Geloofsvrae: Gawes en Vrug

Geloofsvrae: Gawes en Vrug – Adrio König

Gawes én vrug

Dit kan vreemd voorkom dat die beroemde hoofstuk oor die liefde (1Kor 13) die twee hoofstuke oor die gawes verdeel (12 en 14). Daar is selfs gepraat van velle papirus wat deurmekaar geraak het, ‘n moontlikheid wat seker nie in beginsel buite beskouing gelaat kan word nie en soms ook aangebied word as oplossing vir vreemde volgordes in die Johannesevangelie.

 

In hierdie geval is dit egter heeltemal onvanpas omdat dit die presiese punt verduister wat Paulus wil maak. Die probleem in Korinte was dat die gawes onenigheid en jaloesie veroorsaak het. Dit is presies die teendeel van wat hulle bedoel is om te doen. Die probleem het gekom omdat daar kompetisie ontstaan het oor wie se gawe die belangrikste is. Daarteenoor stel die apostel dan `die allerbeste,’ die liefde. Die manier waarop die gawes in die gemeente moet funksioneer is in liefde. En ons weet die liefde is die belangrikste deel van die vrug van die Gees, en Paulus verwys inderdaad ook in hierdie hoofstuk na sommige van die ander elemente van die vrug: geduld en vriendelikheid, blydskap, en impliseer verder ook nederigheid en vrede. Wat hy dus eintlik doen, is om as deel van die bespreking van die gawes, die vrug ter sprake te bring as die onontbeerlike atmosfeer waarbinne die gawes moet funksioneer om die gemeente te bou en nie te breek nie. Dit maak die liefdeshoofstuk wesenlik deel van die hoofstukke oor die gawes, want gawes en vrug hoort bymekaar.

 

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer : Prof Adri König




Geloofsvrae: Die verhouding gawes-vrug

Geloofsvrae: Die verhouding gawes-vrug – Adrio König

Die verhouding gawes-vrug

Gawes óf vrug?

Daar is in sekere kringe ‘n neiging om die vrug en die gawes van die Gees as alternatiewe te sien en dan een van die twee te kies en die ander te verwaarloos. Dit kom gewoonlik voor in kerklike kringe wat ‘n reaksie het teen die gawes of die gawes wil beperk tot die tyd van die NT.

 

Daar het ‘n hele teologie ontwikkel om hierdie posisie te probeer regverdig, die sg. streepteologie. Hiervolgens was die gawes net bedoel vir die vroeë Christene toe die kanon nog nie finaal vasgestel was nie. Dit word afgelei uit 1Kor 13:10, waarvolgens die gawes, wat die onvolmaakte dinge genoem word, sal verdwyn `wanneer die volledige kom.’ Normaalweg word aanvaar dat dit wys op die wederkoms van Christus. Die gawes sal dus tot by sy koms aanhou.

 

Die argument teen die voortgang van die gawes meen egter dat `die volledige’ die volledige Bybel is, die kanon. Dié het teen die middel van die vierde eeu finaal beslag gekry, en die gawes sou dan inderdaad gedurende hierdie vroeë eeue opgehou het.

Dit is ‘n kwalike beskouing met min goeie gronde. Die verband spreek sterk teen dié verklaring van `die volledige.’ Direk daarna (vers 12) werk die apostel met ‘n teenstelling tussen `nou en eendag’ waar `eendag’ duidelik nie na die afsluiting van die kanon kan verwys nie maar na die voleinding van die wêreld. Daar is ook geen goeie teologiese rede waarom die gawes moet ophou voor die voleinding van die ou wêreld nie. Die funksionering van die gemeente word so beslissend aan die gawes verbind dat ‘n gemeente sonder gawes ‘n anomalie is. Verder is dit duidelik dat die gelowiges inderdaad die soort gawes waarna in die NT verwys word, in hierdie bedeling sal nodig hê .

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Christus-Gees – ’n ryk gevarieerde verhouding

Geloofsvrae: Christus-Gees – ’n ryk gevarieerde verhouding – Adrio König

Christus-Gees – ‘n ryk gevariëerde verhouding

Dit is nie maklik om die verhouding tussen Christus en die Gees te beskryf nie. Hulle word op ‘n merkwaardige manier afgewissel. Die gelowiges is in Christus (Rom 8:1) én in die Gees (Rom 8:9 OAV), Christus woon in die gelowiges én die Gees woon in hulle (Rom 8:10,11), die gelowiges praat deur Christus en deur die Gees (letterlik in 2Kor 2:17 en 1Kor 12:3), hulle is vrygespreek in die Naam van Jesus én deur die Gees (1Kor 6:11), hulle is in Christus geheilig (afgesonder) én deur die Gees geheilig (1Kor 1:2; Rom 15:16). Dit is dus onmoontlik om Christus en die Gees van mekaar los te maak en twee aparte lewens te laat lei. Hulle is onafskeidelik aan mekaar verbonde sodat Paulus kan skryf: `As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie’ (Rom 8:9). In die tyd tussen Christus se hemelvaart en sy wederkoms doen hulle dieselfde werk. Die Een is in en saam met die ander Een teenwoordig.

In hierdie sin is dit ‘n oorvereenvoudiging om te sê die Gees kom die heil toepas wat Christus vir ons verdien het. Enersyds maak dit die Gees los van Jesus se aardse bediening terwyl ons gesien het die Gees was stap vir stap by Jesus betrokke, en andersyds skep dit die indruk dat die Gees op sy eie, sonder die betrokkenheid van Christus, die heil in ons lewens en in die wêreld indra. Ons het reeds gesien dat dit wat van die Een gesê word, ook van die ander Een geld.

Net vir die interessantheid sou ‘n mens ‘n lysie kon maak van funksies wat ons gewoonlik aan die Gees toeskryf, maar wat in die NT net sowel deur Christus gedoen word: bekering (Hand 9:3ev), heiligmaking (1 Kor 1:30; Kol 1:22), sending (Mat 28:18-20; Rom 1:5), die opbou van die gemeente (Ef 4:15-16; Kol 2:6-7), die besondere ampte en hulle werk (Ef 4:11ev).

Om dit op te som sou ‘n mens kon sê Christus is teenwoordig in, en werk deur, die Heilige Gees op so ‘n wyse dat die teenwoordigheid en werk van die Gees tegelyk die teenwoordigheid en werk van Christus is.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Christus werk voort op aarde – deur die Gees

Geloofsvrae: Christus werk voort op aarde – deur die Gees – Adrio König

Christus werk voort op aarde – deur die Gees

Die tweede fout wat ons soms maak, is om te dink dat Christus se hemelvaart sy vertrek was en dat Hy die Gees gestuur het om Hom te vervang. Die hemelvaart het nooit in die NT die betekenis dat Jesus vertrek en dat Hy ‘n plaasvervanger sal stuur nie. Trouens soos die maagdelike geboorte en begrafnis van Christus, is ook sy hemelvaart nie een van die uitstaande gebeurtenisse in sy lewe waaraan besondere heilsbetekenis toegeken word nie.

Sommige Evangelies verwys na die hemelvaart van Jesus, ander nie, maar almal lewer sterk getuienis dat Hy self sy werk op aarde voortsit. Die laaste woorde van Matteus is: `En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld’ (28:20). Alhoewel Johannes na die hemelvaart verwys (20:17 – waarskynlik het hy nie ‘n hemelvaart in gedagte soos Lukas nie, maar eerder dat Jesus tussen hemel en aarde beweeg), gaan hy voort om van Jesus se teenwoordigheid en werk onder sy dissipels te vertel (20:19ev). Lukas, wat die meeste nadruk op die hemelvaart lê (24:50-53; Hand 1:9-11; 1:22; 2:33; 3:21), verwys ook die meeste na die Here Jesus wat sy werk op aarde voortsit (o.a. Hand 2:47; 9:3ev; 16:14).

Daar is dan ook oorvloedige verwysings na Christus se voortgaande teenwoordigheid en werk op aarde, soos dat Hy deur die geloof in ons harte woon, en dat ons aan Hom verbonde, in Hom gewortel, en op Hom gebou is (Ef 3:17; Kol 2:6-7). Dit bevestig trouens ook sommige van die beloftes wat Hy aan sy dissipels gegee het: `Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe,’ en dat Hy en die Vader by hulle sal kom woon (Joh 14:18; 23).

Trouens die teenwoordigheid van Christus in die nagmaal, waaroor ons heeltemal te simbolies dink, is ‘n sterk getuienis dat Hy werklik by ons is. Hy is die gasheer aan die tafel. Dit beteken ook dat ons die woorde van Jesus dat daar ‘n tyd sal kom wanneer die bruidegom weggeneem sal word (Mark 2:20), nie op hierdie tyd na Pinkster moet toepas nie, maar miskien eerder op sy begrafnis.

Dit is ‘n baie interessante vraag hoe ons sy teenwoordigheid op aarde moet verstaan. Hy is nie by ons soos Hy by die dissipels was tydens sy aardse bediening nie. Hy is nie só by ons dat ons Hom kan sien en aanraak nie. Hy is onsigbaar teenwoordig, wat ook beteken Hy is in die geloof teenwoordig. Maar dit geld natuurlik ook van die Gees. Ons kan wel Christus en die Gees se werk sien: mense wat tot geloof kom, mense wie se lewens verander, gawes wat Hulle aan mense gee om die gemeente op te bou, maar Hulleself is nie sigbaar nie. Miskien is dit die betekenis van die hemelvaart van Jesus: dat Hy voortaan onsigbaar op aarde sal werk. En dan beteken dit juis dat Hy voortaan deur die Gees sal werk.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König