Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (3)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (3) – Jan van der Watt

Die ma se rol was om kinders in die lewe te bring en hulle dan te versorg. Dit klink eenvoudiger as wat dit is. Huisvrouwees was nog nooit maklik nie. Baie druk was op die vroue om water te gaan haal in putte en riviere, om te sorg dat daar kos is – hulle moes selfs boer (Spreuke 31) – en dan nog die kos gereed te kry en bedien. Petrus se skoonmoeder was skaars gesond of sy moes al weer kos maak. (Markus 1:31; Johannes 12:2). Die dogters het ook fluks saamgewerk. In die aftydjies moes die vroue vir klere sorg op die harde manier. Hulle moes dit self vir die familie maak, want geld om klere te koop was daar nie eintlik nie.

Vroue se plek was in die huis en vir die moderne mens voel dit half verslawend, veral ook as ʼn mens na die klere en kopdoeke kyk wat hulle moes dra. Dit het die vroue egter nie gepla nie. In die huis en huislike bedrywighede was hulle baas. Soos die mans die openbare gesig van die familie was, was die vroue die private gesig.

Daar was egter ʼn baie goeie rede waarom die vroue so in die private beskerming van die huis gehou is en as hulle buite gekom het, hulle so moes toemaak. Dit hang saam met die karakter en suiwerheid van die familie. Destyds is geredeneer dat die karaktertrekke van ʼn kind deur die saad van die pa oorgedra word. As die vrou van ʼn familie dus gemeenskap gehad het met iemand buite die familie, het vreemde karaktertrekke in die familie ingekom. Dan was hulle karakter nie meer so suiwer soos hulle moes wees nie.

Daarom was verkragting iets heeltemal anders in die ou dae. Dit was om op die wese van nie net die vrou nie, maar ook die familie in te gryp. . In sulke gevalle kon die familie wraak neem en selfs al die mans van die ander familie gaan doodmaak. Die groot kuns was egter om die vroue weg te hou van ander mans. Daarom het hulle in die huise gebly en as hulle uitgegaan het, het hulle hulle heeltemal met klere bedek.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (2)

Het jy geweet? Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (2) – Jan van der Watt

Jy moes jou plek ken – dit is die plek wat die groep vir jou gee. Dit was belangrik dat elkeen in die groep sy rol en plek moes ken. In ʼn groepsituasie was dit belangrik, want as elkeen nie doen wat van hom verwag word nie, is dit soos ʼn enjin waarvan al die ratte nie mooi werk nie. Daardie enjin sal nie loop nie.

Die pa was die leier van die groep en moes sorg vir die goeie funksionering van die groep. Hy was as die Paterfamilias gesien, oftewel die een met die gesag in die gesin. In die Romeinse wêreld het die pa absolute mag oor sy gesin gehad en kon selfs sy kinders as slawe verkoop of doodmaak. Dit is egter sterk deur die gemeenskap veroordeel.

In die Joodse wêreld het die pa se mag nie so ver gestrek nie. Die pa moes veral vir twee dinge sorg:

  • Hy moes die tradisie van die groep bewaar en dus vir die dissipline sorg. Dit het beteken dat hy die kinders (veral die seuns) moes leer wie hulle is en wat van hulle verwag word. Hy moes ook sorg dat hulle reg optree en as hulle die familie skade aandoen, moes die pa sorg dat daar dissipline is. Die kinders moes luister na wat die pa sê. As die Bybel dus gelowiges die kinders van God noem, is dit verstaanbaar dat ons na ons hemelse Vader moet luister en sy wil moet doen. Dit is wat van kinders verwag is.
  • Die pa moes ook vir die gesin se voortbestaan sorg. Hy moes sorg vir geld, kos en klere. As die gesin beledig of bedreig is, moes die pa ook leiding neem om die gesin te beskerm. Daarom vra ons ook van ons hemelse Vader ons daaglikse brood (Matteus 6:11). Ons hemelse Vader weet immers wat ons nodig het en daarvoor sal Hy sorg (Matteus 6:31-32). Hy het die gesin ook in die openbare lewe verteenwoordig.

Wanneer die pa gesterf het, was die eersgebore of oudste seun die een wat die familie en familienaam moes voortdra. Daarom was dit so ʼn ramp en skande as die vrou van die leier van die familie nie ʼn seun kon voortbring nie. Dit het die groep se voortbestaan bedreig.

Die Romeinse pa het selfs die reg gehad om te besluit of hy sy pasgebore kind wil hê of nie. Daar is interessante briewe uit die antieke tyd waarin die pa sê as dit ʼn dogter is, moet die ma die baba weggooi, maar as dit ʼn seun is, moet sy hom hou. Sulke babas wat weggegooi is, was ʼn belangrike bron van slawerny, want die persoon wat so ʼn baba opgetel het, kon die baba as slaaf grootmaak.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (1)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (1)

Mense dink en leef nie oral dieselfde nie. Daarom sê ons kulture verskil. Tog draai die hele wêreld om wat mense oor hulleself dink. In die een geval sal iemand in die straat aangerand word en almal sal verbystap (miskien met so ʼn ekstra vinnige passie by) en anderpad kyk. In ʼn ander geval word iemand aangerand en dan vernietig mense omtrent die hele stad. Waar lê die verskil? In die eerste geval het ons individualistiese denke: ek sorg vir myself en basta met die res. Ander mense se lot gaan my nie aan nie. In die tweede geval het ons groepsdenke. Een van die groep is aangerand en daarmee is die hele groep eintlik ook “aangerand”; die een se belange is ook die ander se belange. Daarom reageer almal saam.

In die Bybelse tyd was mense groepsmense

Die kultuur in die Bybelse tyd was ʼn groepskultuur. Mense is altyd met hulle familie, hulle herkoms of selfs die stad waar hulle vandaan kom, geassosieer. As jy hierdie inligting oor  ʼn persoon het, weet jy sommer ook baie van sy persoon. Daarom kry jy Simon, seun van Jona, Jesus van Nasaret, en so aan.

Met jou geboorte al kry jy die karaktertrekke van jou pa; jy aard na hom. En dan kom nog by dat jy baie noukeurig volgens die waardes en gedrag van jou groep grootgemaak word.(Daarom sê Jesus in Johannes 8:38 dat ʼn kind soos sy pa optree; hy het immers alles by sy pa geleer.) As jy in die dorp rondloop, moet mense kan sien aan watter groep jy behoort bloot op grond van jou naam en gedrag. Daarom wou die mense van Nasaret Jesus nie aanvaar nie, want hulle het sy familie geken en gesê dat niemand met so ʼn familie iemand belangriks kan wees nie (Markus 6:2-3). In Johannes 1:45-46 vra Natanael of iets goeds uit Nasaret kan kom. Die individu se karakter, wie hy was en wat hy gedoen het, is dus bepaal deur die groep waaraan hy behoort het. Omdat jou herkoms jou karakter bepaal, was geslagregisters so belangrik (Matteus 1:1-177; Lukas 3:23-38). Dit vertel sommer baie van die persoon met wie jy te doen het. As jy byvoorbeeld van koning Dawid afstam, beteken dit jy het ook blou bloed in jou are. Mense kan dus van jou optrede van daardie kaliber verwag.

Baie stereotipes het oor groepe en herkoms ontstaan. Die mense van Juda het byvoorbeeld gedink hulle is belangriker as die mense van Galilea – die tempel was immers in Juda. Daarom roep God nie ʼn profeet uit Galilea nie (Johannes 7:52). Natanael vra ook in Johannes 1:46 of daar iets goed uit Nasaret kan kom. Die Galileërs was weer bekend daarvoor dat hulle goeie soldate was.Stereotipe – ʼn Mens kan dit byna nie glo nie, maar in sommige gevalle het hulle selfs gedink die son en lug in party areas was beter as in ander areas. Daarom was die mense van die beter areas ook sommer beter mense. As iemand van ʼn spesifieke gebied dus ʼn atletiektoernooi, veral die Olimpiese Spele kon wen, het dit baie eer vir sommer die hele gebied gebring, want die oorwinnaar is een van hulle. Hulle is eintlik almal so goed soos die wenner, want hulle   deel mos sy gene.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt