Geloofsvrae: Die mens: liggaam en siel

Geloofsvrae: Die mens: liggaam en siel – Adrio König

Die mens: liggaam en siel? Of ore? 

Daar is nog een belangrike begrip waarna ons moet kyk: ore. Dit mag baie plat klink totdat ons die evangeliese betekenis daarvan begryp het.

Om dit te verstaan, moet ons onthou dat ons mensbeskouing op ons siening van God gebou is (27-29). Die mens staan in ‘n verbondsverhouding met God, ‘n verbond waarin God die groot bondgenoot is wat die inisiatief neem waarop ons dan moet reageer. Hoe neem Hy die inisiatief? As ons dit weet, sal dit ons help om te weet hoe ons moet reageer.

God het Homself geopenbaar in die geskiedenis van Israel en in Jesus. Hoe? Wat is die middele waardeur Hy dit gedoen het? Daar is baie: drome, visioene, waarsêery, die lot. Maar nie een van hulle speel regtig ‘n belangrike rol nie, en die meeste verdwyn later.

Maar van die begin af is daar twee middele wat prominent is: Hy verskyn en Hy praat. Mense reageer dus deur te sien en te hoor.

Reeds sedert die vroeë geskiedenis met Abraham kry ons die staande uitdrukkings: `Die Here het aan Abraham verskyn en vir hom gesê,’ of `die woord van die Here het in ‘n gesig tot Abraham gekom’ (Gen 12:7; 15:1; 17:). By die profete is dit baie opvallend.

En tog hou woord en verskyning mekaar nie in balans nie. Die woord oorheers altyd. Gewoonlik begin ‘n openbaring met ‘n verskyning, en soms is daar selfs taamlike nadruk op die verskyning (soos Jes 6:1-7), maar wat uiteindelik die belangrikste is, is die woorde (Jes 6:8-13).

In die NT is dit nie anders nie. Hier openbaar God Hom veral in Jesus Christus. Ook hier speel sy verskyning ‘n belangrike rol (1 Joh 1:1-3; Tit 2:11; 3:4), maar uiteindelik is dit weer die woorde wat oorheers. Daar is byvoorbeeld geen belangstelling in die vraag hoe Jesus gelyk het nie, terwyl die evangelies vol is van sy woorde. Ook sy dade word deur sy woorde verduidelik, en Hy word self die Woord genoem. Daar is dus ‘n bepaalde logika daarin dat ons van die Bybel as die Woord van God praat.

Hoe reageer ‘n mens op woorde? Deur te hoor. En op God se woorde? Deur te ge-hoor-saam. Dat die volk die woorde van die Here moes hoor en gehoorsaam, is veral ‘n wesenlike faset van die profete se boodskap. Toe ons die leeb (`hart’) behandel het, het ons gekyk na die geskiedenis van Salomo. Die Here het vir hom ‘n wyse en verstandige leeb gegee (1 Kon 3). Dit was in reaksie op Salomo se versoek om letterlik ‘n `horende’ leeb te kry, NAV: `gehoorsaamheid aan U.’

Die wysheid wat Salomo kry, is dus nie wysheid wat hy moet uitdink of leer nie, dit is wysheid wat hy moet hoor – by die Here. Maar ‘n mens hoor eers as jy ge-hoor-saam. Kyk ook na Ps 40:7-9. Teenoor die tradisionele offers stel die psalmdigter iets beters: `Ore het U vir my gegrawe’ (OAV). Dis tog seker nie letterlik bedoel nie. Hy het tog seker ore gehad. Nee, hy het nie, as hy hulle nie gebruik het nie! Ons ken die uitdrukking goed: Het jy nie ore nie?

Ore is onmisbaar om werklik mens te wees soos God dit bedoel het. Hy is die Verbondsgod wat die inisiatief neem. Hy praat. Om komplementêr (paslik) te reageer, moet ons hoor en gehoorsaam. Daarin lê ons wese opgesluit. Só is ons mense soos Hy dit bedoel het. Ons ore sê dus veel meer oor ons wese as ons `siel.’

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Begrippe van die mens in die Bybel

Geloofsvrae: Begrippe van die mens in die Bybel – Adrio König

Die verskillende begrippe vir die mens in die Bybel 

Christene wat glo dat die mens uit verskillende onderdele bestaan, verskil oor die vraag of dit twee of drie dele is: siel en liggaam, of gees, siel en liggaam.

In die Bybel word die mens egter nie in vaste dele indeel nie. As ‘n mens elke begrip wat vir die mens gebruik word, as ‘n aparte deel sou wou beskou, sou jy behalwe die tweedeling en die driedeling waarna reeds verwys is, ook ‘n vierdeling kon voorstaan (hart, siel, verstand, kragte – Mk 12:30), of ‘n sesdeling (gees, siel, liggaam, hart, verstand, kragte), of selfs ‘n tiendeling as jy al die begrippe soos gemoed ook wil bybring. In die Bybel word daar egter op heeltemal ‘n ander wyse oor die mens gepraat. Bybelskrywers het ‘n vrye gebruik van die talle begrippe vir die mens sonder dat ‘n vaste betekenis aan enige spesifieke deel geheg word.

Wat wel waar is, is dat die Bybel in die algemeen ‘n `binnekant’ en ‘n `buitekant’ van die mens aanvaar. Maar om hierdie `binnekant’ aan te dui, sal die een skrywer praat van ons hart, maar die ander van ons gemoed of siel of gees.

Mense mag onseker hieroor voel omdat hulle opgegroei het met die oortuiging dat elke woord ‘n vaste betekenis het, veral woorde soos siel en liggaam. Daarom is dit nodig om ‘n oomblik daaraan te dink dat ons nie meer sê: `woorde het betekenis‘ nie, maar eerder `betekenis het woorde.’

Kom ons kyk eers na die eerste deel: dit is nie woorde wat betekenis het nie.

Eerstens bedoel ons daarmee dat elke woord nie ‘n vaste betekenis het nie, maar dat ons aan woorde betekenis gee. Die Griekse woord sarks wat elke keer met `vlees’ vertaal is in die OAV, het nie elke keer dieselfde betekenis nie. Paulus verklaar byvoorbeeld dat `vlees (sarks) en bloed’ nie die koninkryk van God kan beërf nie’ (1 Kor 15:50), terwyl Johannes skryf dat die Woord `vlees’ (sarks) geword het (Joh 1:14). As sarks elke keer dieselfde betekenis het, sou dit beteken dat Jesus nie die koninkryk van God kan beërf nie! Tereg vertaal die NAV Joh 1:14 dus: `Die Woord het mens geword.’

Die feit dat dit nie woorde is wat betekenis het nie, beteken tweedens dat dit eerder groepe woorde (frases of sinsdele) is wat betekenis aandui, en nie enkele woorde nie. Die ou vertaling van Rom 1:17 wat gelui het dat ons gered word `uit geloof tot geloof‘ was heeltemal onduidelik omdat die OAV elke Griekse woord met ‘n Afrikaanse woord vertaal het, in plaas van om die frase te vertaal. Die NAV vertaal die frase, en dan word die betekenis skielik duidelik: `dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo.’

Derdens beteken die uitdrukking dat dit nie woorde is wat betekenis het nie, dat ons moet oppas vir die sogenaamde `oorspronklike’ betekenis van ‘n woord. Die betekenisse waarin woorde gebruik word, ontwikkel en verander baie. Veral saamgestelde woorde word selde gebruik in die betekenis van die onderdele. ‘n Skoenlapper is nie iemand wat skoene lap nie, en ‘n `butterfly’ is nie ‘n vlieg wat van botter gemaak is nie. ‘n Woord kry ‘n betekenis in ‘n bepaalde konteks, en die betekenis is nie altyd dieselfde nie. Die betekenis hoef ook nie verband te hou met die afsonderlike dele waaruit die woord bestaan nie.

Die tweede deel van die stelling lui: betekenis het woorde. Dit beteken daar is bepaalde dinge of sake waarna ‘n mens wil verwys, en daarvoor het ons woorde nodig. As ek na my innerlike wil verwys, kan ek van my gees of siel of hart praat (`my gees is in beroering’ of `ek is tot in my siel ontsteld’ of `my hart het bollemakiesie geslaan’), sonder dat ek elke keer ‘n ander deel van my bedoel. Trouens soms het hierdie woorde soos gemoed of siel net die betekenis van ‘n intensiewe vorm. Die verskil tussen: `Ek is ontsteld’ en `ek is tot in my siel ontsteld’ het niks met verskillende dele in my te doen nie, die tweede is net ‘n intensiewe vorm van die eerste.

Om te toets wat ons nou gesê het, gaan ons oorsigtelik kyk na die belangrikste woorde wat in die Bybel vir die mens gebruik word. Dit sal gou blyk dat nie een ‘n vaste betekenis het nie, dat almal in ‘n verskeidenheid betekenisse gebruik word, en dat hulle betekenisse dikwels oorvleuel.

`Siel’ Die Hebreeuse woord wat die OAV altyd as `siel’ vertaal het (nefesj), kan die volgende betekenisse in die Ou Testament kry: keel (Jes 5:14), begeerte of honger (Spr 16:26), lewe (Spr 8:35,36), persoon of mens (`elkeen’ in Lev 23:30), of selfs net `ek‘ (Ps 42:2, OAV: `so smag my siel na U, o God;’ NAV: `so smag ek na U, o God’). Die Griekse woord (psuche) kan in die Nuwe Testament lewe beteken maar ook `homself.’ Volgens Markus 8:36 het Jesus gesê: `Wat help dit ‘n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe (psuche) te verloor,’ terwyl Lukas 9:25 lui: `… maar homself te verloor’.

Mat 10:28 word dikwels in terme van die bekende dualisme verklaar (‘n liggaam en ‘n onsterflike siel). Dit maak egter nie regtig sin nie omdat ‘n onsterflike siel nie in die hel vergaan nie. As psuche egter iets soos geestelike lewe beteken, kan ‘n mens soos volg vertaal: `Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die geestelike lewe in die hel kan laat vergaan.’

`Siel’ kan ook ‘n negatiewe betekenis hê teenoor `gees.’ In 1 Korintiërs 2:14-15 staan die `sielsmens’ (psuche-mens, NAV: die mens wat nie die Gees van God het nie) as die een vir wie die dinge van die Gees onsin is, teenoor die `Geesmens;’ en in 1 Kor 15:44-49 staan die `sielsliggaam’ (psuche-liggaam, NAV: natuurlike liggaam) as aards, stoflik en verganklik, teenoor die `geestelike liggaam’ as hemels en onverganklik.

Dit sou dus ‘n haglike saak wees om aan die psuche (`siel’) altyd dieselfde betekenis te heg asof dit ‘n vaste deel van die mens aandui.

`Liggaam’ Die Griekse woord sooma wat in die OAV met `liggaam’ vertaal is, kan die volgende betekenisse in die Bybel hê: liggaam (Mt 6:25), liggaam of lyk (Mt 27:58), moontlik geslagsorgane (Rom 4:19), lewe of bestaan (Rom 6:6 waar die Grieks `liggaam van die sonde’ het, en die NAV tereg vertaal met: die sondige mens wat ons was), die persoon in terme van sy of haar konkrete lewe (Rom 12:1 waar `julleself’ ‘n vertaling van `julle liggaam’ is; 1 Kor 6:19). Dit is daarom nie moontlik om sekere vaste dele van die mens te probeer onderskei as verskillende woorde gebruik word nie. Romeine 6:12-13 is ‘n goeie voorbeeld. In een asem praat Paulus afwisselend van `julle liggaam’ (sooma, NAV: julle sterflike aardse bestaan), `julle lede’ (NAV: ‘n deel van julle liggaam), en `julleself’ (NAV: julle).

Hoe onsinnig dit is om `liggaam’ en `siel’ as verskillende dele van die mens teenoor mekaar te stel, kom na vore in Rom 12:1 waar Paulus tog nie kan bedoel dat ek wel my `liggaam’ (OAV) aan die Here moet wy, maar nie my `siel’ of my `gees’ nie. Net so in 1 Kor 6:19: `of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie?’ Die Gees woon tog seker nie net in my `liggaam,’ maar nie in my `siel’ nie! `Liggaam’ dui dus in beide gevalle die hele mens aan vanuit ‘n sekere hoek gesien, nie ‘n deel van die mens teenoor ander dele nie.

`Vlees’ Dit is ‘n baie interessante Afrikaanse woord wat oorspronklik in Nederlands die gewone woord vir vleis was (‘n mens koop `vlees’ in die slaghuis), maar deur die OAV in Afrikaans ingeburger geraak het as ‘n godsdienstige woord wat veral gebruik word om die mens se swakheid en sondigheid aan te dui.

Die Hebreeuse woord vir `vlees’ (basar) kan vleis beteken, die vleis van diere (Jes 22:13) of van mense (Jes 49:26), maar ook liggaam (Num 8:7), geslagsorgane (Lev 15:2,19), familie (Gen 37:27), mense (Jes 40:6), ‘n `blote’ mens (dws ‘n swak mens – Ps 56:5), en lewe (Fil 1:22,24). Dit is merkwaardig dat dié begrip in twee teenoorgestelde betekenisse gebruik kan word: vir ‘n gehoorsame mens (letterlik ‘n hart van vleis – Eseg 11:19; 36:26) maar ook vir die mens se sondige natuur (OAV `die werke van die vlees’ – Gal 5:19; ook 5:17; Ef 2:3; Rom 8:4-9).

`Gees’ Die Hebreeus (ruach) en die Grieks (pneuma) word nie net vir die mens gebruik nie maar net soveel vir God en vir diere. Dit kan dus hoegenaamd nie ‘n vaste betekenis hê nie. Dit kan wind beteken (Jes 7:2), asem (Jes 42:5), lewe (Jer 10:14), bevel (Ps 33:6), asem wat wegslaan, dit wil sê ‘n mens wat uit die veld geslaan is van verbasing (1 Kon 10:5), bedruktheid (1 Kon 21:5), geduld (Spr 14:29), iemand wie se gemoed volskiet (Joh 11:33), voorneme (Esra 1:5), agterdogtig wees (Num 5:30), hoogmoed (Hos 5:4), of eenvoudig ‘n persoon aandui en dus met ‘n persoonlike voornaamwoord vertaal word (Lk 1:46 waar `my gees’ vertaal is met `ek’). Wanneer daar van die Gees van die Here sprake is, beteken dit dikwels sy krag (Rigt 14:6; 1 Sam 10:6).

Hoe vry hierdie begrippe vir die mens werklik gebruik kan word, blyk ook uit hulle afwisseling. Paulus kan `vlees’ en `gees’ in presies dieselfde betekenis gebruik (2 Kor 2:12; 2 Kor 7:5).

`Hart’ Hier het ons uiteindelik die mees kenmerkende woord vir die mens in die Bybel, veral in die OT. Die Hebreeuse woord leeb kom nie minder nie as 858 keer voor.

Dit kan gebruik word vir hart (2 Sam 18:14), innerlike (1 Sam 16:7). Daar is dikwels letterlik sprake van `’n vrolike hart’ wat vertaal word as tevrede (Rigt 18:20), om iets te geniet (Rigt 19:6,9), of om blymoedig te wees (Spr 15:15). ‘n Mens se hart kan ook bewe wat beteken dat jy bang is (Jes 7:2). `Grootheid van hart’ beteken selfversekerdheid (Jes 9:8), en ‘n mens se hart kan agter jou oë aanloop, dus begeerte beteken (Job 31:7). En soos met byna al die ander woorde vir die mens, kan ook leeb gebruik word vir die mens self, sodat dit met ‘n persoonlike voornaamwoord vertaal kan word. `Mag julle leeb lank lewe’ beteken eenvoudig `mag julle lank lewe (Ps 22:27; vgl ook Rom 1:21; 16:18).

Die belangrikste betekenis waarin leeb gebruik word, is verstand, denke, insig, geheue, wysheid. Dit is anders as wat ons meestal dink. Ons vereenselwig graag die `hart’ met gevoel en emosie. Maar dit word in ‘n oorweldigende aantal kere gebruik vir die mens se intellektuele, rasionele vermoë (Spr 8:5,10; 15:14; 16:23; 18:15; Job 8:10). Opvallend is die kort samevatting van wat ‘n mens is: oë om te sien, ore om te hoor, en ‘n hart om te verstaan (Dt 29:4). Die jong koning Salomo is deur die Here voor ‘n keuse gestel. Hy het wysheid gevra om die volk goed te kan regeer (letterlik `’n opmerksame hart’), en toe die belofte gekry dat die Here hom `’n wyse en verstandige hart’ sal gee, dus wysheid en insig (1 Kon 3:7-12).

Die mens word dus in die OT by voorkeur in verband gebring met denke, verstand, kennis, insig, wysheid. Dit is egter nie teoretiese en abstrakte `studeerkamerkennis’ nie, maar bloedwarm lewenswysheid – Salomo! Dit is nie ‘n wysheid wat uitgedink word nie, dit word as ‘n gawe van God ontvang. Salomo vra letterlik ‘n `horende’ leeb (1 Kon 3:7), wat beteken dat ‘n mens wysheid hoor as jy na die Here luister. In hierdie lig is die noue verband tussen kennis en liefde ook nie vreemd nie. Die Hebreeuse woord vir `ken’ word gebruik vir seksuele gemeenskap tussen ‘n man en ‘n vrou (o.a. Gen 4:1).

Ons het nou na die meeste van die begrippe gekyk wat gereeld in die Bybel vir die mens gebruik word: siel, gees, liggaam, vlees, hart. Nou kan ons ‘n paar gevolgtrekkings maak.

Eerstens dui hierdie begrippe nie op vaste dele waaruit die mens bestaan nie. Trouens nie een van hulle het ‘n vaste betekenis nie.

Tweedens is daar die neiging om enigeen van hierdie begrippe vir die hele mens te gebruik sodat dit dikwels eenvoudig met ‘n persoonlike voornaamwoord (soos hy of sy) vertaal word.

Derdens oorvleuel die betekenis van hierdie woorde.

Vierdens is dit opvallend dat die woord `hart’ wat in die Bybel verreweg die meeste vir die mens gebruik word, glad nie eens in die populêre lysie van `dele’ verskyn nie (gees, siel en liggaam).

Vyfdens moet ons een ding nie vergeet nie: hierdie begrippe as sodanig staan nooit in die sentrum nie. Daar is nooit ‘n poging om die begrippe te ontleed of die mens self te ontleed en te bepaal hoe en waaruit die mens saamgestel is nie. Trouens selfs die mens as sodanig is nie in die belangstellingsveld van die Bybelskrywers nie, wat staan nog die afsonderlike woorde vir die mens. Die mens-in-verhouding-met-God (en in al die ander verhoudings) is die punt waaroor dit gaan, die mens as bondgenoot en beeld, as sondaar, as kind van God, as gemeenskapswese, ensovoorts. ‘n Mens gaan dus teen die gryn van die Bybel in as jy ‘n debat aan die gang sit oor presies hoeveel dele daar in die mens is, of presies wat die siel of gees of hart of gemoed van die mens is. Dit is begrippe wat in allerlei betekenisse gebruik word om die ryk verskeidenheid van fasette van die menslike lewe aan te dui, maar daar is geen belangstelling in hierdie begrippe as sodanig nie.

In die Christelike tradisie sal dit natuurlik dadelik uitloop op die vraag of die mens dan nie ‘n onsterflike siel het nie, want al ken die Bybel nie so iets nie, is dit diep in die oortuigings van baie Christene ingegraveer. Om die bestaan van ‘n onsterflike siel te ontken, lyk vir sommige na ‘n ontkenning van die evangelie self.

Dit is egter nie regtig die geval nie. Dit wat die meeste Christene onder ‘n onsterflike siel verstaan, staan in elk geval duidelik in die Bybel: die mens het ‘n ewige bestemming, die mens moet uiteindelik rekenskap gee voor God, mense sal óf die ewige vreugde óf die ewige dood ingaan. Dit alles sê die Bybelskrywers egter in ander begrippe as `onsterflike siel.’ Wat in hierdie verband in die NT voorop staan, is die opstanding uit die dood. Só sal elkeen rekenskap gee voor God.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied. Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König





Geloofsvrae: Die samestelling van die mens: twee beskouings

Geloofsvrae: Die samestelling van die mens: twee beskouings – Adrio König

Die `samestelling’ van die mens: Twee verskillende mensbeskouings

Sedert die vroeë Christene is daar twee beskouings oor die mens wat in die kerk met mekaar wedywer: ‘n Grieks-filosofiese beskouing en ‘n beskouing wat meer met Bybelse stowwe werk.

Die Grieks-filosofiese beskouing kom hoofsaaklik van Plato af (alhoewel daar langs die pad bydraes van ander filosowe bygekom het) en is deur die vroeë Christene gebruik omdat dit populêr was en toegang tot die geleerde wêreld van hul tyd gegee het. Dit was vir die Christene ‘n maklike aansluiting omdat hierdie Griekse filosowe dieselfde woorde as hulle vir die mens gebruik het (soos siel, gees, liggaam), maar hulle het nie voldoende besef dat die Bybel ander betekenisse daaraan heg nie.

Plato het ‘n uitgebreide en besonder interessante mensbeskouing gehad. ‘n Paar fasette bring die verskil met die Bybelse mensbeeld duidelik na vore. Volgens hom bestaan die mens hoofsaaklik uit twee dele wat nie goed by mekaar pas nie: die onsterflike siel en die sterflike liggaam. Die siel dien straf uit in die tronk van die liggaam vir sondes in die vorige lewe. Die liggaam is ‘n groot hindernis vir die siel omdat dit die siel na die aarde en die aardse dinge aftrek. Daarom is die dood die groot verlossing wanneer die siel uit die liggaam bevry word om in vryheid na die ruimtes van die Gode en die wêreld van die gees te sweef.

Trouens die hele werklikheid bestaan uit twee sulke ongelyksoortige dele: die eintlike wêreld van die gees en die onsigbare dinge wat ewig is en die hoogste waarde het (en volgens sommige filosowe deur die eintlike God geskep is), teenoor die skynwêreld van die liggaam, die materie en die sigbare dinge wat tydelik en minderwaardig is (en volgens sommige deur ‘n tweederangse God geskep sou wees).

In die Bybel word dieselfde begrippe vir die mens gebruik (soos siel, liggaam, gees) maar in ander betekenisse. Terwyl hierdie Griekse filosowe vaste betekenisse aan woorde soos siel en liggaam gegee het en bepaalde eienskappe aan hulle toegeskryf het, gebruik die Bybel hierdie begrippe in ‘n groot verskeidenheid van betekenisse wat dikwels oorvleuel. Die Grieke het hierdie begrippe gebruik om die mens in vaste dele op te deel, terwyl die Bybel die mens as ‘n eenheid beskou wat met behulp van hierdie begrippe van verskillende kante af beskryf kan word. Derdens word hierdie dele dan in die Griekse filosofie in ‘n rangorde van hoër en laer ingedeel, terwyl die Bybel die hele mens (en die hele werklikheid) as die goeie skepping van God beskou en nie van minderwaardige teenoor meerderwaardige dele weet nie. En laastens is die strominge in die filosofie oortuig dat die siel onsterflik is terwyl die Bybel nie dié gedagte ken nie – alhoewel vreeslik baie Christene dit tog glo.

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die doodstraf

Geloofsvrae: Die doodstraf – Adrio König

Doodstraf

Christelike kerke het in die verlede met min uitsonderings die doodstraf aanvaar en selfs verdedig. Dit was eerder uit ander, meer liberale kringe dat die doodstraf sedert die 18e eeu bevraagteken en later in dele van die wêreld verwerp is as onmenslik. Daarteen het die meeste konserwatiewe Christene hulle sterk verweer en veral met ‘n beroep op die Bybel die doodstraf geregverdig.

Dit is nie so maklik om met ‘n beroep op die Bybel die saak te besleg nie. Dit lei geen twyfel dat daar dikwels in die Bybel sprake is van die doodstraf in verskillende vorme nie. Twee sake verdien egter ons aandag: die wrede wyse waarop dit in sommige gevalle toegepas moes word (o.a. deur steniging), en die verskeidenheid oortredings wat met die doodstraf gestraf moes word (o.a. Sabbatsontheiliging, opstandigheid teen ouers, gemeenskap met ‘n verloofde vrou, homoseksualiteit, Num 15:32ev; Eks 20:15; Deut 22:22ev; Lev 20:13). ‘n Mens het dadelik die gevoel dat dit ‘n ander mensbeskouing en menswaardering veronderstel as waarmee ons vandag werk. Só goedkoop is ‘n mens se lewe darem nie, veral nie as ons onthou dat mense as die beeld van God geskape is nie. Die doodstraf het eenvoudig ‘n ander betekenis in die Bybel gehad as vandag.

Daar is twee partye wat by die vraag na die doodstraf betrokke is: die oortreder en die slagoffer. Kom ons kyk eers na die oortreder.

Een van die groot sake om in die geval van die skuldige persoon te oorweeg, is die feit dat die doodstraf ‘n onherroeplike finaliteit het. As dié straf eers voltrek is, kan dit nie hersien of versag word nie. Omdat alle hofuitsprake menslik en daarom feilbaar is, vervul die doodstraf ‘n mens met ‘n bepaalde huiwering.

Die doodstraf is ‘n vorm van erkenning dat die gemeenskap opgee met die skuldige. As een van die oogmerke van straf die rehabilitasie van die skuldige is, geld dit nie meer in hierdie geval nie. Daar is niks sinvol meer aan hom of haar te doen nie. Maar die persoon is tegelykertyd ‘n deel van die samelewing wat uit ons voortkom en grootliks deur ons gevorm is. Die doodstraf is dus ook ‘n refleksie op die samelewing. Dit is ons wat so ‘n samelewing geskep het.

Die doodstraf word dikwels geregverdig as ‘n afskrikmiddel, natuurlik nie vir die oortreder nie, maar vir ander mense. Dit lyk my altyd ‘n kwalike saak om deur ondersoeke vas te stel of dit waar of vals is. Daar is so ‘n verskeidenheid oortredings wat in aanmerking kan kom, en soveel verskillende mense en soorte mense wat oortreders is of kan wees, en soveel verskillende omstandighede wat van situasie tot situasie (land tot land) verander, dat dit nie duidelik is hoe die resultate uit een ondersoek op ‘n ander situasie toegepas kan word nie.

Tot sover oor die oortreder.

Wat die slagoffer betref, lê die dinge natuurlik baie anders. Mense se lewens word verwoes. Moord is miskien nie eens die ergste vorm van misdaad waaronder ‘n persoon kan lei nie. Aanranding, verminking, verkragting, en dikwels op barbaarse wyse, krenk en vermink mense se lewens soms vir goed. In ‘n samelewing waar dit so dikwels voorkom dat dit ‘n wesenlike bedreiging vir die meerderheid van die bevolking word, kan noodmaatreëls nodig word wat onder `normaler’ omstandighede nie oorweeg sou word nie. Sulke noodmaatreëls kan die doodstraf insluit selfs sonder dat daar klinkklare bewyse is dat dit inderdaad ‘n afskrikmiddel sal wees. Selfs al sou dit net ‘n deel van die samelewing die gevoel van ‘n bietjie meer veiligheid gee, het dit al ‘n bepaalde waarde.

Nogtans kan dit net regtig ‘n noemenswaardige verskil maak as die regsisteem só funksioneer dat daar ‘n vrees by potensiële oortreders bestaan dat hulle aan die pen kan ry. Erger strawwe sal uiiteraard nie ‘n positiewe uitwerking hê as te min oortreders aan die man gebring word nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König