Om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het – Francois Malan

Willie vra:

In ons geloofsbelydenis staan “om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het” My vraag is: Ons glo dat geredde mense na die Paradys (na Jesus) gaan na die dood en die ongereddes na die doderyk. Is dit nie ietwat van ‘n teenstrydigheid nie??

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Jou vraag is: ‘Ons glo dat geredde mense na die Paradys (na Jesus) gaan na die dood en die ongereddes na die doderyk.’ Miskien is die ingewikkelde en moeilike vraag te maklik gestel, want die Bybel praat ook oor die optanding van die liggaam en die finale oordeel op die dag van Christus se wederkoms.

Paulus sê bv. in 1 Kor 15:22-23 dat alle mense sterf en almal in Christus lewend gemaak sal word, en met sy koms ook hulle wat aan Christus behoort; in 15:42-44 verduidelik hy hoe dit sal wees met die opstanding van die dooies: wat gesaai word in vergankliklikheid, word opgewek in onverganklikheid, wat gesaai word in swakheid , word opgewek met krag, wat gesaai word is ‘n natuurlik menslike liggaam, wat opgewek word is ‘n geestelike liggaam. Dit verwys alles na die opstanding van die liggaam ook van die gelowige wat al gesterf het en begrawe is. In Filippense 3: 21 sê Paulus Christus sal ons nederige liggaam verander om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam.

In 2 Kor 5:1-2 sê Paulus egter ook dat wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het wat van God kom, ‘n ewige woning in die hemele, wat nie met hande gemaak is nie. En daarom sug ons, want ons verlang intens daarna om met ons woning vanuit die hemel beklee te word. En in Filippense 1:23 sê hy ook dat hy verlang om heen te gaan en saam met Christus te wees.

Die Heidelbergse Kategismus (Sondag 22 vraag 57) stel dit soos volg:

Vraag: Watter troos gee die opstanding van die vlees jou?

Antwoord: Dat nie alleen my siel ná hierdie lewe dadelik tot Christus, sy hoof, opgeneem sal word nie, maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek sal word, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word.

Die Bybel praat egter nie van die skeiding van liggaam en siel nie. Ons het nie onsterflike siele in sterflike liggame nie – 1 Timoteus 6:16 sê God alleen besit onsterflikheid. Die hele ek is sondaar voor God, en die hele ek word deur Christus se sterwe aan die kruis vir my sonde in die regte verhouding tot God herstel, deurdat die Heilige Gees my tot geloof in Christus lei en my aan Christus se sterwe en opstanding verbind, sodat ek, deur my verbinding aan die Seun van God, kind van God is (Romeine 8:1-17). Daarom kan Paulus in 1 Kor 15:51-54 sê dat by die laaste basuin ons almal sal verander word, die dooies sal onverganklik opgewek word en hierdie verganklike liggaam met onverganklikheid beklee word (ook die ongelowiges gaan vir onder die ewige straf van God, vgl. Mt 12:11-12; 18:8; 25:46; Mk 3:29; 2 Ts 1:9-10; Hebr 6:2; Judas 7; Openb 20:10,15).

Die woord siel is ‘n vertaling van die Griekse psuche (vgl. psigologie vir sielkunde) wat in die Nuwe Testament figuurlik gebruik word vir ‘persoon’ as ‘n lewende wese, vgl. Handelinge 2:41 se 3000 ‘mense’ en Romeine 2:9 se elke ‘mens’ (die Afrikaanse uitdrukking: soveel siele soveel vreugde); in Romeine 11:3 word psuche letterlik gebruik vir ‘lewe’ of bloot ‘my’: hulle soek my ‘lewe,’ of: hulle wil ‘my’ ook om die lewe bring; maar die eintlik betekenis van psuche is die wese of essensie van die lewe, my denke, wil en gevoel, my innerlike self, my wese – die ek, wie en wat ek is. Filippense 1:27 praat van: in een ‘siel’ saamstry, of: volkomende eens-’gesind’ saamstry; Mt 26:38: my ‘siel’ is diep bedroef, of ‘Ek’ voel doodsbenoud; Ef 6:6.

Paulus verwag dat die hele ek met my sterwe dadelik tot Christus opgeneem sal word, en ook dat die ‘ek’ met ‘n verheerlikte liggaam opgewek sal word met Christus se wederkoms, maar dat my hele ou ‘ek’ sterf en begrawe word. Dat ‘ek’ met my sterwe met Christus sal wees, soos Paulus in Filippense 1:23 sê, is bloot God se genade wat van my ‘n nuwe ‘ek’ maak saam met die verheerlikte Christus.

Die wonder is egter dat die gelowige nou reeds die ewige lewe het (met ‘n nuwe ek, wat oorlog maak met die sonde in my, Romeine 7:14-25). Johannes 3:36 sê: wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie; inteendeel, die toorn van God bly op hom (vgl. Joh 3:16; 5:24; 10:28).

Die gelykenis wat Jesus vertel het in Lk 16:22-23 sê: toe die bedelaar Lasarus sterf, is hy deur die engele weggedra om teen die bors van Abraham te rus. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe. En toe hy, vanwaar hy in doderyk gefolter word, sy oë ophef, sien hy Abraham van vér af, en Lasarus teen sy bors….

Matteus 25:31-46 praat egter van die finale oordeel oor almal, die vervloektes na die ewige straf en die regverdiges na die ewige lewe (vgl. ook Johannes se gesig van die finale oordeel in Openbaring 20:11-15 waar die dooies en dié in die doderyk almal voor die troon van God verskyn en elkeen volgens sy dade geoordeel word, en diegene wie se name nie in die boekrol van die lewe opgeskryf is nie, in die vuurpoel gegooi word).

In Kolossense 3:3-5 sê Paulus: Julle het immers gesterf en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus verskyn, Hy wat julle lewe is, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn. Daarom moet julle daardie deel van julle wat op die aardse gerig is, afsterf…’

 

2 ‘Is dit nie ietwat van ‘n teenstrydigheid nie??’

Die beste wat ek kan sê is (i) dat ons nou reeds in die teenwoordigheid van Christus lewe deurdat Hy in ons kom woon het met sy Heilige Gees (in Johannes 14:2-3 sê Jesus Hy gaan vir ons plek berei in die huis van sy Vader met baie wonings. En verder in Jn 14:16-17 die ander Trooster/Helper sal ewig by julle wees…Hy bly by julle en sal in julle wees; en ‘n entjie verder in Jn 14:23: As iemand My liefhet, sal Hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon letterlik: by hom woning maak). (ii) Wanneer ons sterf is ons steeds by Hom, maar (iii) die volle openbaring daarvan kom op die oordeelsdag, wanneer Jesus voor die ganse skepping vir sy volgelinge sal sê: Julle geseëndes van my Vader, kom beërf die koninkryk wat vir julle gereedgemaak is vn die grondlegging van die wêreld af (Mt 25:34).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Geloof is kennis

Geloof is kennis – Francois Malan

Pieter vra:

Ek het ’n vraag aangaande Calvyn se siening oor geloof wat ook in die Heidelbergse Kategismus (HK) opgeneem is. (Dit is ’n redelik toegespitse vraag wat spruit uit ’n persoonlike studie oor die aard van geloof, en daarom laat ek dit oor aan u diskresie oor om te bepaal of hierdie die aangewese plek is om dit te vra). Volgens Calvyn (Institusie: 3.2.7) is geloof “die vaste en sekere kennis van die welwillendheid van God jeens ons …” en volgens die Heidelbergse Kategismus (V&A 21) word ’n ware geloof dienooreenkomstig (o.a.) as “’n vasstaande kennis …” beskryf. My vraag is dit: wat bedoel Calvyn (en die HK) wanneer hy sê dat geloof (a) KENNIS (b) IS? Ek vra dit teen die volgende agtergrond: (a) Volgens B.A. Gerrish (1999:12, Saving and Secular Faith) bedoel Calvyn met die woord “kennis” (cognitio) eintlik “herkenning” (“recognition”; agnitio). Plantinga (2000:247, Warranted Christian Belief) verstaan Calvyn weer so dat hy geloof as ’n kognitiewe aktiwiteit beskou. Maar in die lig daarvan dat Calvyn geloof kennis noem teen die agtergrond van “implisiete geloof” (waarteen hy gekant was), kan ’n mens werklik sê dat hy die woord “kennis” so verstaan het? En hoedanig Calvyn se begrip van die woord ook al verstaan moet word, is dit ook hoe die HK verstaan behoort te word? (b) Wat word bedoel met die bewering dat geloof kennis IS? In epistemologie (ook in die Reformatoriese epistemologie) word geloof (simplies) beskryf as “geregverdigde geloof in dit wat waar is”. Maar die implikasie daarvan is dat geloof kennis logies voorafgaan. Hoe kan ons dan sê dat geloof kennis IS? Aan die ander kant kan die fokus daarop wees dat geloof inhoud (’n “quae creditur”) het: proposisies wat aan iemand onbekend is kan nie geglo word nie. Dan gaan kennis van proposisies as proposisies geloof logies vooraf. Geloof is afhanklik daarvan, maar terselfdertyd is dit moeilik om te sien dat hierdie “kennis-van-proposisies-as-proposisies” deel van die geloofshandeling self is. Dan steeds is die vraag: hoe kan ons sê dat geloof kennis IS? Dit wil vir my voorkom of kennis geloof óf voorafgaan óf daarop gebaseer is – dit hang net af van watter kennis ter sprake is. Maar beide gevalle veronderstel ’n logiese chronologie wat dit moeilik maak om te verstaan wat met die frase “geloof IS kennis” bedoel word.

Antwoord:

Prof François Malan antwoord:

Kennis van God word voorafgegaan deur God se openbaring van homself aan die mens. Maar kennis is nie slegs ‘n saak van die verstand nie. God se openbaring beteken nie slegs ‘n verryking van my kennis, van my verstandelike insig nie. Om God te ‘ken’ beteken meer as intellektuele kennis, dit is ‘n lewensgemeenskap. ‘Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde’ (1 Jn.4:8); ‘Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee (1 Kor.4:13) ‘En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde ; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom (1 Jn.4:16).

Lees ook Calvyn se inleiding tot boek 3 (3.1.1-4) oor die onmoontlikheid om God uit ons self te ken, en die rol van die Heilige Gees, wat die liefde van God in ons kom uitstort (Rm.5:5), deur wie ons met Christus verenig word, wat alleen geloof in ons kom werk, wat die Gees van verstand is wat ons oë van verstand open (Ef.1:18; 2:8).

Die vraag oor die definisie van geloof in 3.2.7 as ‘n vaste en seker kennis van God se welwillendheid teenoor ons, skryf dit nie volledig uit nie. Calvyn het daarby gevoeg ‘(die vaste en sekere kennis van God se welwillendheid teenoor ons) is gegrond op die waarheid van sy genadige belofte in Christus, wat deur die Heilige Gees aan ons verstand geopenbaar word en in ons hart verseël word. En dan brei hy verder daaroor uit in 3.2.14-19 en in die res van hfstuk 2.

Ook HK 21 word slegs gedeeltelik aangehaal, sonder die uitbreiding (‘n Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis) waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.

Enkele opmerkings oor die tekste wat by die vraag bygevoeg is (van die begin af is die Skrifhoofstukke aan die kant van die teks aangedui, en later is die spesifieke tekste in die hoofstukke aangedui): by die werk van die Heilige Gees word o.a. na Ef.2:8 en Flp.1:19 verwys.

Die NAV se vertaling van Ef.2:8 is enigsins verskralend: ‘Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.’ Letterlik staan daar: ‘want deur die genade (datief tei chariti) is julle gereddes (perfektum passief deelwoord sesoosmenoi) deur geloof; en dit (touto) nie uit julleself nie, (dit is) die gawe van God.’ Deur God se genade is ons gereddes deur geloof, (‘dit’ verwys dan na die geloof in Christus, wat Gods se gawe aan ons is, waardeur ons ons gered word).

NAV gee ook ’n verklarende byvoeging by Flp.1:28b,29: ‘… julle redding kom van God. God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly.’ Letterlik: ‘…maar van julle redding, en dit van God. Want aan julle is dit geskenk (echaristhe) vanweë/ter wille van (huper) Christus, nie alleen om in Hom te glo nie, maar ook vanweë/ter wille van (huper) Hom te ly.’ Die geloof in Christus is God se geskenk aan ons vanweë/ter wille van (huper) Christus.

Gl.5:22 praat o.a. van liefde as deel van die vrug wat die Heilige Gees in ons bewerk;

Mt.16:17 van die Vader in die hemel wat aan Petrus die kennis oor Christus gegee het;

2 Kor.4:13 oor die Gees wat die geloof wek, Letterlik ‘dieselfde Gees van die geloof’;

Hand.16:14 van die Here wat Lidia vir die woorde van Paulus ontvanklik gemaak het.

‘Geloof is kennis’ – dit gaan om geloof in Christus as die Seun van God, wat God, in sy onverstaanbare liefde vir die wêreld, toe ons nog sondaars was, gegee het, sodat elkeen wat in Christus glo die ewige lewe kan hê (Jn. 3:16; Rm.5:8). Die geloof is God se geskenk aan ons deurdat Hy met sy Gees in ons kom woon het (Rm.8:9,11; 1 Kor.3:16). Kennis is kennis van God, die Vader en die Seun en die Heilige Gees wat in liefde aan mekaar verbind is, en aan ons geopenbaar word deur die koms van Christus wat in die Vader is en die Vader in Hom (Jn.14:10). ‘Dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is’ (Jn.17:3).

Soos geloof die band is met God, deur Christus bewerk, en wat die Heilige Gees in ons werk, is die kennis van God in Christus die lewensgemeenskap met hulle (Jn.17:21 U, Vader in My en Ek in U, en hulle in Ons) deur die Heilige Gees wat in ons woon, deur wie God sy liefde in ons uitgestort het (Rm.5:5). Beide geloof en kennis is verhoudingsterme soos ‘geregtigheid’ wat verduidelik dat die verhouding tussen ons en God deur Hom reggemaak is en ons nou sy kinders is wat Hom as ons liefhebbende Vader ken en in Hom glo, op Hom vertrou met ons lewe, Hom liefhet met alles wat Hy in ons gegee het. En dit alles is die werk van die Heilige Gees in ons. Deur die Heilige Gees wat albei bewerk, is geloof in God kennis van God, en is kennis van God geloof in God. Daarom gaan dit nie oor wat eerste kom nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan