Besoeke aan die hemel , waar of vals – Jan van der Watt

Susan vra:

Mens hoor dikwels van mense wat sterf en dan terugkom met ‘n getuienis dat hulle in die hemel was. Is dit Bybels? Watter Skrif in die bybel verwys daarna?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vraag raak ’n interessante onderwerp aan wat oor die jare al baie bespreek en oor gedebateer is. Daar is basies twee groot sienings, naamlik, mense wat getuig dat hulle in die hemel was, sekere dinge gesien het (bv. helder ligte, figure wat soos engele lyk) en toe weer lewend geword het – dit word dikwels ’n naby-dood-ervaring genoem. Dan is daar die siening dat dit ’n fisiologiese reaksie is van iemand wat besig is om dood te gaan en weens ’n gebrek aan suurstof in die brein so ’n ervaring van lig wat gesien word kry. Die verskynsel is ook skynbaar ook al waargeneem by lootse wat vinninge vliegtuie vlieg en dan in suurstofnood raak. Soos hulle breine gebrek aan suurstof kry begin hulle soortgelyke dinge sien as wat die mense sien wat naby die dood is. Daar word dan gesê dat die gemeenskaplike die gebrek aan suurstof is.

Hierdie is maar net die breë buitelyne van die debat. Aan albei kante is daar mense wat met verfynde argumente kom wat nie hier verder bespreek gaan word nie.

Wat die Bybelse getuienis betref is daar nie gedeeltes wat na so naby-dood-ervaring verwys nie. Daar word wel van visioene of drome gepraat, of mense wat dood was en byvoorbeeld deur Jesus opgewek is uit die dood, maar nie een van die verhale stem ooreen met wat ons met die naby-dood-ervarings sien nie. Dit lyk dus nie of die Bybel spesifiek daaroor praat nie.

Ons kan wel noem dat die Bybel twee tipes lewe na die dood beskryf. Die een is van iemand wat dood was en deur Jesus lewend gemaak word om so Jesus se mag oor lewe en dood te illustreer. Lasarus (Joh 11) is ’n tipiese voorbeeld van iemand wat al 4 dae dood was en toe weer lewend gemaak is. Daar word egter niks oor Lasarus se ervarings in die dood vertel nie. Die tweede tipe lewe is wat die Bybel die ‘ewige lewe’ noem. Jesus was die eerste een wat gesterf het aan die kruis en toe opgestaan het uit die dood – Hy het nie net na die gewone lewe teruggekeer nie, maar het die dood oorwin en het nou die ewige lewe. Die lewe word aan elkeen wat glo beloof. Wie dit kry, sal nooit weer sterf nie – veral die Johannesevangelie beskryf dit mooi – Joh 3:16, 17, 11:24-25, ens. Wat mooi is, is dat die opgestane Here, met ander woorde, Jesus wat die nuwe ewige lewe leef, tog deur sy Gees by ons is en vir ons voortdurend (bv. by die nagmaal) herinner aan die wonder van die hemel. Openbaring vertel ons hoe dit daar lyk!

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Getuig voor die gemeente

Getuig voor die gemeente – Jan van der Watt

Neels vra:

Nog al die jare ‘n “stoere” Dopper. Gisteraand ontstaan die vraag. Kan ek gedurende die diens, voor die gemeente, getuig oor hoe Christus my lewe verander het. Graag sal ek die argumente daar voor en ook die argumente daar teen wil hoor.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie is ’n vraag wat meer met tradisie as met die Bybel te make het. Die Bybel sê ’n mens moet oral getuig. Jesus het self in Nasaret in die sinagoge getuig, Paulus het oral, in huise, byeenkomste, singagoges, in die buitelug, ens getuig. Daar is nie grense of mure wat mens rondom die getuienis vir Jesus kan bou nie.

In sommige kerke het die tradisie egter anders ontwikkel. In die Gereformeerde kerke het respek vir God sentraal gestaan. Die mens moet in die diens besef hy of sy is in die teenwoordigheid van God. Deur hulle gedrag moet hulle wys dat hulle hom eer. Daarom gaan alles eerbiedig en stil. Die mens moet in die agtergrond bly sodat hy of sy nie meer in die fokus staan as God self nie. Daarom word daar eintlik nie deur mense getuig oor wat die Here vir hulle gedoen het nie. Net die predikant praat, want sy amp is om die Woord te bedien. Die manier van erediens hou is dus nie ’n Bybelse opdrag nie, maar die tradisie en gewoonte van sekere kerke. Ander kerke voel weer dat die erediens die geleentheid is waarop die mense met alles wat hulle doen moet wys hulle eer God. Dan word daar meer informeel opgetree en word daar met ander woorde ook getuig oor wat die Here alles vir hulle gedoen het.

Situasies en tradisies bepaal dus dikwels ons optrede. As die gewoonte nie in ’n gemeente bestaan om te getuig nie, sou dit mense ongemaklik laat voel as iemand getuig. Dan moet mens dit liewer los. Jy moet dan nie aandring om dit te doen net omdat jy voel jy mag nie. Konsiderasie vir ander is altyd ’n goeie Christelike pad om te loop.

 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt