Stry vir die geloof

Ah! if there be degrees in glory, they will not be distributed according to our talents, but according to our faithfulness in using them. —C.H. Spurgeon

Stry vir die geloof

Geliefdes, ek was vas van plan om aan julle te skrywe oor die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het (Judas :3).

Baie van ons ouer mense het groot geword in ‘n kerk wat die tweede gedeelte van die vers baie ernstig opgeneem het: stry vir die geloof. Dit is wat Judas in die res van hierdie kort briefie doen – hy stel die vals leraars aan die kaak. So ons stry vir ons geloof; ons behou die goeie leer; ons waak oor ons teologie. Die opdrag kan ons nie sommer ligtelik opneem nie – ons moet dit gehoorsaam.

Maar dit is nie wat Judas beplan het om te skrywe nie. Waaroor hy wou geskryf het, was iets wat hom en sy lesers verheug het – die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou moet hy ‘n brief skryf wat nie so aangenaam is nie, maar vir die heil van sy lesers was dit belangriker.

Nou ‘n vraag vir diegene van ons wat hou van ‘n gesonde leer: Is ons nie maar net ywerig om ander Christene se teologie te polisieer nie? Is ons nie stilweg bly as ons foute ontdek nie? Of is ons gretiger om te juig oor dit wat ons met ander Christene in gemeen het? Waar lê ons diepste vreugde?

Kyk na Jesus

It is not your hold of Christ that saves, but his hold of you! —C.H. Spurgeon

Kyk na Jesus

Die skrywer van Hebreërs skryf aan mense wat vir een of ander rede sukkel met hulle geloof. Hulle is nie teen Jesus nie, maar hulle geloof het afgekoel. Om vir Jesus te volg, het vir hulle moeilik geword.

Baie van ons weet hoe dit voel. Miskien het ons vrae waarvoor ons nie antwoorde het nie; miskien sukkel jy met versoekings; miskien is jy eensaam of het jy seer. Toe ons aanvanklik na Jesus toe gekom het, was dit opgewondenheid en vreugde – nou is dit ‘n spanning.


In Hoofstuk 2 kom die skrywer by die tema van die hele boek: Kyk na Jesus. Hy teken vier beelde van Jesus Christus:

  • Hy is ‘n Koning wat betrokke is;
  • Hy is ‘n Kampioen wat red;
  • Hy is ‘n broer wat nie skaam is nie; en
  • Hy is ‘n Priester wat kan help.


Die skrywer sê nie wat met ons verkeerd is en gee ‘n streng opdrag dat ons dinge self moet regstel nie. Hy sê dat ons na Christus moet kyk en na wat Hy reeds vir ons gedoen het. Dit is die verskil tussen godsdiens en die evangelie. Godsdiens sê vir ons wat verkeerd is en hoe ons dit moet regmaak; die evangelie sê vir ons wat Jesus reeds gedoen het en sê ons moet daarvolgens lewe. Godsdiens verander as gevolg van ‘n opdrag; die evangelie verander deur wat ons sien.

 

Waarmee sukkel jy? Is jy moedeloos, wanhopig, alleen, ontmoedig oor jou sonde … Wat jy nie nodig het nie, is wilskrag of ‘n nuwe opdrag of nuwe motivering nie. Wat jy nodig het is ‘n Verlosser wat jy kan vertrou – ‘n toevlug. Kyk na Jesus.

 

Ons hoor altyd dat ons onsself moet ken – ons krag lê in ons. Die Bybel sê: “Moenie na binne kyk nie. Leer Jesus ken.” Baie kerke sê: “Ontdek jou potensiaal. Ontdek die kampioen in jou.” Die Bybel sê dat jy die Kampioen in die Skrif moet ontdek. Om in sy oorwinning te rus, is belangriker as om jou potensiaal te ontdek.

 

As ons Jesus sien vir wie Hy werklik is, sal ons lewe verander. Hou vas aan Hom. Die Bybel het een teenmiddel vir alle geestelike siektes: Kyk na Jesus.




Toets God ons geloof?

Toets God ons geloof? – Francois Malan

Henriette vra:

Toets God ons geloof?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Ps 26:2 vra die digter ‘Toets my, Here, keur my, ondersoek my deur en deur.’

In Ps 17:3 bely die digter ‘As U my sou toets, my selfs in my slaap sou ondersoek, my deeglik sou keur, sou U niks verkeerds vind nie.’

Die woord ‘toets’ word gebruik vir die suiwering van silwer en goud in die vuur, vgl. Ps 66:10 ‘U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer’ .

In Daniël 12:10 sê die groot engel vir Daniël: ‘Baie mense sal gesuiwer, gereinig en gelouter word, maar die goddeloses sal goddeloos bly…’

1 Petrus 1:5-7: ‘En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings, sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.’

1 Petrus 4:12,13,16: ‘Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid…wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as die draer van daardie naam moet hy God verheerlik.’

Jakobus 1:3,5 ‘My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.’

Jakobus 1:12-15 ‘Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinnaarsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.

Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.’

Lees ook Hebreërs 12:4-13. Vers 6: ‘…want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem…’ 10b-11: ‘…Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel. Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.’

In Romeine 8:17b sê Paulus: ‘…Aangesien ons deel het aan Christus se lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.’

Hebreërs 5:8,9 sê van Christus: ‘…Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword…’

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Is liefde belangriker as geloof en liefde?

Is liefde belangriker as geloof en liefde? – Francois Malan

Yolande vra: 

In Korintiërs sê dit liefde is belangriker as geloof en hoop. Beteken dit dis okay om nie te glo nie, solank jy liefde leef? Ek was al by soveel begrafnisse waar die persoon wat dood is goed gepraat word. Dan sê die predikant X se lewe is gekenmerk deur liefde, maar sê niks oor sy/haar verhouding met Jesus nie. Dis vir my hartseer.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

1 Kor.13:13 sê: ‘en nou bly geloof, hoop en liefde, hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.

In hoofstuk 13 het dit eintlik gegaan om die genadegawes wat tydelik is en ophou, teenoor die liefde wat vir altyd bly, en tot in ewigheid. Skielik noem Paulus geloof en hoop saam met die liefde, omdat dit die drie dinge is wat ons geestelike lewe opsom:

Geloof = vertroue op God; dat Hy ons vergewe en ons aanneem as sy kinders vir wie Hy sorg; omdat ons in sy Seun Jesus Christus glo, vertrou op sy offer vir ons sondes en op sy opstanding waardeur ons ook die ewige lewe ontvang. Die geloof is egter ‘n gawe van God, wat die Heilige Gees in ons bewerk.

Hoop = die verwagting van die ewige lewe saam met God, wat Christus vir ons waarborg deur sy Gees wat in ons kom woon het. Die Gees is God se waarborg dat ons sy kinders sal bly deur daagliks sy leiding te volg met die krag wat Hy vir ons gee om te lewe.

Liefde = is die verhouding van die Vader en die Seun en die Gees met mekaar (God is liefde, 1 Joh. 4:7-21). God het in ons kom woon met sy Gees, sodat ons ook kan begin liefhê: vir God en vir mekaar, selfs vir ons vyande (Matt.5:43-48), soos die Vader en die Seun en die Gees mekaar liefhet. Uit ons eenheid met mekaar kan die wêreld sien dat God ons liefhet (Joh.17:20-23).

Die spanning van die geloof wat nog nie sien nie, gaan egter ophou as ons by God kom, want dan sal ons Hom ten volle ken soos Hy ons ten volle ken (1 Kor.13:12).

Ook die spanning van die hoop op wat ons nie sien nie (Hebr.11:1), gaan ophou as ons die ewige erfenis van God ontvang in die hemel.

Maar die liefde bly tot in die ewigheid, as die verhouding tussen die mense van die God van liefde, en tussen God en sy kinders – niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus wat die Here oor ons lewe is nie (Rom.8:39).

As Jesus in Matteus 25:34-40 vertel van die oordeelsdag, sê Hy niks oor die geloof in Hom nie, maar praat Hy oor die persoon wat die erfenis van die ewige lewe ontvang se liefdesdade. Dit is die bewys dat ons in Hom glo en op Hom hoop.

 

Skrywer: Prof Francois Malan