Geloofsvrae: Die ampte en regering van die kerk

Geloofsvrae: Die ampte en regering van die kerk – Adrio König

Die ampte en die regering van die kerk

In die kerke met ‘n Gereformeerde (Presbeteriale) vorm van kerkregering is daar meestal drie besondere ampte (predikant, ouderling, diaken), en dan ook die amp van die gelowige. Die beginsel van hierdie stelsel is dat alle ampte gelyk is en net verskillende verantwoordelikhede in die kerk het. Daar is ander vorme van kerkregering soos die biskoplike (episkopale) stelsel wat ‘n hiërargiese stelsel is waar sommige ampte meer gesag as ander het. Die uitgangspunt is die biskop wat die Here in die plaaslike gemeente verteenwoordig. Hy kan in die meeste gevalle alleen besluite neem. In die Katolieke Kerk is daar ‘n hele reeks ampte o.a. die priester, biskop, aartsbiskop, en uiteindelik die pous. Hy het gesag oor die hele Katolieke Kerk.

Dit is nie moontlik om die verskillende stelsels uit die Bybel af te lei nie. Verder is daar heelwat vir en teen elke stelsel te sê. Die amp van biskop of predikant of pastoor as ‘n voltydse ampsdraer wie se vergoeding ten volle deur die kerk betaal word, kom nie só in die NT voor nie. Die oorheersende rol wat hierdie ampte in die meeste kerke speel, is ook vreemd aan die NT.

Een groot verskil tussen die presbeteriale en die biskoplike stelsels van kerkregering is die vraag waar die gesag geleë is. By ons is dit in kerkvergaderinge (kerkraad, ring en sinode) geleë omdat alle besondere ampte gelyk is, maar in die biskoplike stelsel is dit in die hoogste amp geleë, uiteindelik in die pous. Die pous delegeer dan sekere magte na onder sodat die biskop byvoorbeeld die gesag in die plaaslike gemeente het.

Hierdie twee vorme van kerkregering het dit in gemeen dat die plaaslike gemeentes in ‘n noue verband met mekaar staan en groter projekte dus makliker deur ‘n bepaalde kerk onderneem kan word.

Teenoor hierdie twee vorme van kerkregering staan ‘n groot verskeidenheid van vorme in die Pinkster- en Charismatiese Kerke en talle ander kerke. In sommige gevalle is daar een enkele persoon wat die mag het, in ander gevalle ‘n groep (kerkraad). Veral in die Charismatiese kerke is daar min onderlinge verbondenheid van die onafhanklike kerke, en in baie van hierdie kerke is een persoon se woord wet.

Die sinodale vorm van kerkregering het voor- en nadele. Dit skep ‘n sterker band tussen die plaaslike gemeentes sodat daar groter eenvormigheid in die denominasies kan wees en groot projekte aangepak kan word, en dit verminder die moontlikheid dat een persoon die situasie oorheers. Maar dit is in die meeste gevalle baie lomp en langdradig en in sy huidige vorm beswaarlik nog geskik in ‘n samelewing waar belangrike besluite dikwels vinnig geneem moet word. Die amp van biskop (en die enkelel gesagspersoon in die groot onafhanklike Charismatiese kerke) kan inderdaad vinnige besluite neem, maar dit vestig teveel gesag in een persoon. Die oorheersende rol wat die predikant en die pastoor in baie gevalle in die historiese en Pinksterkerke speel, herinnner aan dié van biskop en het dieselfde voor- en nadele.

Die lofwaardige nadruk op die amp van die gelowige – alle gelowiges het die verantwoordelikheid om die Here in die gemeente en in die wêreld te dien – het nie in die historiese kerke regtig soveel goeie resultate opgelewer nie. Gemeentelede is in die meeste gevalle nie volwasse lidmate wat hulle geloof verstaan en entoesiasties kan `verkoop’ nie. Dit is goed moontlik dat die Pinkster- en Baptiste kerke beter daarin geslaag het om hul lidmate daarvoor voor te berei.

Daar is gedurende die laaste aantal dekades heelwat aandag gegee aan die charismatiese struktuur van die plaaslike gemeente. Die kerk van die NT was ‘n charismatiese kerk waarin daar nie ‘n duidelike onderskeiding was tussen wat ons vandag ken as die ampte en die gawes nie. In die lyste `gawes’ word heelwat ingesluit wat ons vandag eerder as ampte sou klassifiseer (o.a. 1Kor 12:28ev en Rom 12:6ev: apostels, profete, leraars, leiding, diens, onderrig gee, hulp verleen). Individuele inisiatiewe is gebiedend noodsaaklik in die lewe van elke gemeente, en denominasies behoort ernstig te kyk na die werkwyse van ander denominasies omdat ons baie van mekaar kan leer.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Eienskappe van die kerk: Christelikheid of apostolisiteit

Geloofsvrae: Eienskappe van die kerk: Christelikheid of apostolisiteit – Adrio König

Christelikheid of apostolisiteit

Hierdie twee woorde kom uit twee verskillende belydenisse. Volgens die Apostoliese Geloofsbelydenis bely ons `een, heilige, algemene, Christelike kerk,’ maar volgens die belydenis van Nicea `een, heilige, algemene en apostoliese kerk.’ Beide begrippe wil sê waar die kerk vandaan kom. Ons kom van Christus af, en wel deur die apostels.

Ons kom van Christus af. Hy is die hoeksteen van die kerk, die steen waarop alles rus. Sonder Hom sou daar nie ‘n Christelike kerk bestaan het nie, en sonder Hom kan die kerk ook nie voortbestaan nie. Ons behoort onsself aan Hom te meet as die enigste maatstaf. Luther kon selfs die Bybel aan Hom meet. Volgens hom was net dié dele waarin Christus verkondig word, van waarde in die Bybel. Daarom het hy nie veel waarde aan die brief van Jakobus geheg nie. Hy het gemeen Christus en sy verlossingswerk word daarin verwaarloos ten gunste van ons goeie werke. Ons weet vandag dat daar ‘n ander manier is om Jakobus se nadruk op die werke te verstaan. Maar Luther behou steeds sy waarde. Dit help ons om te onderskei tussen dit wat nog vir ons geld, en dit wat nie meer gesag vir ons lewe het nie .

Maar waar kry ons ons kennis van Jesus vandaan? Net deur die getuienis van die apostels wat in die NT opgeneem is. Ons sou nie van Hom geweet het as Hy nie dissipels aangestel en voorberei het om die boodskap oor Hom die wêreld in te dra nie. Daarom bely ons dat die kerk apostolies is, gebou op die getuienis van die apostels wat ons in die NT het. Ons glo hul getuienis omdat Jesus hulle voorberei het om sy boodskap aan die wêreld oor te lewer.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Eienskappe van die kerk: Heiligheid

Geloofsvrae: Eienskappe van die kerk: Heiligheid – Adrio König

Heiligheid

Die heiligheid van die kerk beteken minstens twee dinge: afgesonderd vir God, en vry van sonde. Om afgesonderd te wees vir God beteken om by Hom te pas. Hy is heilig, en daarom moet sy volk ook heilig wees (1Pet 1:15-16). In die OT is besondere nadruk gelê op kultiese heiligheid: die tempel moes heilig wees, en ook die priesters, hulle klere, die offers, die instrumente wat in die tempel gebruik is. Daar was ‘n groot aantal seremonies wat mense moes nakom om hulle weer te heilig as siekte of onrein voorwerpe hulle onrein gemaak het.

Dit alles het beklemtoon dat hulle by God moes pas, dat dit vir God nie om ‘t ewe is hoe ‘n mens voor Hom kom nie. Die kultiese aspekte is deur die offer van Christus vervul, maar dit het nie die eis van heiligheid afgeswak nie, maar eerder meer persoonlik en daarom veeleisender gemaak. Dit is ‘n dieper ingreep in ‘n mens se lewe om afgesonder vir God te lewe, as wat dit is om sekere seremonies uit te voer om kulties rein te wees. Dit vra ‘n lewe van toewyding waarin ons onvoorwaardelik tot sy beskikking is.

Die etiese kant is ewe belangrik. Heiligheid het ook daarmee te doen dat ‘n mens vermy wat die Here mishaag, en doen wat sy hart bly maak. Die reekse vermaninge in die Evangelies en Briewe is almal daarop gerig dat die gelowiges sal ophou met bepaalde sondes en hulle lewe sal wy aan die deugde wat Hom behaag. Daar is selfs sterk uitsprake oor volkome heiligheid, wat dikwels nie ernstig genoeg in Gereformeerde kringe opgevat word nie. Die bekende uitsprake van Johannes dat die kinders van God nie aanhou met sonde nie, nie meer sonde doen nie, en selfs nie meer kan sondig nie, hoort opnuut op die aggenda van die Gereformeerde teologie te kom (1Joh 3:6,9).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die eienskappe van die kerk: Eenheid

Geloofsvrae: Die eienskappe van die kerk: Eenheid – Adrio König

Die eienskappe van die kerk

1  Eenheid

Die eenheid van die kerk het in die 20e eeu sterk onder die aandag gekom. Die kerk oor die hele wêreld het in die eeue wat verby is, ‘n tragiese verskeurde vorm aangeneem. Die Protestantisme het ‘n nuwe regverdigingsleer uit Paulus se prediking ontwikkel, maar nie ‘n bevredigende leer oor die kerk nie. Dit het van kwaad tot erger gegaan, sodat die versplintering uiteindelik deur die sending ook op die jong kerke oorgedra is, en die Derde Wêreld glad nie agtergebly het in die wedywering om die meeste verskillende denominasies te vorm nie. Die Pinkster- en later die Charismatiese wêreld ding ewe entoesiasties mee om die prys, en die Onafhanklike Kerke van Afrika bly nie agter nie.

En intussen het daar bitter min oorgebly van een van die hoofsake in Jesus en Paulus se prediking: die eenheid van die kerk.

‘n Mens kan die eenheid van verskillende kante af benader. Die verskillende beelde wat vir die kerk gebruik word, benadruk sy eenheid. Daar kan tog net een volk van God, net een liggaam van Christus, net een tempel van die Gees wees. Paulus gaan selfs verder en beklemtoon dat net soos die versoening met God, is die eenheid van die kerk ‘n vrug van die kruiswerk van Christus (Ef 2:11ev). Wat kan vir Christene nader aan die hart lê as sy kruis? Wat nog belangriker is, is dat Jesus die bekering van die wêreld direk verbind aan die eenheid onder sy kinders (Joh 17:20-23). Die eenheid is ‘n getuienis van die krag van die Gees. As die Gees mense wat van nature en om historiese redes vyandig teenoor mekaar staan, in ‘n hegte eenheid van broederlike en susterlike liefde saambind, sal die wêreld opkyk en navraag doen.

Karikature het nie uitgebly om ons sonde van verdeeldheid te probeer verdoesel nie. Allerlei vreemde begrippe soos ‘n onsigbare eenheid (hoe sou die wêreld daardeur tot geloof beweeg kon word?), ‘n eskatologiese eenheid (eenmaal daarbo as dit ongelukkig nie meer saak maak nie), geestelike eenheid (maar ons bly fisies sover as moontlik van mekaar!) het die geloofwaardigheid van die kerk en sy boodskap erg aangetas.

Dit is natuurlik nie duidelik presies hoe die eenheid van die kerk vandag moet lyk nie, maar dit is nie die punt nie. Die punt is dat dit in elk geval minstens so moet lyk dat dit die wêreld oortuig dat daar ‘n magtige Heilige Gees is wat mense wat eintlik vyande is, so in liefde aan mekaar bind dat hulle na mekaar se belange omsien en nie na hul eie nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König