Wat glo ons?

As preachers of the gospel of Jesus, do not expect worldly honors: these Jesus Christ neither took to himself, nor gave to his disciples” —Adam Clarke

Wat glo ons?

Andy Stanley het ‘n interessante blog geskryf. Daarin sê hy onder andere dat die kerk oorleef het, want Jesus het dit belowe en was in die middelpunt van die aktiwiteite van die plaaslike gemeente vir 2 000 jaar. Jy kan glo of nie glo nie; jy kan deelneem of nie deelneem nie; jy kan jou gedra of nie gedra nie – dit maak nie saak nie. Jesus het en sal voortgaan om sy kerk te bou, en niemand se dood sal dit stopsit nie – nie eers sy eie dood nie.

 

 

Maar Stanley voel die kerk het te groot vir sy skoene geword. Die kerk verkondig nie meer die boodskap wat die kerk van die eerste eeu na Christus verkondig het nie. Kerkleiers moet weer kyk hoe dit alles begin het. Die kerk fokus vandag daarop om dinge wat Christene glo te verkondig. Die vroeë kerk het ‘n ander boodskap gehad.

 Die sentrale boodskap van die vroeë kerk was nie: Ons glo iets is waar nie. Nee die sentrale boodskap van die vroeë kerk was: Ons glo daar het iets gebeur.

 Elke kerk het ‘n boodskap wat hy verkondig. Die Christelike boodskap is dat God vir Jesus uit die dood opgewek het.

 




Apologetiek: Verstaan die die aard van geloof

In the face of suffering, one has no right to turn away, not to see. -Elie Wiesel

Apologetiek: Verstaan die die aard van geloof

 [Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

 Hoekom glo ons in God wanneer dit nie met absolute sekerheid bewys kan word nie? Die nuwe ateïste beweer dat geloof irrasioneel is – jy hardloop weg van die bewyse en weier om te dink. Kom ons kyk na die stelling: verkragting is verkeerd. Ons kan nie met rede of die wetenskap bewys dat hierdie stelling reg is nie. Dit maak nie dat ons hierdie stelling nie meer glo nie.

Geen gemeenskap kan oorleef sonder die konsep van geregtigheid nie. Ons kan egter nie bewys dat enige spesifieke siening van geregtigheid reg is nie.

Sir Isaiah Berlin, bekende filosoof, sê dat menslike oortuigings in drie kategorieë val:

  1. Dié wat met empiriese waarnemings bewys kan word
  2. Dié wat deur logiese afleiding gemaak kan word.
  3. Dié wat nie deur een van bogenoemde bewys kan word nie.

Hierdie derde kategorie bevat die waardes en idees wat die mens se kultuur vorm – dinge wat ons glo wat sin, rigting en doel aan die mens se lewe gee.

Die VN sê dat hulle in fundamentele menseregte glo. Hierdie stelling is baie belangrik, maar die stellings in Die Universele Verklaring van Menseregte kan nie bewys word nie – nie logies of wetenskaplik nie. Ons kan hulle nie bewys nie, maar vir hulle verdedigers is hulle redelik. Gevolgtrekking: Ons onderwerp ons aan die groot wêreldsienings van ons tyd sonder absolute bewyse.

Almal van ons glo dat sekere dinge waar is terwyl ons besef dat ons dit nie kan bewys nie. Kritici van geloof in godsdiens sê dat geloof ‘n vorm van geestesongesteldheid is wat tot godsdienstige mense beperk is. Dit is verkeerd: geloof is deel van menswees. Ateïste aanvaar nie dat menslike rede perke het nie. Hulle aanvaar egter dat hulle eie oortuigings betroubaar en verantwoordelik is. Maat die kernwaarhede van ateïste kan ook nie bewys word nie. Hulle kritiek van die Christelike geloof berus op sekere morele waardes (godsdiens is boos; God is nie goed nie; ens) wat nie bewys kan word nie.

Die Christelike idee van geloof is meer as om net te glo dat sekere dinge waar is. Dit is nie net om te glo dat God bestaan nie, maar ook om te ontdek dat hy wys, liefdevol en goed is – daarom wy ons ons toe aan Hom. You are not with an argument which demands your  assent, but with a Person who demands your confidence (C. S. Lewis)

Ludwig Wittgenstein sê dat hy nog nooit van iemand gehoor het wat tot geloof in God as gevolg van ‘n argument gekom het nie. Rasionele argumente het ‘n plek in apologetiek, maar ek kan glo dat God bestaan sonder dat my lewe verander. Dit is nie bekering of ware geloof nie. Jakobus 2:19: Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs. Daar is ‘n wêreldse verskille tussen rasionele aanvaarding en persoonlike transformasie.

Bekering is die taak van evangelisasie – die apologetiek berei die weg vir bekering voor deur te wys dat dit sin maak om in God te glo. Ons mag dalk nie kan bewys – in die absolute rigiede sin van die woord –  dat daar ‘n God is nie, maar ons kan wel daarop wys dat dit beslis redelik is om te glo dat God bestaan. Dit maak meer sin van die lewe, geskiedenis en ons ondervindings as enigiets anders. Dan kan ons iemand uitnooi om op hierdie liefdevolle Vader te reageer en op sy beloftes te vertrou.




Geloof is net die begin

I see it all perfectly; there are two possible situations—one can either do this or that. My honest opinion and my friendly advice is this: do it or do not do it—you will regret both.  – Soren Kierkegaard

Geloof is net die begin

Die president van World Vision, Richard Stearns, se nuwe boek Unfinished is pas gepubliseer. Daarin sê hy dat kerkleiers mense uitdaag, maar dit is nie genoeg nie. In sy boek verwys hy na die “verloor-sindroom.” Wat is dit? Dit is wanneer mense sê dat hulle nie slim of geestelik of vaardig genoeg is om ‘n verskil in die wêreld te maak nie.

“Daarom gaan ek net ‘n goeie lewe leef, elke dag werk toe gaan, aftree en gholf speel. Ek is verlos en sal eendag as ek doodgaan hemel toe gaan”. Daar is ‘n neiging by vandag se Christene  dat hulle die werk vir die professionele mense– die leraars en betaalde amptenare – moet los.

Hy glo daarom dat ons die mense wat in die kerkbanke sit, moet leer om te verstaan dat om te glo slegs die begin is. As mense nie hulle hele lewe op hierdie fondament van Christelike geloof bou nie, kompartementaliseer hulle altyd hulle lewens. Dan is hulle nie doeltreffend as Christene nie.

God wil nie mense wat nie toegewyd is, gebruik nie. God nooi ons uit, maar ons moet antwoord. Ons moet vir Jesus Christus sê: “Hier is al die dinge in my lewe: my geld, huis, beroep, vaardighede. Gebruik dit.” Baie mense sê dat hulle ‘n verskil vir God wil maak. Maar hoekom sal God jou gebruik as jy nie eers die eenvoudige dinge doen nie – dinge soos gehoorsaamheid, Bybelstudie en gebed. As jy hierdie klein dinge doen, sal God jou groter geleenthede om te dien, gee.

In die kerk praat ons graag oor die korrekte leer. Hoeveel aandag gee ons aan hoe hierdie leer ons gedrag moet beïnvloed. Ons is baie goed om die Skrif deeglik te verduidelik, maar die oproep-gedeelte laat ons uit. Ons moet die Skrif so toepas dat die lewens verander. Ons moet hoër verwagtings aan volgelinge van Jesus stel.

Hoekom gebeur dit? Kerkleiers is so behep om ‘n instelling te bou in plaas daarvan  dat hulle ‘n revolusie lei. God het ons geroep om ‘n revolusie te lei. Instellings kan gebruik word om die revolusie te steun, maar dit is nie die primêre doel nie. Ons doel is nie om ‘n groter kerk wat meer gemaklik vir mense is, te bou nie.

Hy glo dat een ding wat die kerk moet besef, is dat ons nie genoeg doen nie. God het ons geroep om die wêreld te verander. En wat doen ons? Ons sit in ons groot kerkgeboue en kyk na PowerPoint skyfies. (Dit is goed gestel.)




Het ons ons godsdiens afgewater? Glo eis verkondiging

. —Thomas Watson

Het ons ons godsdiens afgewater? Glo eis verkondiging

Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se  Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie.

As ek Jesus Christus volg, glo ek in Hom; as ek in Hom glo, moet ek Hom verkondig.. ‘n Private geloof is tog ondenkbaar, maar tog is dit iets wat ons vandag baie algemeen kry.

Hoe dikwels hoor ons nie: “Ek aanvaar dat Jesus Christus my verlos het en dat sy Woord in my werk, maar wie is ek om vir ander te sê wat hulle moet glo. Ek kan tog nie vir hulle sê my geloof is reg en hulle s’n is verkeerd nie.” Klink nogal bekend.

Jesus Christus was nie net ‘n uitstaande Leermeester nie. Hy is ons Verlosser en Koning; Hy is die opgestane Here. Net Hy het vir die ewigdurende verlossing betaal. Ek moet mos vir ander hiervan vertel. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê (Galasiërs 2:20). Net voor sy hemelvaart verskyn Jesus aan sy dissipels en sê vir hulle: Die Christus moes ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word (Lukas24:46 – 47). Dit is duidelik dat dit goeie nuus is en nuus moet verkondig word.

Die verbasendste belofte in die Bybel is seker Johannes 15:7: As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. Maar wat is die konteks hier? Kort vantevore het Jesus met sy dissipels oor sy kruisdood gepraat. Maar Hy belowe hulle dat die Vader vir hulle ‘n ander Voorspraak sal stuur wat vir ewig by hulle sal wees – die Heilige Gees. Hy sê dat die Heilige Gees in en by ons sal wees. Hy sal ons alles leer en ons herinner aan alles wat Jesus vir ons gesê het.

Die Heilige Gees gaan ons bemagtig om uit te gaan en dissipels te maak. Jesus belowe dus hier dat Hy vir ons alles sal gee wat ons nodig het om uit te gaan en sy Woord te verkondig en dissipels te maak. Hierdie belofte sal God waar maak.

Die volgende vraag is of ons as dienaars of as kinders uitgaan. Daarna kyk ons die volgende keer.