Vraag: Is dit God se wil – Jan van der Watt

Estelle vra:

 Goeienaand! Help asseblief: my buurvrou se venoot het haar geld verduister en die besighied moes sluit. Sy glo vas dit was God se wil en dat Hy tot haar redding sal kom. Sy skuld derduisende rande aan huur en moes haar kinders na familie stuur om versorg te word. Sy glo van dat God, soos Hy vir Job verlos het, haar ook sal verlos sonder dat sy iets hoef te doen. Sy sit tuis en lees heeldag Bybel en bid en doen niks om werk of hulp te soek nie. Die huiseienaar het haar tot Donderdag gegee om te trek aangesien sy sedert November nog geen huur betaal het nie. Ek koop kos, lugtyd en data vir haar maar ek sukkel self en probeer haar te kry om werk te soek maar sy probeer my net oortuig dat my geloof nie sterk genoeg is nie. God het my gehelp toe ek ‘n afleggingspaket moes neem – ek het Hom vertrou en werk gaan soek. Hy het my nie net werk gegee nie maar ‘n hele nuwe loopbaan. Ek probeer hierdie wonder aan haar oordra maar volgens haar is ek verkeerd. Is ek? As God ‘n probleem oor ons pad toelaat, kan ons net agteroor sit en ‘n oplossing verwag? Ek sukkel hiermee want ek glo God het my ‘n verstand en vermoeens gegee om oplossings te soek en Hom in dit, en met alles, te vertrou.

Prof Jan van der Watt Antwoord

Beste Estelle,

Dankie vir jou epos. Jou standpunt is inderdaad reg. Ons kan God vertrou vir hulp, maar ons moet ook van ons kant vir God ‘n kans gee om ons te help deur die deure wat hy vir ons oopmaak te gaan soek, soos jy inderdaad ook gedoen het. As ons niks doen nie, kan ons nie verwag God moet ons help nie. As ons nie die geleenthede gaan soek wat God vir ons wil oopmaak nie, hoe moet ons dit dan vind? Moedig jou vriendin aan om die lewe weer aan te pak en die trauma wat haar vennoot haar aangedoen het agter haar te laat. Geloof beteken ook om God te vertrou dat Hy ‘n plan met ons lewe het, ‘n plan waarby ons aktief betrokke moet raak.  

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 3 (7) – Dionne Craffort

Die mens is bestem vir ‘n ewige lewe en ‘n uiteindelike opstanding uit die dood. Hoeveel dit ookal indruis teen ons rede en ons ervaring van die dood as einde van die mens, bly die verwagting van die ewige lewe die enigste faktor wat werklik hoop en sin gee aan die menslike bestaan. Dit maak nie saak hoeveel mense dit ontken of bevraagteken nie, die Bybel stel dit duidelik dat die wil van God vir gelowiges ‘n heerlike eindbestemming inhou.

   Ons is maar reisigers op ‘n woestyntog oppad na ‘n beloofde land. Wie die eindbestemming uit die oog verloor, is niks anders nie as ‘n verdwaalde mens wat hopeloos swerf in die woestyn sonder enige hoop op redding.

   Die hart van die Evangelie is dat God die ewige lewe skenk aan elkeen wat glo in Jesus Christus as die Seun van God. Hier beteken die ewige lewe ‘n lewe van vreugde in die teenwoordigheid van Christus. Dit is die teenoorgestelde van die ewige dood wat ‘n bestaan is ver verwyder van God af. “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here”.[Rom6:23]

   Ons lewe welliswaar in ‘n verganklike wêreld waarin alles uiteindelik tot niet gaan. Wie egter in die geloof deel het aan Christus se opstanding, is nie bestem tot verganklikheid nie, maar tot die ewige lewe. “En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe”.{1Joh2:17]

   Die verganklikheid wat kenmerk van hierdie bedeling is, is opgehef toe die ware Lewe in die wêreld ingekom het. Christus is self die Ewige Lewe en daarom kan Hy ook die lewe skenk aan diegene wat aan Hom behoort. “Die Lewe het gekom……. en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons ge-openbaar is”.[1Joh1:2] Die verlossing in Christus geld nie net hierdie lewe nie, maar sluit die gawe van die ewige lewe in. ”En die getuienis behels dit: God het ons die ewige lewe gegee, en die lewe is deur Sy Seun”.[1Joh5:11]

   Die apostel Paulus vat die proses van God se wil met gelowiges mooi saam in Rom6:22 ”Maar nou- julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe”. Die wil van God sluit nie net vrymaking van sonde, diensbaarheid aan God en heiliging in nie, maar loop uiteindelik uit op die ewige lewe. Die ewige lewe is die vrug wat ingesamel word deur die werking van die Heilige Gees na ‘n lewe van diensbaarheid en gehoorsaamheid.

   Wie nie uitsien na die ewige lewe as voleinding van God se wil nie, het nog nie die wil van God ten volle verstaan nie.

Skrywer: Prof Dionne Craffort




DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 3 (6) – Dionne Craffort

Gehoorsaamheid

   Die grondslag van ‘n lewe volgens die wil van God is gehoorsamheid. Die wil van God is ge-openbaar en kan geken word. Kennis is egter nie genoeg nie. Die wil van God moet gehoorsaam en gedoen word. Geloof in die wil van God is ook nie genoeg nie. Jakobus lê klem daarop dat geloof sonder die werke dood is. Geloof sonder daadwerklike gehoorsaamheid aan die wil van God is nie ware geloof nie. Uit gehoorsaamheid aan die wil van God, spruit al die gedagtes, woorde end ae voort wat verwag word van iemand wat aan God behoort en hom dien. Daarom is gehoorsaamheid die basis van ‘n lewe volgens die wil van God. Gehoorsaamheid aan die wil van God sal bepaal of ons die Koninkryk van die hemel sal ingaan. “Nie elkeen wat vir My sê: Here,Here, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is”.[Mat7:21] Die Vader maak dit moontlik deur sy Gees om sy wilt e kan doen.”Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer”.[Fil 2:13]

  Volgens die Bybel moet ons in die eerste plek gehoorsaam wees aan God en daarna ook aan owerhede en gesag wat deur God oor ‘n mens gestel is. Dit sluit in gehoorsaamheid aan ouers en ander gesagsfigure. “Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid”.[1Pet2:13 Hierdie gehoorsaamheid moet ons aanbeveel by alle mense. “Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp,daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is”.[Tit3:1] Die voorwaarde vir gehoorsaamheid is dat mense eers tot geloof in God moet kom, soos die apostel Paulus sê: “Deur Hom het ek die genade ontvang om apostel te wees onder al die heidennasies,om tot eer van Sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring”.[Rom1:5]

   Gehoorsaamheid aan God kom nie van nature uit die mens nie. Ons is eerder van nature geneig tot ongehoorsaamheid. Gehoorsaamheid volg slegs op ‘n genadehandeling van God in ons lewe.”Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkle te word met die bloed van Jesus Christus”. Dit is ten nouste verbind aan die versoeningsdood van Jesus Christus.”Hy het self ons sondes in Sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God”.[1Pet2:24]

   Gehoorsaamheid aan God se wil beteken niks anders nie as die Skrif se oproep om heilig te lewe. Dit kom na ons as ‘n ernstige oproep.”Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees”.[1Pet1:15] Dit is ‘n oproep tot ‘n totale oorgawe aan God. “Stel julle in diens van God as mense wat dood was,maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil”.[Rom6:13]

   Gehoorsaamheid aan God deur Christus en deur die werking van die Heilige Gees, loop vanself uit op gehoorsaamheid aan owerhede wat oor ons gestel is.

   Gehoorsaamheid begin in die ouerhuis waar kinders geleer moet word om gesag te aanvaar. Dit lê die grondslag vir gehoorsaamheid aan ander owerhede soos onderwysers,wetstoepassers en regeringsowerhede. Die wetteloosheid in ons samelewing is die gevolg van geslagte van mense wat nooi geleer het om gesag te aanvaar en te eerbiedig nie, en ook nie om die eise van God se Woord te gehoorsaam nie.

Skrywer: Prof Dionne Craffort

 




DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 3 (5) – Dionne Craffort

Medemenslikheid

Liefde:

Die bron van alle medemensliheid is die liefde en dit moet die vernaamste kenmerk wees van iemand wat binne die wil van God wil lewe. Die liefde is immers die volle uitvoering van die wet.[Rom 13:10]. “Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.”[ Rom 13:8]. Al die gebooie word saamgevat in die een gebod:”Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”.[Rom 13:9].

  Die liefde verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Die liefde soek net die beste vir die medemens en skakel selfsug en eie belang uit. Sonder die liefde vir God ene die medemens, kan niemand die wil van God uitvoer nie. Die liefde vir God bestaan daarin da tons Sy gebooie gehoorsaam.[Joh 5:2]. Ons lewe moet dus getuig dat God ons liefhet en ons vir Hom.”En liefde beteken dat ons volgens die gebooie van God lewe.” [2Joh6]. God is liefde en wie Sy voorbeeld volg, soos dit sigbaar word in Christus, sal ook in liefde teenoor mekaar lewe.

  Liefde is die kenteken dat ons kinders van God is en dat ons God ken {1Joh4:7]. Dit is egter nog veel meer – dit maak God sigbaar vir ander. ‘Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het Sy liefde in ons Sy doel volkome bereik.” [1Joh 4:12].

  Die liefde bly die grootste van al die gebooie en die grondslag van almal. “Soos julle van die begin af gehoor het, is dit Sy gebod dat julle in die liefde moet lewe”.[2Joh v.6].

Diensdaarheid

Christus het na hierdie wêreld toe gekom nie om gedien te word nie, maar om te dien. [Mark 10:25] Wie  Hom volg, moet dus bereid wees om te dien. Natuurlik moet ons diens in die eerste plek op Christus gerig wees.”Christus is die Here in wie se diens julle staan”.[Kol 3:24]. Daar is ook die belofte, dat as ons Hom dien, sal die Hemelse Vader ons eer. [Joh.12:26].

  Om Christus te dien, beteken egter ook dat ons ons medemense en mede-gelowiges moet dien. “Dra mekaar se laste en gee op die manier uitvoering aan die wet van Christus”. [Gal 6:2]. Die wet van Christus is dus gerig op die hulp,ondersteuning en bemoediging van die medemens. Niemand voer die wil van Christus uit as hy nie bereid is om sy medemens te dien nie.

  Diensbaarheid beteken dat mens afstand moet doen van selfsug en eie beland.”Mens moet nie sy eie voordeel soek nie, maar diè van die ander”. [1Kor 10:24]. Wie die belange van sy medemens voorop stel, is ‘n toonbeeld van iemand in wie die liefde van God woon. Dit is die moeilikste deel van ons diensbaarheid en ons moet onsself telkens inspan met moeite om dit te kan uitvoer.

  Die diens aan die naaste moet uitloop op praktiese hulpverlening wat opoffering verg.”Help die mede-gelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid”.{Rom 12:13}. Die nood moet prakties verlig word en daar moet selfs aan vreemdelinge huisvesting gegee word. Die diens gaan nie sonder opoffering gepaard nie. Wie sy broer sien gebrek ly en hom nie help nie, vertoon niks van die liefde van God aan die wêreld nie.{1 Joh 3:7}.

  Die opdrag word egter nog moeiliker as ons bevel word om selfs ons vyande tot diens te wees. “As jou vyand honger is, gee hom iets om tee et; as hy dors is, gee hom iets om te drink [Rom 12:20].

  Dit is wat God van jou en my vra. Is ons bereid om ook in hierdie opsig binne die wil van God te lewe?

Vrede en blydskap

Vrede met God en vrede met die medemens is ‘n opdrag wat ons ontvang het.

God is die oorsprong van vrede. Hy stuur sy Seun na hierdie vredelose wêreld as die Vredevors wat vrede moes bring tussen God en mens en tussen mens en mens. Met Jesus se geboorte sing die engelekoor vrede op aarde [Luk 2:14]. Hyself sê vir sy dissipels:”Vrede laat ek vir julle na; my vrede gee ek vir julle” [Joh 14:27].

  Hierdie vrede wat van God kom en in Jesus Christus gestalte gekry het, moet nou deur ons as gelowiges uitgeleef word. Dit moet ons gedrag en ons menseverhoudinge

bepaal. “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en verstand die wag hou in Christus Jesus”[Fil 4:7]. Jesus is die Middelaar van die vrede wat ons gedrag moet bepaal.

   Dit alles beteken dat ons in vrede moet leef met ons medemens. “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense”[Rom12:18]. Hoe moeilik dit ookal is in ‘n gebroke wêreld vol vyandigheid, moet ons as kinders van God die vrede najaag en soek. Ons moet altyd werk vir vrede in die wêreld en vir vrede onder mekaar.

  Wanneer dit egter kom by die verhouding tussen gelowiges onderling,is die opdrag baie duidelik “En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe”[Kol 3:5]. Vir onenigheid en verskeurdheid binne die liggaam van Christus is daar geen verskoning nie.

  Is daar vrede tussen jou en jou broers en susters in die gemeente? As jy binne die wil van God wil lewe, moet jy dringend gaan vrede maak. Jou vrede met God hang af van jou vrede met jou broer en suster in die geloof.

   Vreugde en blydskap  wat gelowiges behoort te ervaar, hang baie af van die vrede. Alleen as ons in vrede leef met die mense rondo mons, kan ons vreugde ervaar. Paulus bid dat God sy lesers met alle vreugde en vrede sal vervul [Rom 15:13]. Mense wat lewe in vrede met almal en wat vervul is met vreugde, kan nie anders as om ‘n innerlike vrede te hê wat alle verstand te bowe gaan nie.

 

 Selfbeheersing

Selfbeheersing behoort ‘n uitstaande eienskap te wees van elkeen wat die wil van God wil doen. Petrus wys op die naderende einde van alles en moedig aan tot selfbeheersing.”Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees sodat julle kan bid”{1 Pet 4:7].

   Selfbeheersing beteken in die eerste plek dat ‘n christen nie woedend en verbitterd moet wees nie! [Ef 4:31:”Moet nooit verbitterd of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie”. Selfbeheersing gaan direk in teen die natuurlike neighing van die mens om wraak te nee men te vergeld. Om dit te kan be-oefen is ‘n genadegawe van die Heilige Gees. “Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. In teendeel, antwoord met ‘n seënwens, want dartoe is julle geroep, sodat julle die seen van God kan verkry”[1Pet 3:9).

   As jy jou humeur nie kan beheers nie en op ander mense skel en hulle verwens, kan jy sekerlik nie die seen van God op jou lewe verwag nie.

   Selfbeheersing beteken verder dat mens elke vorm van losbandigheid moet aflê. Losbandigheid is die direkte uitvloeisel van sonde wat van mens werktuie van die bose maak. Deur die sonde aft e lê. Losbandigheid is die direkte uitvloeisel van sonde wat van mens werktuie van die bose maak. Deur die sonde af te lê en te bestry, kan mens met selfbeheersing lewe en die wil van God doen.”Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle julle in diens van God as mense wat dood was maar lewens gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil” [Rom 6:12-13].

   Rom.13:13 en 14 vat al die vorme van losbandigheid mooi saam.”Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jalousie wees nie. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.” [Rom 13-14].

   Losbandigheid en boewery gaan hand aan hand gepaard met drank. ‘n Dronk mens verloor beheer oor sy dade en doen dinge wat hy andersins nie sou doen nie. Daarom is daar ernstige waarskuwings teen die misbruik van drank.”Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard.Nee, laat die Gees julle vervul,…”[Ef5:18].

Seksuele losbandigheid is ‘n groot versoeking waarvan die kind van God moet wegbly. Dit is ‘n oop sweer in ons samelewing wat dikwels ooglopend toegelaat word. Ontrou in die huwelik het ‘n algemene verskynsel geword. Die Skrif noem dit egter ‘n sonde teen God en teen die liggaam van die mens. “’n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is”[1Kor.6:13b].

   Elke vorm van onsedelikheid word met erns afgewys.”Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug,onsedelikheid in enige vorm,of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie”[Ef5:3]. So ernstig is die oortreding dat mense wat dit pleeg nie deel het aan die Koninkryk van God nie.

  Ontug en onsedelikheid word bestry as mense die huwelik as ‘n instelling van God aanvaar en onderhou.”Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aanmekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom”[Heb13:4]. Die verbrokkeling van die huwelik is die grootste oorsaak van losbandigheid. Daar word ‘n indruk geskep asof die huwelik nie ‘n instelling van God self is nie en daarom kan mense saamwoon, sonder om die verantwoordelikhede van die huwelik na te kom. Paulus praat van die verhouding tussen man en vrou in die huwelik as ‘n diep geheimenis wat ‘n eenheidsband tussen hulle skep.”Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees. Hierin lê daar ‘n diep geheimenis opgesluit en ek pas dit toe op Christus en die kerk”[Ef5:31 en 32].

   Selfbeheersing moet in die derde plek ook be-oefen word in die manier waarop ons praat. Woede loop meestal uit op onbeheerste spraak. Dit is net so dodelik en kwetsend as onbeheerste dade. Daarom dat die Bybel haatspraak en vuiltaal te sterkste afkeur.”Vuiltaal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom” [Ef4:29].

   Selfbeheersing moet ten slotte ook geld in die gebruik van ons besittings. Die Skrif wys gierigheid af want dit is ‘n selfsugtige gebruik van gawes wat God ons gee. “Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het”[Heb13:5]. Die gelowige moet werk vir sy onderhoud,tevrede wees met wat God voorsien en bereid wees om ander te help met dit wat hy verdien.”Laat dit vir julle ‘n saak van eer wees om rustig te lewe, julle met julle eie sake besig te hou en self in julle lewensonderhoud te voorsien, soos ons dit aan julle voorgehou het”[1Tes4:11].

   Gierigheid loop uit op jaloesie oor wat ander besit en op die begeerte na ‘n ander se besittings. Dit lei tot diefstal,rusie en selfs moord.”Julle wil dinge hê,maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed, kan dit nie in die hande kry nie  en dan maak julle rusie en baklei julle”[Jak4:2].

Skrywer:  Prof dionne Craffort