Die dimensies van God se koninkryk – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Kan julle vir die mense uiteensit wat God van praat of wat Hy bedoel met die vier dimensionaliteit van die koninkryk van God, volgens Efesiërs 3:18 en Markus 12:30. Dit is so ’n fenomenale openbaring. Die opsomming daarvan, wat die Vader my nou al gegee het, strek al oor 100 bladsye. Ek glo julle sal weet wat God alles bedoel het daarin.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek is ’n bietjie onseker oor wat ons vraagsteller presies bedoel met die “vier dimensionaliteit van die koninkryk van God” soos dit in Efesiërs 3:18 en Markus 12:30 na vore sou tree. Hy verwys waarskynlik na die feit dat in beide tekste vier dinge genoem word, maar die viertal wat in dié tekste voorkom verwys nie na dieselfde dinge nie. Die beste wat ek kan doen, is om gewoon ’n uitleg te gee van die twee tekste. Hopelik sal dit lig werp op die saak wat die vraagsteller graag aan die orde wil stel.

Efesiërs 3:18

Hierdie teks lui soos volg (volgens die 2020-Direkte Afrikaanse Vertaling van die Bybelgenootskap van SA): “… sodat julle volledig in staat mag wees om saam met al die heiliges tot die besef te kom van die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte …”

Om dié teks na behore te verstaan, moet dit in sy onmiddellike verband geplaas word. Paulus is in 3:16-19 besig met ’n gebed. Hy bid vir drie dinge: 1. Dat die gelowiges innerlik versterk mag word (v16-17). Dit gebeur wanneer die Gees werksaam is in gelowiges en Christus in hulle harte woon; 2. Dat hulle kennis van die volle omvang van God se openbaring sal toeneem, veral wat die liefde van God behels (v18-19a); 3. Dat God se volle heil in hulle lewe ’n werklikheid sal word (v19b).

Dit is duidelik dat 3:18 deel is van die tweede bede. Paulus bid dat die gelowiges tot die besef / die kennis sal kom wat “die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte” (van God se openbaring) is. Uitleggers het al baie verklarings aangebied vir wat hierdie viertal – die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte – presies sou beteken. Ek gaan hulle nie almal hier noem nie, maar slegs op die mees waarskynlike verklaring ingaan. Die agtergrond van hierdie uitdrukking lê waarskynlik in die Ou-Testamentiese wysheidsliteratuur, waar soortgelyke uitdrukkings voorkom. Vergelyk byvoorbeeld Job 11:7-9: “Kan jy die geheimenisse van God ontrafel …? Dit is hoër as die hemel … Dit is dieper as die doderyk … Langer as die aarde … en breër as die see.” Hier kry ons die gedagte dat die geheimenis van God se wese en werksaamheid onpeilbaar is. ’n Mens kan dit nie ontrafel nie; die omvang daarvan is ver bokant ’n mens se begrip. Job vergelyk dit met die onmeetbaarheid van die hemel, die doderyk, die aarde en die see. Met ’n soortgelyke viertal wil Paulus dan ook in Efesiërs 3:18 dui op die onpeilbare omvang van God se heilswerk in Christus. ’n Mens kan dit nie met jou verstand volledig begryp nie. Tog bid Paulus dat die gelowiges in staat mag wees om iets van hierdie omvang – die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte – te begryp. ’n Soortgelyk gedagte tref ons ook in Romeine 11:33-36 aan, waar Paulus wys op die diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God, dat sy oordele ondeurgrondelik en sy weë onnaspeurlik is.

Wat verder betekenisvol is in Efesiërs 3:18-19 is dat hierdie kennis van God se omvangryke heilswerk in Christus gekoppel word aan die korporatiewe kennis van die gelowiges en aan die liefde. Korporatief: Paulus sê dat hulle “saam met al die heiliges” tot die besef mag kom van God se omvangryke genade. Dit gaan dus nie soseer oor ’n individuele, mistieke ervaring van God nie, maar dat gelowiges mekaar nodig het om tot hierdie kennis te kom. Sáám moet hulle soek na God se omvangryke genade. Hoe meer ons mekaar opsoek, probeer agterkom hoe God in almal se lewe sy genadewerk uitvoer, hoe meer leer ons dit ken en hoe meer staan ons verwonderd daaroor. Maar daar is nog iets: Kennis is nie alles nie; daar is iets wat kennis te bowe gaan, en dis die liefde. Daarom dat Paulus in 3:19a bid dat die gelowiges Christus se liefde sal leer ken, wat alle begrip te bowe gaan. Kennis kan opgeblase maak, soos Paulus op ’n ander plek sê: “Kennis maak verwaand, maar liefde bou op” (1 Korintiërs 8:2). Ook die kennis van God se omvangryke genadewerk moet altyd staan in die teken van die liefde wat alles bedek (1 Korintiërs 13:7).

Om dus saam te vat: Die viertal van Efesiërs 3:19 verwys nie soseer na afsonderlike dimensies wat elkeen op sy eie geneem moet word nie, maar druk gesamentlik die totale omvang van God se genadewerk uit. Dis Paulus se gebed dat die gelowiges grondige kennis hiervan sal bekom.

Markus 12:30

Hierdie teks lui: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.” Weer eens het ons hier met ’n viertal te doen – hart, siel, verstand en krag – maar hierdie keer verwys dit nie na die totale omvang van God se genadewerk aan ons, soos by Efesiërs 3:18 nie, maar hoe ons as mense God moet liefhê. In kort beteken dit dat ons God met ons hele menswees sal liefhê; “hele menswees” word hier konkreet uitgedruk as hart, siel, verstand en krag. Markus 12:30 is natuurlik ’n aanhaling van Deuteronomium 6:5 waar Israel reeds die opdrag kry om God lief te hê met hart en siel, met al hulle krag. Markus (soos ook Lukas 10:27) voeg egter “verstand” by, hoewel by Matteus 22:37 daar net ’n drietal voorkom (“krag” word weggelaat).

Uit hierdie vier- of drietal moet ons nie die afleiding maak dat die mens uit drie of vier dele saamgestel is nie, asof die mens ’n samevoeging van afsonderlike “onderdele” is wat uiteindelik die hele mens uitmaak nie. Dit is eerder so dat elkeen van hierdie woorde die hele mens beskryf, vanuit ’n bepaalde perspektief gesien. So is die hart die bron van die menslike bestaan, van waaruit sy denke, gevoel en wil voortspruit; die siel is die menslike bestaan gesien vanuit sy vermoëns en begeertes; die verstand is die mens gesien as ’n redelike, denkende, verantwoordelike wese; en die krag is die mens gesien vanuit sy gerigtheid op ’n taak, sy toewyding. Wanneer al drie (of vier) saam genoem word, wil dit dus net sê dat die mens in sy totaliteit, in sy volle menswees, vanuit alle perspektiewe gesien, betrokke is. En so, sê Markus 12:30, moet ons God liefhê. Niks van wie jy as mens is mag uitgesluit word by jou gerigtheid op God nie. Hy eis jou as totale mens vir Hom op.

Ek vertrou dat bostaande oorsig ’n bydrae sal lewer tot ons vraagsteller se eie ondersoek.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Hoe praat God met ons – Hermie van Zyl

Franci vra:

Praat God met ons deur die Heilige Gees of sal Hy ’n boodskap vir iemand anders gee met die opdrag om dit vir jou te skryf soos God dit aan haar woord vir woord dikteer?

Antwoord

Prof Hermie van zyl antwoord:

Agter die vraag hierbo lê daar waarskynlik ’n spesifieke verhaal waarvan die detail nie aan ons bekend is nie. Maar in die algemeen is daar twee dinge wat ’n mens hieroor kan sê.

Eerstens, dis nie vreemd dat God deur middel van ander mense met ons kommunikeer nie. Die Bybel is vol daarvan. Die profete wat in die Bybel optree, was eintlik niks anders nie as God se spreekbuise wat sy wil aan die volk in die geheel of aan individue oorgedra het. Die klassieke voorbeeld in laasgenoemde geval is sekerlik toe die profeet Natan God se boodskap wat Hy aan dié profeet bekendgemaak het, aan koning Dawid moes gaan oordra (lees 2 Samuel 12). Dawid het gesondig deur owerspel met Batseba te pleeg en boonop haar man, Urija, op ’n slinkse wyse om die lewe te laat bring. Dit was verkeerd in die oë van die Here. Daarom stuur God sy profeet Natan om aan Dawid die verhaaltjie te vertel van ’n ryk man wat ’n ete vir ’n besoeker wou aanbied, maar te suinig was om een van sy eie kleinvee of beeste, waarvan hy baie gehad het, te slag. Toe steel hy ’n arm man se enigste ooilammetjie en slag dié vir die besoeker. Hieroor was Dawid baie ontsteld en roep uit: “dié man moet doodgemaak word.” Waarop Natan vir Dawid sê: “Jy is die man.” Dawid het toe bitter rou gehad en sy sonde erken en bely.

Wat leer ons uit hierdie verhaal? Ons leer dat daar nie ’n teenstelling is tussen die Heilige Gees wat met ons praat en mense wat met ons praat nie. Dis een en dieselfde ding. Natuurlik is dit so dat slegs die Heilige Gees mense se harte kan verander, soos in Dawid se geval. Maar dit staan nie teenoor mense wat met ons praat nie. God gebruik juis mense sodat sy Gees met ons kan besig raak. Trouens, dis die normale manier hoe die Heilige Gees met ons praat. Hoe anders sal ons die stem van die Gees hoor as dit nie langs die weg van God se menslike boodskappers is nie? Natuurlik, God gebruik ook ons gewete om ons aan te spreek, maar dié is soms so toegeskroei dat ons nie God se stem hoor nie. En dan vat dit iemand soos ’n pastoor, predikant, familielid of vriend(in) wat die moed het om ons direk aan te vat voordat God se stem tot ons deurdring. En as die skoen dan pas, moet ons dit aantrek, al word ons kwaad.

Ongelukkig is die Bybel ook vol van mense wat nié die stem van God hoor in die stem van menslike boodskappers nie. Neem nou maar die farao van Egipte wat nie na Moses geluister het nie toe dié God se boodskap oorgedra het dat die farao die Israeliete moet vrylaat om na Kanaän te trek. Dit het katastrofale gevolge vir Egipte ingehou. Al die plae volg toe – tien van hulle – totdat die farao uiteindelik instem nadat al die eersgeborenes van Egipte gesterf het. (Lees hierdie aangrypende verhaal in Eksodus 7-12). En so ook die volk Israel later onder die konings. Die meeste van die konings was goddeloos, waarop God sy profete opwek om die konings en die volk aan te spreek oor hulle sondes en op te roep tot bekering. Maar hulle wou nie luister nie, en uiteindelik loop genadetyd uit en laat God toe dat Israel in twee ballingskappe weggevoer word, in die 8e en 6e eeu voor Christus. As hulle tog maar net wou luister na die stem van God wat deur die profete gespreek het, maar hulle wou nie. Dieselfde gebeur met die Jode later in die tyd van Jesus. Volgens Matteus 23:37-38 roep Jesus uit dat Jerusalem die boodskappers van God doodmaak wat na die stad gestuur word, in stede daarvan om na hulle te luister. Jesus wou hulle so graag beskerm soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaar maak, maar hulle wou nie. En nou word die stad vir hulle woes agtergelaat. In 70 nC is Jerusalem dan ook deur die Romeine verwoes.

Maar tweedens, daar is ook ’n ander kant aan ons vraagsteller se vraag wat moet aandag kry. Dit is wel so dat die normale manier waarop die Heilige Gees met ons praat, deur mense is, soos hierbo verduidelik. Maar ongelukkig is dit ook so dat daar selfaangestelde boodskappers van God is wat aanspraak maak op direkte Goddelike inspraak, maar eintlik maar net hulle eie voorkeure en idees op ander wil afforseer. Dis die bemoeisiekes. Hulle hou veral daarvan om dinge te dramatiseer en dit dan in “God-speak” oor te dra. Hulle voel hulle woorde dra dan meer gesag. En ek wonder of dit nie dalk die geval is in ons vraagsteller se situasie nie. Ons het dalk met die volgende scenario te doen.

Die verhouding tussen ons vraagsteller en ’n vriendin het moontlik versuur. Of daar is iets in ons vraagsteller se persoonlikheid of optrede wat die vriendin nie aanstaan nie, wat sy selfs as sonde beskou. En nou kom die vriendin na ons vraagsteller toe, gewapen met die aanspraak dat God direk met haar gepraat het en die opdrag gegee het dat sy dit woord vir woord moet neerskryf en aan ons vraagsteller moet oordra as komende van God.

Maar ’n mens moet kan onderskei tussen iemand wat eg en met goeie bedoelings met jou kom praat en iemand wat net bemoeisiek is en met allerlei hoë aansprake by jou aankom. Soos reeds genoem, daar is ongelukkig mense wat daarop aanspraak maak dat hulle allerlei visioene of insprake van God kry en dit dan op ’n arrogante wyse oordra, dikwels so dat hulle net hulle eie idees en belange dien. Dis dan dat hulle graag sê dat hulle boodskappe van God oor iets of iemand gekry het en dit nou woordeliks kom oordra, dikwels ook met die aanhaal van Bybeltekste. Maar hierdie “boodskappe van God” is dikwels net ’n manier om ander mee te manipuleer. Want as ek die ander een met my “boodskap van God” konfronteer, dan wil ek eintlik daarmee sê: ek staan so ’n bietjie op ’n hoër trappie as jy; jy het eintlik niks te sê oor my insigte nie, want hulle kom direk van God af; jy moet hulle sonder enige verdere debat aanvaar en uitvoer. Maar, soos ons weet, is dit selde die einde van die storie. Want wat dikwels gebeur, is dat die ander een met ’n teen-boodskap van God kom, sodat ’n skaakmat-situasie ontstaan: dis boodskap teen boodskap, en wie s’n is nou die egte een? Nee, die aangewese roete om te volg as jy regtig bekommerd is oor iemand se geestelike welstand en verhouding met God, is om ’n oop en eerlike gesprek met die ander te hê waar die ander die gevoel kry dat jy haar nie met sogenaamde “direktiewe” van God konfronteer nie, maar rustig gesels, as een sondaar teenoor ’n ander, en so toelaat dat die Heilige Gees die oortuigingswerk doen. Want jy kan in elk geval nie ’n ander se hart verander nie, net God kan.

Om dus saam te vat: dit kan wees dat die situasie met ons vraagsteller is soos die scenario sopas geskets. Dan kan ons vraagsteller die situasie met wysheid hanteer, in die lig van my verduideliking hierbo. Maar dit kan ook wees dat die geval nader is aan die situasie soos by die eerste verduideliking, en dan pas eerlike selfondersoek beter.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Boodskap van God – Hermie van Zyl

Annetjie vra:

My vraag is moeilik om te verwoord, maar ek gaan probeer. Ek en my man is getroud vanaf 2001 en het 2 kinders aangeneem, een op ouderdom 5 en die ander een op ouderdom 4. Ek en my man gaan nou skei, want hy het reeds by sy vriendin ingetrek. Ons het deur baie moeilike tye gegaan omdat my man baie verhoudings gehad het en ook by prostitute gekuier het. My man glo egter dat ek die skuldige is of die oorsaak is vir sy rondkuier. Hy sê die Here het vir hom gesê hy moet by hierdie vriendin intrek. Hy wys na verskeie maniere en verse uit die Bybel wat hy sê God vir hom gesê het.

Ek is so onseker want ek het ook baie foute gemaak, veral dat ek nie vir ons gesin en veral vir my man genoeg gebid het nie, nie by verre nie. Ek het ook nie na God se stem geluister nie, want ek het gedink dit is my eie gedagtes. Ek wil nie skei nie, want ek glo God het vir ons 2 kinders gegee omdat Hy ons huwelik as bindend beskou. Ek sal so dankbaar wees as my man werklik na God toe kan gaan en sy wil soek.

Ek skryf die dinge hierbo omdat ek iets gelees het oor God wat vir ons boodskappe gee vir ander. Maar is dit God of onsself? Ek het al so 2-3 keer boodskappe gekry wat ek nie seker is of dit van myself of van God is nie – wat ek vir my man moet stuur. Ek het een gestuur maar is so bang, want ek is nie seker of dit ek is wat dink dit is van God en of dit werklik van God is nie.

My man gaan niks wat ek stuur, lees of as ernstig beskou nie. Maar hoekom voel dit of die Here my sê om dit te stuur?

Help asseblief. Ek wil net die wil van die Here doen. Ek het lank genoeg in my eie krag probeer.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die kern van die saak wat ons vraagsteller aan die orde stel, is hoe ons van God se wil bewus en oortuig raak, en hoe ons dit aan mekaar kommunikeer.

Laat ek begin deur iets te sê oor die kwessie van ’n “boodskap van God”. Ek dink nie in hierdie situasie is dit die aangewese pad om in terme van “boodskappe van God” te opereer nie. Daarin lê ’n mynveld van misverstande opgesluit. Want hoe beweer ons gewoonlik dat ons van so ’n boodskap bewus en oortuig geraak het? Dikwels klim ons op die karretjie van drome of stemme wat met ons praat, of ’n goeie vriend(in) of kollega se opinie, of ’n teks uit die Bybel wat ons konteksloos en op die klank af van toepassing wil maak in ons eie lewe. En dit stel ons dan sommer so sito-sito gelyk aan ’n direkte boodskap van God. Oortuig hiervan, wil ons dan dié boodskap aan die ander party(e) oordra as die wil van God.

Daar is egter twee haakplekke in dié soort van optrede. Eerstens is daar geen waarborg dat dit wat ek gehoor of gelees het, wel ’n egte boodskap van God is nie. Ons vraagsteller is self bewus van dié moontlike slaggat as sy sê: “want ek is nie seker of dit ek is wat dink dit is van God en of dit werklik van God is nie.” Inderdaad, ons bly feilbare mense; ons kan nie sommer ons oortuigings – hoe edel dit ook al is – gelykstel aan “God se boodskap” vir ons nie. Ons moet baie meer beskeie oor ons idees, opvattings en oortuigings wees. Dikwels moet daar baie aan geskaaf en getimmer word voor ons hulle kan deurgee as “God se boodskap”. En dit lei na die tweede haakplek: “Boodskappe van God” is dikwels ’n manier om ander mee te manipuleer. Want as ek die ander een met my “boodskap van God” konfronteer, dan wil ek eintlik daarmee sê: ek staan so ’n bietjie op ’n hoër vlak as jy; jy het eintlik niks te sê oor my insigte nie, want hulle kom direk van God af; jy moet hulle sonder enige verdere debat aanvaar en uitvoer. Maar, soos ons weet, is dit selde die einde van die storie. Want wat dikwels gebeur, is dat die ander een met ’n teen-boodskap van God kom, soos dit inderdaad by ons vraagsteller die geval is. Haar man maak daarop aanspraak dat God vir hom gesê het om te skei en by die ander een in te trek. En nou sit hulle met ’n skaakmat-situasie: dis boodskap teen boodskap, en wie s’n is nou die egte een?

Dus, die “boodskap van God”-roete is nie die aangewese manier om die soort probleem op te los waarmee ons vraagsteller sit nie. Dis inderdaad ’n jammerlike situasie, en ’n mens se hart gaan uit na hulle. As die situasie inderdaad so is soos die vraagsteller dit beskryf, dan is haar man besig met allerlei drogredenasies om sy eie optrede te regverdig. Hy is kennelik hard besig om uit die huwelik te probeer stap, maar nogtans met ’n mate van godsdienstige “aansien”. Hy probeer hom daarom aan God se kant stel en sy vrou as die skuldige party brandmerk. En ons vraagsteller het vir seker haar bedenkinge en wil graag die huwelik red, maar weet nie mooi hoe om haar man terug te wen en te oortuig van sy dwase optrede nie. Verder is sy ook sensitief vir die wil van die Here, want sy weet dat egskeiding teen God se wil is.

Hoe nou gemaak? As die boodskap-roete nie die aangewese een is nie, wat staan ons vraagsteller te doen? Gewone, eerlike gesprekvoering! Sê hoe jy voel; stel gewoon jou saak soos jy dit sien, sonder om aanspraak te maak op ’n buitengewone boodskap van God. En vra jou man om dieselfde te doen. En laat die krag van God se Woord en Gees die oortuigingswerk doen, na weerskante toe. As daar werklik die bereidheid by beide partye is om die verhouding (weer) te laat slaag – dit wil sê: as daar welwillendheid (“goodwill”) is – kan ’n mens ’n ver pad met die ander loop. Maar as dít nie teenwoordig is nie, is die kanse baie skraal dat die verhouding herstel kan word, selfs al kom jy met die aanspraak dat jy ’n boodskap van God ontvang het.

’n Laaste gedagte: Wat bring jy in so ’n eerlike gesprek na die tafel toe? Jou volle menswees. Alles wat jy tot hiertoe in jou lewe geleer het  – oor die Bybel, die wil van God, jou ervaring van die lewe en die huwelik, hoe jy dink ’n mens behoort te lewe, hoe ’n egpaar in die huwelik behoort op te tree, jou persoonlikheid – speel ’n rol in so ’n gesprek. En wat ook baie kan help, is as ’n mens so ’n gesprek saam met ’n professionele persoon kan voer; iemand wat jy vertrou, soos jou dominee, pastoor, sielkundige of huweliksberader. Want so iemand is opgelei om die gesprek tussen jou en jou man nie te laat vasval nie maar in die rigting van ’n oplossing te stuur. Op hierdie manier, dink ek, raak ons gaandeweg van die wil van God vir ons lewe bewus en kommunikeer ons dit ook op die regte manier aan die ander een.

Ek hoop van harte daar kom ’n uitweg.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Hoe praat God met die mens? – Francois Malan

Jan vra:

11 Petrus 1: 21 sê: Want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie maar deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.
Daar is verskeie profesieë in die Bybel wat op hierdie wyse tot stand gekom het. Dan is daar “gesigte” wat die verskillende profete gesien het en die “woord” van die Here wat Hy tot die profete gespreek het. Soms het engele tot mense gespreek, ens.
As Moses op die berg klim, praat die Here met hom soos ‘n vriend teenoor ‘n vriend. In hierdie tyd het God ook tevoorskyn getree deur wolkedonder, weerligstrale en rook en so met Israel gespreek. Die aanhaling: “So spreek die Here” kom dikwels voor . Ek wonder op welke wyse die Here met die mense gepraat het – dalk met ‘n hoorbare stem of deur die gedagtegange van ‘n mens soos wat mense ook vandag ondervind?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Hebreërs 1:1-2 sê: In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur die Seun.

1 Petrus 1:11-12 sê: die profete het probeer naspeur na watter persoon of na watter spesifieke tyd die Gees van Christus wat in hulle was, verwys het toe Hy vooruit getuig het oor Christus se lyding en die heerlikheid wat daarop sou volg…Hierdie dinge is nou aan julle meegedeel deur hulle wat die evangelie aan julle verkondig het deur die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is.

Hebreërs 3:7 sê: Daarom, soos die Heilige Gees sê …… (met verwysing na Ps 95:7-11 wat letterlik die stemkol– van die Here aanhaal; 1983: ‘na Hom wou luister’).

Mat 10:20: Jesus sê vir sy dissipels ‘…die Gees van julle Vader wat deur julle praat

Vgl. 2 Kor 13:3, Paulus sê vir die Korintiërs: ‘Julle soek ‘n bewys dat dit Christus is wat deur my praat.’

 

Die baie maniere van God se spreke in die ou bedeling was o.a. sy verskyning in visioene (Jes 6:1-13), drome (Gen 28:12), simbole/ritusse/lofsange, die Urim en Tummim (Num 27:21), engele (Gen 19:1,21), natuurgebeure (Eks 19:16), peste en plae (Eks 3:20), gebeure in die geskiedenis (uittog uit Egipte), volkswysheid (Spreuke), ekstase (1 Sam 10:10; 2 Kon 3:15), ‘n rokende oond en brandende fakkel (Gen 15:17).

Die HERE praat egter van aangesig tot aangesig met sy vriend Moses (Eks 33:11), soos Hy bv. in die vorm van een van die drie mans wat na Abraham toe gekom het, met hom gesels, ‘n belofte gee, kennis gee oor Sodom en saam eet (Gen 18:1,13,17,22,33). Die jong seuntjie Samuel het slegs die stem van die Here gehoor (1 Sam 3), soos die stem uit die hemel by die doop en verheerliking van Jesus op die berg (Mt 3:17; 17:5) en met Paulus se bekering (Hand 9:4).

Volgens Habakuk 1 is hy in ‘n lang gesprek met die HERE, met sy vrae en die HERE se lang antwoord daarop. Jesaja het die HERE se soom in die tempel gesien, gehoor van sy magtige teenwoordigheid wat die aarde vul, en die Here het met hom in gesprek getree (Jes 6:1,3,8-13; vgl. die roeping van Jeremia, Jer 1:4-8; en die stem wat Esegiël gehoor het van die HERE in ‘n gestalte met die voorkoms van ‘n mens, Eseg 1:25-23:27).

Maar baie keer is dit ‘n innerlike oortuiging van die profeet wat deur die Heilige Gees gelei is tot die oortuiging (vgl. Joh 16:8-15 dat die Heilige Gees mense oortuig van sonde en van die geregtigheid wat God skenk aan dié wat in Jesus glo, en van God se oordeel).

Die profetiese boodskap word byna altyd ingelei met die woorde: so spreek die HERE, of: die woord van die HERE het tot my gekom, en eindig met: ‘n woord van die HERE. Wat die HERE aan die profeet gee is ‘n woord (dabar of ’imra), soms in ‘n gestalte wat die woord spreek, soms net as ‘n stem wat in die dag of nag kan kom (vgl. bv. 2 Kon 20:5 die Here se antwoord op Hiskia se gebed aan Jesaja). Meestal is dit ‘n woord wat die Here direk met die profeet gepraat het, maar dit kan ook kom uit ‘n oortuiging deur die Heilige Gees in die profeet se denke.

Die Gees van die HERE lei mense tot oortuiging en om te profeteer (vgl. Num 11:17,25), en met wysheid te regeer, vgl. die rigters Otniël (Rigt 3:10), Gideon (Rigt 6:34), Jefta (Rigt 11:29), Simson (Rigt 13:25); en leer boere om te boer (Jesaja 28:23-29).

 

Die Gees van die Here word direk aan die woord van God verbind in

2 Kron 15:1 Die Gees van die HERE het oor Asarja…gekom;

2 Kron 20:14-15 Toe kom die Gees van die Here daar in die gemeente oor die Leviet

Jagasiël…en sê: Luister mense van Juda…So sê die Here…’;

2 Kron 24:20 Die Gees van God het vir Sagaria…in besit geneem…hy sê vir die vok: ‘So

sê God…’ ;

Neh 9:30 U het hulle gewaarsku deur U Gees deur middel van die profete;

Sag 7:12 die boodskap wat die Here die Almagtige deur sy vroeë profete gestuur het nie.

 

Die Gees gee ook wysheid:

Gen 41:38-39 Josef in wie die Gees van God is (1983: verstand van ‘n god);

aan Salomo in ‘n droom, 1 Kon 3:10-15)

Jes 11:2 Die Gees van die Here sal op hom rus, die Gees wat wysheid en insig gee…..

 

In die Ou Testament is die openbaring van God min kere deur uiterlike kultiese middels en handelinge, drome, urim en tummim, ens. verbind; meestal deur direkte openbaring van Hom as die persoonlik aktief teenwoordige God, soos die naam Jahweh ‘Die Ek is’ van Eks 3:14 (in ons bybel vroeër met HERE vertaal) 6,823 maal in die Ou Testament voorkom, wat met die profeet hoorbaar praat (vgl. bv. Amos 3:7: Die Here HERE doen niks as Hy nie sy besluit bekend gemaak het aan sy dienaars die profete nie). In Amos 9:1 sê hierdie boere-profeet: Ek het die HERE by die altaar sien staan en Hy het gesê…’

Johannes 1:1-3 het nuwe lig op die Ou Testament gebring deur Jesus bekend te stel as die Woord van God, wat van die begin af daar was, by God was, self God is; deur wie alles ontstaan het (vgl. 1 Korintiërs 8:6 wat reeds gesê het: vir ons is daar net een God, die Vader, uit wie alles is, en vir wie ons lewe; en net een Here, Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe. Dit word breër uitgewerk in Kolossense 1:13-20 met Jesus as die beeld van die onsigbare God, in wie alles geskep is, in wie God met sy volle wese woon).

Daarmee word Jesus geïdentifiseer as die Woord van God deur wie God bv. aan die begin geskep het deur te : laat daar lig wees, ens. Maar dit beteken ook dat die hele Ou Testament, oral waar staan ‘so sê die HERE’ eintlik Jesus is, die Woord van God, die openbaarder van God en God se wil aan die mens. Vgl. bv. Jesus se uitsprake in Johannes 10:38: die Vader is in My en Ek in die Vader; Jn 12:50: wat Ek sê, sê Ek presies net soos die Vader dit vir My gesê het; Jn 14:10: die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader, wat in My bly en sy werke doen; vgl. Matteus 11:27: ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak (Lk 10:22).

In Jesus het God self mens geword (Joh 1:14) om as mens met ons te kom praat(vgl. Flp 2:7), Sy woorde is vir ons opgeteken sodat ons daarvolgens kan lewe. Die Heilige Gees het in ons kom woon (Joh 14:16-17; Rom 8:9,11) om ons te leer, daagliks te lei en in geloof aan Jesus en die Vader te verbind (vgl. ook Joh 14:23: As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon). Soos die profete van ouds het ons nou die woord van God, deur Jesus gespreek in Ou en Nuwe Testament, in ons hand en word dit deur die Heilige Gees in ons harte geskryf om ons te lei volgens Jesus se woord as die maatstaf vir die lewe as kinders van God (Joh 14:26; 16:13-14). So het die Here in Jeremia 31:33 belowe (vgl. Hebr 8:10; 10:16 waar dit aangehaal word).

Vir ons is die woord van God hoorbaar deur dié wat die Woord van God wat mens geword het, verkondig (1 Petr 1:12), leesbaar in die Bybel wat mense onder die leiding van die Gees geskryf het (vgl. 2 Tim 3:16-17), sigbaar in die lewe van gelowiges (Mat 5:16), en deur die daaglikse leiding van die Heilige Gees in ons gedagtes en gewete (Joh 16:13).

 

Skrywer:   Prof Francois Malan