Die Groot Geloofswoordeboek: God se almag, alomteenwoordigheid en alwetendheid
Die Groot Geloofswoordeboek: God se almag, alomteenwoordigheid en alwetendheid
Die algemene betekenis wat mense aan hierdie begrippe heg, word kortliks hier bespreek. Maar die probleme en die betekenis wat ons in die Bybel kry, word bespreek onder *God.
Die “al” vooraan elke woord is opvallend. Dit is ‘n intensief, ‘n allesoortreffende trap van vergelyking. Dit beteken dat God se mag, sy teenwoordigheid en sy kennis onoortreflik is, die hoogs moontlike vorme van mag, kennis, teenwoordigheid.
Dit is ‘n bekende manier om iets oor God te probeer sê. As mense aan God dink, dink hulle groot, hoog, heerlik. Anselmus het God selfs beskryf as: Een, groter as wie ons niks kan dink nie. Dit beteken ons kan nie eens dink aan iemand wat groter as Hy is nie, wat meer mag of kennis het nie.
In ‘n reeks ander woorde oor God kry ons weer die “on-” voorsetsel. God is ondenkbaar, onmeetlik, oneindig, onveranderlik. Dit is net so tipies om só oor Hom te praat. Dit is die manier om te sê dat Hy nie net groter nie, maar heeltemal anders is as ons. Hy is groter as wat ons kan dink of meet (ondenkbaar, onmeetlik); ons het ‘n einde, Hy nie (oneindig); ons verander, Hy nie (onveranderlik).
Op hierdie manier dink mense oor God en kom tot insigte wat vir sommige baie beteken. Mense is oortuig dat dit by God pas dat sy mag almag is. Hy moet enigiets kan doen, en ook presies wanneer Hy wil. En Hy moet oral wees, en selfs gelyktydig oral. En Hy moet alles weet, selfs alles wat ooit in die toekoms gaan gebeur.
Dit is die manier waarop daar dikwels in die verlede oor God gedink is. Dit is hoe die beginsel van Anselmus werk: God is groter as enigiemand of enigiets waaraan ons kan dink.
Almag
Die gangbare siening is dat God almagtig is, en dat dit beteken Hy kan enige oomblik enigiets doen wat Hy wil. Vir baie mense is dit dan ook inderdaad dié eienskap van God.
Daar is in die verlede interessante vrae oor hierdie siening van sy almag gevra. Kan God regtig enigiets doen wat Hy wil? Kan Hy byvoorbeeld ‘n klip maak wat so groot is dat Hy dit nie kan optel nie? As jy sê omdat Hy almagtig is, kan Hy so ‘n klip maak, is Hy natuurlik nie almagtig nie, want Hy kan nie die klip optel nie. En as Hy nie so ‘n klip kan maak nie, is Hy ook nie almagtig nie. Dieselfde geld vir die vraag of Hy ‘n vierkantige sirkel kan maak.
Maar daar is ook ander vrae. Kan God die verlede verander? Kan Hy byvoorbeeld die feit verander dat Hy Israel se God is wat Hom aan Abraham, Isak en Jakob verbind het?
Terwyl ‘n mens oor hierdie vrae dink, begin jy besef dat dit nie die soort vrae is wat in die Bybel na vore kom nie. Dis eerder die manier waarop sekere Griekse filosowe oor God gedink het. In die bespreking oor *God sal ons sien dat die Bybel heeltemal ‘n ander benadering het tot die vraag wie God is en watter soort mag Hy het.
Alomteenwoordigheid
Oor God se alomteenwoordigheid kan ons ook maklik dink. Hy moet altyd oral wees, glad nie aan plek gebonde nie. Trouens, Hy moet ook altyd in alle tye teenwoordig wees, ook nie aan tyd gebonde nie. Hy is nou saam met Adam in die tuin van Eden, saam met Abraham by die groot bome van Mamre, saam met Jesus aan die kruis, saam met ons by die huis, én saam met ons op die nuwe aarde. Hy is mos nie aan plek of tyd gebonde nie. Maar ons is. Is Hy saam met my dáár terwyl ek nog hier is en nie daar nie? Is Hy nou saam met Abraham by die bome van Mamre terwyl Abraham nie meer daar is nie?
Of kry jy die gevoel dat ons al weer met ander vrae besig is as wat ons in die Bybel kry? Sou die Bybel dalk anders dink oor sy teenwoordigheid as wat ons nou doen? In die bespreking oor *God sal ons sien.
Alwetendheid
As ons voortgaan op hierdie dink-pad sal ons natuurlik dink God moet alles weet. Hy is dan God. Hy moet alles weet wat ooit gebeur het. Maar Hy moet ook alles weet wat nog gaan gebeur. Omdat ons meen Hy is nie aan tyd gebonde nie, is Hy nou reeds dáár waar ons in die toekoms iets gaan doen. Hy weet dus nou al wat ons gaan doen. Of ons kan selfs dink dat Hy vooruit bepaal wat ons gaan doen, en dat dit eintlik dáárom is dat Hy vooraf alles weet wat gaan gebeur. Maar kom ons regtig op sulke gedagtes in die Bybel af? Ons sal sien in die bespreking oor *God.
Woorde gemerk met ʼn * sal later bespreek word
Outeur: Prof. Adrio König