Geloofsvrae: Israel se siening van geskiedenis

Geloofsvrae: Israel se siening van geskiedenis – Adrio König

Israel se siening van geskiedenis

Nóg albeskikking nóg toelating lyk na ‘n aanvaarbare interpretasie van God se betrokkenheid by wat op aarde gebeur. Miskien kan ons ‘n bietjie verder kom as ons ‘n oomblik nadink oor hoe dinge gebeur, oor wat geskiedenis eintlik is. In Calvyn se albeskikkingsleer is die geskiedenis bloot die uitvoering van God se onveranderlike plan met die wêreld. Daar gebeur in die geskiedenis dus niks wat ‘n mens nie vooraf sou kon voorspel as ‘n mens toegang tot dié plan gehad het nie. Daar is niks wat werklik nuut en verrassend is nie. Mense sê dan ook graag: God word nie verras nie. Dit veronderstel natuurlik ‘n bepaalde kyk op die geskiedenis: dit is die presiese uitvoering van ‘n vooropgestelde detailplan. Dit word soms vergelyk met die plan wat ‘n argitek opstel en waarvolgens die gebou dan voltooi word. Niks mag anders lyk as wat vooraf beplan is nie.

Die begrip toelating bied nuwe gesigspunte op die voorsienigheid van God en op die geskiedenis. Daar kom ‘n bepaalde beweeglikheid in. Mense het ‘n bepaalde invloed op dit wat gebeur. Alles staan dus nie vooraf presies vas nie. Dinge kan verskillend verloop. Maar binne bepaalde grense. Ons `speelruimte’ word dikwels voorgestel as ‘n klein sirkel binne God se groot sirkel. En binne ons klein sirkel is daar tog ‘n mate van nuutheid in die geskiedenis moontlik.

Ons het dus duidelik verskillende sieninge van wat geskiedenis is: óf die presiese uitvoering van ‘n detailplan waarin niks nuuts kan gebeur nie (Calvyn), óf die beperkte nuutheid wat veroorsaak word deur mense wat van God ‘n beperkte speelruimte ontvang het waarbinne hulle hul eie besluite kan neem (Arminius).

Sou ‘n mens uit die Bybel ‘n bepaalde kyk op die geskiedenis kon ontwikkel wat lig op hierdie saak kan werp? Wat is geskiedenis?

Daar was in die tyd van die Bybel ‘n beskouing wat taamlik algemeen onder sommige van Israel se bure voorgekom het: dat die geskiedenis soos ‘n sirkel is, sekere gebeurtenisse word oor en oor herhaal. Dit is natuurlik nie vreemd dat volke wat na aan die natuur leef, so ‘n beskouing sal ontwikkel nie. Van die mees basiese ervarings van hul lewe bestaan uit dinge wat reelmatig herhaal word: die seisoene, die aanteelt van diere (gewoonlik jaarliks en dikwels in samehang met die seisoene). Daarom is die godsdienstige feeste ook in hierdie ritme ingepas soos ‘n mens kan aflei uit die feit dat hulle ‘n saaifees en ‘n oesfees gehad het.

Heelwat hiervan is nog sigbaar in Israel se vroeë geskiedenis: hulle pinksterfees was eintlik ‘n oesfees. En selfs nog so laat soos Prediker kry ons ‘n sterk oortuiging dat daar niks nuuts is in die geskiedenis nie en dat alles net herhaling is: `Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie. Kan jy van iets sê dit is nuut? Nee, dit was lankal daar’ (Pred 1:9-10; vgl ook 1:4-7; 3:15, trouens dit is die agtergrond van Pred 3).

Dit was egter juis Israel wat uit hierdie skema uitgebreek het en feeste begin vier het wat in verband staan met eenmalige gebeurtenisse in hulle geskiedenis soos die uittog uit Egipte. Hierdie feeste is wel jaarliks gevier, maar die gebeurtenisse wat gevier is, het net eenmaal plaasgevind. Dit dui op ‘n ander interpretasie van geskiedenis. Dit is ‘n reeks van eenmalige gebeurtenisse wat ‘n beslissende invloed het op die belewing van die verlede, die hede, én die toekoms.

Dit is dan ook duidelik die betekenis van die Joodse Paasfees en die ander feeste waartydens die uittog gevier is. Israel het die uittog beleef as hulle geboorte as die volk van die Here, en die profete het male sonder tal die volk herinner aan die betekenis en implikasies van die uittog vir hulle lewe in hede en toekoms.

‘n Tweede kenmerk van Israel se belewing van die geskiedenis was dat hulle nie opgegaan het in die gebeurtenisse van die verlede (soos die uittog) nie, maar dat die beloftes van die Here, wat by hierdie gebeurtenisse aangesluit het, hulle telkens op die toekoms gerig het. Sulke beloftes het gewoonlik in swaar tye gekom om hulle nuwe hoop te gee. Die beloftes het gewoonlik verband gehou met die verlede, maar altyd meer beloof as wat hulle alreeds ontvang het, sodat hulle nooit in die verlede of die hede sou vasval nie.

Die eerste groot belofte was juis die bevryding uit Egipte. Daarna het die koningskap gekom en daarmee saam die belofte dat die nageslag van Dawid altyd op die troon sou sit (2 Sam 7:16). Dawid se gebed in antwoord op hierdie belofte is ‘n merkwaardige voorbeeld van hoe sterk sulke beloftes hul lewe en toekomsverwagting bepaal het (2 Sam 7:18-29).

In die uiterste nood van die ballingskap was dit weer beloftes wat die verslae volk laat moed skep het, hierdie keer beloftes van ‘n terugtog na Palestina wat as ‘n nuwe uittog beskryf is en wat oneindig heerliker as die eerste uittog sou wees. Verder ook beloftes van ‘n nuwe verbond, ‘n nuwe Jerusalem, ‘n nuwe tempel, en selfs ‘n nuwe aarde. Intussen het die belofte dat daar altyd ‘n opvolger van Dawid op die troon in Jerusalem sou wees, ‘n nuwe dimensie bygekry. Omdat daar tydens die ballingskap geen koning in Jerusalem was nie, het dit die verwagting van die volk op die toekoms gerig wanneer ‘n nuwe seun van Dawid weer die troon sou bestyg.

Hierdie toekomsgerigtheid het hul siening van geskiedenis beslissend bepaal. I.p.v. ‘n oneindige herhaling van dieselfde dinge, het hulle geskiedenis gesien as ‘n oop proses wat gestalte kry allereers deur die vervulling van God se beloftes, maar in die tweede plek ook deur die ongehoorsaamheid van die volk. Die profete was duidelik daaroor dat die ballingskap die gevolg van hul sonde was, hul voortdurende ontrou aan die Here en hul weiering om hulle te bekeer. Wat hulle doen, was dus medebepalend vir hoe die geskiedenis verloop.

Tydens die ballingskap kom ‘n nuwe oortuiging egter sterk na vore. Die ramp van die ballingskap was so groot dat dit nie langer ten volle op die gewone maniere verklaar kan word nie. Meer moet op die spel wees as net straf van God oor die ongehoorsaamheid van die volk. Die apokaliptiese (`bonatuurlike’) wêreldbeskouing ontwikkel dan. Hiervolgens het die bose magte op aarde oorgeneem en hulle probeer die mense en die natuur vernietig. Ons kan die optrede van Jesus en die res van die boodskap van die NT nie anders as teen hierdie agtergrond verstaan nie. Trouens Jesus se aankondiging dat die koninkryk van God naby is, beteken dat Hy die heerskappy van die duiwel verbreek (o.a. deur sy groot getal duiweluitdrywings) en God se gesag herstel. Dit beteken dat die bose magte ‘n geweldige invloed op die verloop van die geskiedenis het.

Israel sien dus die geskiedenis nie as ‘n geslote reeks gebeurtenisse wat vooraf beplan is nie, ook nie as die ewige herhaling van dieselfde dinge nie, maar eerder as eenmalige (unieke) gebeurtenisse waarin daar nuwe dinge voorkom, heelwat verrassings, maar ook skokkende teleurstellings. Maar waarop gaan dit alles uitloop?

Daar is nog een onontbeerlike faset in Israel se siening van die geskiedenis. Die geskiedenis is die weg waarlangs God sy skeppingsdoel bereik. Hierdie doel is sy gemeenskap met sy kinders op die aarde. Hierdie doel is van die begin af op die spel. Maar weens die ontrou en ongehoorsaamheid van sy bondgenote (Adam en Eva, die mensdom, Israel) moet Hy telkens nuwe maatreëls tref om die geskiedenis weer op koers te kry. Hierdie nuwe maatreëls kry gestalte in bepaalde beslissende wendings in die geskiedenis: Noag, Abraham, die uittog, die koningskap, die ballingskap, die terugtog, en die beslissende wending in die koms van Jesus Christus en die Gees.

Alle gebeure in die Bybel lê nie op dieselfde vlak nie. Hierdie heilshistoriese wendinge het ‘n unieke betekenis en beïnvloed die geskiedenis wat daarop volg op beslissende wyse.

Samevattend sou ‘n mens dus kon sê dat die geskiedenis eenmalige gebeurtenisse is wat voortkom uit die insette van verskillende `rolspelers’: God, die mense en die bose magte (en die natuurwette), en waarin hierdie `rolspelers’ verskillende insette op verskillende vlakke lewer, só dat dit nie moontlik is om die insette teenoor mekaar te stel en af te weeg nie. Wat egter duidelik is, is dat die geskiedenis nie ‘n egalige ontwikkelingsgang vorm van sinvolle gebeurtenisse nie, maar ‘n op-en-af beweging van teleurstellings en verrassings, ‘n opeenvolging van gebeurtenisse waarin daar van tyd tot tyd nuwe rigting kom deur beslissende wendinge wat God bewerk.

Dit is in terme van hierdie siening van die geskiedenis dat ons oor God se voorsienige betrokkenheid by die geskiedenis probeer nadink. En dit is sondermeer duidelik dat die betrokkenheid van al die `rolspelers’ ernstig geneem sal moet word.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Adrio König




Geloofsvrae: Voorsienigheid en toelating

Geloofsvrae: Voorsienigheid en toelating – Adrio König

Voorsienigheid en toelating (Arminius)

Daar is ‘n siening wat bedoel is as ‘n korreksie op Calvyn se albeskikkingsleer. Dit is ontwikkel deur Jacob Arminius (1559-1609) wat ‘n Hollandse Gereformeerde predikant en later professor in Leiden was. Hy het bekend geword omdat sy oortuigings uiteindelik deur die Sinode van Dordtrecht (1618-1619) verwerp is.

Arminius het ‘n gedagte wat al vroeër in die kerkgeskiedenis na vore gekom het, weer opgeneem en verder ontwikkel: dat God nie die sonde bewerk nie maar dit net toelaat. Hy aanvaar net soos die ander Gereformeerde teoloë die absolute mag van God, maar hy aanvaar ook dat God uit vrye wil hierdie mag beperk het toe Hy alles geskep het. God het die skepping gemaak om volgens ‘n bepaalde orde te funksioneer, en omdat God aan Homself en sy eie besluite getrou is, sal Hy nie op hierdie orde inbreuk maak nie.

Dit geld in besonder die mens. God het ‘n verbondsverhouding met die mens aangegaan, en daarom sal Hy met vaderlike (oorredende) mag teenoor die mens optree tot op die punt waar die mens deur hardnekkige weerstand en verwerping van die verbond nie meer God se vaderlike sorg verdien nie. Dan kom God se harde heerskappy in werking waardeur Hy die mens oordeel en straf, en verder ook sy doel met die skepping bereik ondanks die weerstand van die mens.

As God Hom aan die orde bind wat Hy in die skepping ingelê het, geld dit veral die feit dat Hy die mens vry gemaak het en hierdie vryheid sal eerbiedig. Alhoewel God dus die mag het om alles vooraf te beskik, het Hy van hierdie mag afgesien toe Hy ‘n vrye wese geskep het. In hierdie sin het Hy Homself deur sy skeppingsdaad beperk. Dit beteken dat God die wêreld eerder volgens algemene beginsels regeer as dat Hy elke besluit vooraf in fyn besonderhede neem (soos Calvyn gemeen het).

Volgens Arminius bepaal God nie vooraf wat die mense sal doen nie, Hy weet dit net vooraf (sy voorkennis). Sy voorkennis berus dus op dit wat die mense sal besluit om te doen, en nie op wat Hy besluit dat hulle sal doen nie.

Wanneer Arminius by die kwaad en spesifiek die sonde kom, ontwikkel hy die gedagte van die toelating van God. Terwyl Calvyn nie huiwer om te sê dat God ook die sonde vooraf beskik het nie, leer Arminius dat Hy net die sonde toelaat. Dit is deel van God se omvattende houding teenoor sy skepsels: Hy laat hulle toe om volgens hulle eie aard op te tree want Hy het hulle met dié aard geskep.

Wat die sonde betref, onderskei hy dan duidelik tussen die positiewe wil en die toelating van God. Niks gebeur deur die toeval of die noodlot nie (net soos Calvyn). Alles wat gebeur, staan onder die voorsienigheid van God, só dat God die goeie dade wil en bewerk, en die slegte dade toelaat.

God laat egter nie sommer sonder slag of stoot die sonde toe nie. Hy gaan in werklikheid uit sy pad om die mens te oorreed om dit nie te doen nie. God is egter beperk in die mate waarin Hy die sonde sal probeer verhinder omdat Hy die mens vryheid gegee het en nie met geweld op die mens se vryheid inbreuk maak nie.

Hierdie sieninge is baie algemener onder Christene as die radikale voorbeskikkingsleer van Calvyn, selfs onder baie teoloë wat hulle graag op Calvyn beroep vir hul voorsienigheidsleer.

Alhoewel die probleme in verband met Calvyn se albeskikkingsleer ooglopender is, is daar ook ernstige probleme met die gedagte van toelating. Natuurlik meen ondersteuners dat die boek Job goeie steun aan dié gedagte bied. Later sal egter aangetoon word dat dit ‘n misverstand is.

Een van die skynbare winste van die gedagte van toelating bo die harde siening van albeskikking, is dat dit ‘n sagter indruk maak. God beskik nie die sonde nie, Hy laat dit net toe.

Die probleem is egter dat die persoon wat iets verkeerds toelaat, wat dit dus kon verhinder, mede-verantwoordelik is vir wat gedoen word. Wie iets verkeerds, byvoorbeeld ‘n moord, kon verhinder, maar dit dan toelaat – dus die moordenaar bewustelik laat begaan, is mede-skuldig.

Toegepas op God se betrokkenheid by wat op aarde gebeur, sou dit beteken dat Hy Hitler kon gekeer het om ses miljoen Jode op die allerwreedste manier te vermoor, maar hom bewustelik laat begaan het! Natuurlik is die gedagte dat Hy die vreeslike moord net toegelaat het ‘n bietjie sagter as dat Hy dit voorbeskik het, maar dit bly ‘n vraag hoe ‘n mens jou lewe met vrymoedigheid aan so ‘n God kan toevertrou. Hy kan enigeen toelaat om enige tyd enigiets met jou te doen. En as ‘n mens kyk na die verskriklik baie lyding op aarde, is die verdere vraag of dit regtig soveel erger op aarde sou gaan sonder sy toelating.

Die gedagte dat ons getroos moet word deur die oortuiging dat Hy al die slegte dinge met ‘n goeie doel toelaat (of beskik), skep sy eie probleme. Watter goeie doel kan opweeg teen die alleronmenslikste moord op ses miljoen mense? Trouens waarom moet een kindjie wreed mishandel word om ‘n goeie doel te bereik, as daar ‘n almagtige God is wat die goeie doel op enige ander manier kan bereik? Presies waarmee kan die duiwel ons bedreig wat erger is as die dinge wat God volgens hierdie beskouing in elk geval oor sy kinders toelaat?

Dit stel ons voor die probleem wat beide die albeskikkingsleer en die toelatingsleer oproep: nie een van hulle betrek die duiwel en die bose magte by wat op aarde gebeur soos ons dit in die NT kry nie. Om iets hiervan te verstaan, moet ons eers vra hoe geskiedenis gevorm word.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Adrio König




Geloofsvrae: Voorsienigheid: Die raad van God

Geloofsvrae: Voorsienigheid: Die raad van God – Adrio König

Voorsienigheid: Die raad van God 

Nou verbonde aan Calvyn se albeskkingsleer is die siening van die `ewige, verborge raad’ van God as die detailplan wat Hy voor die skepping opgestel het vir die verloop van die ganse geskiedenis op aarde. Dit hang saam met ‘n redelik statiese siening van God self. God is die ewige, onveranderlike, in sigself genoegsame God. Hy het in die ewigheid ‘n plan opgestel wat Hy in die geskiedenis uitvoer. Alles wat gebeur, gebeur presies volgens die besonderhede wat in hierdie plan vervat is.

‘n Mens kan ook ‘n minder statiese siening van God hê, en Hom eerder sien as die betrokke Verbondsgod wat saam met sy volk ‘n geskiedenis maak, ‘n geskiedenis waarin Hy wel die inisiatief neem, maar waarin mense hul eie insette maak waarop Hy dan reageer. Met so ‘n siening sal ons natuurlik ernstige vrae ontwikkel oor Calvyn se siening van God en van sy ewige, verborge raad.

Die eerste vraag is oor sy ewige raad. Die feit dat sy raad ewig genoem word, kan tog nie beteken dat sy raad reeds voor die skepping klaar opgestel moes gewees het nie. Die ewigheid was nie net vóór die tyd sodat dit opgehou het toe die tyd begin het nie. Hy is nou nog die ewige God en Hy doen nou nog dinge `in die ewigheid.’ As Hy nou ‘n besluit neem, is dit net soseer ‘n ewige besluit as wat sy besluite voor die skepping ewig was. Die ewigheid omvat en oorspan die tyd sodat ewig beteken voor-tydig, gelyk-tydig en na-tydig. Ook sy huidige besluite is dus deel van sy ewige raad want dit is besluite wat in die (huidige!) ewigheid geneem is. En ook in die toekoms kan Hy nog ewige besluite neem. Sy `ewige’ raad is dus nie sy besluite voor alle tyd wat nou net uitgevoer word nie, maar sy besluite in die ewige ewigheid wat nou nog voortgaan.

Iemand sou kon teenwerp dat God se ewige besluite nie sien op die tyd wanneer dit geneem is nie, maar daarop dat dit vir alle ewigheid geld. Dit is natuurlik so, maar as dié besluite net voor die skepping (tyd) geneem kon word, geld dit nog steeds dat die ewigheid dan voor die tyd opgehou het en God nie nou meer ewiggeldende besluite kan neem nie. Dit alles is op sy beste ‘n verwarring tussen tyd en ewigheid.

Die tweede vraag is oor die verborge raad van God. Reeds vroeër het dit geblyk dat ‘n sekere siening van God en van sy voorsienigheid baie nadruk lê op sy verborge raad. As Calvyn nie kan begryp hoe God alles, ook die sonde, in besonderhede kan voorbeskik maar tog nie daarvoor verantwoordelik is nie, beroep hy hom op die verborgenheid van die raad van God. Dit is ‘n algemene manier waarop baie Christene die feit probeer hanteer dat daar soveel smartlike dinge in mense se lewens gebeur – óók sinlose lyding en smart in die lewens van die kinders van God – God het ‘n goeie doel daarmee, maar dié doel is vir ons verborge.

Omdat daar so vreeslik baie uiterste vorme van lyding voorkom, word hierdie verborge raad natuurlik baie belangrik, en as ‘n mens dit nog koppel aan die onbekende uitverkiesing ook, blyk dit dat sommige van die heel belangrikste dinge in ons lewe juis in hierdie verborge raad van God opgeneem is, en dus ontoeganklik is vir ons. Uiteindelik word sy verborge raad belangriker as sy openbaring! Wat regtig op aarde gebeur, gebeur nie volgens sy geopenbaarde raad of Woord nie, maar volgens sy verborge raad!

As ons na die Bybel gaan kyk, is daar min gegewens oor hierdie verborge raad. Tradisioneel is ‘n beroep gedoen op Deut 29:29 waar die OAV van `die verborge dinge’ gepraat het en die NAV lui: `Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend: ons moet lewe volgens hierdie wet.’ Die eerste deel van die teks sê net dat daar dinge is wat God in die tyd van Deuteronomium (nog?) nie geopenbaar het nie. Daar is geen rede om aan te neem dat dit nie ná die tyd geopenbaar is nie en dat dit vir altyd onbekend moet bly nie, óf dat hierdie onbekende dinge die eintlike beslissende dinge is nie. Uit die tweede deel is dit duidelik dat die belangrikste dinge die geopenbaarde dinge is.

Ons moet onthou dat Deuteronomium handel oor gebeurtenisse wat baie vroeg in die heilsgeskiedenis plaasgevind het toe baie dinge nog onbekend was vir die volk van God. Selfs Jesus sê soveel later nog vir sy dissipels dat die Heilige Gees hulle eers later alles sal vertel (Joh 16:12ev). Dit is dus nie vreemd dat ons dan later lees van die hele raad van God (OAV) of die volle heilsplan van God wat deur Paulus aan die gemeente in Éfese bekend gemaak is nie (Hand 20:27). In hierdie lig word dit dan moeilik om te aanvaar dat ‘n groot deel van God se heilsplan (selfs die grootste en belangrikste deel!) eintlik nie vir ons bekend is nie. Woon Hy dan nie met sy volle wese in Christus nie, en is dit dan nie juis so dat ons die geheimenis van God kan ken omdat hierdie geheimenis Christus self is in wie `al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind’ is nie? (Kol 2:2,3,9)

Onder die raad van God moet ons die besluite van God verstaan wat Hy in die verlede, hede en toekoms neem om uiteindelik sy doel met sy skepping te bereik. In hierdie besluite neem Hy die inisiatief maar reageer ook op dit wat ons doen. Hierdie besluite bly gerig op die uitvoering van sy doel met ons (21.3), maar dit is dikwels nuwe en ongewone besluite waarin Hy sinvol reageer op ons ongehoorde ongehoorsaamheid en ontrou – om nie eens van die aanslae van die bose magte te praat nie.

Wat nou hier verduidelik is, is egter nie die tradisionele siening van die raad van God nie. Soos reeds aangedui, het die tradisionele siening direk saamgehang met Calvyn se albeskikkingsleer en deel dit dus ook in al die probleme wat reeds in dié verband genoem is (o.a. einde 48).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Voorsienigheid en albeskikking (Calvyn)

Geloofsvrae: Voorsienigheid en albeskikking (Calvyn) – Adrio König

Voorsienigheid en albeskikking (Calvyn)

Calvyn (1509-1564) se voorsienigheidsleer is een groot apologie vir die albeskikking van God, konsekwenter en radikaler as enige van sy voorgangers. God het alles tot in die fynste besonderhede vooraf bepaal, en alles gebeur presies net so. Calvyn is nie huiwerig om intensiewe vorme en kragwoorde te gebruik om te beklemtoon dat God alles vooraf bepaal het, dat niks sonder sy beskikking gebeur nie, en dat Hy in geen opsig sy voorafbepaalde plan verander nie. Trouens God is self heeltemal onveranderlik. Hy het selfs nie gemoedsaandoeninge nie (die verwysings in hierdie vorm wat nou volg, is na die Institusie van Calvyn). Uitsprake in die Bybel oor die berou van God en ander emosies van God, sou dan net sy manier wees om ons swak menslike begrip te hulp te kom omdat ons nooit sou kon verstaan as die Bybel gesê het hoe God regtig is nie.

As Calvyn sê dat alles voorafbepaal is, bedoel hy dit ernstig. Hy verwerp die gedagte dat God net voorkennis het, d.w.s. net vooraf weet wat gaan gebeur. God het self bepaal presies wat gebeur, en alles gebeur presies net soos Hy dit bepaal het. Selfs elke blaar en reëndruppel wat val, val volgens sy vaste plan. Ook die sondige dade van mense is deur Hom vooraf bepaal. Terwyl die mense daarmee slegte oogmerke het, het God ‘n goeie doel daarmee. Hy wil die goeie deur die kwaad bevorder.

Calvyn verwerp selfs die begrip `toelating’ omdat dit te min sou sê. Hy noem dit `blote’ toelating en sê dit is ‘n versinsel. God laat nie die kwaad maar net toe nie, Hy beskik dit vooraf in die fynste besonderhede netsoos alle ander dinge.

As God ook die sonde vooraf bepaal het, beteken dit natuurlik dat Hy oortredinge van sy wet vooraf bepaal het, wat sou beteken dat God twee wille het wat strydig is met mekaar – sy wil wat in sy wet uitgedruk is en wat lui dat mense nie moet sonde doen nie, en sy wil waarvolgens Hy elke sonde wat hulle doen, vooraf bepaal het.

Om hierdie probleem te hanteer, aanvaar Calvyn dat God ‘n geopenbaarde wil het oor hoe mense behoort te lewe (die wet en die Bybel in die algemeen), en ‘n verborge wil (sy voorafbeskikkinge van presies wat mense sal doen, maar wat vir ons onbekend is). Veral in verband met die uitverkiesing en voorsienigheid van God beroep hy hom baie sterk op die verborge wil van God.

In sy verweer teen die argument dat hierdie twee wille van God (die geopenbaarde wil en die verborge wil) teen mekaar bots, antwoord Calvyn dat ons maar net nie kan verstaan dat hierdie twee wille eintlik een en dieselfde is nie, dat ons dit so moet aanvaar en God net eerbiedig moet aanbid. Hoe moeilik Calvyn dit self vind om hierdie saak te verduidelik, blyk uit ‘n ander uitspraak van hom waarin hy sê dat die gevalle engele en verworpe mense deur hulle sonde, sover dit hulle aangaan, doen wat God nie wil nie, maar dat hulle, sover dit die almag van God aangaan, doen wat God wil.

Nogtans probeer Calvyn ‘n duidelike verskil maak tussen die wyse waarop God en die sondaars by die sonde betrokke is. God het die kwaad vooraf beskik omdat Hy deur die kwaad (ook die sonde) ‘n goeie doel wil bereik, terwyl die mense wat die sonde doen, daarmee iets slegs beoog. Hy sê wat God ten goede wil, doen Hy deur die slegte wil van slegte mense. In dieselfde verband formuleer hy dit ook weer anders: … sodat op wonderlike en onuitspreeklike wyse dit wat téén sy wil gebeur, nie buite sy wil gebeur nie.

Dit beteken dat Calvyn ook beklemtoon dat die mense self verantwoordelik is vir hul sonde. Hy verwerp die gedagte dat ‘n mens die skuld van die sonde op God kan pak omdat Hy dit vooraf bepaal het. Hy werk graag met die gedagte van twee oorsake vir ‘n daad. God is die hoofbewerker of hoofoorsaak van alles wat gebeur, maar Hy maak soms van ‘n tweede oorsaak (die mense) gebruik. Hierdie tweede-vlak oorsake word nie gedwing om God se raad uit te voer nie (d.w.s. hulle kies dit vryelik, al is dit al wat hulle kan kies omdat God beskik het dat hulle dit sal doen) en daarom behou hulle volle verantwoordelikheid vir hulle dade.

Dit kan verhelderend wees om ‘n oomblik na sy verduideliking van die sondeval te kyk. Calvyn staan sterk daarop dat God voorbeskik het dat die mens in sonde sal val. Hy verwerp die ouer gedagte dat God dit net vooruit geweet het want volgens hom sou dit beteken dat God dan net dadeloos sou toegekyk het na dit wat sy belangrikste skepsel besluit om te doen.

Daarteenoor stel hy dan die absolute voorbeskikking van God. God het vooraf bepaal dat Adam in sonde sou val. Natuurlik bring dit hom dan voor die vraag of dit regverdig kan wees om Adam te veroordeel as hy net gedoen het wat God vooraf onveranderlik besluit het.

Om hierdie vraag te antwoord, beklemtoon Calvyn dat ons nie agter God se wil kan invra nie. God wil nie iets omdat … nie. God se wil is die laaste rede. Volgens hom is God se wil soseer die hoogste reel van regverdigheid dat alles wat Hy wil, as regverdig beskou moet word juis omdat Hy dit wil. God se wil is self die oorsaak van alles wat gebeur. ‘n Mens kan nie sy wil verklaar nie.

‘n Paar samevattende opmerkings kan ons gedagtes ‘n bietjie orden. Allereers word Calvyn nie vandag deur baie Christene noukeurig nagevolg in die sterk en radikale aspekte van sy oortuigings nie. Sy gedagtes klink vreemd en vergesog, al is hulle tegelyk ook baie logies en konsekwent in terme van sy uitgangspunte. Sekere van sy oortuigings kom wel nog in ‘n afgewaterde vorm voor soos `alles is vooraf bepaal,’ ‘jou strepie is getrek,’ `jy kan niks daaraan doen nie,’ `niks gebeur per toeval nie,’ maar die blote feit dat hierdie uitdrukkings oorwegend in passiewe vorm voorkom en nie direk na God verwys nie, toon dat die passie van Calvyn se oortuigings heeltemal verlore gegaan het naamlik dat dit God is wat persoonlik alles bepaal, dat Hy nie net algemene beginsels vasgelê het nie, maar die presiese besonderhede van elkeen se lewe en alles wat op aarde gebeur presies só bepaal het as wat dit gebeur, en dat dit vir sy kinders ‘n wonderlike troos behoort te wees dat alles voorbeskik is. Dit is immers hulle liefdevolle Vader wat dit gedoen het, en Hy wil net die beste vir hulle. Calvyn sê selfs dat dit die toppunt van alle ellende is as ‘n mens nie die voorsienigheid van God aanvaar nie, en dat die hoogste geluk juis daarin geleë is dat ‘n mens dit ken.

Andersyds moet ‘n mens ook nie blind wees vir ooglopende probleme wat uit sy voorsienigheidsleer voortvloei nie – probleme wat ook vir die res van sy teologie beslissend is omdat hy die voorsienigheidsleer skynbaar as die belangrikste leerstuk beskou. Om maar net een probleem te noem, die neiging tot berusting, aanvaarding en passiwiteit. Dink maar ‘n oomblik aan sy voorbeelde. Telkens skryf hy sondermeer dat alle vrede en oorlog direk deur God voorbeskik is. As sommige moeders baie melk het, en ander se borste omtrent droog is, is die rede volgens hom dat God wil hê die een baba moet ruimer gevoed word, en die ander een kariger. God het bepaal wie ryk en arm sal wees, en die armes word vermaan om hul ondergeskikte posisie te aanvaar, want mense wat nie met hul lot tevrede is nie, probeer die las afskud wat God hul opgelê het.

Reg of verkeerd, dit is nie hoe die meeste Christene vandag na die wêreld kyk nie. Ons beskou armes wat hulle uit hul armoede sou kon uitwerk maar dan sê hulle berus in God se wil, as lui. En ‘n ma wat te min melk vir haar baba het, sê nie vir haar dokter dis die wil van die Here dat die kleintjie honger ly nie. Sy vra wat se apteekmelk vir die baba goed sal wees.

Die punt is dat dit nie meer deel van vreeslik baie gewone Christene se lewensbeskouing is dat God elke klein besonderheid in hul lewe beskik nie. Die meeste mense wat aanspraak daarop maak dat hulle Calvyn hierin navolg, maak in werklikheid ‘n taamlik willekeurige seleksie van aspekte van sy voorsienigheidsleer.

‘n Mens kan dit ook maklik verstaan. Daar is ooglopende probleme met sy siening. Kom ons kyk net kortliks na twee. Om te beweer dat God regverdig is om Adam skuldig te hou vir die sonde wat Hy voorbeskik het dat Adam sal doen net omdat ons nie agter sy wil mag terugvra nie, maak eenvoudig nie sin nie. As sy wil dat ons moet sonde doen, goed is, kan Hy ons nie kwalik neem dat ons sy goeie wil uitvoer nie. Verder is dit sinloos om te sê die verskil tussen God se betrokkenheid en ons betrokkenheid by die sonde, is dat Hy dit met goeie bedoelinge voorbeskik terwyl ons dit met slegte bedoelinge doen. Immers Hy het volgens Calvyn juis ook ons bedoelinge voorbeskik. Hy het mos alles voorbeskik.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König