Geloofsvrae: Feminisme
Geloofsvrae: Feminisme – Adrio König
Feminisme
1. Die agtergrond
Die Feminisme is ‘n beweging van vroue – waarmee sommige mans hulle vereenselwig – wat nie tevrede is met die plek wat die samelewing aan hulle toegewys het nie. In die meeste kulture word daar teen vroue gediskrimineer, en daarteenoor eis hierdie vroue gelyke regte, behandeling, en geleenthede. Sommige sien hul saak teen ‘n baie breër agtergrond: die totale samelewingstruktuur moet verander: in plaas van owerheid en onderdaan, kies hulle vir vennootskap, in plaas van sogenaamde `harde kragte,’ verkies hulle `sagte kragte,’ in plaas van kompetisie en konfrontasie, liewer onderlinge verbondenheid en samewerking.
‘n Belangrike faset van die agtergrond is die feit dat daar ‘n baie algemene oortuiging is dat daar ‘n manlike natuur en ‘n vroulike natuur is. Dit beteken dat mans sekere aangebore eienskappe het (mans is sterk, hulle reageer vinnig en neem inisiatief, hulle kan leiding gee), en vroue ander (sy is die `swakkere vat,’ sy is sag, geduldig, bereid om te dien, onseker, met ‘n behoefte aan leiding).
Vroue reageer op minstens drie maniere hierop. Sommige aanvaar dit gelate en onnadenkend, ander verdedig die beginsel van vroulike onderdanigheid as ‘n godsdienstige eis, en nog ander bevraagteken en beveg dit. Die tweede groep kom veral in konserwatiewe godsdienstige kringe voor (nie net onder Christene nie, ten minste ook onder Moslems) en die Christene onder hulle kan ‘n sterk beroep op die Bybel doen omdat daar ongetwyfeld sterk uitsprake oor die onderdanigheid van vroue in die Bybel is.
Twee belangrike teologiese vrae is eerstens of God manlik is (wat sou kon beteken dat Jesus noodwendig ‘n man moes wees om God te openbaar), en tweedens of die onderdanigheid van die vrou deel van die evangelie is of net deel van die kultuur waarin die Bybel ontstaan het?
2 Is God manlik?
Die Bybel is ongetwyfeld oorwegend ‘n manlike boek. Mans en manlike beelde oorheers totaal: aartsvaders, priesters, konings, profete, Jesus, apostels, leiersfigure. Verder word daar oorwegend in manlike terme na God verwys. Dit kan natuurlik eenvoudig deel van die androsentriese (manlik-georiënteerde) kultuur van Israel wees, maar dit lyk soms nogal of dit bedoel is. As die profete ‘n keuse het, kies hulle die man as beeld van God, en die vrou as beeld van Israel (en die kerk). Nogtans is daar interessante beperkinge op die `manlikheid’ van God. So word seksualiteit nooit met Hom in verband gebring nie terwyl dit algemeen was vir die volke rondom Israel dat Gode in seksuele verhoudings betrokke is.
Verder relativeer hulle die `manlikheid’ van God deur ook vrouebeelde op Hom toe te pas. Feministe verwys na ‘n hele aantal voorbeelde wat nie almal eweveel gewig dra nie. Daar is egter ‘n paar wat ongetwyfeld die punt maak dat ons ook vroulik oor God kan dink. Hy word dikwels voorgestel as ‘n moeder wat ‘n kind in die wêreld bring, troos, en gerusstel (Dt 32:18; Jes 49:15; Ps 131:2; Jes 66:13). In die beskrywing van die uittog kry ons ‘n paar ewe opvallende voorbeelde. Die Here voorsien telkens vir die volk kos en water in die woestyn. Dit was die pligte van die vrou in Israel. Num 11:12 impliseer dat die betrokkenheid van die Here by die uittog voorgestel word as ‘n moeder wat ‘n kind in die wêreld bring en laat drink. Trouens daar word meer dikwels vroulike beelde vir God in verband met die uittog gebruik (Hos 11:3-4).
Daar is ‘n paar vroulike woorde wat in ‘n besondere verband met die Here staan: sy Gees, die wet, en sy teenwoordigheid. ‘n Mens moet egter nie teveel uit die geslag van woorde aflei nie.
Daar is egter wel waarde in die verwysing na die wysheid wat as ‘n vrou voorgestel word. Dit gaan nie net om die vroulikheid van die Hebreeuse woord vir wysheid nie, maar om ‘n vrouefiguur wat `die wysheid’ genoem is – en ‘n uiters belangrike figuur is. Ons moet onmiddellik sê dat God nooit met die wysheid geïdentifiseer word nie. Wat haar egter belangrik maak, is dat Jesus in die NT met haar geïdentifiseer word, en dat sy in die OT ‘n posisie inneem bo alle mense en dus ook bo alle mans, soveel so dat sy in ‘n nouer verhouding tot God staan as enige mens (dus ook man), dat sy alle mense na haar toe roep (dus gesag oor hulle uitoefen), dat sy konings (natuurlik almal mans) in staat stel om goed te regeer, en dat sy beskou word as die een wat saam met God die inisiatief geneem het in die skepping en in die hele geskiedenis van Israel. Trouens van geen manlike figuur word ooit gesê wat van haar gesê word nie: dat sy God se lewe met Hom deel (Spr 8; Job 28:20-28; vergelyk ook Wysheid van Salomo 7-9; Sirag 24).
Hieruit is dit duidelik dat die heerskappy van die man en die onderdanigheid van die vrou nie as ‘n onbuigbare beginsel in die OT geld nie, maar eerder deel is van die kultuur van die tyd. (Die onderdanigheid van die vrou in die huwelik word verder aan bespreek.)
Die betekenis daarvan dat die wysheid ‘n vrou is, gaan egter verder. In die NT word Jesus met haar geïdentifiseer (1 Kor 1:24,30; Mt 11:19). Dit beteken dat daar nie net manlike titels en beelde vir Jesus gebruik word nie maar ook ‘n vroulike een. Ons moet dus aanvaar dat Jesus se manlikheid nie noodsaaklik was nie, dat Hy ook ‘n vrou kon gewees het en nog die openbaring van God en ons Verlosser sou kon wees.
3 Die eienskappe van God
‘n Laaste uiters belangrike saak oor die `manlikheid’ van God is sy eienskappe. Die eensydig manlike verwysings na God sluit nie uit dat daar ook sogenaamde vroulike eienskappe aan Hom toegeskryf word nie en dat ons Hom uiteindelik juis met hierdie eienskappe identifiseer.
In die vorige sin is nie verniet na `sogenaamde’ vroulike eienskappe verwys nie. Daar is reeds verwys na die vraag of daar ‘n manlike natuur en ‘n vroulike natuur is. Dit is natuurlik moontlik dat ‘n mens inderdaad bepaalde eienskappe (oorwegend?) by onderskeidelik mans en vroue vind, maar dat dit nie noodwendig aangebore, `natuurlik’ eienskappe is nie, maar gesosialiseerde eienskappe. Ons maak kinders groot om in hierdie rolle in te pas omdat die samelewing dit verwag.
In die Bybel word die eienskappe inderdaad oorwegend só gebruik, en die meeste Christene sal waarskynlik sonder meer aanvaar dat veral die manlike eienskappe op God toegepas word: mag, inisiatief, kreatiwiteit, en dat die vroulike eienskappe net per uitsondering vir Hom gebruik word. Immers die Apostoliese Geloofsbelydenis meld net sy almag.
Daar is egter goeie redes om juis die teendeel te aanvaar: dat dit wat kenmerkend van God is, juis die `vroulike’ (`sagte’) eienskappe is. Ons sien dit in die ontwikkeling in ons siening van God in die twintigste eeu, en ook in ‘n bepaalde tendens in die Bybel self.
Vroeër het teoloë inderdaad veral die harde, sterk, koue eienskappe aan God toegeskryf: almag, denke, wysheid, onveranderlikheid, selfgenoegsaamheid, onbetrokkenheid. Daarteenoor het teoloë veral gedurende die laaste helfte van die twintigste eeu al meer eienskappe soos liefde, verbondenheid, getrouheid, geduld aan Hom begin toeskryf – dus eerder `vroulike,’ sagte, warm eienskappe (9-14).
In die Bybel het ons dieselfde situasie. In die vroegste geskrifte in die Bybel word God eerder as ‘n stryder, ‘n regter en ‘n oorlogsgod voorgestel, ‘n God wat straf en wat met fisiese mag optree, terwyl sy liefde en geduld eers later sterker na vore kom. Die optrede van Jesus Christus lewer ‘n beslissende bydrae in dié verband. Terwyl ons God in Hom leer ken, is Hy by uitstek die nederige, lydende Dienskneg, die sorgende en helpende Heiland, die vergewende Here.
Ons moet nie dié tendens verabsoluteer nie. Van die oudste skeppingsverhale, soos Gen 2, beklemtoon alreeds sy sorg en verbondenheid, en die harde eienskappe verdwyn nooit heeltemal nie. Tot in die boek Openbaring bly mag en geweld eienskappe van God. Dit gaan dus net om verskillende beklemtonings, nie om ‘n absolute teenstelling nie.
Maar hierdie beklemtoning beteken in elk geval dat die harde eienskappe van God nie oorheers nie, en baie van ons herken Hom juis by voorkeur aan sy sagte eienskappe. As dit `vroulike’ eienskappe is, soos konserwatiewe Christene beweer, lê die identiteit van God netsowel (of selfs meer) in sy vroulike eienskappe as in die manlikes.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König