Geloofsvrae: Die vervulling van profesieë (beloftes)

Geloofsvrae: Die vervulling van profesieë (beloftes) – Adrio König

Die vervulling van profesieë (beloftes)

Om iets te verstaan van dit wat gewoonlik `die tekens van die tye’ genoem word (soos die Antichris, die groot verdrukking, die terugkeer van Israel na Palestina), en ook hoe ons moet dink oor die groot gebeurtenisse wat ons verwag, moet ons vra wat beloftes (profesieë) is en hoe dit vervul word.

Profesieë is meer as voorspellings

Die blote feit dat ons kies om van beloftes (of profesieë) te praat, en nie van voorspellings nie, is betekenisvol. Daar is belangrike verskille tussen profesieë en voorspellings. ‘n Voorspelling kom eenmaal uit en daarna verloor dit sy betekenis, maar ‘n profesie of ‘n belofte word herhaaldelik vervul.

Die weervoorspelling vir môre is óf reg óf verkeerd, maar vir oormôre het ons ‘n nuwe voorspelling nodig. Daar is sulke voorspellings in die Bybel, veral in Konings (vgl 1Kon 11:29-39 met 12:15-20; 1Kon 13:1-2 met 2Kon 23:15-20; 1Kon 14:1-16 met 14:18 en 15:19), maar hulle speel nie ‘n rol in die heilsgeskiedenis nie.

Hierteenoor word profesieë of beloftes herhaaldelik vervul. ‘n Goeie voorbeeld is die profesie oor die dag van die Here (Amos 5:18-20). Dit word vervul in die volgende gebeurtenisse:

  • in die val van Jerusalem (Eseg 13:5; Klaagl 1:12; 2:1,22),
  • in die aardse  optrede van Jesus (wat volgens Lk 4:16-21 ‘n vervulling is van die profesie oor die dag van die Here in Jes 61:2),
  • die koms van die Heilige Gees (wat volgens Hand 2:16ev ‘n vervulling is van die profesie oor die dag van die Here in Joël 2:31), en
  • Jesus se wederkoms (2Pet 3:12; Open 16:14).

Ander profesieë herhaaldelik vervul

  • Daar is die profesie van Mal 3:1-2 wat vervul word in Johannes die doper (Mark 1:2) en weer in die oordeelsdag (Open 6:17).
  • Jesaja 49:8 is vervul in die terugkeer uit die ballingskap en weer deur die verkondiging van die evangelie in die NT (2Kor 6:2).
  • Die belofte van die land Kanaan (Gen 17:8) is vervul met die uittog uit Egipte, maar word later uitgebrei na die sagmoediges wat die nuwe aarde sal beërf (Mat 5:5).

Trouens dit is opvallend dat ons telkens van `die nuwe’ lees: ná die uittog uit Egipte, kom die nuwe uittog, die terugkeer uit die ballingskap, en later het Jesus self ‘n uittog uit Egipte (Mat 2:14-15) omdat Hy die rol van die ontroue volk oorneem. Nadat die belofte van ‘n koning in Dawid vervul is, word dit weer in die Seun van Dawid vervul. En so kry ons ‘n nuwe verbond, ‘n nuwe Jerusalem, en ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde.

Stippellyne van God se pad

Hieruit is alreeds ‘n tweede verskil tussen voorspellings en profesieë duidelik. Terwyl voorspellings letterlik moet uitkom, word profesieë op ‘n vryer wyse vervul, en gewoonlik ook ryker as wat ‘n mens uit ‘n letterlike interpretasie van die profesie kan aflei. Dit maak profesieë eerder stippellyne wat aandui in watter rigting God met die wêreld op pad is, en nie voorspellings van presies wat sal gebeur nie.

Die vervulling van Joël 2:28-32 in die uitstorting van die Heilige Gees (Hand 2:16ev) is ‘n klassieke voorbeeld. Uit ‘n letterlike interpretasie van Joël 2 sou ‘n mens nooit kon aflei wat regtig in Hand 2 gebeur het nie. Die element van oorlogsrumoer (bloed, vuur, rookwolke) kom glad nie in die vervulling in Hand 2 na vore nie, en ‘n aantal kleiner besonderhede oor die Gees speel ook nie ‘n rol in die vervulling nie. In ‘n voorspelling sou elke detail presies moes uitkom, maar hier is dit nie die geval nie. In die kerk van die NT is daar byvoorbeeld nooit besondere sprake van oumense se drome en jongmense se gesigte nie. Wat wel in Hand 2 gebeur, is dat die Gees in sy volheid kom om meer te doen as om nog ‘n oorlog vir Israel te wen!

Ook die profesie van Amos 9:11-12 word nie eens naastenby letterlik vervul nie (Hand 15:13-19). Israel se fisiese oorwinning oor Edom en ander nasies word geprofeteer, maar Jakobus sê die profesie word vervul in die bekering van die heidene.

Wat dadelik opval, is dat die vervulling nie net anders verloop as wat die letterlike interpretasie ‘n mens sou laat verwag nie, maar dat die vervulling elke keer baie heerliker is en baie nader aan die hart van die evangelie lê as die letterlike interpretasie.

Dit beteken egter dat ons baie versigtig moet wees hoe ons profesieë interpreteer wat nog nie vervul is nie. Daar is ‘n soepelheid in die vervulling wat ‘n mens telkens verras. Juis daarom kan profesieë in meer as een gebeurtenis vervul word soos vroeër aangedui, en het ons nie ‘n helder beeld oor presies hoe die dinge gaan gebeur wat nog in die toekoms lê nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die toekoms

Geloofsvrae: Die toekoms – Adrio König

Die toekoms

Normaalweg sal die laaste hoofstuk van ‘n boek oor die Christelike geloof die opskrif dra: Die laaste dinge. In die meeste gevalle sal dit handel oor ‘n aantal dinge wat nie maklik met mekaar in verband gebring kan word nie. Dit sal gaan oor vrae soos:

  • wanneer sal die wederkoms van Christus wees? Kan ‘n mens dit bereken? Hoe?
  • Wat is die tekens van die tye, d.w.s. die tekens dat die wederkoms naby is?
  • In watter volgorde moet dinge in vervulling gaan?
  • Sal daar ‘n wegraping wees, of net een wederkoms?
  • Wanneer begin die groot verdrukking?
  • Sal daar een of twee opstandings wees? En een of twee oordele?
  • Sal daar ‘n duisend jaar van vrede wees of is dit ‘n geestelike vrede waarin ons noual deel?
  • Waar en wanneer sal die slag van Armageddon wees?

Wat het dit met Jesus te doen?

Dit is goed moontlik dat ‘n mens langs die pad kan begin vra: Presies wat het dit nou alles met ons geloof en veral met Jesus te doen? Ons het tog gesien Hy is die einde en die laaste, Hy is en Hy verwesenlik die doel van God met hierdie wêreld. Watter rol speel Hy nou in al hierdie `dinge’?

So ‘n tradisionele hoofstuk oor `die laaste dinge’ sal ook handel oor `die laaste dae’ en vergeet dat ons lankal in die laaste dae leef, dat Jesus in die laaste dae gebore is en die Gees in die laaste dae uitgestort is. En dadelik sal ons weer besef ons moet eintlik na Hom vra, en nie net na dinge nie. Natuurlik sal sekere `dinge’ (gebeurtenisse) ter sprake moet kom, maar slegs in die mate waarin dit met Hom in verband staan. Ons kan nie nou eers van eskatologie begin praat nie. Ons praat al van eskatologie van ons begin nadink het oor dié Eschatos, dié Laaste, Jesus Christus self.

Ons praat nou oor die toekoms

Waaroor ons wel nou vir die eerste keer begin praat, is oor die toekoms. Tot dusver het ons oor die verlede en die hede gepraat. Nou vir die eerste keer praat ons oor dinge wat nog nie gebeur het nie, waarna ons uitsien, oor beloftes wat nog nie vervul is nie. Omdat Jesus self die laaste en die einde is, weet ons dat wat nog moet gebeur, net so direk met Hom in verband moet staan as die dinge wat alreeds gebeur het.

Dit gaan heelwat moeiliker wees om oor die toekoms te praat as oor die verlede en die hede. Omdat die toekoms nog nie gebeur het nie, en omdat die Here wonderlike dinge beloof het, is dit moeilik om woorde en begrippe te kry om daaroor te praat. Dit sien ons duidelik in die Bybel waar allerlei vreemde beelde en simbole gebruik word om oor die toekoms te praat.

Ons toekomsverwagting word oorheers deur vier gebeurtenisse wat direk met Christus in verband staan:

  • Hy sal weer kom,
  • Hy sal die dooies opwek,
  • Hy sal alle mense oordeel, en
  • Hy sal die aarde nuut maak (97-100).

Daarnaas is daar drie groot temas wat ons aandag vra omdat ons nie oor die toekoms sal kan dink sonder om eers hieraan aandag te gee nie. Die meeste van die ander dinge wat mense opgewonde maak (verdrukking, wegraping, Armaggedon), sal meer terloops ter sprake kom eenvoudig omdat dit nie tot die hart van ons wederkomsverwagting behoort nie en ons aandag van die sentrale gebeurtenisse kan aftrek.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Godsdiensvryheid

Geloofsvrae: Godsdiensvryheid – Adrio König

Godsdiensvryheid en godsdiensgelykheid

1  Godsdiensvryheid

Godsdiensvryheid is ‘n veel makliker saak as godsdiensgelykheid. Min Christene sal veel probleme hê met die siening dat mense vry behoort te wees om die godsdiens van hul keuse te beoefen, trouens ook min mense van ander godsdienstige oortuigings – behalwe skynbaar Moslems in situasies waar hulle in beheer is.

Natuurlik moet ‘n mens dadelik nader kwalifiseer. Die staat behoort vryheid van godsdiens te handhaaf sodat mense op geen manier druk van die staat sal ervaar oor die godsdiens wat hulle beoefen nie. Dit beteken egter nie dat Christene geen belang gaan hê by die godsdiens wat ander mense beoefen nie. Christene behoort alle ander mense uit te nooi en te probeer oorreed om Jesus as Verlosser te aanvaar en na te volg. En tegelyk kan Christene dan nie ander godsdienste kwalik neem as hulle dieselfde doen nie.

Vryheid van godsdiens is ‘n ou en gewaardeerde Protestantse erfenis. Ons weet van godsdiensvervolgings in die geskiedenis van die Christendom. En ons weet ook dat dit geen sin maak om mense te probeer verplig om Christene te word nie. Dit is benede die waarde en betekenis van die Christelike godsdiens om mense op enige manier teen hul wil Christene te probeer maak. Geloof, liefde en hoop is nie afdwingbaar nie.

Wat wel waar is, is dat daar in ‘n ander sin nie godsdiensvryheid bestaan nie: in terme van die Christelike geloof is mense nie voor God vry om te besluit watter godsdiens hulle wil beoefen nie. Hy is die God wat alle mense oproep om Hom te dien deur in Jesus te glo. Hy doen dit nie omdat Hy nie respek het vir hulle vryheid nie – Hy wil slegs in vryheid gedien word – maar omdat Hy weet hulle is nie vry nie en daarom dien hulle Hom nie. Trouens Hy bied selfs aan om hulle vry te maak sodat hulle Hom kan dien, want mense is nie van nature vry nie, maar slawe van die sonde. `Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees ‘ (Joh 8:36).

En daar is nog ‘n sin waarin ons nie van godsdiensvryheid kan praat nie: Christene is nie vry om te besluit of hulle alle ander mense wil uitnooi om vir Jesus Christus te kies nie. `Die liefde van Christus dwing ons …’ (2Kor 5:14).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Godsdiensgelykheid

Geloofsvrae: Godsdiensgelykheid – Adrio König

Godsdiensgelykheid

Godsdiensgelykheid is ‘n baie moeiliker saak as godsdiensvryheid. Die vraag is wat ons daarmee bedoel. Miskien is dit weer die beste om te onderskei tussen die staat en die godsdienstige perspektief.

‘n Mens kan beswaarlik van die staat verwag om tussen godsdienste te onderskei. Die staat werk met belastinggeld en nie met geld van een bepaalde groep nie. Daarom moet dit vir die staat om die algemene belang gaan. Maar ook van die godsdienste se kant gesien kan die staat nie kant kies nie. Dit is onwaardig vir die Christelike godsdiens, en waarskynlik behoort alle godsdienste so te voel, om op die staat te steun. Staatsondersteuning het die Christelike godsdiens duur gekos, insluitende baie geloofwaardigheid. Dit is verlammend om op staatshulp te reken in die vorm van allerlei wette om Christelike gebruike te beskerm (soos `Sabbatswette’). Christene vertrou op die krag van die Heilige Gees om mense te oortuig van die evangelie, en nie op staatsgesag om mense te dwing nie. Om op staatsgesag te steun, is om as die witbroodjie van die regering gebrandmerk te word en jou geloofwaardigheid onder ander godsdienste te verloor. Vir evangelisasie-uitreik is dit verlammend.

Die staat behoort alle godsdienste gelyk te behandel en dit aan die godsdienste oor te laat om mense te probeer beïnvloed. Dit is deel van die reg van vryheid van spraak.

Dit is egter ‘n ander saak wanneer die een godsdiens ‘n evaluering van die ander moet gee. Die Christene beskou tradisioneel nie alle godsdienste gelyk in die sin dat almal dieselfde waarde het nie. Die Christelike geloof heg ‘n unieke betekenis aan Jesus Christus, sy Vader en sy Gees. Natuurlik is daar waarheidselemente in ander godsdienste, en natuurlik is sekere vorme van samewerking tussen verskillende godsdienste volkome sinvol. Maar dit beteken nie dat, solank ‘n mens maar net eerlik en opreg is, dit nie saak maak watter godsdiens jy beoefen nie. Dit is ‘n standpunt wat die wese van die Christelike godsdiens misken, en waarskynlik ook van sekere ander soos die Judaïsme en die Islam. Hierdie godsdienste het ‘n wesenlike eksklusiwiteit wat nie onderhandelbaar is nie. En verder lei ‘n samevoeging of vermenging van godsdienste skynbaar onontwykbaar tot ‘n verlies van entoesiasme en toewyding.

Dat godsdiensondersteuners onderling respek vir mekaar as mense moet hê, is vanselfsprekend. Maar iets soos gesamentlike gebed is heeltemal ‘n ander saak. Daarom is dit beter dat daar liewer nie by openbare geleenthede gebid word nie as dat verskillende godsdienste saam aan gebede deelneem. Die krag van die Christelike gebed lê dan ook nie allereers in die simboliese waarde van openbare gebede nie maar eerder in die ernstige en volhardende voorbidding vir openbare instansies en aangeleenthede. Dit is beter om nie regeringsvergaderings en ander openbare geleenthede met gebed te open nie, omdat dit nie as ‘n godsdienstige aangeleentheid aangekondig is nie en daarom onnodig mense met ander oortuigings in die verleentheid kan stel.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König