Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (7)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (7) – Jan van der Watt

Waardes was groepwaardes

Die oproep in Jakobus 4:11 om nie vir jou broer kwaad te word nie, wil juis die groep beskerm, want as jy iemand in die groep skade aandoen, beskadig jy eintlik so die hele groep. In die lig hiervan moet ons ook die opsomming van die wet sien. Jy moet God met alles liefhê, maar wat daarmee gelyk staan, is dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself (Matteus 22:34-40). Binne hierdie raamwerk is dit verstaanbaar dat as jy ʼn kind van die Vader seermaak, jy die Vader seermaak en op dié manier benadeel jy eintlik die hele groep. Om die Vader lief te hê beteken juis ook om sy kinders lief te hê. Binne ʼn groep is almal aan mekaar verbonde. Benadeel jy die een, benadeel jy almal.

Paulus het hierdie groepsverbondenheid goed gebruik in sy sendingwerk. Ons lees dat wanneer hy by ʼn nuwe dorp aankom, hy dikwels eerste na die sinagoge toe is (Handelinge 13:5, 14-15; 14:1; 16:13). Hy het geweet die Joodse groepsgevoel sou hom daar laat welkom voel. Toe die Jode egter agterkom dat Paulus nie presies sê wat hulle groep wil hoor nie, het hulle hom verjaag en selfs vervolg (Handelinge13:50; 14:2, 5). So het hulle hom as buitestander gebrandmerk.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (6)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (6) – Jan van der Watt

Waardes was groepwaardes

Die groep het die waardes en gedrag van die individu bepaal. Die individu was absolute lojaliteit aan die groep verskuldig. Hulle moes hulle eie belange ondergeskik aan die belange van die groep stel en moes selfs bereid wees om die groep met hulle eie lewe te beskerm.

ʼn Basiese waarde wat die groep saamgebind het, was liefde. Liefde was nie in die eerste plek emosioneel nie. Jy het gewys jy het iemand lief deur jou lojaliteit teenoor daardie persoon en die verantwoordelikheid wat jy vir hom neem. As hy jou nodig kry, is jy daar en is jy selfs bereid om jou lewe vir die persoon te gee. Liefde is dus altyd aksie ter wille van iemand anders in die groep. Paulus se lyding saam met die Korintiërs is ʼn voorbeeld hiervan (2 Korintiërs 11:29). Kyk hoe gee God die Vader sy Seun ter wille van sy familie (Johannes 3:16).

Dit is interessant dat ons in die Bybel nie die opdrag kry om vir mekaar dankie te sê nie. Ons moet wel vir God dankie sê en so erkenning gee aan wat Hy vir ons gedoen het. Om nie dankie te sê nie was algemeen in die antieke wêreld. In ʼn groep help die lede mekaar. Vandag help ek jou en môre help jy my weer (byna soos rugbyspelers wat vir mekaar die bal gooi; hulle sê nie elke keer dankie as iemand vir hulle die bal gooi nie).  Die wedersydse hulp het beteken dat as jy iets van iemand gekry het, jy bereid moet wees om dit weer vir hom te gee. Jy moet dus dankie leef en nie sê nie. Mense was dus voortdurend by mekaar “in die skuld”, want as iemand vir jou iets gedoen het, moet jy dit weer vir daardie persoon terugdoen om so te wys dat jy regtig dankbaar is. Dit laat ons sekere eise van die Bybel beter verstaan. Daarom moet ons ons lewe vir die Here gee omdat Hy dit vir ons gegee het’ ons moet ons geld aan die Here toevertrou omdat Hy dit vir ons gegee het, want ons is slegs rentmeesters.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (5)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (5) – Jan van der Watt

Destydse families was ook uitgebreide families. Die werksmense en slawe is as deel van die familie gesien. Die familie moes ook vir hulle sorg en hulle moes lojaal teenoor die familie bly. Daarom word slawe of werkers wat nie goeie werk doen nie, kwaai veroordeel (Matteus 24:45-50). As hulle verkeerd werk, laat hulle die hele groep in die steek.

Slawerny was algemeen in die antieke wêreld. ‘n Mens kon op verskillende maniere ‘n slaaf word: deur geboorte as jou ouers slawe was; jy kon verkoop word om jou skuld te betaal: jy kon in ‘n oorlog wat julle verloor het as slaaf deur die vyand weggevoer word; jy kon as baba deur jou ouers weggegooi gewees het en deur iemand anders opgetel word en as slaaf grootgemaak word.

Slawe het nie persoonlike regte gehad nie en moes hulle eienaars gehoorsaam. Hulle was soos meubels in die huis; die eienaar kon met hulle doen wat hy wou.

Tog was alles nie net sleg vir die slawe. Dikwels was diegene wat in ‘n oorlog as slawe weggevoer is, gesiene en geleerde mense van die groep wat die oorlog verloor het. Hulle is dan in verantwoordelike posisies geplaas, byvoorbeeld om kinders te onderrig of plase te bestuur. Sulke slawe was gewoonlik vir die baas baie werd en die baas het dan mooi na sy belegging gekyk. Slawe kon ook vrygekoop word, of as hulle genoeg geld bymekaar kon maak, kon hulle hulleself vrykoop.  In gevalle waar slawe baie goeie en getroue diens gelewer het, het die eienaar die slaaf vrygemaak. In baie gevalle het die vry slaaf dan nog maar saam met die eienaar gewerk, gewoonlik omdat hy nêrens anders gehad het om na toe te gaan nie.

Vriende was ook altyd welkom en is as deel van hierdie uitgebreide familie gesien. Die basiese eienskap van ‘n vriend was om openlik, eerlik en vrymoedig met jou vriend te wees (Johannes 16:25-30).

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (4)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (4) – Jan van der Watt

Kinders was die krag van ʼn gesin, veral seuns. Kinders is gesien as “ontluikende persoonlikhede”. Dit beteken dat hulle soos ʼn leë glas is: die basiese karaktertrekke is daar, maar deur onderrig in die familie moes die glas volgemaak word. Die kinders het gewoonlik tot hulle sesde lewensjaar onder hulle ma se vlerk gebly. Daarna het die pa’s stelselmatig die verantwoordelikheid vir die opleiding van seuns begin oorneem. Vir die Jode was veral godsdienstige opleiding in die Tora (eerste vyf boeke van die Bybel) belangrik. Die seuns moes die Tora leer lees en selfs leer uitlê. Dele is uit die kop geleer. Dan moes die pa ook die seuns ʼn ambag leer. Josef was ʼn timmerman (anders gestel: in die boubedryf) en Jesus het dus sy ambag by sy pa geleer (Markus 6:3).

Hoe het ʼn mens deel van die familie geword? – Daar was ʼn paar maniere:

(a)    Jy kon in die familie in gebore word (wedergeboorte sê dat gelowiges in die familie van God in gebore word, Johannes 3:3, 5).

(b)   Dan kon jy as kind aangeneem word met dieselfde regte as ʼn kind wat in die familie in gebore is. (In Romeine 8:23 sê Paulus ons is as kinders in God se familie aangeneem.)

Outeur: Prof Jan van der Watt