Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (11)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (11) – Jan van der Watt

Mense buite die groep het jou nie veel aangestaan nie

Omdat jou belange so nou verweef is met die groep se belange, het jy mense buite jou groep met wantroue bejeën. Jy was geen verantwoordelikheid of lojaliteit aan hulle verskuldig nie. Die Gallio-episode (Handelinge 18:14-17) illustreer dit mooi: Gallio het die probleme as binne-Joodse gevegte gesien en besluit dit gaan hom as Romeinse heerser nie aan nie. Hy sê dus dat hulle hulle eie probleme moet uitsorteer (sien ook Johannes 18:31; 19:6,12).

Gasvryheid is tog van almal verwag

Gasvryheid was belangrik in die antieke tyd en was nie net vir vriende bedoel nie. Daar was nie hotelle nie en die losieshuise was baie swak. ʼn Mens kon dit ook nie altyd waag om alleen in die veld te slaap nie. Dit was gevaarlik vanweë die wilde diere en selfs rowers. Jy het ook nie altyd kos op so ʼn lang reis gehad nie. In groot stede is sulke mense toegelaat om in die stadspoort te slaap; die poort het ʼn groot saal gehad met deure na buite en na die stad se kant toe. Hier kon die mense veilig slaap, maar hulle kon ook nie die stad binneval nie. Die gasvryheidsvereiste is dus nagekom sonder om die stad in gevaar te stel.

As jy egter by ʼn privaat gesin om gasvryheid gaan aanklop het, kon hulle jou dit gewoonlik nie weier nie. Vir die tyd wat jy by die gesin deurgebring het, was jy as lid van die gesin gesien. Dit was natuurlik gerieflik vir sendelinge wat ver gereis het. Hulle kon maklik by mede-Christene tuisgaan (Handelinge 14:28; 16:15, 40; 17:7).

Net in Lukas 10:34 lees ons van ʼn losieshuis in die Bybel. In Markus 14:14 en Lukas 22:11 verwys die Griekse woorde na kamers.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (10)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (10) – Jan van der Watt

Die familie moes aan die lewe bly

Byna 80% van die mense van destyds was dagloners wat maar elke dag vir  ʼn werkie gaan soek het. Ons lees byvoorbeeld hoe die eienaar van ʼn stuk grond mense op straat gaan huur het om vir hom te werk  (Matteus 20 ). Die meeste het as landbouers op plase vir ʼn karige loon gewerk; ʼn mens het gewoonlik ʼn denarius vir ʼn dag se werk gekry. Dit beteken egter ook dat die meeste mense ( tot selfs 70% van die bevolking ) onder die broodlyn geleef het. Die mag was dus in die hande van ʼn klein groepie rykes. Snaaks genoeg was soldate nogal ryk omdat hulle goeie  salarisse gekry het. Wat egter gehelp het, was dat die mense in groepe gebly het. Hulle het hul geld saamgesit om so aan die lewe te bly.  ʼn Mens kan in die lig van die armoede ook verstaan waarom tollenaars (belastinggaarders) so ongewild was. ʼn Mens het sekerlik nie daarvan gehou om jou swaar verdiende broodgeld vir ʼn tollenaar te gee nie.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (9)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (9) – Jan van der Watt

Waardes was groepwaardes 3

Nog ʼn belangrike waarde vir die Mediterreense mens was eer. Eer was iets wat jy in die oë van ander gehad het; dit is wat hulle van jou gedink het. Dit was veral jou eie groep se opinie van jou wat baie getel het. As die Fariseërs dus vir Jesus probeer vasvra en Hy wys hulle tereg, styg sy aansien in die oë van die mense; só styg sy eer dus. As die mense vir Jesus “hosanna” toejuig as Hy Jerusalem inry, is dit ʼn teken van erkenning van sy eer. Wanneer hulle egter skreeu: “Kruisig Hom,” is dit om Hom te onteer. ʼn Mens was dus destyds wat jy in die oë van ander was. Dit het egter ook afgehang van wie die “ander” is. As die koning baie van jou dink, was jou eer hoog, al het die gewone mense nie baie van jou gedink nie. Dit is dan ook die argument wat ons baie in die Bybel kry: mense dink nie baie van gelowiges nie en vervolg hulle, maar in die oë van God is die gelowiges Koningskinders. Hulle eer is dus hoog omdat hulle in die oë van God belangrik is, maak nie saak van die res nie.

Dit is dus te verstane dat groepe hulle eer hoog probeer hou het deur hulle goeie naam te beskerm. As een van die groeplede die naam van die groep skade aangedoen het, moes hy tereggewys word. As ʼn mens nie volgens die waardes van die groep geleef het nie, het die groep jou gewaarsku om terug te kom en weer soos ʼn egte lid van die groep te leef. Dit was ʼn liefdesaksie om die afgedwaalde persoon weer in pas met die groep te kry (Matteus 18:15-20). As ʼn persoon hom glad nie meer aan die waardes van die groep gesteur het nie, is hy uiteindelik deur die groep verstoot (Johannes 9:28-34; 1 Johannes 2:18-19).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (8)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (8) – Jan van der Watt

Waardes was groepwaardes

ʼn Groep wat verdeeld is, kan nie standhou nie (Markus 3:24). Daarom is twis, onmin en onvrede binne ʼn groep ʼn baie groter probleem in die Bybel as wat dit vir ons moderne mense is (Jakobus 4; 1 Korintiërs 1:10-17). Daarom was daar baie meganismes om vrede te maak. Jy moes jou fout aan die groep gaan bely en hulle om verskoning vra. Jy moes ook onderneem om nie weer dieselfde dinge te doen wat die groep skade aangedoen het nie. Johannes sê dat ons ook ons sondes voor God moet bely sodat ons verhouding met Hom weer sterk en suiwer kan wees (1 Johannes 1:9). Paulus praat van versoening wat in ernstige gevalle toegepas is. Daar was dan ʼn tussenganger om die kwaaivriendskap reg te maak. Die tussenganger moes dan reël dat die skade wat die een aan die ander gedoen het, ook reggestel word. As alles gereël is, was die twee weer vriende. Paulus sê dat Jesus die tussenganger tussen God en mens is. Hy betaal ook al die skade wat die mens aan God gedoen het en sorg so dat ons weer God se vriende kan wees (Kolossense 1:22-23; 2 Korintiërs 5:17).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt