Geloofsvrae: Jesus Christus: Aardse optrede (5)

Geloofsvrae: Jesus Christus: Aardse optrede (5) – Adrio König

Selflose diens

‘n Ander aangrypende faset van Jesus se aardse optrede is sy nederige diens.

Die eis van selflose diens wat Jesus aan sy volgelinge stel, is baie hoog. Daar is ‘n sin waarin Hy byna deurgaans die OT radikaliseer. Dele van die bergrede is goeie voorbeelde. Hy eis dat ons getrouheid aan die wet meer inhou as dié van die Fariseërs. Dit beteken dat ons nie net die agste gebod oortree as ons letterlik iemand vermoor nie. Ons kan iemand met ons oë of met ons woorde vermoor. Ons oortree nie net die sewende gebod deur fisiese onsedelikheid nie, maar deur met ons oë en in ons gedagtes onrein te wees. In plaas van die OT se beginsel van ‘n oog vir ‘n oog, vra Jesus dat ons ook die ander wang sal draai. In plaas van een kilometer vernederende diens, vra Hy twee. In plaas van om net jou `naaste’ (wat in die OT jou volksgenoot of geloofsgenoot beteken het) lief te hê, vra Hy dat ons ook ons vyande moet liefhê (Mat 5:17-48).

Dit is baie gevra! Is dit nie ‘n bietjie hoog opgegee nie? Weet Hy wat dit kos?

As Hy dit nie self gedoen het nie, kon ons sulke vrae gevra het. Maar omdat Hy dit alles eers self gedoen het, en wel op ‘n baie radikaler manier as wat ons ooit kan hoop om dit te doen, het Hy ons alle reg ontneem om sulke vrae te vra. Ons het ook nie die reg om (in nederigheid!) te bely dat ons nie uit onsself daartoe in staat is nie, omdat Hy ons ou sondige lewe deur die doop van ons weggeneem het (79.2), en ons deel gegee het aan sy nuwe lewe sodat Hy nou in en deur ons leef as ons op Hom vertrou (Gal 2:19ev).

Selflose liefdesdiens sien ons in die lewe van Jesus Christus. Hy wat as die Here volkome aanspraak op ons diens kon maak, het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien, en dan nie deur hier en daar te help nie, maar deur sy lewe te gee as ‘n losprys vir die wat dit nie verdien of werd is nie (Mark 10:45).

Dit is dan ook onvanpas om Jesus se gebod van naasteliefde uit te lê asof dit twee gebooie is (39.5). Jy moet jou naaste liefhê soos jouself beteken nie jy moet jouself liefhê en dan jou naaste ook só liefhê nie. Dít leer ons nie uit Jesus se voorbeeld nie. Daarom behoort Fil 2:4 ook nie te lees nie: `Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.’ In die lewe van Jesus, wat ook hier as voorbeeld aan ons voorgehou word (Fil 2:5ev), sien ons iets anders, iets veel radikaler. Hy het nie eers Homself lief en dan ook ander nie, Hy word nie eers self bedien en dan bedien Hy ook ander nie, Hy dink nie maar net naas sy eie belange darem ook aan ander s’n nie.

Inteendeel. Hy het nie Homself nie, maar ander lief; Hy kom nie om gedien te word nie, maar om self te dien; Hy dink nie aan sy eie belange nie, maar juis aan die van ander. En hierin volg Paulus Hom na: `Ek soek nie my eie belange nie maar dié van ander …’ en vervolg uitdruklik: `Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg’ (1Kor 10:33ev).

Jesus se wonderwerke en sy nederige diens is twee van die belangrikste fasette van sy aardse optrede. In sy wonderwerke tree Hy met mag op teen die Bose, en in sy diens tree Hy met liefde op onder die mense in nood. Dit herinner ons aan God wat in die OT met mag teen sy vyande optree maar sy volk met oorredende liefde probeer wen (10.3, 11 en 16).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Jesus Christus: Aardse Optrede (4)

Geloofsvrae: Jesus Christus: Aardse Optrede (4) – Adrio König

Die duiwel en die bose magte

Die apokaliptiese (`bonatuurlike’) agtergrond van Jesus se prediking en optrede maak ook vir ons duidelik waarom die duiwel in die NT in ‘n nuwe gestalte optree. Ons vergeet soms dat daar tussen die OT en die NT ‘n baie duidelike ontwikkeling was in die siening van die duiwel.

In ons poging om die vreeslike ellende op aarde te probeer hanteer, maak baie van ons graag gebruik van die begrip `toelating’. Die Here laat die duiwel toe om sekere vreeslike dinge op aarde te doen. Die vreeslike dinge is dan die duiwel se skuld, maar die Here `bly in beheer.’ Die Bybelse voorbeeld wat dan skynbaar soos ‘n handskoen pas, is Job. Die Here laat die Satan toe om Job te teister, maar net tot op ‘n sekere punt (Job 1:12; 2:6).

Maar ons besef nie dat dié voorbeeld glad nie meer in die tyd van Jesus toepaslik is nie. Die apokaliptiek sien die Satan en sy bose magte in heeltemal ‘n ander lig. In die OT is die Satan ‘n redelik onskuldige figuur wat maar ‘n paar keer voorkom (Job 1-2; 1 Kron 21:1; Sag 3:1ev). Hy sou met reg die openbare aanklaer genoem kon word. Hy hou die mense op aarde dop, en as hy iets verkeerds vermoed, gaan vertel hy dit vir die Here. Hulle bespreek dan die saak, neem ‘n besluit, en Satan kom voer dit uit (Job 1 en 2). Satan is dan ook ‘n gerespekteerde figuur as een van `die seuns van God’ of hemelwesens.

Daar is ‘n hemelsbreë verskil tussen hierdie figuur en die duiwel en die bose magte wat die lewens van mense vernietig in die tyd van Jesus. Stel jou ‘n oomblik voor dat Jesus eers met die bose magte beraadslaag oor die lewe van die besetene van Gerasa!? Inteendeel! Hier het ons ‘n absolute botsing van twee magte wat radikaal teenoor mekaar staan, ‘n nuwe situasie wat ná die ballingskap ontwikkel het. Daarom kan daar ná Jesus nie meer sprake wees van Job se situasie van onderhandeling tussen God en die duiwel of van God wat die duiwel toelaat nie. Dit sou net so goed wees as om op grond van Eks 4:24-26 vandag nog van Christene te eis om hulle te laat besny.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Jesus Christus: Aardse optrede (3)

Geloofsvrae: Jesus Christus: Aardse optrede (3) – Adrio König

Die wonderwerke

Dit is dus nie vreemd dat die Sinoptiese Evangelies soveel aandag aan Jesus se wonderwerke gee en so dikwels verwys na die koninkryk van God nie. Dit beteken vir ons minstens twee dinge.

Allereers help die model van stryd en oorwinning ons beter as die albeskikkingsmodel of die berustingsmodel om die optrede van Jesus te verstaan. Verder moet ons onthou dat die wonderwerke letterlik plaasgevind het en dat dit verkeerd is om dit maar net te vergeestelik. As ons lees hoe Jesus die storm op die see stilgemaak het (Mark 4:35ev), dink ons so maklik maar net aan al die geestelike `storms’ in ons lewens wat Hy kan stilmaak. En as ons lees van die blinde wie se oë Hy geopen het, dink ons aan ons (of liewer aan ander se) geestelike oë wat blind is wat Hy sal open (Mark 10:46ev).

Natuurlik kan Jesus dit alles doen, maar dit is nie wat sy wonderwerke beteken nie. Hy het letterlike, fisiese wonders gedoen, en dit was nie net ‘n toevallige deeltjie van sy werk nie. Dit was ‘n wesenlike deel wat op dieselfde vlak lê as sy opstanding, ons eie toekomstige opstanding en die vernuwing van die aarde.

Verder het die wonderwerke, insluitende die duiweluitdrywing, nie opgehou met Jesus se hemelvaart nie maar voortgegaan in die vroeë kerk, tydens en na die tyd van die apostels (Joh 14:12ev; Hand 8:6ev; 14:3; 15:12). Dit is ook nie vreemd of uitsonderlik nie, want dit is ‘n wesenlike deel van die evangelie. Trouens die `bonatuurlike’ gawes van die Gees is ‘n wesenlike deel van die normale lewe van die kerk.

Dit beteken egter dat die kerk voor ‘n tergende vraag staan: Wat het van hierdie bonatuurlike, apokaliptiese karakter van die evangelie geword? En dit geld alle kerke, want al is daar bepaalde kerke wat daarop aanspraak maak dat hulle die `bonatuurlike’ karakter van die evangelie beleef (soos gawes, genesing en duiweluitdrywing), is daar geen kerk waarvan ek bewus is waar daar ook maar net naastenby die volle spektrum van die ervaring van die vroeë kerk beleef word nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Jesus Christus: Aardse Optrede (2)

Geloofsvrae: Jesus Christus: Aardse Optrede (2) Adrio König

Die koninkryk van God

Waarvan lees ons meer dikwels in die Sinoptiese Evangelies as van die wonderwerke van Jesus? Byna ‘n derde van die Evangelie van Markus is beskrywings van sy wonderwerke. En in die meeste gevalle sluit dit optrede teen bose magte in. Trouens Petrus kan Jesus se bediening soos volg opsom: Hy het `almal gesond gemaak wat onder die mag van die bose was,’ en Johannes: `Die Seun van God het juis gekom om die werke van die duiwel tot niet te maak’ (Hand 10:38; 1Joh 3:8).

Dit is hoe die apokaliptiek die wêreld verstaan het: die bose het oorgeneem op aarde. Hy het die aarde van God gesteel, die mense se lewens beset, en hy probeer mens en natuur vernietig. Die besetene van Garasa is ‘n sprekende voorbeeld! (Mark 5:1-20) Dit is waarheen die bose magte met die mense op pad is! Die duiwel `beskerm’ met alle mag die buit wat hy van God `afgeneem’ het. Hy is die sterk man (Luk 11:14-22).

Dit beteken dat God se heerskappy op aarde herstel sal moet word, en dat dit net gedoen sal kan word as die bose magte oorwin en uitgedryf word. En dit is presies wat Jesus kom doen. As Hy aankondig dat God se koninkryk naby gekom het (Mark 1:15), en ‘n bietjie later dat God se koninkryk onder hulle staan (Luk 17:21), is dit net ander woorde om te sê dat Hy die heerskappy van God op aarde kom herstel deur die bose magte uit die lewens van mense uit te dryf, en selfs uit die natuur uit, soos blyk uit die storm op see wat ‘n aanslag van die duiwel op die lewens van Jesus en sy dissipels was (Mark 4:35-41). Hieruit word die apokaliptiese (`bonatuurlike’) agtergrond van die koninkryk van God duidelik.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König