Definisie van die krag van God – Francois Malan

Willie vra:

Ek worstel met goed wat my geloof tans onder druk sit en die hartseer is dat sodra ‘n mens met Predikante daaroor gesels is dit asof die gesprekke al korter en korter word en dan net ophou. My dilemma is om sekere begrippe te versrtaan ;
Krag van God
Paulus skryf in Efesiers 1:19b-20 van dieselfde magtige sterkte van God wat aan die werk was toe Hy Christus opgewek het , Vers 19a verwys na God se krag wat Hy in ons gebruik
Hier onder is n gedeelte uit n preek van n Gereformeerde Dominee

Alles in dié wêreld is die skepping van sy hande en rus in sy hande. Hy beheer alles. Hy is die Een met alle mag in die hemel en op die aarde. Dit staan in skerp teenstelling met die mens. Terwyl Hy alle mag het‚ is die mens se eie krag uiters beperk. So sê Hy in vers 30: “Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat‚ selfs manne in hulle fleur struikel en val.”

Ja‚ selfs die fiksstes‚ selfs die een wat die Comrades wen‚ is ’n mens van vlees en bloed. Na 85 kilometer is hy gedaan. ’n Springbokrugbyspan is na 80 minute uitgeput; dis moeë voete wat van die veld afstap. Só beperk is die mens se krag. Hy het so min om op te roem. Die Here God‚ met alle mag‚ is die ware kragbron. Omdat die Heilige Gees self God is‚ is dit ook sy mag en krag.
Bg gedeelte verwys oa na liggaamlike krag van ‘n mens . As die Bybel na God se krag verwys , verwys dit na die Heilge Gees of iets anders? As ons dan bid en God vra vir krag om bv deur n dag te kom , om versoekings te weerstaan , om moeilike omstandighede te hanteer , wat vra ons dan nou eintlik? En as ek God vra , maar deur die loop van die dag verloor ek my humeur , of my omstandighede kry my onder en ek begin kla, of skel op n taxi, wat het dan gebeur ? Dit voel dan , onder sulke omstandighede , met respek, of God nie gegee het wat ek gevra het nie en ek die geveg alleen baklei.
My vrae is , wat is die krag waarna verwys word , en hoe kry ek dit en as ek dit het , sal ek dit weet?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

1    Ek veronderstel die Gereformeerde dominee het verwys na Jesaja 40:30: ‘selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, self manne in hulle fleur struikel en val…’

Maar in vers 31 gaan die sin voort met die eintlik punt van die saak: ‘… maar dié wat op die Here vertrou kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en word nie afgemat nie.’

Die verband waarin die versekering oor nuwe krag gee is, is dat Israel, wat al 70 jaar in ballingskap in Babel verkeer, aan die Here begin twyfel en, volgens vers 27, vra of die Here dan nie vir hulle omgee, of hulle nood raaksien, of hulle kan help nie.

Die antwoord daarop in vers 28-29 is ‘n teregwysing, soos in vers 21, dat hulle die Here beter moes geken en verstaan het; dat Hy die ewige God, Skepper van die hele aarde is, wat nie moeg of mat word nie, maar onvermoeid met sy werk aan die onderhouding en vernuwing van sy skepping voortgaan, veral ook om vermoeides en moedeloses krag te gee om voort te gaan met hulle lewe. Maar sy insig in sy hele skepping en die toekoms, en elke mens se swakhede, en hoe Hy hulle versterk, is vir ons klein mensies onverstaanbaar te groot. Selfs ons jongmense met baie energie word moeg, struikel en val.

Maar!! dié wat op die Here wag, deur geduldig uit te hou, en aan te hou om Hom met hulle lewe te vertrou, kry nuwe krag. Soos arende op die winde sweef sal hulle deur die Gees van God uitstyg bo die huidige oomblik, en aangaan met hulle lewe as God se kinders volgens sy aanwysings vir die lewe.

 

2    As die Bybel na God se krag verwys , verwys dit na die Heilge Gees of iets anders?

In Johannes 14:15-17 sê Jesus: ‘As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam. En Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Parakleet (‘iemand wat geroep is om bystand te verleen’: Helper, Voorspraak, Pleitbesorger, Trooster) gee sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees van die waarheid…wat in julle sal wees.’

Verder in dieselfde hoofstuk sê Jesus in 14:23: ‘As iemand My liefhet, sal Hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.’ Met ander woorde, God die Vader, Seun en Heilige Gees is by elkeen wat in Jesus glo en Hom gehoorsaam. Sy nuwe opdrag aan sy gelowiges die nag voor sy sterwe aan die kruis vir die sonde van die wêreld is: Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê (Joh 13:34).

Die krag van God verwys na God self wat in ons kom woon om ons te lei en te versterk.

 

3     As ons dan bid en God vra vir krag om bv deur n dag te kom , om versoekings te weerstaan , om moeilike omstandighede te hanteer , wat vra ons dan nou eintlik? En as ek God vra , maar deur die loop van die dag verloor ek my humeur, of my omstandighede kry my onder en ek begin kla, of skel op n taxi, wat het dan gebeur ? Dit voel dan , onder sulke omstandighede , met respek, of God nie gegee het wat ek gevra het nie en ek die geveg alleen baklei.

God gee nie aan ons krag vir die dag waarmee ons kan maak soos ons wil nie. Hy is self by ons onder alle omstandighede, in versoekings en ander moeilike omstandighede, maar ook by ons gewone werk en ontspanning en gang van ons lewe, om ons daarin en daardeur te lei en die nodige krag daarvoor te gee. Maar dan moet ons in alle omstandighede op Hom wag, nie haastig sonder nadenke optree nie, maar dan ook om sy krag en bystand vra.

In Jesaja 30:21 sê die Here: ‘En jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs,’ as jy regs draai of as jy links draai (weg van die regte pad af). In Jeremia 31:33 sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê.’ In die Nuwe Testament sê Jesus, God die Vader en die Seun en die Gees sal in ons woon om ons te lei as ons Helper.

Efesiërs 5:16-17 sê: ‘Maak die beste gebruik van elke geleenheid (letterlik: Koop die tyd uit) omdat die dae vol boosheid is. Om hierdie rede moet julle nie onverstandig wees nie; probeer eerder om te verstaan wat die wil van die Here is.’

 

4    As ek my humeur verloor? Efesiërs 4:26 sê: As julle kwaad word, moet julle nie sondig nie (moenie reageer nie). Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie. 1 Kor 13:7 sê: Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles (vgl. Romeine 12:19-21).

 

5    As my omstandighede kry my onder en ek begin kla, of skel op n taxi, wat het dan gebeur ?

Het jy nie dan vergeet van die Almagtige Skepper-God wat jou liefhet en in jou kom woon het nie? Jesaja 30:15 sê: Julle krag lê in stilwees en vertroue – dit gaan oor volledige vertroue op en toewyding aan die Here.

Die Psalmdigter vra in Ps 141:3: HERE, plaas ‘n wag voor my mond, bewaak tog die deur van my lippe.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan




Almag van God – Hermie van Zyl

Andre vra:

Stem u saam met die volgende stelling wat ek maak?

BOONTOE EN VORENTOE (Die kern van die evangelie opgesom in twee woorde).

‘n Kenmerk van die tyd waarin ons leef is dat alles bevraagteken en verklaar moet word – ook en veral die geestelike. Die mens wil alles verstaan en beredeneer. So is daar twyfel oor die Woord van God, maagdelike geboorte van Jesus, sy opstanding en die krag van gebed. Twyfel word gesaai en so gebruik Satan (“vader van die leuen” – Joh 8:44) misleiding as magtige wapen teen gelowiges en word willens en wetens by redenasies betrek. Die vraag is nou hoe kan ek my beskerm teen die aanslae en my geloof behou? Die antwoord lê opgesluit in God se liefde wat die mens in staat stel om die almag van God te erken, dws wat vir die mens onmoontlik lyk, is moontlik vir God.

BOONTOE

Kyk ‘n mens met ‘n oop gemoed na die wonder van die heelal / wonder van lewe en God se GENADE en LIEFDE dan kan jy maar net soos Dawid uitroep, Ps 139 “5 U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. 6 Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.” Deur God se aanraking word die saadjie van geloof geplant en weet jy dat God die God van Liefde is wat genade en vrede skenk.

  1. Genade (Hy het sy Seun gestuur om ‘n kruisdood te sterf sodat ons kan lewe.) Aan almal wat hulle bekeer en hul sondes bely, skenk Hy vergifnis. Deur sy opstanding uit die dood verkry dié wat gered is die Ewige Lewe (Johannes 3:16).

Efesiers 1:7 Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God. Genade is daarin geleë, dat jy nie vir God gekies het nie, maar dat God jou eerste gekies het.” “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne” (Jes 43:1).

Dit is God se genade wat jou bemagtig om sonde en die duiwel teen te staan. Ef 2:8: 8 Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God

  1. Vrede (Die vrede wat alle verstand te bowe gaan sodat jy vrede kan ondervind selfs wanneer die allerverskriklikste dinge met jou en rondom jou gebeur en jy weet dat ons nooit alles sal kan of wil verstaan nie, omdat ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel kyk) 1 Kor 13:12.

VORENTOE Bely jy God se genade en vrede, kan jy jou aardse lewensreis met vertroue aanpak, want soos Paulus trek jy die volle wapenrusting aan wat God jou gee sodat jy staande kan bly teen die aanslae van die bose (Efesiers 6:11-18).

In vaste vertroue 5 Laat (jy) jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg (Ps 37:5).

Omdat jy alleen uit genade gered word, wil jy uit dankbaarheid die goeie doen. Liefde vir God en jou naaste kry nuwe betekenis (Mattheus 25: 35-40) en jy dra vrugte vd Gees, Gal 5:22,23.

Jy weet ook dat die aardse lewe van ‘n mens soos ‘n damp is wat vir ‘n oomblik verskyn en dan verdwyn. Rig jou oog en hart op die ewige lewe want .. “ As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense (1 Kor 15:19).

Die uitgangspunt van enige redenasie rondom die geestelike is dus of die almag van God erken word of nie – maw kan God dinge doen wat vir die mens onmoontlik lyk? Indien die almag van God misken word is dit nodeloos om te wil argumenteer oor die geestelike en sal jy nie genade of vrede ontvang nie, want ….. “Die mens wat nie die Gees van God (Heilige Gees) het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin” (1 Kor 2:14).

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In die algemeen stem ek saam met die korrespondent se stelling oor die verhouding tussen die geestelike en die almag van God. Maar daar is tog drie dinge wat ek hieroor wil byvoeg:

 

  1. Dit is inderdaad so dat die geestelike dimensie van die lewe besondere insig vra in die onsigbare wêreld van God – dit wat God vermag in die skepping in die algemeen, maar dan in die besonder in mense se lewens. Ons is maar te geneig om net te glo wat voor oë is. Vandaar die gesegde: sien is glo. Maar die Bybelse visie is eerder: glo is sien. Kyk Heb 11:1: “geloof is ‘n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.” En dit is vanuit hierdie visie van die onsigbare dat die geloofshelde uit die Ou Testament die vreemde in agter God aanbeweeg het, altyd op soek en op weg na die ewige dinge wat die ander mense nie raaksien nie (11:8-10); andersom, wat ander mens juis raaksien en op versot raak, het hulle van die hand gewys (11:25-26). Wanneer God eenmaal jou oë geopen het vir sy wêreld, besef jy dat die wêreld nie deur fisiese kragte gedryf word nie, maar deur die geestelike. As Christene glo ons in ‘n geestelike universum, nie net ‘n bloot fisiese een nie. Vanuit die onsigbare wêreld van God het die kosmos en alles daarin – ook die mens – tot stand gekom, en dit word steeds vanuit hierdie dimensie regeer. En dis veral die gelowige wat toegang verkry tot hierdie werklikheid, al is dit nog baie voorlopig, en al sien ons soos in ‘n spieël in ‘n raaisel (1 Kor 13:12). Eers eendag sal ons sien hoe alles in mekaar steek. Maar intussen het God vir ons die misterie voldoende bekendgemaak dat ons hier getroos kan lewe en sterwe.

 

Een van die geestelike dinge wat God vir ons bekendmaak, is inderdaad sy almag – dat Hy dinge tot stand kan bring wat nie met normale argumente verklaar kan word nie. En die grootste wonder hier is die verandering van die mens se hart. Daar is geen groter wonder as dat God ‘n hart wat in opstand is teen Hom kan verander om vir Hom te leef nie. God se almag moet dus nie verstaan word as iets wat in kille afgetrokkenheid bestaan nie, maar altyd as iets van ‘n genadige God wat tot beswil van sy skepping en mense werk. Hy wil altyd die goeie tot stand laat kom, en daarvoor gebruik Hy sy almag.

 

  1. Die vraagsteller sien die kern van die evangelie as saamgevat in twee woorde: Boontoe en Vorentoe. Mens sou dit in teologiese taal die teologiese en eskatologiese dimensie kon noem, d w s, dit is God wat vanuit sy onsigbare domein so werk dat mense Hom hier en nou kan beleef, in die gewone aardse realiteite (teologiese dimensie), maar ook so dat Hy die toekoms vir ons ontsluit waarheen ons altyd op weg is (eskatologiese dimensie). Hierby sou ek net wou byvoeg die historiese dimensie, dus, by Boontoe en Vorentoe, ook Agtertoe. Daarmee bedoel ek dat God ook die God van die geskiedenis is. Dis dáár waar Hy so groot reddingsdade opgerig het (kruisiging, opstanding, hemelvaart). Hierdie is egter nie net blote historiese bakens nie, maar ons leef elke dag vanuit die realiteit van hierdie werke van Hom in die verlede. Daarom dat daar van Jesus in Heb 13:8 gesê word dat Hy gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is. Hy het reeds gister hierdie wondertekens van genade opgerig, maar dit is nog dieselfde God wat vanuit die verlede ook vandag besig is, en in die toekoms besig sal wees tot in ewigheid. Hy is onveranderlik in sy genade liefde en – almag.

 

3.         Laastens wil ek tog ‘n lansie breek vir menslike denke, weliswaar gelowige menslike denke. Ja, God as die almagtige is die alwerksame, maar Hy span menslike denke ook in om sy werk te doen. Daarom moet ons nie wegskram van gelowige nadenke oor wie en wat God is en waarheen Hy met ons op weg is nie. Elke geslag moet God weer nuut ontdek vir wie Hy is en wie en wat Hy vir ons is. Juis so word ontdek hoe onveranderlik Hy in sy genade en liefde is. Mens kan egter nie maar net altyd die bekende klanke van die verlede naboots nie. Om God se stem waarlik te hoor, moet jy dit nuut hoor en nuut sê sodat die mens dit as die relevante Woord van God kan hoor vir vandag. Dis makliker gesê as gedaan, want ook gelowiges is maar te geneig om dit waaraan ons gewoond is as die onveranderlike wil van God te verklaar. Maar gewoontes en gebruike – ook godsdienstige gebruike – is tyd-, kultuur- en histories gebonde. Daar moet dus telkens vanuit die essensie van die evangelie na nuwe gestaltes van genade en liefde gesoek word. Dis deel van ons taak as draers en verkondigers van die ewige evangelie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 




Vertrou God vir die regte tyd – Kobus Kok

God se tyd is die regte tyd. Ons moet die proses vertrou al is dit somtyds swaar en onseker.

Toe ek en my broer Barry kinders was het ons sywurms gehad. Dit was nog in die goeie ou dae waar die kinders nog moerbeie en moerbeiblare by die bure kon “leen”. Dit was ook die tyd wat ons nog plekhouers vir die Bybel gemaak het deur jou sywurm op ʼn coke-bottel se prop te laat spin rondom ʼn hartjie of ʼn vierkant of een of ander vormpie wat jy dan vir jou ouma as ʼn geskenk gegee het. Ons twee boeties het behoorlik kompetisie gehou en die een het sy wurms beet gevoer om rooi en pienk vormpies te weef en die ander selfs groen of geel blare gevoer. Dit was gróót besigheid. So gebeur dit toe die een dag dat ek en Barry ongeduldig word vir die motte wat nie uit die kokonne wil kom nie. Ons het toe geoordeel dat ons hulle moes “help”. Ons besluit om my ma se kombuisskêr nader te trek en sny toe netjies die kokonne oop om die wurmpies te help uitkom. In ons naïewe verbasing het ons op ʼn stadium die sterwende en kwynende wurmpies na ons ma toe gevat om te hoor wat aan die gang is. “Kyk mamma, ons het die wurmpie uitgehaal om hom te help, maar iets is fout met almal wat ons oopgemaak het.” Haar woorde daardie dag het die wysheid van haar jare getransendeer: “Seuns, die Here het ʼn tyd vir alles, en wat julle nou gedoen het was om die tyd vir die wurmpies ryp te druk. Nou is die wurmpies nie sterk genoeg vir die nuwe fase nie. Eintlik het julle nie die wurmpies “gehelp” nie, maar juis die wurmpies skade aangedoen. Hulle sal nooit kan eiertjies lê of ooit kan spin nie. Die wurmpie moes self deur die kokon veg en sy vlertjies en lyfie sterk maak sodat hy sterk kon word vir die nuwe fase”. My moeder se woorde bly my vandag nog by. Ek en my broer het so sleg gevoel, maar tog so diep verstaan. Sommige dinge in die lewe kan mens gewoon nie ryp drúk nie. Het jy al ooit probeer om ʼn avokadopeer ryp te druk? Sommige dinge vra tyd. Sommige dinge kan alleen “reg” wees vir die nuwe of volgende fase, indien dit deur die stryd van die vorige gegaan het. Soms het ons “woestyn” nodig voordat ons die beloofde land kan beleef. Soms gaan ons deur moeilike tye waarin ons die diepte moet ontwikkel wat nodig is vir die spesiale plek waarheen die Here ons wil neem. Soms moet ons die proses vertrou en wag vir God se tyd en God se seisoen. Die vraag is dus, in watter seisoen is ons nou en watter karakter-ontwikkeling wil God ons nou laat beleef? Ons is almal in ʼn seisoen. Word stil en luister wat God in hierdie seisoen vir jou wil leer. Laat jou hart rustig word in Hom. Augustinus het eenmaal gesê: “Die mens se hart is onrustig, totdat dit rus vind in God”. Dawid, in ʼn tyd wat Saul hom gejaag het en hy met die dood gedreig was, het hy midde-in die konteks, midde die vervolging en swaarkry, ʼn beeld van God ontvang: God het vir hom in Psalm 57 gewys dat hy hom beskerm deur sy vlerke oor hom te span. Nadat hy daardie beeld sy eie gemaak het, bid hy tot die Here in Psalm 57:8 “My hart is standvastig, O God, my hart is standvastig” [letterlike vertaling]. In die oorspronklike Hebreeus sê hy: “Nagon [standvastig/rustig] Libi [my hart], Elohim [O, God], Nagon Libi”. Mag God jou in hierdie tyd, in voorbereiding vir Paasfees waar ons in die seisoen van Lent geestelik vas in voorbereiding vir Paasfees, net weer herinner aan Sy beloftes en Sy trou. Hy is op weg met jou en jou lewe. Vertrou Hom, ook in jou swaarkry of in jou kokon-tyd. Jy word nou voorberei vir die nuwe seisoen, en jy moet sterk word sodat jou vlerke waarlik kan sprei as die kairos tyd van die nuwe seisoen aanbreek. Wag getrou op die Here – Hy is getrou.

Skrywer:  Prof Kobus Kok

 




Die Bron van Kwaad – Francois Malan

Werner vra

Ons bely onder andere dat God goed is en dat God liefde is. Ons aanvaar ook dat God alles geskape het wat bestaan. Gegewe bogenoemde, waar kom “kwaad” dan vandaan? Daarmee saam, kan ons aanvaar God het die engele geskape met die kennis van goed en kwaad aangesien Lucifer hoogmoedig geraak en die kwaad gekies het? Waarom sou God dan ‘n wese (engel of mens) skape met die wete dat hulle kwaad kan kies? Verder nog, waarom die boom van kennis van goed en kwaad in die tuin van Eden plaas en daardeur die mens die keuse gee om te kies as God geweet het ons gaan verkeerd kies? Laastens, waarom het God dan nie die gevalle engele eers in die hel opgesluit voor Hy die mens op die aarde geplaas het nie want dan sou die “slang’ nie ‘n rol gespeel het nie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Volgens Genesis1:26 is die mens geskape na die beeld en gelykenis van God, as verteenwoordiger van God en instrument in die hand van God. In en deur die mens se optrede (sy werk, 1:28; 2:15) en verhoudings (1:27) word God sigbaar teenwoordig in die skepping. God heers oor die wêreld, en die mens kry van Hom die opdrag om te heers (1:28), om God se heerskappy oor die wêreld in stand te hou en deur te voer. God is liefde – liefde is ‘n verhoudingsterm. Die eenheid tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees is ‘n liefdeseenheid. Dit is ‘n liefde wat dien en gee en nie gryp en oorrompel nie. Hy heers in en deur liefde wat trek (1 Joh 4:7-10; Joh 12:32-33). Die mens is geskep om die liefde van God uit te leef deur mekaar en ander uit liefde te dra en te verdra met liefdevolle diens (vgl. Mark 10:45). Alles wat God gemaak het, is goed (Gen 1:31).

 

Waar kom die kwaad vandaan?

God het die mens nie geskape soos ‘n stok en ‘n blok wat Hy links en regs kan neergooi soos Hy wil nie, maar Hy het juis die mens geskape in sy ‘gelykenis,’ om as sy verteenwoordiger op aarde te lewe in verantwoordelikheid teenoor God, om in alles wat die mens dink en doen en sê dit sal gaan om die wil van God. Daarin was Jesus vir ons ‘n voorbeeld van ‘n egte mens: Die woorde wat Ek vir julle sê, sê Ek nie uit Myself nie, maar dit is die Vader wat in My bly en sy werke doen (Joh 14:10). Die mens is gemaak met die moontlikheid van bewuste keuse, sodat die mens in vryheid kon aanvaar en bevestig waarvoor God hom bestem het. Genesis 2:16-17 beeld dit uit met God se keuse aan die mens: ‘Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van kennis van goed en kwaad mag jy nie eet nie. Die dag as jy daavan eet, sterf jy.’ Anders as die dier kan die mens beredeneerde beslissings neem. Om mens te wees beteken om deur God se woord aangespreek te word, en uit vrye keuse die woord te gehoorsaam. So het God die mens as sy gespreksgenoot geskep wat Hom in vryheid liefhet, nie uit dwang nie, maar in kinderlike gehoorsaamheid aan sy Vader.

Die sonde kom in ‘n gemaskerde gestalte na die mens. Agter die masker van ‘n dier, waaroor die mens heers, kom die Satan, vermom soos ‘n engel van die lig (soos die valse apostels in die gemeente van Korinte as dienaars van Satan, wat hulle self vermom as apostels van Christus, 2 Kor 11:14). Die sonde kom as versoeking. God stel die mens op die proef om te weet of hulle Hom werklik met hulle hele hart liefhet (Deutr. 13:3; vgl. Abraham wat vir Isak moes offer, Gen 22:12). God se doel met sy beproewing van die mens is ‘n demonstrasie van geloof en vertroue in God. Maar Satan gebruik die beproewing as ‘n versoeking om die mens te laat optree teen God en teen sy medemens en vir homself. Deur sy eie keuse val die mens in die sonde. Genesis 3:4-6 beskryf dit met die gesprek tussen die slang en die vrou. Toe die vrou besef het dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee, om soos God te wees en alles te kan ken, ook die kwaad, het sy geëet – en so vir haarself gekies teen God, en haar eie god geword vir wie sy in selfsug lewe; nie in liefde vir God en ander mense en ander skepsels en God se skepping nie. Sonde begin in die verhouding van die mens tot God en brei daarvandaan verder uit teen ander mense en die skepping. Dit begin met twyfel oor God en die billikheid van sy gebod. Dit lei tot hoogmoed om self soos God te wees. Dit lei tot ongehoorsaamheid teenoor God en ongeloof in God. Met ‘n leuen verlei die Satan die mens (vgl. Joh 8:44 die duiwel is ‘n mensemoordenaar van die begin af; ‘n leuenaar en die vader van die leuen). Christus kom die mens daarvan verlos deurdat Hy, wat self God is, sy lewe in ons plek uit liefde offer aan ‘n kruis en ons van die mag van die sonde bevry deur al ons sondeskuld teen God op Hom te neem, en ons weer kinders van God maak wat in Hom glo en op Hom vertrou as die Here van ons lewe aan wie ons gehoorsaam is, want sy pad is die beste.

Menslike sonde veronderstel ‘n versoekende mag. Hierin verskil die menslike sonde van die duiwel se sonde, wat nie deur ‘n versoekende mag of ‘n versoeker voorafgegaan is nie. Daarom is die mens vir verlossing vatbaar, en die duiwel nie.

Volgens Judas 6 was die duiwels eers engele wat hulle nie aan hulle magsgebied gehou het nie. 2 Petrus 2:4 noem hulle engele wat gesondig het en vir die oordeel gevange gehou word. Volgens Johannes 8:44 noem Jesus die leier van die duiwels ‘n mensemoordenaar en vader van die leuen wat nie by die waarheid staan nie. Mat 25:41 praat van die duiwel en sy engele. In Luk 10:18 sê Jesus: Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val. Volgens 1 Tim 3:6 het hy verwaand geword en het daarom onder God se oordeel geval. Openb. 12:4 verwys waarskynlik na die Satan en ‘n derde van die engele wat in opstand teen God gekom het (die sterre waarna 12:4 verwys is waarskynlik engele, soos in 9:1). Uit die gegewens kan afgelei word dat die duiwels vroeër engele was wat deur God geskep is met die verhewe status as dienende geeste in die hemel (vgl. Ps 103:20-21) – waarskynlik na die skepping en voor die sondeval van die mens. Hulle wou nie hulle dienende status onder God aanvaar nie, en uit hoogmoed oor hulle status en uit selfverheffing het hulle die verhewe status verloor. Die opstand teen God word sonde genoem en op grond van hulle sonde is hulle uit die hemel uitgegooi. Met die kruisdood van Jesus, wat al die sonde van die wêreld op Hom geneem het, is die duiwel die grond vir alle aanklagte by God teen die gelowiges vir die duiwel (Grieks: diabolos: aanklaer, lasteraar) ontneem. Maar nou woed die duiwel en sy trawante om die gelowiges van God te vervreem, met verleiding, leuens en geweld. Daarom word gelowiges dwarsdeur die Bybel opgeroep om te volhard in hulle styrd teen die duiwel en sy versoekings, deur steeds op Jesus te vertrou en God in liefde te dien met die liefdeskrag van die Heilige Gees wat in ons kom woon het.

Skrywer:  Prof Francois Malan