Onlangse brande in die Kaap – Francois Malan

Jan vra:

11Kron 7: 13 en 14 sê: As ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hulle weë, dan sal ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.

Op 22 April 2017 het bykans ‘n miljoen mense op ‘n plaas naby Bloemfontein byeen gekom om vir alles wat in die land verkeerd is, te bid. Daar is etlike getuienisse van dit wat daar gebeur het. En mens moet aanvaar dat die persone wat met die byeenkoms gemoeid was dit met integriteit gedoen het en met ‘n ware begeerte dat die Here sal hoor en antwoord. Uiteraard was die spotters ook by.

Sedertdien het daar ‘n tipe geweld losgebars erger as tevore. Mense word koelbloedig doodgeskiet, verkrag, beroof en besteel. Daarmee saam het die verwoestende brande in die Kaapprovinsie voorgekom – mense het gesterf en by dit het die skiereiland die moeder van alle storms beleef.

Een prediker het die opmerking gemaak dat die satan die storm op die meer van Galilea veroorsaak het toe Jesus op die bank aan die slaap was en Sy dissipels gevrees het vir hulle lewe. Insgelyks het ‘n persoon wat in die brande erg beseer is opgemerk dat die brande demonies van aard was.

Die beginsel in 11 Kor 7: 13 en 14 lê klem op verootmoediging, gebed en bekering dan sal die Here hoor.

Ek verstaan nie hierdie gebeure nie?

Antwoord

Prof Francis Malan antwoord:

Enkele opmerkings oor die vraag: ten eerste is die laaste teksverwysing seker ’n tikfout deur Kronieke met Korintiërs te vervang.

Tweedens haal die vraesteller enkele verse uit 2 Kronieke 7 aan, sonder die waarskuwing van die Here daarna. Dit gaan oor die Here se belofte aan Salomo by die inwyding van die tempel wat Salomo gebou het as die plek waar die Here aanbid sal word.

In verse  17-18 belowe die Here verder dat as Salomo in die voetspore van sy vader Dawid loop deur te lewe volgens die wil van die Here, alles doen wat Hy beveel en sy voorskrifte en bepalings nakom, sal die Here Salomo se  heerskappy bevestig.

In verse 19-20 waarsku die Here egter: Maar as julle wegdraai en my voorskrifte en my gebooie, wat Ek julle gegee het, verontagsaam, en julle gaan dien ander gode en buig voor hulle, sal Ek julle wegdryf uit my land wat Ek aan julle gegee het, en sal Ek hierdie tempel wat Ek vir my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal daarvan ’n spot en ’n skimp maak onder al die volke.

In verse 20-21 sê die Here: elke verbyganger sal sê: Waarom het die Here dit gedoen aan dié land en dié tempel? En die mense sal sê: Omdat daardie volk vergeet het van die Here die God van hulle voorvaders, wat hulle uit Egipte gebring het. Hulle het hulle aan ander gode verbind en voor hulle gebuig en hulle gedien. Daarom het Hy al hierdie groot rampe oor sy volk gebring.

Die gebedsbyeenkoms in Bloemfontein is nie ’n towerstaf wat alles eensklaps in Suid-Afrika regmaak nie, maar is die verootmoediging en gebede van ’n groep ernstige gelowiges wat die Here vra om die lewe van die bevolking in Suid-Afrika in sy oë reg te maak, sodat ons ons afgode van ’n gejaag na rykdom en eer sal prysgee, en die Here en ons medemense in Suid-Afrika in nederigheid en uit liefde sal begin dien.

In 1 Petrus 1:3-9 loof Petrus vir God, die Vader van Jesus Christus dat Hy ons uit sy groot ontferming, die nuwe lewe geskenk het deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike (selfs nie deur vuur nie), onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel vir ons in bewaring gehou word. En omdat ons glo, word ons deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande besproewings (die Griekse woord vir ‘allerhande,’ poikilos, veelkleurig soos ’n lappieskombers – wys op die verskeidenheid van beproewings wat die gelowige se geloof in en vertroue op die Here toets), sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. Al het ons Hom nie gesien nie, het ons Hom lief. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap!

Abraham moes die berg Moria opklim om sy seun Isak te gaan offer as toets vir sy geloof (Genesis 22); Josef moes vir 20 jaar slaaf word en in die tronk gegooi word om sy hele gesin en die Egiptenare te red van ’n dodelike hongersnood (Genesis 50:20); die ryk en vrome Job het in die bakkende son op ’n ashoop sy swere met potskerwe gekrap (Job 2:7-8); Die Here se gesalfde koning Dawid moes in ’n grot gaan wegkruip vir sy lewe (1 Samuel 24:4); Elia het nadat hy gebid het en die Here na drie jaar reën gegee het, vir Isebel gevlug en moedeloos onder ’n besembos in die woestyn gaan sit (1 Konings 19:3-4). Al hierdie geloofshelde het krisisoomblikke beleef toe hulle swaar beproef was met die versoeking om te oordeel dat God nie omgee nie, of kragteloos is, of selfs teen hulle is. Aan die einde het hulle almal die geloofspad gevolg en word as geloofshelde onthou. Ander, soos Kain, Simson, Salomo en Judas het die geloofstoets gedop, en wek by ’n mens ’n gevoel van droefheid en jammerte oor wat tog kon gewees het. Selfs die moord van sy Seun het nie God se barmhartigheid oor die mensdom beëindig nie. Deur die wonderkrag van God se reddingswerk het daardie skurkagtige misdaad die dag geword wat ons Goeie Vrydag noem. In Johannes 12:32-33 verwys Jesus na sy kruisiging met: As Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die doel van geweld

Die doel van geweld – Francois Malan

Lorinda vra:

Ek gaan `n Bybelstudie aanbied oor wat die doel van geweld is en hoekom keer God dit nie. Ek is op soek na ekstra inligting hieroor en teksverse wat dalk meer lig op hierdie vraag kan gee.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Geweld is die gebruik van krag, maar ook die misbruik van krag. Dit kan fisiese krag wees of die krag van die woord of van optrede. Die Bybel is vol geweld wat God toepas deur die natuurkragte of deur mense se fisiese krag, woord-krag en optrede wat Hy gebruik, veral as straf en tugtiging. Die Bybel het ook baie verhale en woorde van die misbruik van mag deur mense wat dink dat hulle god is as hulle ‘n bietjie krag het en dit teenoor ander mense misbruik om hulle krag wat hulle van God ontvang het om ander te dien, te gebruik om hulle self te laat geld om hulle minderwaardigheid te bedek.

Die tweede skeppingsverhaal van Genesis vertel reeds van God se straf op die mens se oortreding deur soos God te wil wees (3:14-19), dat die mens uit die tuin van Eden uitgedryf word, en die tuin bewaak word met gerubs en ‘n vlammende swaard (3:24). Maar dit is ook uit genade, sodat die mens nie vir altyd in sy sonde sou bly lewe nie (3:22).

In jaloesie en woede slaan Kaïn sy broer dood, word van sy grond af verdryf, maar sy lewe word uit genade beskerm (4:5-15).

Die boosheid van die mensdom maak dat God die mense en diere van die aarde af wegvee en uitwis deur die vloed, maar Noag en sy gesin word uit genade gespaar (6:5-8:22). Die Here verstrooi die mense wat uit Noag voortkom oor die hele aarde, wat weier om sy opdrag uit te voer om die aarde te gaan bewoon, en vir hulle ‘n naam wil maak met ‘n stad wat aan die hemel reik (11:1-9).

Die Here verwoes die gebied en mense en plante in en rondom Sodom en Gomorra met vuur en swael oor hulle sondige lewe wat selfs Lot se besoekers met geweld wil verkrag (19:1-25; vgl. Judas 7), maar Lot word uit genade gespaar.

Josef se broers gooi hom met geweld in ‘n put en verkoop hom as slaaf na Egipte, waar die Here hom gebruik om volkere van honger te red (17,41,42).

Die Egiptenaars laat die Israeliete dwangarbeid verrig (Eks.1), Moses slaan ‘n Egiptenaar dood wat sy mense dwangarbeid laat verrig en moet vlug (Eks.2). Die Here straf Egipte met 10 plae wat uitloop op die dood van hulle eerstelinge (Eks.7-12), verlos sy volk uit slawerny en laat die mag van Egipte in die see verdrink (Eks.14).

Die Leviete slaan 3,000 goue kalf-aanbidders dood in opdrag van Moses (Eks.32).

‘n Vuur van die Here verteer die twee seuns van Aäron wat ongeoorloofde wierook vir die Here aangebied het (Lev.10). Korag, Datan, Abiram, 250 mans en hulle gesinne word lewend deur die aarde ingesluk oor hulle opstand teen Moses, en 14,700 van hulle ondersteuners sterf deur die plaag waarmee die Here hulle protes straf (Num.16). Die Israeliete verslaan die Kanaäniete in die Suidland wat teen hulle kom veg het, en verwoes hulle stede (Num.21). Vgl. die oorwinnings oor Sihon en Og (Num.21; Deutr.2,3). 24,000 Israeliete wat Baäl-Peor, die god van die Midianiete gedien het, word deur die stamhoofde van Israel opgehang in opdrag van die Here (Num.25). Daarna word al die Midianitiese mans, seuns en vrouens wat reeds met mans gemeenskap gehad het, in opdrag van die Here doodgemaak (Num.31). Die boeke Josua en Rigters is vol oorlog en geweld in opdrag van die Here, so ook 1&2 Samuel onder Saul en Dawid, 1&2 Konings onder Salomo en die twee rye konings van Juda en Israel (vgl. ook 2 Kon.2:24 se 24 kinders wat deur die bere verskeur word nadat hulle met Elisa gespot het). 1&2 Kronieke herhaal die geskiedenis met al sy geweld, van Adam tot by die laaste van Juda se konings. In Ester word baie geweld gepleeg teen en deur die Jode (hfs.9).

In Jesaja word die Assiriërs die werktuig van die Here se toorn, en hulle word daarna deur die Here uitgewis oor hulle vernietiging, trots en selfversekerdheid (10).

In Jeremia 25 stel die Here vir Nebukadneser van Babel as aan as sy dienaar om Juda en die nasies van hulle omgewing uit te roei en die room in ballingskap weg te voer. Jeremia word word as verraaier in ‘n put gegooi (37,38) en later teen sy wil na Egipte weggevoer (43).

Die kleiner profete waarsku teen afgodsdiens en ongeloof, en voorspel die straf van die Here wat met geweld sal geskied, maar ook die geweld wat mense teenoor mense pleeg (bv. Israel se geweld: hulle verkoop die swakkes en armes Amos 2:6, pa en seun verkrag dieselfde meisie 2:7, hulle laat nasireërs wyn drink en belet profete om op te tree 2:12; teen gesinsgeweld 3:10,11; teen ryk vroue wat die armes verdruk 4:1, teen die wat die reg vertrap 5:7, teen mense wat die armes vertrap 5:11, 8:4, en verkoop 8:6. Hosea wys op die geweld in die tien stamme van Israel, bv. 4:2,14; 5:6,7; 7:1,5; 9:1; 14:1).

In Matteus 2 maak Herodes die Groote al Betlehem se babaseuntjies dood om die beloofde Gesalfde uit te wis. Johannes die Doper noem die Fariseërs en Sadduseërs slange (3:7), hy word deur Herodes Antipas in die tronk gegooi en sy kop word afgekap (4,14). Jesus sê dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, wat ter wille van Hom beledig, vervolg en valslik beskuldig word, word deur God geseën (5:10,11). Jesus beskou dié wat kwaad word en ander uitskel as moordenaars, ook hulle wat mense uitskel en vir mense kwaad word (5:21-22). As iemand jou klap, draai die ander wang (5:39). As iemand jou dwing om sy goed een kilometer te dra, dra dit vir hom twee kilometer (5:41). Julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg (5:44). Vals profete is in werklikheid verskeurende/wrede wolwe (7:15). Die besetenes van Gadara was baie gevaarlik (8:28). Jesus voorspel dat sy volgelinge in die sinagoges gegésel sal word (10:17). Christus het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard; gesinslede sal twis en mekaar doodmaak oor geloof in Christus (10:21,34-36).

Die NAV het Mat.11:12 se geweld en geweldenaars wegvertaal. Dit verwys moontlik na baie mense wat met geweld of militêre mag dít wat húlle as die regering van God op die aarde beskou, wil vestig, of die koninkryk vervolg en beperk. Die koninkryk van God ly onder geweld, en geweldenaars plunder dit. Johannes die Doper word in die teks se verband ingesluit by dié van die koninkryk wat daaronder ly (vgl.7:12 dat mense met hom gemaak het wat hulle wou, en so sal die Seun van die mens ook deur hulle mishandel word. Mt 13:19 sê die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is). Die ooreenstemmende gedeelte in Lukas 16:16 gebruik die woord ‘geweld’ in ‘n ander konteks, nl. van die sending, ‘en elkeen dring daarin’, in die koninkryk in, sonder ‘n hindernis).

In Mat.23:13-36 spreek Jesus die skrifgeleerdes en Fariseërs baie skerp aan. In 23:13 sê Jesus dat die skrifgeleerdes en die Fariseërs die deur van die koninkryk vir die mense toesluit, en in v33 noem Hy hulle ‘n addergeslag op pad na die hel toe. Mat.25:24 se harde man verwys na iemand wat met geweld optree. 25:41 sê die ongelowiges/onbarmhartiges sal in hel se vuur gewerp word. Jesus word gegésel (27:26) en gekruisig (27:35).

Lukas vertel dat die mense van Nasaret Jesus van die krans wou afgooi (4:29); dat rowers ‘n man op pad na Jerigo halfdood geslaan het (10:30), dat Jesus vir sy dissipels ‘n swaard laat koop om hulle te verdedig op hulle sendings 22:36.

Johannes 2:15 vertel dat Jesus ‘n sweep gemaak het, die handelaars en hulle diere uit die tempelterrein uitgedryf het en hulle tafels omgekeer het omdat hulle die huis van sy Vader ‘n besigheidsplek gemaak het; 8:3 vertel van die skrifgeleerdes en Fariseërs se behandeling van ‘n vrou wat in owerspel betrap is; die blindgeborene wat genees is word uitgeskel en uitgeban uit die sinagoge omdat die Jode deur hulle ongeloof hom nie kon antwoord nie 9:34. Petrus kap die oor van die hoëpriester se slaaf af 18:10, ‘n wag van die hoëpriester klap Jesus 18:22.

Petrus en Johannes word deur die Joodse Raad gedreig omdat hulle Christus verkondig (Hand.4:21). Ananias en Saffira val dood neer omdat hulle leuens vertel (5:5,10). Die hoëpriester en sy ondersteuners is afgunstig op die apostels wat baie mense gesondmaak en stop hulle in die tronk, maar toe die bevelvoeder van die tempelwag hulle gaan haal vir die verhoor doen hulle dit sonder geweld, bang dat die mense hulle onder die klippe sal steek (5:18,26), maar in 5:40 word hulle eers goed geslaan voor hulle los gelaat word. Stefanus word gegryp en voor die Joodse Raad gesleep (6:12) en met klippe doodgegooi omdat hy Christus verkondig (7:58). Saulus laat Christen mans en vroue tronk toe sleep (8:3). Herodes Agrippa mishandel gemeentelede en laat Jakobus met die swaard doodmaak vir hulle geloof (12:1), en sit Petrus in kettings in die tronk (12:6). ‘n Engel van die Here tref Herodes met wurms en hy sterf omdat hy mense toelaat om hom ‘n god te noem (22-23). Vir die ouderlinge van Efese sê Paulus daar sal wrede wolwe in die gemeente inkom wat die gemeente probeer verlei (20:29). Hand.21:35 se geweld is ook wegvertaal: die soldate het Paulus gedra vanweë die geweld van die skare wat hom wou doodmaak.

Die woord vir hooghartig in Rom.1:30 impliseer ‘n houding wat lei tot mishandeling en gewelddade teen ander. 12:14 sê ons moet ons vervolgers seën, 12:17 nie kwaad met kwaad vergeld nie, 12:19 nie wraak neem nie, maar dit aan die oordeel van God oorlaat. 13:4 die owerheid het die reg om die kwaaddoener te straf.

1 Kor 3:3 sê twis kom omdat ons nog wêreldse mense is (vleeslik = selfsugtig). Die woord vir bedrieërs in 1 Kor.6:10 kan ook as geweldenaars vertaal word. So kan vervolgings in 2 Kor 12:10 ook vertaal word as mishandeling wat fisiese geweld insluit, vgl. 2 Kor 11:25 dat die Jode vir Paulus 39 houe met die kats gegee het, hy driemaal lyfstraf gekry het (vgl. Hand.16:23) , een maal met klippe gegooi is omdat hy in Christus glo en Hom verkondig (vgl. Hand.14:19).

Galasiërs 5:19-21 sê rede vir vyandskap, woede, rusies, ens. is die mens se sondige natuur. Efesiërs 4:31 waarsku teen verbittering, opvlieëndheid, woede, vloek en skel, 5:4 ontug en gierigheid plaas jou buite die koninkryk van God. Kolossense 3:5,6,8 sien onsedelikheid, wellus, gierigheid, woede, haat, nyd as aardse dinge wat die straf van God ontvang. 3:19 waarsku mans om nie die lewe vir hulle vrouens bitter te maak nie. 1 Tessalonisense 1:4,6 vertel van die gemeente wat vervolging en lyding moet verduur vir hulle geloof, en dat God die vervolgers sal straf.

1 Tim.3:3 en Titus 1:7 se woord wat vereis dat ‘n ouderling nie ‘n rusiemaker moet wees nie, is eintlik dat hy nie ‘n bakleierige bullebak (boelie) moet wees wat ander dreig en geweld aandoen nie.

In hierdie laaste tye waarin ons lewe sal mense wreed wees omdat hulle God nie ken nie (2 Tim.3:2-3). Die swaar tye van 2 Tim.3:1 is eintlik gewelddadige en gevaarlike tye.

Hebreërs 11:35-36 vertel van gelowiges wat doodgemartel is, lyfstraf en gevangenis beleef het, met klippe doodgegooi is, in stukke gesaag is, met die swaard vermoor is, mishandel was oor hulle geloof in Christus.

Jakobus 3:16 sê gemene dade kom uit naywer en selfsug, 4:1,2 selfsugtige begeertes en jaloesie lei tot moord, rusie en bakleiery, 5:4-6 rykes hou hulle werkers se loon agter en hulle vermoor onskuldiges.

Openbaring 18:21,24 sê Babilon sal met geweld neergegooi word omdat hy skuldig is aan die bloed van die profete, die gelowiges en almal wat op die aarde doodgemaak is. 16:18-21 praat van weerligstrale, ‘n geweldige groot aardbewing, groot haelstene wat op die mense van Babilon en die stede van die nasies val as die Here se straf. 20:10 die duiwel word in die poel van vuur en swael gegooi vir dag en nag pyniging, vgl. ook v15 en 21:8.


En hoekom keer God dit nie?

Hy het die mens as ‘n verantwoordelike wese gemaak, en die opdrag gegee: Jy mag nie doodslaan nie: Eksodus 20:13; 21:12-36; Lev. 24:14-23; Deutr. 5:17; 27:24,25; Matteus 5:21-22; Romeine 13:9-10.

Die mens wat nie gehoorsaam is aan God se woord nie en sy opdrag oortree, word deur die Here gestraf op sy tyd, Deutr.32:35; Hosea 10:10; Spreuke 24:12; Rom.12:19; 2 Tes.1:6-10; 2 Tim.4:14; Hebr.10:30-31.

 

Skrywer: Prof Francois Malan