Die kerk en geestesongesteldhede
“When you are angry, you will make the best speech you will ever regret.” –William Ury
Die kerk en geestesongesteldhede
Die afgelope aantal dae word daar baie oor hierdie onderwerp geskryf. Rick Warren se seun Matthew het selfmoord gepleeg as gevolg van ‘n geestesongesteldheid – waarskynlik depressie. Die vraag: Is die kerk en Christene voorbereid om geestesongesteldhede te hanteer?
Baie jare gelede is gesê dat geestesongesteldhede die gevolg van sonde of demone of ‘n gebrek aan geloof is. Hierdie dinge is werklikhede, maar geestesongesteldhede is ook ‘n werklikheid. Hulle is nie dieselfde ding nie. Kerke se reaksie op geestesongesteldhede kan ten beste as verwarrend beskryf word.
Wat moet gemeentes en Christene doen?
- Ons moet ophou om geestesongesteldhede weg te steek – praat openlik daaroor.
- Die gemeente behoort ‘n veilige hawe te wees vir diegene wat probleme het.
- Moenie bang wees vir medisyne nie.
- Dit is nie nodig om skaam te wees as jy ‘n geestesongesteldheid het nie – jy is tog nie skaam as jy longontsteking het nie!
Hier is ‘n paar dinge wat ons moet onthou:
- Daar is elke week mense in die kerkbanke – en leraars – wat een of ander geestesongesteldheid of depressie het.
- Christene weet dat God verwag dat hulle ander mense sal liefhê. Dit geld vir almal, ook vir diegene wat ons nie verstaan nie.
- Christene aanvaar dat mediese behandeling vir geestesongesteldhede van waarde is.
- Deernis en versorging help hierdie mense om te weet hulle hoef nie weg te kruip nie.
- Geestesongesteldhede het niks met jou of jou gesin se geloof te doen nie – almal kan dit ontwikkel.
Hierdie dinge lyk vanselfsprekend, maar dit is nie. Ons moet weer en weer daaraan herinner word. Dit is baie belangrik om te onthou dat geestesongesteldhede nie net die individu raak nie, maar die hele familie. Beide individue en families moet weet en voel dat God en die kerk hulle, te midde van hulle probleme, liefhet.
[Ek het onder andere van Ed Stetzer se blog gebruik gemaak.]