Dink nuut oor God se wil (3)

You never really understand a person until you consider things from his point of view. -Harper Lee, skrywer

Dink nuut oor God se wil (3)

Frank Viola (Rethinking the will of God) het ‘n baie interessante siening oor die wil van God. Dit laat ‘n mens waarlik weer dink.

Ons het gesien dat God se wil ‘n parkeergebied met grense is. In die parkeergebied is daar baie wettige en aanvaarbare parkeerplekke. Die keuse is joune solank jy binne die grense van die parkeergebied bly. Kan ek tog iets doen om ‘n beter parkeerplek te kry?

Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop (Spreuke 3:6). Jakobus sê: As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee … Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie (1:5 – 8). In nie-morele sake kan God sekerlik lei, maar meestal laat Hy die besluite aan ons oor.

Ons deel natuurlik hierdie parkeergebied met ander Christene. Wat gebeur nou as ons nie oor die grense van die gebied saamstem nie? Dikwels is die probleem in hierdie gevalle dat Christene hulle eie reëls ontwikkel het – net die orrel in die kerk, daar moet ‘n preekstoel wees, ens. Dit is egter so dat ons gewete dikwels deur ‘n gebrek aan kennis beperk word. Daarom het volwasse Christene tipies meer vryheid. Ons sien dit duidelik in die gemeente in Korinte waar daar ‘n vraag was oor die eet van vleis wat aan ‘n afgod geoffer is (1 Korintiërs 8). Daar is dit duidelik dat daar drie soorte Christene is:

  • Swak gewete. Hulle glo dat sekere nie-morele praktyke sonde is. Hoekom? Hulle is verkeerd onderrig en het ‘n ooraktiewe gewete ontwikkel.
  • Sterk gewete. Hulle weet dat sekere sake geen morele betekenis het nie. Hulle het die vryheid om sekere dinge te doen, sonder om daaroor skuldig te voel. Hulle het die vermoë om tussen morele en nie-morele dinge te onderskei.
  • Die wettisiste. Hulle dring daarop aan om druk op ander uit te oefen om hulle standaarde te aanvaar. Hulle kan nie tussen die eise van God en hulle persoonlike toepassing onderskei nie.

Dit is duidelik dat elke persoon ‘n persoonlike oortuiging oor ‘n saak moet hê. Vir die een is een dag belangriker as die ander dae; vir ‘n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting (Romeine 14:5). Ook moet ons medegelowiges aanvaar al verskil hulle opvattings van myne. As God iemand as deel van sy familie aanvaar, kan ons hom nie verwerp nie. Ons moenie medegelowiges oordeel nie. Daar is ‘n ou Indiaanse spreekwoord: Do not judge another man until you’ve walked two miles in his moccasins.




Het ons ons godsdiens afgewater? God se wil vir my lewe (2).

When we deal seriously with our sins, God will deal gently with us. —C.H. Spurgeon

Het ons ons godsdiens afgewater? God se wil vir my lewe (2).

Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se  Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie.

Belangriker as om sy wil te soek, is om Hom te ken en te vertrou. Ons soek formules en allerhande slim antwoorde om God se wil te bepaal. Maar wat verwag God van ons?

Dat ons Hom sal ken en vertrou. Dit beteken dat ons na Hom toe sal gaan en tyd met Hom spandeer. Luister na sy Woord; wees gehoorsaam aan Hom. Dan besef ons dat die wil van God nie ‘n padkaart is wat ons moet ontdek nie … dit is ‘n verhouding met Hom. As ons so naby aan Hom leef, sal ons nooit hoef te vra wat sy wil vir my is nie. Die doel is dus nie om te vra wat God se doel vir my lewe is nie, maar om dag vir dag saam met Hom te loop.

God openbaar sy wil vir ons in sy Woord. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels; doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle geleer het (Matteus 28:19 – 20). Dit is tog duidelik. Ons kry hierdie selfde basiese benadering in ander Skrifgedeeltes. Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld gestuur (Johannes 17:18)

Ons moenie God se wil vind nie – dit is duidelik aan ons gegee. Ons moet dit net uitvoer. Ons moet sy getuies wees. Ons onmiddellike reaksie is dat ons dit nie kan doen nie. Net voor sy hemelvaart sê Jesus vir sy dissipels: Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Handelinge 1:8). God se wil is baie duidelik: gaan getuig – vertel vir die wêreld wie Jesus Christus is, wat Hy gedoen het en hoe Hy mense verlos.

Lukas vertel agt maal dat mense met die Heilige Gees vervul is en elke keer is die gevolg dat daardie mense begin praat het. As ek ander mense van die wonder van die evangelie van Jesus Christus vertel, doen ek die wil van God.




Het ons ons godsdiens afgewater? God se wil vir my lewe (1)

It is not so much our friends’ help that helps us as the confident knowledge that they will help us. –Epicurus, filosoof (c. 341-270 BCE)

Het ons ons godsdiens afgewater? God se wil vir my lewe (1)

Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se  Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie.

Wat is die mees algemene vraag wat Christene vra? Wat is God se wil vir my lewe? Hoe weet ek wat God se wil vir my lewe is?

Dit klink so asof God se wil op een of ander manier verlore geraak het. Nou begin ons allerhande metodes uitdink om God se wil te ontsyfer. Ons maak die Bybel oop en druk ons vinger op ‘n vers en siedaar ons het die antwoord. Of ons soek vir ‘n wonderteken – soos Moses se brandende bos of Saulus se verblindende lig. Sommige voel dat God deure vir ons oop- en toemaak en ons moet dit so aanvaar.

Maar God het nooit sy wil vir ons verberg nie. Die probleem is dat ons dikwels nie so seker is dat ons wil gaan waarheen Hy ons lei nie – sê nou net Hy lei my na ‘n verskriklike plek. Daarom is ons bang om te sê: God, ek is gewillig om te gaan waarheen U my ook al lei. Hy is tog ons Vader; ons weet mos hy maak nie foute nie; ons weet tog Hy soek net die beste vir ons.

Die antwoord is om my wil aan sy wil oor te gee. Dit is wat dit beteken om ‘n dissipel te wees. Maar hoe doen ons dit? Daarna gaan ons die volgende keer kyk.




GOD BEWEEG MENSE OM SY WIL TE DOEN

A true education is never finished, and a finished education is of little use. — A.T. Robertson

 

God beweeg mense om sy wil te doen

Ons word dikwels, menslik gesproke, oorgelaat aan die genade van ander mense – hulle besluite en optrede. Hoe moet ons optree? Kan ek vertrou dat God in daardie persoon se hart sal werk? Volgens die Bybel kan ons God vertrou. God doen dit egter op so ‘n manier dat hierdie mense  dit vrywillig doen.

 

 

Ons sien dit in die proklamasie van koning Kores van Persië wat die Jode toelaat om na die ballingskap terug te keer. Ons lees die Here het koning Kores van Persië laat besluit om die proklamasie uit te vaardig (Esra 1:1). Die bestemming van Israel was in die hande van die magtigste koning – menslik gesproke – maar in werklikheid was dit in God se hand. Jesaja gee ons ‘n verdere insig: Ter wille van my dienaar Jakob, van Israel wat Ek uitverkies het, het Ek jou op jou naam geroep, gee Ek jou ‘n eretitel hoewel jy My nie ken nie … Ek rus jou toe vir jou taak al ken jy My nie (45:4 – 5).

 

Kores kan ‘n proklamasie uitvaardig, maar die Jode moet reageer. Ons sien dat die familiehoofde van Juda en Benjamin, die priesters en Leviete – elkeen in wie God die voorneme gegee het, het toe klaargemaak om die huis van die Here in Jerusalem te gaan bou (Esra 1:5). God het hulle harte aangeraak. Later lees ons dat die Israeliete die fees van die ongesuurde brood vier – met vreugde. Hoekom? Toe Hy die gesindheid van die koning van Assirië teenoor hulle verander het, en dié hulle hande gesterk het in die werk aan die tempel van die God van Israel (Esra 6:22). God beweeg mense – selfs konings – om sy doel te bereik.

 

Ons kry presies dieselfde in die verhaal van Daniël. Daniël vra toestemming om nie die kos van die koning te eet nie: God het die hoofpaleisbeampte gunstig en simpatiek gestem teenoor Daniël (1:9). Dit gebeur ten spyte van die beampte se vrees vir die koning. Ons sien ook dat Paulus vir God bedank dat Hy Titus net so ywerig gemaak het om julle te help as wat ons is (2 Korintiërs 8:16). Titus reageer met entoesiasme hierop.

 

God is in beheer. Niks gebeur sommer toevallig nie. Hy beweeg mense om sy wil te doen.