Hoe moet ek die Drie-eenheid verstaan?

Hoe moet ek die Drie-eenheid verstaan? – Kobus Kok

Yvonne vra: 

Ek wil net weet of dit moonlik is om te verduidelik hoe die Drie eenheid van God verstaan moet word of hoe dit werk.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Dit is interessant dat die woord “Drie-eenheid” geensins in die Bybel voorkom nie! Die konsep daarvan kom egter duidelik na vore in die Nuwe Testament. In die vroeë kerk, het Teofilus van Antiogië (180 nC) teen die agtergrond van die vrae van sy tyd die verhouding tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees as ‘n drie-ledige (trias) eenheid beskryf. Rondom dieselfde tyd het Tertullianus (155–222 nC) deur middel van die Latynse woord “trinitas” die verhouding tussen die Vader, Seun en Heilige Gees verduidelik, wat wesenlik dieselfde is, maar uit drie verskillende persone bestaan.

In die jare nadat die groot Romeinse Keiser Konstantyn in die vierde eeu n.C. tot bekering gekom het en die Christendom die amptelike religie van die Romeinse Ryk gemaak het, het hy gepoog om die ganse kerk te verenig. In die proses moes ‘n belydenis formuleer word wat eenvormig is in die ganse Romeinse ryk en daar moes besluit word watter geskrifte gesaghebbend sou wees vir die ganse Christendom. Die vergaderings het onderskeidelik in Nicea (325 nC) en Konstantinopel (381 nC) plaasgevind. Dit was ook hier waar daar besluit is watter Bybelboeke die amptelike kanon van die Nuwe Testament sou wees. Daar is verder ook ‘n belydenis geformuleer na jare se gebed en nadenke – waarin die drie-eenheid en die beskrywing en formulering daarvan ook geformuleer is.

drieeeenheidvraag

Uit my Sondagskool dae onthou ek hoe ‘n Sondagskoolonderwyser die drie-eenheid verduidelik het aan die hand van ‘n appel wat bestaan uit ‘n skil, die vleis van die appel en die stronk. Die drie verskillende dele is almal appel, maar het verskillende funksies en gestaltes. Net so verwys die drie-eenheid na één God, maar drie persone. In hierdie drie-eenheid is God die Vader egter die Een wat die ganse wêreld geskep het en wat Sy Seun gestuur het (Joh 1:1-18; 3:16). Daar is dus duidelik ‘n Vader, die primêre subjek wat alles begin het en wat in beheer van die ganse geskiedenis is. Kyk gerus hoe Johannes dit verduidelik. Hy verduidelik dat God die een is wat besluit het om uit Sy groot liefde sy enigste Seun te stuur (Joh 3:16; 20:30-31). Die Seun doen dan op aarde alles wat die Vader vir hom sê om te doen. In Johannes 5:19-20, volgens die nuwe Afrikaanse vertaling, lees ons: “Dit verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so. 20Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy doen.” Hiervolgens is dit tog duidelik dat God die Vader die leidende figuur is, en dat diegene wat Jesus sien, ook vir God die Vader sien. In die antieke tyd het dit dan ook so gewerk dat van ‘n goeie Seun gesê kan word dat die appel nie ver van die boom af val nie – ‘n goeie seun het opgetree op so ‘n wyse dat dit die vader sou eer. Net so is Jesus die verteenwoordiger van God, die Seun van God die Koninklike Vader en moet mense hom eer soos hulle die Vader eer. Na die opstanding van Jesus, lees ons by Paulus in Filippense 2:5-11 dat Jesus deur God tot die hoogste eer verhef is en dat elke knie daarna sou moet buig en erken dat Jesus Here is. Weereens sien ons dat die verheffing van Jesus deur God as Vader gedoen word. God die Vader is die primêre handelende subjek en Skepper van die heelal.

In die Ou Testament lees ons duidelik dat daar net een God is (Deut 6:4) en Israel se geloof kan as monoteïsties (een God) beskryf word. Die monoteïsme van Israel het radikaal verskil van die panteïsme (baie gode) van die antieke kulture wat in die tyd van Israel bestaan het. Wanneer ons in die OT lees van die Gees, verwys dit in die ongeveer 135 keer wat die woord voorkom na God se Gees (vgl. Bv Gen 1:2, Rigters 14:6, Ps 51:13).

In die tyd van die NT het die Grieke en die Romeine ook in vele gode geglo. Selfs Keiser Augustus, wat in die tyd van Jesus geleef het, is as Seun van God en hoëpriester beskryf. Daar is tot vandag toe nog in Efese ‘n reuse pilaar waarin hierdie woorde uitgekerf is uit klip. Hierteenoor het die NT gelowiges dit duidelik gestel dat God en sy Seun die ware en enigste lewende God is, en nie die Keiser of die veelgodedom van die antieke heidense gelowe nie. In 1 Tessalonisense, die eerste brief wat Paulus geskryf het teen ongeveer 50 n.C. lees ons in 1 Tes 1:9 die volgende: “Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien 10en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom”. In die NT is dit duidelik dat die Christene anders as die heidene om hulle geglo het aan God en ‘n sterk verband gesien het tussen God die Vader, Seun en Heilige Gees (lees gerus 1 Kor 12:4–6 en Ef 4:4–6). Dit is duidelik dat die vroeë kerk, alreeds teen 70 n.C. eksplisiet die verband trek tussen die drie-eenheid, soos ons in Matteus 28:18-19 lees:” 18Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” In Matteus 28:18 sien ons duidelik dat Jesus sê “Alle mag is aan my gegee”. Wie het die mag aan hom gegee? Wel, dit is niemand anders nie as God die Vader. Dit sien ons ook in Filippense 2:5-11 se nuwe Afrikaanse vertaling: 5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: 6Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, 7maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, 8het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. 9Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 10sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, 11en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.”

Hiervolgens is dit duidelik dat Jesus se goddelikheid gekoppel word aan die feit dat God die Vader die een is wat die mag aan hom gegee het. Dit is soos ‘n koning wat sy Seun die koning maak. In Matteus 24:36 lees ons dat nie eers die Seun weet wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie. Die beeld wat hier gebruik word is die een van ‘n Koning op sy troon en sy dienaars rondom hom (engele, ens). Die Seun sit ook op die troon, maar uiteindelik is God die Vader die groot Koning wat die finale besluit het en die Groot Heerser is. Die drie persone van die drie-eenheid kan van mekaar onderskei word, maar kan egter nie van mekaar geskei word nie. In Johannes se evangelie lees ons dat Jesus, net voor hy sou sterf en teruggaan na sy Vader, vir die gelowiges troos deur vir hulle die goeie nuus te gee dat die Gees (parakletos-trooster) na sy hemelvaart gestuur sal word. God se Gees sal dus met hulle wees en hulle elke dag herinner aan die waarheid en die woorde wat Jesus gespreek het, woorde wat uit die troonkamer van God hul oorsprong het (lees Joh 4:24; 6;36; 7:39; 14:15-31, veral 14:16-17; 16:5-15).

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Bybelse Wapenrusting

Bybelse Wapenrusting – Kobus Kok

Isabel vra: 

Help my asseblief ek moet ‘n lessie aanbied vir jong kinders oor die volle wapenrusting van God. Kan julle moontlik vir my die wapens en ‘n kort beskrywing gee oor wat elkeen beteken en hoekom jy dit moet aantrek. Sal bly wees as julle ‘n paar teksverse ook kan saamgee. Baie baie dankie ek waardeer dit vreeslik baie. Jesus groete Isabel 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Ons lees in Paulus se brief aan die Efesiërs 6:10-20 van die wapenrusting van gelowiges. Dit was vir my baie interessant toe ek nou die dag in Efese rondgeloop het en op ’n standbeeld uitgekom het naby die biblioteek van Celsus, van ‘n wapenrusting beeld wat dateer uit die tyd van die Nuwe Testament. Ek het dadelik aan die woorde van Paulus aan sy gemeente in Efese gedink toe ek dit gesien het.

Paulus sê in Efesiërs 6:10-20 die volgende:

Uit hierdie gedeelte is daar veral twee dinge wat Paulus wil beklemtoon. Die eerste is wat die wapenrusting is wat God aan ons skenk (Efes 6:10-17) en die noodsaak daarvan dat ons konstant moet bid (Efes 6:18-20).

ephesus_hell_armor

Die wapenrustingsbeeld illustreer die feit dat Paulus beklemtoon dat ons in ‘n geestelike oorlog gewikkel is met die duiwel wat soos ‘n brullende leeu opsoek is na mense wat hy kan seermaak (lees 1 Pet 5:8). In die Bybel is dit egter duidelik dat God die Groot Koning is wat vanuit sy troon regeer (Openbaring 4) en dat die stryd eintlik klaar oorwin is (Openbaring 19; Matt 16:18).

Die wapenrusting in die geestelike stryd bestaan uit:

Die waarheid (6:14) wat soos die heupgordel was wat die soldate se klere vasgehou het as hulle oorlog voer en sorg dat die klere nie maak dat hulle val nie.

Die feit dat God ons vrygespreek het is soos die borsharnas (6:14) wat jou hart beskerm.

Die skoene is die bereidheid om die evangelie te verkondig (6:15).

Geloof is die skild waarmee jy die pyle wat die bose op jou afskiet kan keer (6:16). Wanneer mens deur moeilike tye gaan en die brandpyle van die bose op jou afgeskiet word kan jy maar weet dat God jou die geloof gee waarmee jy soos met ‘n skild die pyle kan keer. Vertrou op die Here.

Die helm op jou kop is die feit dat jy verlos is (6:17). Die oomblik as mens begin twyfel oor jou geloof is soos ‘n soldaat wat in die oorlog sy helm afhaal – een of ander tyd gaan jy dodelik gewond word. Met die helm van verlossing op jou kop weet jy egter dat jy nie gewond sal word nie.

Enige soldaat moes ‘n swaard hê waarmee hy sou veg en homself mees ou beskerm. Die swaard in die hand is die Woord en Wysheid van God deur sy Gees (6:17).

In dit alles is gebed van wesenlike belangrikheid (6:18-20). Sonder gebed kan ons die oorlog nie voer nie en nog minder in die oorlog staande bly.

Maak seker dat jy baie tyd saam met God in sy teenwoordigheid spandeer. Luther het gesê dat gebed vir hom van wesenlike belang was. Hoe meer hy gewerk het, hoe meer het hy gebid. Gebed is ook ‘n bron van mens se krag.

Bronne wat u kan raadpleeg:

Raadpleeg gerus die volgende bron wat by toonaangewende Christelike boekwinkels te koop aangebied word: Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. 2000, c1999. Die Bybellennium eenvolumekommentaar : Die Bybel uitgelê vir eietydse toepassing (electronic ed.) . Christelike Uitgewersmaatskappy: Vereeniging

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Straf God sonde op aarde? (2)

Straf God sonde op aarde? (2) – Francois Malan

Jan Smith vra: 

In die artikel Straf God Sonde op Aarde? sê prof Malan onder meer: “mense wat nie aan Jesus behoort en Hom volg nie, word gestraf”. Vir mense wat glo dat Jesus God is en in ons plek die sondestraf aan die kruis gedra het “verander die straf in tug”. Verder: “Met allerhande beproewings word die egtheid van ons geloof getoets —“. Kan mens dan sê die ongelowige word met kanker “gestraf” en die gelowige daardeur “beproef”?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Toe die mens soos God wou wees (Gen 3:5-6) en God se wyse gebod (2:17) oortree het (3:11,17), het lyding en dood deel geword van die mens se bestaan (Gen.3:16-19). Die Bybelskrywers sien siekte, lyding en dood as die straf van God op die sonde van die mense teen Hom deur die oortreding van sy gebooie. Deur sy gebooie wys Hy vir ons die ware lewe aan, die lewe wat God vir ons bedoel het (vgl. bv. Genesis 2:17; Psalm 51:5-7; Markus 2:2-5; Johannes 5:14).

Deur God se genade het die mens nie dadelik gesterf nie. So is die mens se lyding nie net straf op die sonde nie, maar ook ‘n middel van sy genade. Die doel van straf is om die reg van God te herstel, wat deur  die sonde geskend is, om oortredings wat begaan is te herstel (Deutr.13:5; 17:12; 24:7) en toekomstige oortredings te voorkom (Deutr.13:11; 17:13; 19:20; 21:21). Die lewende, heilige God behandel die skuldige nie as ‘n onskuldige nie, voor Hom is die hele wêreld strafwaardig (Rom.3:19), Hy trek niemand voor nie, maar vergeld elkeen volgens sy dade (Rom.2:1-11).

Lyding is dikwels die gevolg van ‘n persoonlike sonde of ‘n sondige lewenswyse, soos bv. dronkenskap of onsedelikheid, roekeloosheid, ens., of die gevolg van ‘n hele familie of geslag of volk of van die mensheid se oortreding van die wil van die Here, en kan ‘n pes bv. uitbreek as gevolg van die mens se besoedeling van die water. So is daar ook ‘n verband tussen die gevalle mens en die verwoeste aarde (vgl. Gen 3:17-18; Rom 8:19-22).

Die strawwe wat God in hierdie lewe op die mens se sonde en selfsug ingestel het, is die mens se wete van sy skuld voor God, sy fisiese of geestelike lyding, die dood (plotseling of uitgerek) en die heerskappy van die satan as die owerste van hierdie wêreld (2 Kor 4:4).

Die Nuwe Testament sien ook die mens se sonde en die duiwel se werking agter siekte en lyding en dood. Jesus sê die duiwel was van die begin af ‘n moordenaar (Joh.8:44). Jesus verlos mense van hulle sonde en genees hulle. Vir die verlamde wat bedlêend was sê Hy: jou sondes word vergewe, en om sy volmag om sonde te vergewe te bewys beveel Hy om op te staan, en die verlamde staan op en loop (Mat.9:1-7). ‘n Man wat stom was omdat hy in die mag van die duiwel was, word genees deurdat Jesus die duiwel uitdryf (Mat.9:32-33). Jesus verkondig die evangelie, die goeie boodskap, deur mense te leer en elke soort siekte en kwaal gesond te maak (Mat.9:35). Self loop Hy die lydensweg tot in die dood, om die dood vir ons ‘n deurgang te maak na die lewe saam met Hom.

Jesus is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh.1:29). Hy dra die straf op ons sonde, en die mense wat in God glo wat vir Jesus uit die dood opgewek het, word deur God as sy kinders aangeneem en hulle word vrygespreek van hulle sonde (Rom.4:25-25). Ons skuld maak lyding tot straf. Maar omdat ons skuld op Jesus gelaai is, verander die karakter van ons lyding. Die dood bly vir gelowiges en ongelowiges dieselfde, maar vir ongelowiges is dit straf en vir die gelowiges ‘n deurgang na die ewige lewe saam met Jesus. Siekte tref gelowiges en ongelowiges, maar God spaar ook ongelowiges (Gen.18:26); Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges Mat.5:45) en Jesus genees tien melaatses waarvan net een terugdraai om aan God die eer te gee en gered word (Luk 17:11-19).

Die lyding van die gelowige is dikwels nie die gevolg van sy persoonlike sonde nie, maar van die sonde van die mensheid; en die doel daarvan die heil van die mensheid en die eer van God. Lyding is nie slegs ‘n vergelding nie, maar is ook ‘n beproewing en dissipline (Deutr.8:5; Spr. 3:12; Hebr.12:6-11; Openb.3:19), ‘n versterking en bevestiging (Ps.119:67,71; Rom.5:3-5; Jak.1:2-4), ‘n getuienis vir die waarheid (Ps.44:23; Hand.5:41; Flp.1:29) tot verheerliking van God (Joh.9:2). In Christus is lyding die weg na heerlikheid (Rom.8:17). Die kruis wys heen na die kroon (2 Tim.4:6-8).

Uit die lyding wat vir iemand tref, kan nie afgelei word dat dit ‘n straf is op ‘n spesifieke sonde van die persoon nie (vgl. Jesus se woorde in Lukas 13:1-5, en sy antwoord in Joh.9:1-3). Gelowiges en ongelowiges word verkoue of kry kanker as die natuurlike verloop in ons sondige wêreld. Vir die gelowige is dit egter nie net ‘n straf nie, maar ‘n beproewing en opvoeding van die Here. God laat alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet (Rom 8:28) en niks kan ons skei van die liefde van God wat daar is in Christus Jesus ons Here nie, nie lyding of selfs die dood nie (Rom 8:31-39). Daarom kan jy nie sê kanker of verkoue of watter siekte of gebrek ook al is ‘n straf of ‘n tug van God op ‘n bepaalde persoon nie. Maar jy kan wel sê dat God by die gelowige is in sy lyding.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die soewereiniteit van God

Die soewereiniteit van God – Francois Malan

Helene vra:

Die Soewereiniteit van God. Wat beteken dit en waar kom ons dit in die Woord teë.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die woord ‘soewereiniteit’ beteken oppermagtige heerskappy, afgelei van ‘soewerein’ die gebieder of regeerder wat met die hoogste gesag beklee is. Die woord kom nie in die Bybel voor nie, maar die saak wel. Op ‘n klomp plekke praat die Bybel van God  die Almagtige.

In Genesis 17:1 openbaar God Hom self aan Abraham as die Almagtige wat met Abraham ‘n verbond sluit en belowe dat Hy hom die vader van baie nasies maak. Paulus verwys na hierdie belofte in Romeine 4:16-17 wat vervul is omdat almal wat in Christus glo deel uitmaak van die baie nasies van die belofte. In Eksodus 6:2 sê die Here aan Moses dat Hy die Almagtige is wat Israel uit hulle slaweskap in Egipte gaan verlos, en doen Hy dit deur 10 plae oor Egipte te stuur. In Job word God 31 x die Almagtige genoem.

In 2 Korintiërs 6:18 sê die Here die Almagtige dat Hy ons God sal wees wat onder ons

woon en wandel, en ons sal sy volk wees (dit is sy genadeverbond met ons). Daarom moet ons die sonde los en nie saam met die ongelowiges gaan nie. Hy sal vir ons ‘n Vader wees en ons sal sy seuns en sy dogters wees. En in Openbaring word God 8 x die Almagtige genoem.

In Matteus 28:18 sê Jesus: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde, en in vers 20 belowe Hy: Kyk Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.

God het die mag om te skep, sy skepping te onderhou en tot sy eindbestemming te lei. Hy het die mag om beloftes te maak en dit te vervul. Hy het die mag om sy Seun na die wêreld te stuur om mens te word om die sonde van die mense weg te neem, en as sy Seun sterwe as offer vir ons sonde, Hom weer op te wek uit die dood, en so ook vir ons uit die dood op te wek. Hy stuur sy Gees om die werk van sy Seun in die lewens van mense toe te pas deur in hulle te kom woon, en van die ou wêreld ‘n nuwe wêreld te maak. Die almag van God is die mag van sy heerskappy wat Hy in wysheid volgens geregtigheid en heiligheid uitvoer.

Ons kan praat van die mag van God se wil, die mag van sy heil/verlossing, die mag van sy liefde, die mag van sy reg.

God wat liefde is (1 Joh.4:8,16), regeer soewerein as die hoogste gesag oor die hele skepping.

1 Korintiërs 15:28 sê: Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Homself onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees in alles.

 

Skrywer: Prof Francois Malan