Hoe het God met die aartsvaders gepraat?

Hoe het God met die aartsvaders gepraat? – Francois Malan

Willie Esrterhuizen vra: 

God het met die mense van die Bybel op baie maniere gepraat. Met Moses blyk dit dat Hy hoorbaar met hom gepraat het. Ek wonder altyd hoe God met die aardsvaders gepraat het . Ek dink hier aan Abraham , Isak , Jakob en dan ook Josef veral toe hy in Egipte was. Hy was gehoorsaam deur daardie hele tyd en het aan God vasgehou , maar hy het nie n Bybel gehad , soos ons , om God se Woord te lees nie en die kommunikasie kon tog nie net van sy kant af gekom het nie . Op hoe ‘n manier het hy God gehoor, want geoordeel aan myself moet ‘n mens God se Woord gereeld hoor om versterk te kan word, veral as dit moeilik gaan.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord: 

‘…hoe God met die aardsvaders gepraat het. Ek dink hier aan Abraham , Isak , Jakob en dan ook Josef veral toe hy in Egipte was.’

Abraham

Genesis 12:1 begin bloot met: ‘Die Here het vir Abram gesê’. In Genesis is dit die eerste woord van God tot ‘n mens nadat Hy met Noag gepraat het (Gen.6:13-9:17). Hoe dit geskied het, word nie gesê nie.

In 20:7 word Abraham ‘n profeet genoem, en kan ons dink aan God se praat met sy profeet, wat dikwels sonder uiterlike middels of selfs ‘n visioen of ‘n hoorbare stem (soos met Samuel – 1 Sam.3:10) geskied, maar slegs ‘n spreek van God tot in die gemoed van die profeet. In Genesis 22:16 word van die volgende woorde gesê dat dit ‘’n uitspraak van die Here’ is (ne-um Jahweh; NAV Dit is Ek, die Here, wat praat). Die Hebreeuse woord vir ‘spreke’ hang saam met die woord ‘fluister’, soos ‘n influistering van die Here. Die uitdrukking word 361 maal in die Ou Testament gebruik, veral in die profetiese geskrifte: 167x in Jeremia, 83x in Hosea, 23x in Jesaja, 21x in Amos, 20x in Sagaria, 11x in Haggai, en die oorblywende kere in ander boeke van die Ou Testament, slegs hierdie een keer in Genesis.

In Genesis 13:14 word ook nie gesê hoe die Here met Abram gepraat het nie. So ook in 21:12, 22:1.

In Genesis 12:7 word gesê die Here het aan Abram verskyn, maar die klem val nie op die visuele sien nie, wel op die persoonlike omgang wat sien insluit. Die belangrike is die hoor van die belofte. Ook in Genesis 15:1 kom die woord van die Here in ‘n gesig tot Abram, maar slegs die woorde word meegedeel. In Genesis 17:1 verskyn die Here weer aan hom, en vra hom om altyd in die teenwoordigheid van God te lewe, letterlik: ‘lewe voor my aangesig en wees onberispelik- – met elke tree wat hy gee moet hy rekening hou met die Here, wat elke dag by hom is.

In Genesis 18:2,13 verskyn die Here aan Abraham soos ‘n gewone man, sodat hy met die Here kon redeneer (18:23-32). Die Here word vergesél van nog twee mans wat later as twee engele aangedui word (19:1). In 22:11,15 roep die Engel van die Here uit die hemel na Abraham. En dit is die laaste keer dat ‘n woord van die Here aan Abraham in Genesis opgeteken is.

Isak

Die Here praat met Rebekka (25:23) en met Isak (26:2). Hy verskyn aan hom in die nag (26:24),

Jakob

Die Here kom praat met Jakob terwyl hy droom van die trap wat tot in die hemel reik (Gen.28:12-16), in ‘n droom praat die Here met hom in Haran (31:3), hy sê die Engel van God het hom gelei in sy arbeid (Gen.31:11-13). God het as ‘n man met hom gestoei (Gen.32:24-30). God het verder nog met hom gepraat (Gen.35:1), aan hom verskyn en met hom gepraat (Gen.35:9-12), in ‘n naggesig met hom gepraat (46:2-3).

Josef

Van Josef word nie in Genesis gesê dat God met hom gepraat het nie, maar dat hy drome gehad het (Gen.37:1-10), drome uitgelê het (hoofstukke 40 en 41), en steeds met God rekening gehou het in alles wat hy gedoen het (39:10, ens.). Die Here was by Hom (39:23).

‘…Josef was gehoorsaam deur daardie hele tyd en het aan God vasgehou , maar hy het nie n Bybel gehad , soos ons , om God se Woord te lees nie en die kommunikasie kon tog nie net van sy kant af gekom het nie.’

Tussen 1440-1450 n.Chr. is boekdrukkuns eers ontdek. Tot op daardie stadium is alle Bybels en Bybelboeke met die hand oorgeskryf. Daarom was Bybels of gedeeltes van Bybels vir eeue slegs beskikbaar in kerke en kloosters, en het die gemeentelede nie Bybels gehad nie. Maar Bybels sou ‘n skaars artikel bly tot die stigting van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap in 1804, wat begin sorg het vir die vertaling, druk en verspreiding van Bybels aan die gewone lidmaat. In 1820 is ‘n tak darvan in Suid-Afrika gestig, wat sedert 1965 selfstandig optree in noue skakeling met die BBBG. In 1857 is die eerste volledige Bybel in Tswana gepubliseer, 1859 Xhosa, 1865 Zoeloe, 1881 Suid-Sotho, 1904 Noord-Sotho, 1907 Tsonga, 1933 Afrikaans, 1936 Venda, 1996 Swati.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Is God teenwoordig in die alledaagse?

Is God teenwoordig in die alledaagse? – Jan van der Watt

Francois vra:

Die bestaan van kousaliteit in die fisika het vervaag met die begin van die kwantum-fisika – die oorsaak-gevolg verhouding het verdwyn. Hedendaagse teologiese uitsprake wil dit hê dat God nie werklik meer teenwoordig is in die alledaagse nie, bv. dat my getrouheid aan beginsels nie noodwendig lei tot ‘n lewe van vrede nie. Wat is die jongste argument in die verband?

Antwoord:

Prof Jan van der watt antwoord:

Daar is verskillende fasette in die vraag van Francois. Eerstens die idee dat getrouheid aan beginsels na ‘n lewe van vrede lei. Dit is inderdaad ‘n teologie wat op die basis van kousaliteit werk: as ek iets goeds doen, moet God  van sy kant weer vir my iets goeds doen. Die teologie, waarvan daar wel spore in die Ou Testament is, word in die Bybel self kwaai gekritiseer. Job en die Prediker sê beide dat dit nie so maklik is nie. Soms loop dinge verkeerd, al is jy die opregste en eerlikste mens in die wêreld. Neem selfs maar vir Jesus – Hy was sondeloos en Hy is gekruisig. Paulus het alles opgeoffer vir Jesus, maar ten spyte daarvan het dit nie altyd goed met hom gegaan nie. Hy is baie vervolg en gemartel. Openbaring vertel ook hoe die gelowiges wat getrou leef, vervolg en gemartel gaan word (lees bv. hoofstuk 12-13). Ons getrouheid aan die Here is nie om iets te verwerf nie, maar om daarmee te sê dat ons aan Hom behoort. Omdat ons vir Hom liefhet en nie omdat ons ‘n onmiddellike beloning gaan ontvang nie, tree ons getrou op. Die lewe kan ons soms maar sleg behandel, maar ons bly getrou, omdat ons die Here liefhet en Hy vir ons sal sorg.

Die tweede deel van die vraag of God nie meer in die alledaagse lewe teenwoordig is nie. Die antwoord vir Christene is natuurlik eenvoudig. God is oral en dus ook in die alledaagse lewe teenwoordig. Die vraag is egter hoe en waar God teenwoordig is – moet Hy nie sorg dat dit goed gaan met die gelowiges wat goed doen nie. Ons het dikwels verkeerde verwagtings oor die teenwoordigheid van God – ons dink Hy moet soos ‘n towenaar alles wat verkeerd gaan regmaak en buitendien sorg dat daar met ons niks verkeerd gaan nie. Dit is egter nie hoe die Bybel daaroor praat nie. Die Bybel sê wel dat God oral is, maar nie dat Hy sorg dat alles altyd vir jou reg loop nie. Dit werk nie so nie. Die sonde is steeds daar en soms ly ons as gevolg van ons eie sonde. Byvoorbeeld, as jou ouers vir jou sê dat jy nie te veel alkohol moet gebruik nie maar jy doen dit en jy word naar en kry kopseer dan is die slegte gevolge jou skuld, byna soos straf op jou sonde. Jy kan ook ly vanweë ander se sonde. Byvoorbeeld, as iemand te vinnig ry en jy is in die pad, tref die motor jou ook. Maar die troos is dat God met die sonde gaan klaarspeel. In die nuwe Jerusalem gaan die gelowiges vergoed word vir alles wat hulle gely het (Op 21). So word hulle uiteindelik vergoed vir hulle getrouheid.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Hoekom neem God sekere besluite?

Hoekom neem God sekere besluite? – Marius Nel

Willie vra:

Ek verwys na Genesis 15:13&14. God het hier reeds geweet die Israeliete gaan in Egipte eindig en daar verdruk word . Was dit binne Sy raadsbesluit? Het hy Jakob se mense soontoe verskuif om seker te maak hulle meng nie met die heidennasies in Kanaän nie? Was die gevaar dan nie maar daar om met die Egiptenare ook te vermeng nie? Hoekom was dit nodig dat hulle vir so lank as slawe moes dien ?

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord:

Die antwoord is: ons weet nie hoekom God besluite neem wat Hy nie aan ons verduidelik nie. Onthou wat Calvyn gesê het: God het aan ons openbaar wat ons moet weet vir ons heil, en die res van kennis oor Hom het ons nie nodig nie.

Skrywer: Dr Marius Nel




Die Groot Geloofswoordeboek: Seun van die mens

Die Groot Geloofswoordeboek: Seun van die mens

Seun van die mens

Daar is baie misverstand oor die titel “Seun van die mens” vir Je­sus. Dit word dikwels teenoor “*Seun van God” gestel asof “Seun van God” ‘n hoogheidstitel vir Jesus is, en “Seun van die mens” ‘n titel van vernedering, asof “Seun van God” na sy Goddelikheid ver­wys, en “Seun van die mens” na sy menslikheid.

 

 

Dit is baie onnoukeurig. “Seun van God” beteken allereers na­saat van koning Dawid wat self “seun van God” genoem is en ook die konings na hom, eenvoudig omdat hulle die volk Israel ver­teenwoordig het wat self die “seun van God” genoem is (Ps 2:7; Hos 11:1). In hierdie sin beteken “seun van God” dan nasaat van Dawid en daarom ‘n mens soos Dawid. Dis eers in Johannes se Evangelie dat Jesus “Seun van God” in die verhewe sin genoem word as self ‘n Goddelike Wese. (*Messias)

“Seun van die mens”, daarenteen, is van die begin af ‘n hoog­heidstitel. Dit kom uit Daniël 7:13 waar die vertaling lui: “Iemand soos ‘n menslike wese,” wat in die *Septuagint lui: “Iemand soos die Seun van die mens.” Dit is ‘n heerlike wese wat voor God ge­­bring is en aan wie God “eer en heerskappy en koningskap gee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien” (7:14). Jesus gebruik dan ook hierdie titel in hierdie hoogheidsbetekenis.

Daar is ‘n baie interessante teenstelling tussen die gebruik van “die Seun van die mens” en “Christus”. “Seun van die mens” is die titel wat Je­sus die meeste gebruik, maar ons die minste. Daar­teen­oor is “Christus” die titel waarvoor Hy die meeste wegskram ter­wyl ons dit die meeste gebruik, selfs as ‘n Naam vir Hom.

Jesus is huiwerig om Homself “Christus” (*Messias) te noem of te laat noem. Hy verbied selfs sy dissipels en ander mense om dit te doen (Matt 16:20), en tog het dit later, naas sy Naam Jesus, dié aanspreekvorm geword wat Christene die mees­te vir Hom gebruik.

Met die titel “Seun van die mens” is dit presies andersom. Dit is Jesus se lieflingstitel vir Homself. Hy gebruik dit omtrent 35 keer in die *Sinoptiese Evangelies, terwyl omtrent niemand anders dit ooit in die Evangelies of elders in die Nuwe Testament vir Hom ge­bruik nie, en selfs ook nie ons vandag nie.

Dit is net so interessant dat Jesus altyd in die derde persoon na die Seun van die mens verwys, asof dit iemand anders is as Hyself. Hy noem Homself nooit direk “Seun van die mens” nie, maar sê altyd iets soos: “Dan sal die Seun van die mens verskyn, en Hy sal … ” (kyk byvoorbeeld na Mark 8:38; Luk 12:40). Dit is só opval­lend dat daar selfs ‘n teorie is dat Hy nie regtig self die Seun van die mens was nie, maar na iemand anders verwys het, of dat Hy nie bewus was dat Hy die Seun van die mens is nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König