastens, in Christus is God ook my Vader. Aan Hom kan ek my ganse lewe toevertrou. Daarom kan ek aan die einde daarvan my gees in die dood aan God oorhandig, in die volle vertroue dat Hy, net soos met Jesus, dit in die opstanding aan my sal teruggee. Soos die pragtige aandgesang se laaste vers lui:

Ek weet aan wie’k my toevertrou het,

al wissel dan ook dag en nag;

ek ken die Rots op wie’k gebou het,

van wie ek al my heil verwag.

Eens aan die einde van my lewe

sal ek, van dood en sonde vry,

vir al u seën en goedheid, Here,

U nuut my dank- en loflied wy.

 

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




In die gees by iemand – Hermie van Zyl

Ek weet daar is verse in die Woord wat my “verkeerd” gaan bewys, maar ek kan dit nie insien nie. Hoe kan jy “in die gees” by iemand wees? As dit so is, moet jy mos kan weet wat gesê word, of hoe? Ek kan verstaan as jy sê “in die gedagtes”, maar ek verstaan nie van “in die gees” nie.

Antwoord

Prof. Hermie van Zyl antwoord:

Hierdie is eintlik nie ‘n teologiese aangeleentheid nie, maar gewoon ‘n taalkundige een. Tog het dit ook ‘n godsdienstige kant. Kom ons kyk.

In populêre taalgebruik word daar dikwels onderskei tussen ‘n mens se gees, siel en liggaam. “Liggaam” is die fisiese of liggaamlike sy van ons lewe. “Siel” is die meer spirituele, godsdienstige kant, naamlik die mens wat verlang na en in verhouding met God tree. “Gees” het weer te doen met die menslike wil, lewenskrag en vermoëns, wie en wat jy ten diepste is. Dis in hierdie konteks dat ‘n spreekwoord gebruik word soos: “die gees is gewillig, maar die vlees is swak”. Dit beteken dat iemand graag iets wil doen, maar nie fisies daartoe in staat is nie.

Nader aan die vraag hierbo sal mens soms op ‘n uitnodiging na ‘n partytjie soos volg reageer: “Ag, ek wil vreeslik graag daar wees, maar sal ongelukkig nie kan nie. Maar wees verseker, in die gees is ek by julle.” Hiermee bedoel mens dat jy nie fisies by die partytjie teenwoordig kan wees nie, maar wens dat jy daar kan wees. Wanneer die partytjie aan die gang is, sal jy dink aan die mense wat daar is, wonder hoe dit afloop en wat almal alles doen. Jou gees is eintlik daar, maar omdat jy nie alomteenwoordig is nie, kan jy nie fisies teenwoordig wees nie. Dit beteken uiteraard dat mens nie weet wat alles daar gebeur nie, want as mense is ons gebonde aan een plek op ‘n spesifieke tydstip. Maar in die gees reik mens partymaal uit na ander plekke, verlang jy om daar te wees, en is jy in ‘n sekere sin wel daar. Jy kan jou indink, selfs inleef hoe dit is, sonder om fisies daar te wees.

Hierbo het ek gesê dat die onderskeid tussen siel, gees en liggaam populêre taalgebruik is, ‘n manier van praat om tussen die verskillende aspekte van ons lewe te onderskei. Maar dit moenie so verstaan word as sou die mens regtig opgedeel kan word in of ‘n samevoeging is van drie afsonderlike dele nie, want die mens is ‘n psigosomatiese eenheid. Dit beteken dat ons ‘n eenheid is van siel, gees en liggaam. Daar is nooit ‘n tyd waar al drie nie deel is van dieselfde werklikheid of gelyktydig saamwerk nie. Hierdie drie kan dus onderskei, maar nie geskei word nie. Hulle is eintlik maar net drie perspektiewe op of drie maniere van kyk na dieselfde mens. Daarom kan ons ook sê dat die hele mens liggaam is, of gees is, of siel is. Dit hang net af watter aspek van menswees op ‘n bepaalde tydstip beklemtoon word. Soms wil jy op die geestelike vermoëns van die mens fokus, maar dit beteken nie dat op daardie moment die ander twee afwesig is nie. Ons bestaan nie as gees (of siel) los van ons liggaam nie. Omgekeerd, ons liggaam (fisiese lewe en omstandighede) het weer dit wat ons “gees” en “siel” noem, nodig; daarsonder is ons nie mens nie. Net soms lyk dit asof die een bo die ander uitstyg. So sal ons van ‘n parapleeg sê: “Hy mag nou wel nie kan loop nie, maar dit blus geensins sy lus vir die lewe nie; sy gees is sterker as sy liggaam.” Dit wil amper lyk of die liggaam aangevuur en gedryf word deur bo-liggaamlike kragte en vermoëns, maar uiteindelik kan hierdie kragte slegs deur die liggaam gekanaliseer word. Dus, om “in die gees” op ‘n ander plek te wees as waar jy fisies is, is hoogstens ‘n metaforiese manier van praat om jou verlange, begeerte en bereidwilligheid tot kommunikasie uit te druk, maar kan ongelukkig nie meer wees as dit nie. Dit bly gebonde aan die beperkings wat ons liggaam op ons lê.

Bogenoemde was min of meer ‘n taalkundig-antropologiese verstaan van die uitdrukking: “in die gees is ek daar”. Maar wat van die meer teologiese of godsdienstige? Die uitdrukking om “in die gees” (êrens) te wees, kom wel ‘n keer of wat in die Bybel voor, maar hier verwys “gees” nie na die menslike gees nie, maar na God se Gees. Ons lees byvoorbeeld in Openbaring 1:10 dat Johannes op die eiland Patmos “in die Gees” op die dag van die Here (= Sondag) ‘n harde stem agter hom gehoor het en toe die opdrag ontvang om alles op te skryf wat hy sien. “In die Gees” beteken hier dat Johannes ‘n soort visioen ontvang of gesig gehad het, dat hy in ‘n g(G)eestesverrukking was, of, soos die 1983-Vertaling dit stel, dat hy “deur die Gees meegevoer is” en allerlei dinge meegedeel is oor hoe God besig is om “agter die skerms” te werk. Dis amper dieselfde as wat Paulus ervaar het toe hy tot in die derde hemel weggeruk is en daar onuitspreeklike dinge gehoor het (2 Kor 12:2-4). Hier word egter nie die woorde “in die Gees” gebruik nie, hoewel Paulus sê dat hy nie weet of dit “in die liggaam” of “buite die liggaam” was nie. Dis duidelik dieselfde soort ervaring as wat Johannes op die eiland Patmos gehad het – ‘n gebeure wat deur die Gees van God veroorsaak is, ‘n gebeure wat die betrokke mens se fisiese beperkings oorskry en hom na ‘n ander werklikheid verplaas het.

Daar is nie ‘n direkte verband tussen die uitdrukking “in die gees is ek by julle” en om “in die Gees” een of ander geestelike ervaring te hê waar jy voel dat jy na ‘n ander wêreld gevoer word nie. Eersgenoemde is ‘n gewoon menslike manier van praat om ‘n verlange of wens uit te druk en laasgenoemde is ‘n ervaring wat uit en uit deur God bepaal word. Tog is daar ‘n raakvlak. Mens kan sê dat beide met ‘n soort buite-normale ervaring te doen het waar ‘n verplasing van lokaliteit in die menslike gees plaasvind, die een bewerk deur menslike verlange en die ander deur God. Wat dalk ‘n aanduiding kan wees dat ons as mense meer is as wat ons fisiese beperkings op ons plaas. Ons is deel van ‘n groter werklikheid wat ons fisiese bestaan te bowe gaan. Ons taalgebruik sê dit, ons geestelike ervarings suggereer dit. Maar meer as dit is spekulasie. Dalk hou die toekoms saam met God, ook na ons dood, allerlei verrassings in. Maar laat ons nie nou dinge vooruit loop nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Aanbid in Gees en waarheid

Aanbid in Gees en waarheid – Francois Malan

Johan vra:

In Johannes 4:23 staan daar dat “daar kom ‘n tyd, en dit is nou, dat die ware aanbidders die Vader in Gees en waarheid sal aanbid”. Kan u asseblief verduidelik wat dit beteken om in Gees en waarheid te aanbid. Ek het al baie verduidelikings gehoor, maar sal graag u mening wil hoor.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Johannes 4:19,20 Die Samaritaanse vrou draai  die gesprek met Jesus van haarself af weg, met ‘n vraag na die regte godsdiens. ‘Ons voorouers’, van beide Israel en die Samaritane, ‘het op hierdie berg aanbid’ – die put van Jakob lê aan die voet van die berg Gerisim. Deutr. 12:5,14 bepaal dat daar slegs een plek van aanbidding sal wees vir die hele volk. Volgens Deutr.11:29 moes hulle die seën op Gerisim afkondig en die straf op Ebal (vgl. 27:9-26). Volgens Deutr.27:3 moes hulle op die beg Ebal ‘n altaar bou waar vir Here geoffer moes word – in die Samaritaaanse Bybel, wat net uit die eerste vyf boeke van Moses bestaan, staan daar Gerisim en nie Ebal nie (wat moontlik reg is, en later deur die Jode in hulle Bybel, uit teenstand teen die Samaritane, verander is na Ebal, waar die vervloekings uitgespreek is). Die Samaritane aanvaar nie die profetiese en ander geskrifte van die Ou Testament nie. Daarom aanvaar hulle ook nie die opdrag van die profeet Gad aan Dawid om ‘n altaar vir die Here op die dorsvloer van Arauna van Jebus, dit is Jerusalem, te bou nie (2 Sam.24:18; vgl. 1 Kron.22:1). Dit was die plek waar Salomo in 950 v.C. die tempel vir die Here gebou het (2 Kron.3:1). Salomo se tempel is in 586 v.C. deur die Babiloniërs verwoes. Serubbaäl herbou die tempel na die 70-jarige ballingskap, en laat nie die Samaritane toe om saam te bou nie. In die 4e eeu v.C. bou die Samaritane toe hulle eie tempel op Gerisim, wat deur die Joodse hoëpriester/koning Johannes Hyrkanus in 128 v.C afgebreek is. Daarna aanbid hulle in die ruïnes van hulle tempel totdat Pilatus die Samaritane op Gerisim uitroei en slegs ‘n klein klompie Samaritane in Nabloes, die ou Sigem, oorbly. Herodes die Grote begin die tempel in Jerusalem vergroot sedert 15 v.C. en die Romeine breek dit af in 70 n.C., 5 jaar nadat die bouwerk voltooi is.

            Die vrou sê: ‘En julle sê Jerusalem is die plek waar aanbid moet word’ – moet, volgens God se bevel. Wat sê die ‘profeet’, wat God se wil bekendmaak, daarvan.

 

4:21 Jesus, die enigste Seun van God antwoord beleefd: ‘Vrou, glo My, die uur is aan die kom dat julle die Vader (van alle volke) nie op hierdie berg of in Jerusalem sal aanbid nie.’ ‘n Nuwe bedeling het aangebreek met die koms van die Messias. Die aanbidding van die Vader is nie langer aan ‘n plek verbind nie (vgl. Openb 21:22).

 

4:22 Met hulle vyf-boek Bybel het die Samaritane nie die volle openbaring van God nie, al verwag hulle ook ‘n profeet soos Moses (Deutr. 18:15,18). Hulle aanbid ‘wat’ hulle nie ken nie, hulle ken nie ‘n persoonlike verhouding met God nie. By baie Jode het hulle God ook ‘n ‘wat’ geword, en nie ‘n ‘Wie’ nie. Dit is juis die Profete-boeke en Geskrifte van die Ou Testament wat die verwagting van ‘n verlossing verkondig; ‘n Verlosser vanuit die Jode, wat God uitgekies het, waaruit sy Verlosser sou kom  (vgl. Jes.2:2-5 se verheffing van Sion bo alle berge, waar alle volke na die Here sal kom luister, Hom sal dien, en in vrede begin lewe; die vervulling van dié profesie is met Jesus se koms begin, Lk 2:32, en sal voltooi word wanneer alles aan Hom onderwerp is (1 Kor 15:25).

 

4:23 Nie op Gerisim of in Jerusalem nie; die nuwe tyd het aangebreek met Jesus se menswording, soos reeds met die tempelreiniging aangekondig is (Johannes 2:19-22 sy liggaam word die tempel waardeur ons tot God kom) .

Jesus beweeg verder as die vrou se persoonlike en huislike tragiek, haar skuld en haar skuiling agter die godsdiens. Ware aanbidders volg die wil van die Vader. Hulle aanbid Hom deur  Gees en Waarheid: deur die Heilige Gees, wat in hulle kom woon om hulle te lei; en deur die Waarheid – in Johannes 14:6 sê Jesus ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.’

 

4:24 God is Gees – nie aan ‘n plek verbonde nie, maar oral teenwoordig deur die Heilige Gees. Die Gees leer ons hoe om God te aanbid; die Gees is verbonde aan die Waarheid, wat vir ons die weg na God open deur sy liefdesoffer aan die kruis

Johannes 14:26 Die Helper/Voorspraak/Trooster, nl. die Heilige Gees wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alls onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het.

Johannes 15:26 Wanneer die Helper/Voorspraak/Trooster kom wat Ek van die Vader af aan julle stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader kom, sal Hy oor My getuig.

 

In Romeine 8:26-27 sê Paulus: So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtiginge wat nie verwoord kan word nie. Hy wat die harte deurgrond weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die heilige intree.

 

1 Johannes 2:1-2 sê: wanneer iemand gesondig het, het ons Jesus Christus, die Regverdige, as Helper/Voorspraak by die Vader. Hy is die soenoffer vir ons sondes en ook vir die sondes van die hele wêreld.

 

Deur die God die Heilige Gees wat in ons kom woon om ons tot geloof te lei en ons deur ons hele lewe wil lei deur die woord van God; en deur Jesus, die weg en die waarheid en die lewe, wat vir ons by die Vader intree, is die weg vir ons geopen om met die Vader te praat in gebed.

Jesus sê in Johannes 15:7: As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur. Vers 7 beklemtoon bly in die woorde van Christus, die openbaring van God, wat Hy, as die Woord van God, gebring het. Om daarin te bly beteken dat ons sy woord te aanvaar as die mag wat ons lewe rig en aandryf (vgl. Kor 5:14 die liefde van Christus dwing ons…). So ‘n gelowige kan seker wees dat sy gebede beantwoord sal word, want sy gebede sal gerig wees deur die begeerte om te dien in die koninkryk van God, waar God regeer met sy woorde in ons – v4 sê: Jesus is self in ons. So word die skatkamers van ons Hemelse Vader oopgestel vir elkeen wat ‘Hom deur die Gees en in waarheid aanbid’

Johannes 14:13-14:  En wat julle in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik sal word.

 

Uit die Skrif lyk dit dat om God in Gees en waarheid te aanbid, beteken dat gelowiges moet bid volgens die leiding van die Heilige Gees wat in hulle woon om hulle in die hele waarheid in te lei; en dit is: volgens die wil van God, soos Jesus, wat die waarheid is, dit geopenbaar het deur sy hele lewe en sy woorde.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan