Lyding as uitdaging van ons geloof

 “… whoever be the man that is presented to you as needing your assistance, you have no ground for declining to give it to him – Johannes Calvyn

Lyding as uitdaging van ons geloof

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

 Daar is drie temas in die Christelike leer wat ons verstaan van lyding verryk en ook ons gesindheid teenoor lyding beïnvloed:

  • Die leer van die skepping en die sondeval

In Genesis 1 – 2 lees ons dat die mens deur God in ‘n wêreld sonder lyding en dood geplaas is. Lyding, soos ons dit vandag ervaar, was nie deel van God se oorspronklike skeppingsplan nie. In Genesis 3 lees ons van Adam en Eva wat sonde doen. Hulle draai weg van God en verloor hulle intieme verhouding met God. Sodoende stort al hulle ander verhoudings ook in duie. Hoekom? Omdat die mens God se gesag verwerp het.

Hierdie leer verwerp ook ons idee dat mense wat erg ly noodwendig slegte mense moet wees. Kyk net hoe kwaad is God vir Job se vriende wat glo dat sy swaarkry die gevolg van sy ongehoorsaamheid is. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen (Matteus 5:45).

  • Die leer van die finale oordeel en die hernuwing van die aarde

Die feit dat daar ‘n oordeelsdag is, laat ons met hoop lewe. Ons het hoop en ‘n aanmoediging om vir geregtigheid te werk, want ons weet dat geregtigheid eendag sal seëvier. Die leer stel ons ook in staat om te vergewe en weg te bly van wraak, want almal van ons sal eendag geoordeel word. Die leer van die oordeelsdag leer ons ook om te besef dat ons nie die kennis het om te weet wat ander mense verdien nie. Wat agter die oordeelsdag lê, vertroos mense wat ly. Wat voorlê is ‘n lewe in ‘n wêreld wat hernuwe is. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). Al sien ons dit nie altyd nie, is dit iets waaraan ons moet vasklou. Wat lê vir ons voor? Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is.  Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is (1 Johannes 3:2 – 3).

  • Die leer van die wonde van God

God het mens geword. Jesus Christus het gely en aan die kruis gesterf. Sonder sy lyding aan die kruis is daar geen oplossing vir ons probleem van lyding nie. Die boek van Job wys vir ons op die mens se onwaardigheid en sterflikheid. Dit vra vir algehele oorgawe. Dan kom die Nuwe Testament. God kom self na die wêreld; Hy ly persoonlik om vir ons die vryspraak te verwerf. Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God (Hebreërs 5:7). Jesus Christus ken verwerping, armoede, mishandeling, wanhoop en die dood.

Ons weet nie hoekom God toelaat dat boosheid en lyding voortgaan nie. Ons weet wel dat dit nie is omdat Hy ons nie liefhet en nie vir ons omgee nie.

Volgende keer kyk ons na die soewereiniteit van God.




Is God soewerein?

If you do not listen to theology, that will not mean you have no ideas about God, rather it will mean you have a lot of wrong ones. —C.S. Lewis

 

Is God soewerein?

[Soewerein = Gebieder met die hoogste gesag beklee; oppermagtig – HAT]

As ons sê dat God soewerein is, is daar drie reëls wat geld:

 

  • God is oneindig in sy wese en in sy manier van doen. Ons beperkte verstand kan nie sy onbeperkte verstand begryp nie. Daarom is sekere van God se besluite ‘n geheimenis vir ons. Die verhouding tussen die soewereine wil van God en die vryheid en morele verantwoordelikheid van die mens is een so ‘n ding. God beweeg die mens se wil, maar op so ‘n manier dat die mens vrywillig optree.
  • God is nooit die outeur van sonde nie. Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sé: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word en self verlei Hy ook niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en aanmoedig (Jakobus 1:13 – 14). Die feit dat mense se sondige optrede soms die doel van God ondersteun beteken nie dat God die outeur daarvan is nie.
  • Mense maak keuses uit hulle eie wil. Nêrens lees ons dat mense poppe sonder enige verstand is wat deur goddelike toutjies beheer word nie.

 

As ons dan weet dat God die hart en verstand van mense kan beïnvloed, hoe moet ons dan optree? Ons moet Hom vertrou. Ons bestemming is in sy hand – nie dié van ander mense nie. Daarom moet ons God in gebed nader as ons toekoms ter sprake is. Dit beteken ons moenie bitter word as ons onregverdig behandel word nie. God laat nooit toe dat mense besluite neem wat sy planne vir ons sal ondermyn nie. God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? (Romeine 8:31).

 

Oppas:

  • Ons mag nooit die hierdie leer gebruik as verskoning vir ons eie tekortkominge nie.
  • Ons mag nie dat die leer van God se soewereiniteit veroorsaak dat ons passief reageer op die optrede van ander nie.
  • Ons mag nooit hierdie leer gebruik as ‘n verskoning vir my eie sondige optrede en besluite nie. Ons bly steeds aanspreeklik vir ons besluite en optrede.