Die Groot Geloofswoordeboek: Mensvormige spreke oor God
Mensvormige spreke oor God/Antropomorfismes • Onveranderlikheid/Veranderlikheid van God
(*God, *Liefde)
Mensevormige spreke oor God
Een van die verskynsels in die Bybel wat altyd besondere aandag getrek het, is die menslike of liewer mensvormige manier waarop daar in die Bybel oor God gepraat word. Daar word verwys na God se:
• liggaamsdele: gesig, oë, neus, mond, ore, lippe, arms, hande en voete
• emosies: liefde, geduld, vreugde, behae, blydskap, jaloesie, toorn en haat
• dade: sien, hoor, praat, fluit, rus, ruik, loop en lag
Met sommige hiervan het ons gewoonlik nie veel probleme nie, soos sy liefde, geduld en met die feit dat Hy kan hoor en sien en praat. Maar met ander het ons wel. Fluit en ruik God regtig? Kan Hy berou hê oor iets? Het Hy regtig oë en ‘n neus en lippe? Is dit nie te menslik oor God gedink nie?
Dit het aanleiding gegee tot baie spekulasie. Sommige het gemeen dit is maar net die vroeë Bybelskrywers wat nog nie alles mooi verstaan het nie, maar later, veral in die Nuwe Testament, sou daar dan nie meer so mensvormig oor God gepraat word nie. Maar dit werk nie so nie. Daar is nie in hierdie opsig ‘n verskil tussen die Ou Testament en die Nuwe nie.
‘n Ander teorie was weer dat die Bybelskrywers maar net op so ‘n menslike manier oor God gepraat het omdat ons nie sou kon verstaan as hulle oor Hom praat soos Hy werklik is nie. Dit sou te hoog vir ons gewees het. Hulle het maar net ons menslike onbe-grip tegemoetgekom en ons moet baie dankbaar daarvoor wees.
Wat nogal snaaks is, is dat hierdie teoloë dan skynbaar wel goed geweet het hoe God werklik is. Volgens hulle sou Hy die ewige syn (bestaan) wees, onveranderlik, in sigself genoegsaam, sonder enige behoeftes, onsigbaar, hoog verhewe, ewig.
Wat het hier gebeur? Hulle het die lewende God wat betrokke was by mense heeltemal anders verstaan, en wel as ‘n veraf, onbetrokke wese wat in abstrakte terme beskryf moet word. Daar is geen rede om nie die Bybelskrywers ernstig te neem as hulle so in menslike terme oor God praat nie. Hulle het God goed geken. Hy is die God wat omgee, wat ‘n verhouding met sy volk opgebou het en naby hulle geleef het. Omdat die mens bedoel is om sy beeld te wees, is dit ook volkome sinvol dat ons in mensvormige terme oor Hom kan praat. Hoor, sien en voel, het alles met kommunikasie te doen. En God is by uitstek die Een wat kommunikeer. En dit is onmoontlik om te dink aan ‘n God wat by ons lewe betrokke is, wat vir ons omgee, maar wat sonder emosie is. ‘n Emosielose wese is ‘n kille klip.
Natuurlik voel dit vir ons vreemd om te dink aan God se neus en sy ore en sy mond. Maar solank ons onthou dat Hy nie geskape is nie en dus nie ‘n geskape mond en neus en ore het nie, dus nie ‘n mond en neus en ore soos ons nie, kan daar niks verkeerd mee wees om in hierdie terme oor Hom te praat nie.
Ons het natuurlik geen probleem met sy emosies soos liefde en geduld nie, maar wel met die feit dat ons telkens in die Bybel lees dat Hy sy plan verander. In al die gevalle wat in die volgende paragraaf genoem gaan word, het die 1953-vertaling nog gelui dat God “berou” gehad het oor wat Hy gedoen of gesê het. Maar “berou” is soseer met “berou oor sonde” geassosieer dat dit liewer in 1983 vervang is met ander woorde. Ons lees nou dat Hy ‘n bepaalde oordeel wat Hy uitgespreek het, nie sal deurvoer nie, of dat Hy afsien van sy voorneme om iets te doen. Ons lees ook dat Hy bedroef is oor sekere dinge wat Hy gedoen het.
Hier volg ‘n aantal voorbeelde: bedroef (Gen 6:6-7; 1 Sam 15:11, 35); van sy voorneme afsien (Am 7:3; Jona 3:10); sy voorneme nie verder voer nie (2 Sam 24:16); die straf herroep wat Hy aangekondig het (Jer 26:13).
Onveranderlikheid/Veranderlikheid van God
Baie mense het groot huiwering om van die veranderlikheid van God te praat omdat hulle meen dat God juis onveranderlik is en in elk geval nooit sy planne verander nie. Daar is selfs mense wat oortuig is dat God lank voordat Hy alles geskep het, alles wat ooit sal gebeur vooraf presies bepaal het, en ook wat alle mense ooit sal doen. (*Voorsienigheid) Maar dan sal hulle natuurlik probleme hê met die baie tekste wat daarna verwys dat God afsien van ‘n plan wat Hy gehad het of ‘n oordeel wat Hy uitgespreek het. Hulle sal ook probleme hê met uitsprake wat impliseer dat God nie weet wat in die toekoms gaan gebeur nie.
Miskien
Oor en oor hoor ons die woord “miskien” uit die mond van die Here wanneer Hy vir Jeremia sê: “Miskien sal Israel luister en hulle van hulle verkeerde lewe bekeer” (Jer 26:3; kyk ook na Jer 36:3, 7; Eks 13:17). Elders lees ons dat die Here verwag het Israel sou “soet druiwe dra”, maar teen sy verwagting in het dit dan nie gebeur nie (Jes 5:2, 4), en ook dat Hy later sal besluit wat Hy sal doen, wat tog impliseer dat Hy dit nie vooraf besluit het nie (Eks 33:5).
Maar mense probeer van hierdie tekste af wegkom. Meestal is hulle oortuig dat hierdie tekste tog iets anders bedoel as wat daar duidelik staan. Dit sou maar net so “vreemd” geformuleer gewees het omdat ons nie sou kon verstaan het as dit reg geformuleer was nie. Ons verstand sou dan te beperk wees.
Dit is egter nie duidelik waarom ons nie sou kon verstaan het as dit “reg” geformuleer was nie. Die “regte” woorde by Jeremia 26:3 sou eenvoudig kon gewees het: “Ek weet lankal of hulle hulle sal bekeer of nie, want Ek het dit self vooruit bepaal, maar Ek sê maar net nie vir jou nie, Jeremia, sodat jy eers moet wag en sien.” En in die geval van God se teleurstelling dat Israel nie soet druiwe gedra het nie, sou die “regte” woorde tog eenvoudig kon gewees het: “Dit is presies wat Ek verwag het dat julle sal doen; trouens, natuurlik kon julle ook nie anders gedoen het nie, want Ek het lank tevore al bepaal dat julle so ontrou aan My sal wees.” Dit lyk my nie te moeilik om te verstaan nie.
Wat natuurlik wel te moeilik is om te verstaan, is dat die Here die volk so kwalik neem dat hulle aan Hom ontrou is en hulle later selfs daaroor in ballingskap laat gaan terwyl Hy dan vooraf sou bepaal het dat hulle dit sal doen.
Ons kom nie maklik weg van die feit dat die Here sy planne kan verander en nie altyd vooraf weet wat gaan gebeur nie, dit wil sê as ons die duidelike woorde van die Bybel ernstig opneem. Die werklike probleem met die gedagte van die veranderlikheid van God is dat dit klink of ‘n mens nie op God kan reken nie, of sy “môre- en aandpraatjies nie ooreenkom nie”, of Hy onbetroubaar is. Die teendeel is egter waar.
“Onveranderlike veranderlikheid”
Dis lekker om in dié verband te kyk na die verhaal van Jona. Jona kry van die Here die opdrag om in Nineve te gaan preek. Hy moet die Here se besluit gaan aankondig: oor 40 dae gaan die Here hulle verwoes oor hulle sonde. Die stad reageer daarop met ‘n radikale bekering. En die Here verander sy besluit: Hy spaar hulle (3:10).
Jona is diep ontsteld daaroor. Dis belangrik om mooi te kyk na sy beskuldiging aan die Here. Hy sê hy het geweet die Here gaan so maak, want die Here maak altyd so: Hy sien maklik af van die straf wat Hy aangekondig het (4:2). Hy is dus glad nie verbaas nie. Hy ken die Here so. Die Here verander maklik sy plan.
Kan ‘n mens dan op die Here reken? Ja, juis! Jona kon daarop gereken het dat die Here die straf gaan terugtrek as die Nineviete hulle bekeer. Die Here doen dit graag. Ver daarvandaan dat ‘n mens dus onseker word oor Hom, weet jy presies waar jy met Hom aan of af is: Hy is genadig en geduldig, Hy vergewe graag.
God is getrou en konsekwent in sy veranderlikheid. Dit het niks met willekeur en onsekerheid te doen nie. Daar is ‘n vaste patroon in sy veranderlikheid: Hy trek die straf terug as daar bekering kom.
God se veranderlikheid is ongelooflike genade. Jy kan ook daarop reken. Bekeer jou en Hy vergewe jou alles. ‘n Mens sou ook kon sê Hy is onveranderlik in sy veranderlikheid. Hy sal nooit anders doen as om sy oordeel terug te trek en jou te vergewe as jy jou bekeer nie. Dit beteken: Hy is getrou.
Skrywer: Prof Adrio König