God is oppermagtig oor al die nasies (4)

 

Any theology that does not lead to song is, at a fundamental level, a flawed theology. —J.I. Packer

God is oppermagtig oor al die nasies (4)

In Jesaja 13 – 20, ‘n gedeelte wat ons gewoonlik vinnig lees, is daar drie primêre waarhede wat Jesaja beklemtoon. Vandag kyk ons na die derde van hierdie waarhede:Kyk na Hom.

Die belangrikste besluite word nie in Pretoria of Kaapstad geneem nie, maar in die hemel. Daardie dag sal die mens weer sy hoop op sy Maker vestig, sy hulp van die Heilige van Israel verwag. Hy sal nie meer sy hoop vestig op die altare, die werk van sy eie hande nie (17:7 – 8). Onmiddellik moet ons een gevolgtrekking maak: In hierdie wêreld is daar vir ons geen sekuriteit nie – ons sekuriteit is by God. Daarom moet ons nie op mense vertrou nie, maar op God alleen.

Ons moet ophou om ons hoop te plaas op dit wat ons kan doen.

Ons moet alles wat onverenigbaar met Hom is, verwerp – die altare vir afgode in ons hart. God roep ons om in geloof te leef. Enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof (1 Johannes 5:4). Oorwin ons die wêreld of oorwin die wêreld vir ons? God roep ons op tot geloof wat die wêreld sal oorwin, want Hy heers oor die nasies. Wat meer kan ons vra as dat ons God by die wêreld betrokke is.

Gaan ons op God se oppermag en geregtigheid vertrou – reg nou in ‘n deurmekaar wêreld? Laat Hy ons stabiliseer met daardie dinge wat die wêreld nooit aan ons kan gee en van ons kan wegneem nie.




God is oppermagtig oor al die nasies (1)

Were a dog to see an injury offered to his master, equal to the insult which is offered to God in the sacraments, he would instantly bark, and expose his own life to danger, sooner than silently allow his master to be so insulted. Ought we to show less devotedness to God than a brute is wont to show to man? — John Calvin

God is oppermagtig oor al die nasies (1)

Jesaja 13 – 20 is nie ‘n gedeelte wat ons gewoonlik met veel aandag lees nie. Dit is Jesaja se beskrywing van God wat die nasies oordeel. Kan ons nou hierdie gedeelte gebruik om wreedheid te regverdig – een nasie teen die ander? Miroslav Volf, ‘n teoloog uit Kroasië wat onder die Serbiërs deurgeloop het, het met hierdie vraag geworstel. Sy gevolgtrekking: The certainty of God’s just judgment at the end of history is the presupposition for the renunciation of violence in the middle of it.

 

Ons moet alle menslike ongeregtigheid teenstaan, want God doen dit. Ons verlang na ware en finale geregtigheid. Menslike geregtigheid is dikwels onvoldoende. Jesaja het ‘n antwoord op ons verlange na geregtigheid: die dag van die Here. Huil, want die dag van die Here is naby; dit bring verwoesting, dit kom van die Almagtige af (13:6). God het belowe om beslissend in te tree en om die verkeerde finaal te straf. Na die dag van die Here word in die Nuwe Testament na die dag dat ons Here Christus kom (1 Korintiërs 1:8) verwys, want God gaan die wêreld deur Jesus Christus oordeel.

Dwarsdeur die uitsprake teen die nasies in Jesaja 13 – 20 is een punt baie duidelik: God is nie ‘n plaaslike God nie – Hy is die Here van alle volke; alle volke is aan Hom verantwoordelik; hulle lotgevalle is in sy hande.

In hierdie gedeelte is daar drie primêre waarhede waarvan ons in hierdie gedeelte lees:

  • God is teen die hoogmoediges
  • God regeer
  • Kyk na Hom

Ons gaan nou hierdie drie waarhede in die volgende blogs verder ondersoek.