Geloofsvrae: Die Gees werk deur Christus

Geloofsvrae: Die Gees werk deur Christus – Adrio König

DIE HEILIGE GEES

Die verhouding tussen die Gees en Christus

Die Gees het deur Christus gewerk

Waarom is die hoofstuk oor die Heilige Gees die kortste van al die hoofstukke? Is dit ‘n teken dat ons eintlik verleë is oor die werk van die Gees? Oor Jesus skryf ons so baie, en oor die Gees so min?

 

Nee, die teendeel is waar. Ons het soveel oor die Gees te sê dat ons dit nie in een hoofstuk kan inkry nie. Sowel die heil as die kerk is alles die werk van die Gees. Die hoofstuk oor die Gees en sy werk sou dus ons langste hoofstuk gewees het as ons dit nie onderverdeel het nie. Trouens uit wat nou volg, sal dit duidelik word dat ons selfs die hoofstuk oor Christus onder die werk van die Gees sou kon indeel. Dit is immers die Gees wat tydens Jesus se aardse optrede deur Hom gewerk het.

 

As ons oor die Gees begin dink, maak ons gewoonlik twee foute: ons begin te laat oor Hom dink – asof Hy eers begin werk het na sy uitstorting op die Pinksterfees, en ons dink Hy is met Pinkster uitgestort om die afwesige Christus te vervang.

Die skrywers van die NT is enersyds duidelik daaroor dat die Gees alreeds tydens Jesus se aardse bediening deur Hom gewerk het, en andersyds dat Christus – ook ná sy hemelvaart – deur die Gees op aarde teenwoordig is en werk. Daar is dus ‘n baie ryk en gevarieerde verhouding tussen die Gees en Christus, en sommige praat selfs van ‘n bepaalde identiteit tussen hulle (2Kor 3:17).

Dit is waar dat Christus ná Pinkster deur die Gees werk, maar dit is net so waar dat die Gees voor Pinkster deur Christus gewerk het. Die NT het heelwat verwysings daarna. Die Heilige Gees neem die inisiatief by Jesus se geboorte, doop en versoeking. Jesus begin sy openbare bediening `vol van die krag van die Gees,’ en kondig sy `werksprogram’ aan met verwysing na die Gees wat op Hom is. Dit is deur die krag van die Gees dat Hy duiwels uitdryf. Hy jubel deur die Gees. Christus het Homself deur die Gees aan God geoffer. Die Gees het Christus uit die dood opgewek en Hom daardeur aangewys as die Seun van God. Voor sy hemelvaart gee Christus deur die Gees bevele aan sy dissipels (Mat 1:20; 3:16; 4:1; Luk 4:1,14,18; Mat 12:28; Luk 10:21; Heb 9:14; 1Pet 3:18; Rom 1:4; Hand 1:2). Dit is opvallend dat die skrywers van die NT tydens byna elke hoogtepunt in Jesus se lewe na die werk van die Gees verwys. Ons sou daaruit kon aflei dat Jesus se hele lewe onder die heerskappy van die Gees gestaan het, en sy hele bediening deur die krag van die Gees uitgevoer is.

Hierdie besondere verhouding tussen die Gees en Christus het al vroeër, in die verwagting van sommige profete, ‘n rol gespeel. Veral in Jesaja lees ons dat die Gees op die dienaar van die Here sal wees. Die Gees sal rus op die takkie uit die stomp van Isai; die Gees van God sal op die dienaar van die Here kom juis wanneer daar sprake daarvan is dat Hy die wil van die Here aan die nasies sal bekend maak; later hoor ons dat die Gees van die Here op die dienaar sal kom juis as daar van die salwing van die dienaar sprake is (Jes 11:1-2; 42:1; 61:1).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die Gees as eskatologiese gawe

Geloofsvrae: Die Gees as eskatologiese gawe – Adrio König

Die Gees as eskatologiese gawe

In hierdie lig is dit nie vreemd dat die skrywers van die NT beklemtoon dat die Gees, net soos Jesus, in die laaste dae gekom het nie. Immers Jesus Christus is self die einde en die einddoel van al God se werke. Hy is in die laaste dae gebore en sy opstanding is die begin van die algemene opstanding aan die einde. Die Gees wat direk met Hom en sy werk in verband staan, is dus self ‘n eskatologiese (eindtydelike) gawe.

Die feit dat óók die Gees in die laaste dae gekom het, word op ‘n opvallende manier beklemtooin in Petrus se preek op die Pinksterdag. Sy teks kom uit Joël wat profeteer dat die Here sy Gees op ‘n besondere wyse sal stuur (2:28). Maar Petrus maak ‘n toevoeging tot die teks: In die laaste dae sal God sy Gees stuur (Hand 2:17). Hy beklemtoon dit dus dat die Gees, netsoos Jesus self, in die laaste dae gekom het.

Dit word bevestig deur twee begrippe wat Paulus vir die Gees gebruik: waarborg en eerste gawe.

Die Gees word drie keer ons waarborg genoem. Ons lees dat God `die Heilige Gees in ons harte gegee het as waarborg van wat ons nog sal ontvang,’ en `die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het’ (2Kor 1:22; 5:5; Ef 1:14).

Ons ken die betekenis van waarborg goed genoeg. Dit maak die transaksie vas en seker. Maar wat ons gewoonlik nie weet nie, is dat waarborg in die ou tyd selfs meer beteken het. Vandag verloor ‘n mens net die waarborg (deposito) wat jy gegee het as jy nie met die transaksie voortgaan nie, maar in daardie tyd was jy deur die wet verplig om die transaksie af te handel. Deur ‘n waarborg te gee, het jy jouself dus gebind om die hele koopsom te betaal. Merkwaardig! Deur aan ons die Gees te gee, het God Homself verbind om ons die volle erfenis te gee wat Hy aan ons beloof het.

Maar daar is nog meer op die spel. Die Gees is ook God se eerste gawe aan ons (Rom 8:23). Die OAV en baie ander ou vertalings vertaal met `die eerste gawe van die Gees’ wat ‘n mens verkeerdelik kan verstaan asof ons nog net ‘n bietjie van die Gees ontvang het. Die betekenis is dat die Gees die eerste gawe is van die volle oes. Die agtergrond lê in die OT.

Skynbaar was daar twee offers wat albei `die eerste gawe’ genoem is: die offer wat die Israeliet moes bring wanneer die oes ryp op die land gestaan het, dus aan die begin van die oes, en die offer aan die einde wanneer die oes ingesamel is (o.a. Eks 23:16,19; 34:22,26; Lev 2:12-14; 23:10-20). Dit is selfs moontlik dat die een op die Joodse Paasfees, en die ander een op die Joodse Pinksterfees gebring moes word.

In hierdie lig is dit nie vreemd dat Jesus self ook die eerste gawe genoem word nie (NAV: `eersteling’ 1Kor 15:20-23). Is Hy dan nie op die Paasfees geoffer, en die Gees op die Pinksterfees uitgestort nie? Die eerste offer is gebring wanneer die oes ryp was op die land, en die laaste offer wanneer die oes klaar ingesamel is. Jesus sê dus die oes is gereed, en die Gees sê die oes is ingesamel en word veilig in die hemel bewaar (1Pet 1:4) sodat ons dit op die bestemde tyd sal ontvang.

Die Gees as eerste gawe sê dus: die oes is ingesamel, die heil is gereed, God se doel is bereik, begin dit solank geniet: die vrede wat Christus vir julle by God en onder mekaar verwerf het. Dit is eenvoudig ‘n ander manier om te sê dat God se doel wat Christus vir ons bereik het, nou deur die Gees in ons bereik word, op pad na die dag wanneer Christus dit by sy wederkoms ook met ons sal bereik (61).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Jesus se hemelvaart

Geloofsvrae: Jesus se hemelvaart – Adrio König

Sy hemelvaart

Christus se hemelvaart is nie een van die maklike sake in die NT nie. Die verhaal self word net deur Lukas vertel (24:50ev; Hand 1:9ev), maar daar is tog heelwat verwysings en terloopse opmerkings soos dat Jesus weggaan of na die Vader gaan, wat die hemelvaart bevestig of veronderstel. Die werklike probleme is dat die ander evangelies dit nie direk vermeld of veronderstel nie en dat ons vandag moeite het om ons dit voor te stel.

Matteus eindig sy verhaal met die bekende sendingopdrag ingebed tussen die aanspraak van Jesus dat alle mag aan Hom gegee is, en die versekering dat Hy altyd by die dissipels sal bly (28:18ev). Daar is geen verwysing na die hemelvaart nie. Johannes eindig met Jesus in gesprek met Petrus sonder enige aanduiding dat daar ‘n skeiding op hande is. En die verwysing in Markus 16:9ev is onseker omdat dit skynbaar nie oorspronklik deel van Markus was nie, maar ‘n opsomming is van die belangrikste sake in die ander Evangelies wat later by Markus gevoeg is.

Wat ons moderne situasie betref, is dit in terme van ons huidige kennis van die heelal moeilik om jou in te dink dat Jesus opstyg om hemel toe te gaan. Daar is nie ‘n bo en ‘n onder in die heelal nie, sodat die hemel nie eintlik ‘n plek iewers `daarbo’ kan wees nie.

Dit beteken dat ‘n mens eerder moet kyk na die betekenis van die hemelvaart as na die voorstelling wat Lukas daarvan gee. En dan moet ons sê dat die hemelvaart nie beteken dat Jesus weg is nie. Daarvan getuig selfs Lukas self as hy sê dat die Here (Jesus) elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg het (Hand 2:47). Jesus se hemelvaart moet dus eerder te doen hê met die manier waarop Hy nou by die gemeente teenwoordig is en werk, as met die feit van sy afwesigheid. Sy hemelvaart beteken dat Hy in ‘n verheerlikte vorm, of deur die Gees, by die gemeente is. Ons het dus nie in die Gees Iemand wat in die plek van Jesus by ons is of wat Jesus by ons verteenwoordig nie, maar Jesus self wat op ‘n nuwe manier by ons is.

Daarvan getuig ook die feit dat die kerk Christus se liggaam genoem word. As ons sy liggaam is, beteken dit dat Hy – as die Hoof, d.i. die kop – by sy liggaam teenwoordig moet wees. Dieselfde insig vloei voort uit die feit dat ons in die nagmaal meer as net tekens of simbole van Hom het, maar soos ons belydenis sê, dat ons deur die geloof sy liggaam eet en sy bloed drink, terwyl Hyself die gasheer is wat ons aan die tafel voed en laaf.

Maar dan kan Jesus se wederkoms ook nie ‘n terugkoms na ‘n (lang) afwesigheid wees nie, maar eerder nog ‘n keer ‘n ander manier waarop Hy teenwoordig is.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die leë graf

Geloofsvrae: Die leë graf – Adrio König

Die leë graf

Mense wat die leë graf ontken, ontken nie noodwendig die opstanding van Christus nie. Hulle kan nog altyd aanvaar dat Hy in ‘n verheerlikte liggaam opgestaan het wat nie die voortsetting van sy gestorwe liggaam is nie, maar ‘n nuwe skepping van God.

Daar is ‘n paar redes waarom mense huiwer oor die gedagte dat Jesus se graf na sy opstanding regtig leeg was.

Allereers is daar groot verskille tussen die verhale oor die leë graf (Mat 28:1-10; Mark 16:1-8; Luk 24: 1-12; Joh 20:1-18). Die verskille is so groot dat dit waarskynlik nie moontlik is om hulle in harmonie te bring en een samehangende verhaal daaruit op te stel nie. Dit is egter bekend dat die Evangelies oor ander sake ook verskil, maar die verskille is dikwels juis getuienis ten gunste van die historisiteit van die verhale.

‘n Sterker argument is dat Jesus se opstanding nie beteken het dat Hy maar net weer lewendig geword het nie. Hy het deur die dood heengegaan, Hy het die dood oorwin, Hy het in ‘n ander, nuwe, verheerlikte lewe opgestaan wat nie noodwendig ‘n kontinuering van sy ou lewe is nie. Die vergelyking wat Paulus tref tussen die gestorwe liggaam van Christus en sy opstandingsliggaam, is eintlik ‘n skerp kontras, so skerp dat hy selfs kan sê `die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie’, en `’n natuurlike liggaam word gesaai, en ‘n geestelike liggaam word opgewek’ (1Kor 15:50, vgl verse 42-49). Dit kan dus beskou word as ‘n vermenging van twee kontrasterende sfere om te dink die `natuurlike’ liggaam kan aan die heerlikheid deel kry, dus dat Jesus in sy fisiese liggaam opgestaan het.

Dit is nie ‘n slegte argument nie, maar dis te `Grieks’ en te min `Joods.’ Dit gaan te sterk van die veronderstelling uit dat die persoon losgemaak kan word van die liggaam. Immers almal sal saamstem dat dit dieselfde persoon is wat opgewek word. God het nie ‘n ander, nuwe persoon geskep en Hom toe ook Jesus genoem nie. Die OT dink te sterk aan die hele mens as begrippe soos liggaam of siel ter sprake is. Dit is in terme van die OT se mensbeeld nie moontlik om te aanvaar dat ‘n mens opgestaan het as sy of haar liggaam nog in die graf is nie. Net die `Grieke’ kan só dink.

As Paulus die opstandingsliggaam bespreek, is hy nie besig om ‘n `onderdeel’ van die mens te bespreek, maar niks oor die ander dele te sê nie. Soos in Rom 12:2 verwys die liggaam na die hele mens vanuit ‘n bepaalde perspektief. As dit nie waar was nie, kon hy nie gesê het die hele evangelie is op die spel as die liggaam nie opgewek is nie. Dan sou dit wel jammer gewees het as ‘n mens sonder een van jou `dele,’ jou liggaam, die heerlikheid moes ingaan, maar dan was die belangrikste `deel,’ die siel, tog in elk geval gered en die belangrikste deel van die evangelie tog behou (dis nou as ‘n mens die evangelie `Grieks’ wil verstaan). Maar in terme van die OT se mensbeskouing het Jesus nie opgestaan as sy liggaam nog in die graf was nie. Daarom is dit teologies onaanvaarbaar om die leë graf te ontken.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König